BIOGRAFIE-BYBELSTUDIE: STEFANUS

Biografie-Bybelstudie: Stefanus

Ons het in die vorige artikel gesels oor hoe ‘n mens ‘n biografie-Bybelstudie van ‘n karakter in die Bybel doen. Vandag gaan ons saam só ‘n studie doen, sodat jy kan sien presies hoe dit werk.

STAP 1: KIES ‘N KARAKTER.

Vir ons studie vandag, gaan ons kyk na Stefanus, ‘n karakter in die Nuwe Testament.

STAP 2: LYS JOU VERWYSINGS.

Die tweede stap is om al die skrifgedeeltes, waarin daar na Stefanus verwys word, te soek en neer te skryf.

  1. Handelinge 6:3–8:2;
  2. Handelinge 11:19;
  3. Handelinge 22:20.

STAP 3: EERSTE INDRUKKE.

In stap drie gaan ons deur die verskillende skrifverwysings lees en aantekening maak oor wat ons leer.

Stefanus was een van die vroeë Christene. Hy het ‘n kragtige prediker en getuie en was bereid om vir sy geloof te sterf.

STAP 4: ‘N KRONOLOGIESE UITLEG.

In stap vier gaan ons ‘n kronologiese uitleg van Stefanus se lewe doen.

A. Deur die vroeë kerk as ‘n leier gekies –

  1. om te help om na die weduwees om te sien (Handelinge 6:5);
  2. op grond van sekere goddelike karaktereienskappe (Handelinge 6:3,5,8).

B. Hy het ‘n wye bediening —

  1. by die tafels diens verrig (Handelinge 6:2,5);
  2. wonders en tekens gedoen (Handelinge 6:8);
  3. het met wysheid deur die Gees gepraat en gepreek (Handelinge 6:10).

C. Hy is vervolg —

  1. deur die Jode van ‘oorsee’ teengestaan (Handelinge 6:9);
  2. valslik beskuldig (Handelinge 6:11).
  3. gearresteer en voor die Sanhedrin gebring (Handelinge 6:12–14):
    a. valse getuienis teen hom gebring;
    b. verdedig homself deur ‘n oorsig oor die Ou Testament te gee (Handelinge7:2–53);
    c. getuig oor Jesus (Handelinge 7:55–56);
    d. gestenig deur die woedende Joodse leiers (Handelinge 7:57–60).

D. Hy het selfs na sy dood ‘n bediening — die vervolging van gelowiges het tot gevolg dat die gemeente in Jerusalem versprei (Handelinge 8:2–4;11:19).

As jy meer wil weet oor die gelykenisse van Jesus, dan is die Gelykenisse van Jesus Bybelstudie net waarna jy op soek is. Dis ‘n selfstudie, waar jy nie net meer gaan leer oor Jesus se gelykenisse nie, maar ook oor die lesse wat Jesus deur die gelykenisse vir ons wil leer. Die stappe wat jy volg gaan jou ook help om te leer hoe om self Bybelstudie te doen.

STAP 5: INSIG IN DIE KARAKTER.

In stap 5 is daar ‘n klompie vrae wat ons gaan antwoord, om ons meer insig in Stefanus te gee. Jy kan ‘n lys van hierdie vrae hier aflaai.

A. Hoekom is Stefanus as leier gekies?

  • Hy was vol van die Gees en van wysheid en van geloof (Handelinge 6:3;5);
  • hy was vol van God se genade en krag (Handelinge 6:8);
  • en hy het die Skrif geken (Handelinge 7:2–53).

B. Hoe het Stefanus gereageer toe hy vals beskuldig is?
Hy het kalm gebly en net gepraat toe die hoëpriester hom ‘n vraag gevra het.

C. Is daar enige ooreenkomste met Jesus?
Ja, Hy is ook vals beskuldig, maar het liefde gewys vir diegene wat Hom beskuldig het. Dan het Hy ook ‘n dood gesterf wat Hy nie verdien het nie.

D. Wat was Stefanus se houding teenoor diegene wat hom beskuldig het?
Hy het hulle vergewe en het selfs gebid en God gevra om hulle te vergewe.

E. Wat was die langtermyn resultate van sy lewe, bediening en dood?

  • Dit het God se plan bevorder.
  • Sy dood het die gemeente deur die streke van Judea en Samaria verstrooi.
  • Sy dood het gehelp om Paulus tot bekering te laat kom.

STAP 6: KARAKTEREIENSKAPPE.

