In Genesis 3 lees ons hoe Adam en Eva gekies het om eerder die duiwel as vir God te glo, met verreikende gevolge vir hulle en die hele mensdom.

DIE TUIN.
Dit is ‘n pratige dag in die Tuin van Eden.
Adam en sy vrou, Eva, loop hand aan hand tussen die bome deur. Elke nou en dan buk hy en pluk vir haar ‘n blom. Soms gaan hulle staan en eet van die vrugte wat in oordaad aan die bome groei.
By die stroompie gaan hulle sit en verkyk hulle aan die veelkleurige vissies in die water.
Na ‘n rukkie strek hy hom uit op die lowergroen gras en raak so half-half aan die slaap. Sy sien ‘n vlinder op ‘n blom daar naby en spring op om dit van nader te bekyk.
Dan dwaal sy terug na die stroompie, maar skielik steek sy vas.
Wat het sy daar tussen die bome gesien? Iets het beweeg. Sy kon nie mooi sien wat dit was nie en besluit om ondersoek in te stel. Wie weet, dalk is dit een of ander voëltjie of dalk selfs ‘n interessante diertjie waarmee sy kan speel.
Saggies kruip sy nader.
Dan hoor sy ‘n stem.
DIE SLANG.
“Hallo Eva!”
Sy kyk in die rigting van die stem.
“O, dis jy,” antwoord sy en streel die slang se kop.
“Ja, dis maar net ek,” antwoord die slang. “Ek wou gou vir jou iets kom vra. Ek het nou die dag gehoor toe jy en Adam gesels het oor wat God oor die bome in die tuin gesê het. Maar ek is seker ek het so ‘n bietjie verkeerd gehoor. Het God regtig gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie?”
Eva lag. “Jy het beslis verkeerd gehoor! Ons mag van die vrugte van die bome in die tuin eet. Dit is net die boom in die middel van die tuin waarvan ons nie mag eet nie. Ons mag selfs nie eers daaraan vat nie! God het gesê as ons dít doen, gaan ons sterf.”
DIE LEUEN.
Nou is dit die slang se beurt om te lag. Hy lag so hard dat hy amper uit die boom val.
Dan bedaar hy en, terwyl hy nou en dan nog so ‘n giggeltjie gee, sê hy, “Jammer dat ek so lag, maar dit is vir my baie snaaks, want sien, julle sal beslis nie sterf nie. Kom ek vertel jou wat eintlik aan die gang is. God weet dat julle oë sal oopgaan as julle van die boom eet. As dít gebeur, gaan julle net soos God wees, want julle sal alles ken!”
Eva se oë rek.
Sy was so besig om vir al die mooi rondom haar te kyk, dat sy nie eens besef het die boom met die verbode vrugte staan net ‘n entjie van haar af nie. Stadig draai sy haar kop in die rigting van die boom.

DIE KEUSE.
Sjoe, die vrugte is darem baie mooi. Hulle blink in die son en lyk eintlik baie lekker. En, dan kan hulle boonop vir ‘n mens kennis gee! Nee, hierdie kans kan sy darem nie laat verbygaan nie.
Soos in ‘n droom loop sy na die boom, steek haar hand uit, en pluk ‘n vrug. Sy draai dit om en om, bekyk dit van alle kante, en toe, sonder om verder daaroor te dink, vat sy ‘n groot hap uit die vrug.
Dit smaak heerlik!
Vinnig pluk sy nog een en stap die paar treë na Adam, waar hy steeds op die gras lê.
“Met wie praat jy?” vra hy toe sy nader kom.
“Ek het met die slang gepraat. Hy sê God het vir ons gejok. Ons sal nie doodgaan as ons van die vrugte van die verbode boom eet nie, maar dit sal ons soos Hý maak en ons sal alles ken! Ek het nou net daarvan geëet en kyk, ek het niks oorgekom nie. Die vrug was boonop heerlik! Hier, ek het vir jou ook gebring.”
Adam laat hom nie twee keer nooi nie. Hy gryp die vrug uit Eva se hand en druk dit sommer heel in sy mond. Mmmm, dit smaak regtig lekker!
“Kom ons gaan pluk nog,” sê hy.
DIE GEVOLG.
Die twee stap opgewonde na die boom, maar skielik steek sy vas.
“Adam… wat gaan aan? Jy het verander. Jy lyk nie meer soos altyd nie!”
Hy draai om en kyk na haar en sy oë rek.
“Jy het ook verander! Ag, wat het ons aangevang! God gaan verseker weet wat ons gedoen het. Kom, ons moet vinnig ‘n plan maak. Dis amper tyd vir Sy daaglikse kuier. Dalk kan ons wegsteek wat ons gedoen het. Kyk, hierdie vyeboom het sulke lekker groot blare. As ons dit aanmekaar werk, en aantrek, gaan Hy dalk nie agterkom ons lyk nie meer soos altyd nie.”

Die verhaal hierbo is, soos jy kan agterkom, my eie weergawe van die Bybelverhaal van Adam en Eva en die slang, en hoe hy hulle verlei het om aan God ongehoorsaam te wees.
Jy sien, om regtig te verstaan wat die mens alles verloor het die dag toe die eerste twee mense gekies het om eerder die slang, of die duiwel, as vir God te glo, moet ons teruggaan na die verhaal in Genesis.
Dit is hiér waar ons sien wat ons verloor het, maar dit is ook hier waar ons die eerste belofte kry oor die Verlosser wat gaan kom om, wat die mens verbrou het met ‘n verkeerde keuse, weer te herstel.
Volgende week gaan ons so ‘n bietjie meer hieroor gesels en kyk wat ons verder uit Genesis 3 kan leer.
LEES OOK: DIE NUWE LEWE IN JESUS CHRISTUS