In stap 6 gaan ons ‘n lys maak van al die karaktereienskappe wat ons van Stefanus raaksien.

Hy was Geesvervuld, wys, getrou, beskikbaar vir God om hom te gebruik en hy het volhard (Handelinge 6:3,5,8,10).

Dan was hy ook heilig en braaf en hy het vrymoedigheid gehad (Handelinge 6:15 en 7:51-53).

Verder het hy kennis gehad en hy was ‘n getuie vir Jesus (Handelinge 7 en 22:20).

Hy was ook vol vergifnis en ander het respek vir hom gehad (Handelinge 7:60 en 8:2.

STAP 7: ANDER BYBELSE WAARHEDE.

In die volgende stap gaan ons kyk watter ander Bybelse waarhede daar deur Stefanus se lewe geïllustreer word.

  • Die teenwoordigheid en vertroosting van die Heilige Gees wanneer ons deur moeilike tye in die lewe gaan (Handelinge7:54–55; Hebreërs 13:5–6).
  • Vervolging en valse beskuldigings sal deel wees van ‘n gelowige se lewe (Handelinge 6:11).
  • Wanneer ons die lewenspad saam met God stap, is Sy genade altyd genoeg (Handelinge 6:10; 1 Korinthiërs 1:27–31; 2 Korinthiërs 12:9).

STAP 8: DIE BELANGRIKSTE LES.

Nou gaan ons ‘n opsomming maak oor die belangrikste lesse wat ons uit Stefanus se lewe geleer het.

Stefanus was absoluut aan God toegewy en was bereid om enige iets vir Hom te doen. Hy was selfs bereid om sy lewe vir God te gee.

Hy was ‘n man wat die lewenspad saam met God gestap het en daarom was hy vol van die Gees, wysheid, geloof, God se genade en krag.

Dan het hy ook ‘n kragtige getuienis gehad en het selfs in sy dood steeds getuig.

Dan was hy ook ‘n man van die Woord. Hy het sy Bybel, wat op daardie stadium die Ou Testament was, goed geken. Dit moes hom seker ure se studie gevat het om die geskrifte so goed te leer ken.

STAP 9: PERSOONLIKE TOEPASSING.

Die tweede laaste stap is om ‘n persoonlike toepassing te skryf. Hier is ‘n voorbeeld van so ‘n toepassing.

Ek moet ‘n vrou van die Woord wees wat Jesus intiem ken en wat in staat is om enige vraag wat iemand oor die Bybel vra, te kan antwoord.

Na aanleiding van wat ek geleer het, onderneem ek om elke dag vir ten minste 15 minute tyd in die Bybel te spandeer. Ek onderneem ook om elke week twee verse uit die Bybel te memoriseer sodat ek weet wat om ander te antwoord wanneer hulle vrae vra.

STAP 10: OM ANDER TE LEER.

Ons laaste stap is om ‘n opsomming te skryf van dit wat ons geleer het, sodat ons dit weer vir iemand anders kan leer.

A. Dit is belangrik om ‘n persoonlike verhouding met Jesus te hê. Die enigste manier om ‘n man of vrou met ‘n sterk geloof en vol wysheid van God te word, is om daagliks tyd met Hom te spandeer. Stefanus het ‘n dinamiese verhouding met Jesus gehad.

B. Dit is belangrik om gereeld tyd in die Bybel te spandeer. Ons moet die Bybel lees, dit studeer en ook verse memoriseer.

C. In hierdie wêreld gaan ons teëspoed ervaar. Kinders van God gaan ook vervolg word. Wanneer hierdie dinge gebeur, is dit belangrik om en The necessity of moed aan die dag te lê. Ons moet God vra om ons vrymoedigheid te gee om teenoor ander te getuig.

LAASTE GEDAGTES.

Dít is dan hoe ‘n mens ‘n biografie-studie doen. Ek hoop dat hierdie studie jou meer oor Stefanus geleer het en dat dit jou sommer lus gemaak het om ‘n biografie-studie oor jou gunsteling Bybelkarakter te doen.

Baie seën en sterkte met jou studies van God se Woord. Hou aan om dit te doen, want dan sal jy ook, soos Stefanus, ‘n man of vrou van die Woord wees!

Deel hierdie blad

1 comment

  1. /dankie dat ek saam met jou bybel studie kan hou. Ons leer baie daaruit. Ek sal def nog aansluit sodra my finansies te toe laat om die bybelstudies te kan kry by jou

    n Geseende en liefdevollge dag vir jou

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *