MARKUS 14: OM TE WAAK EN BID

Markus 14: Waak en bid

Ons is steeds besig om deur die Evangelie van Markus te werk om te sien wat die Here ons daaruit wil leer. Vandag gaan ons stilstaan by Markus 14.

Maar voor ons daarby kom, het ek eers ‘n vraag vir jou.

As iemand jou sou vra wie Jesus is, wat sou jy antwoord?

Ek hoop dat jy elkeen van die vorige artikels gelees het, want dit sal jou beslis help met jou antwoord.

So, as jy nié die Markus-artikels gelees het nie, kliek HIER.

Die skakel sal jou neem na ‘n blad waar jy al die artikels kan kry. Jy kan ook ‘n gratis PDF aflaai wat jou gaan help om die hoofstukke in meer diepte te bestudeer.

JESUS SE DOOD WORD BEPLAN.

Sommer in die eerste twee verse van Markus 14 lees ons hoe die godsdienstige leiers beplan het om van Jesus ontslae te raak.

Hulle besluit om dit op ‘n slinkse manier te doen, maar nie op die fees nie.

Die fees waarna hulle verwys is die paasfees en die fees van die ongesuurde brode.

Die paasfees is op die 14de dag van die eerste maand gevier.

Tydens die fees het die Israeliete onthou wat die Here vir hulle gedoen het toe hulle uit Egipte getrek het.

Al die eersgeborenes van die Egiptenare het gesterf, maar die Here het hulle huise oorgeslaan (pass over) omdat hulle die bloed van ‘n lam sonder liggaamsgebrek aan hulle deurkosyne gesmeer het.

Die paasfees was ‘n heenwysing na Jesus, die perfekte Lam van God. Hy het gesterf en vir die sonde van die wêreld betaal. Wanneer iemand in Hom glo, word hy weergebore en vrygespreek.

JESUS WORD GESALF.

Volgende lees ons van Jesus in die huis van Simon die melaatse.

Terwyl hulle aan tafel was, kom ‘n vrou met ‘n fles egte, duur nardusolie. Sy breek die fles en giet die olie op Jesus se kop uit.

Die ander aan tafel is dadelik ongelukkig daaroor. Hulle meen die reukolie moes verkoop word en die geld aan die armes gegee word.

Maar Jesus tree tussenbeide en verklaar dat sy ‘n goeie daad aan Hom gedoen het.

Sy het vooruit Sy liggaam gesalf as voorbereiding vir Sy begrafnis.

Een les wat ons uit hierdie gedeelte kan leer, is dat mense nie altyd gaan saamstem met wat jy vir Jesus doen nie.

Daar gaan diegene wees wat dink jy mors jou tyd en geld.

Ander gaan probeer om jou af te raai of hulle gaan jou kritiseer.

Ons moet egter wees soos die vrou. Sy het haar nie van stryk laat bring deur die mense se kritiek nie.

Op dieselfde manier moet ons gehoorsaam wees wanneer die Here vir ons ‘n opdrag gee.

Selfs al kritiseer mense ons daaroor, moet ons voortgaan en in geloof doen wat Hy ons beveel het.

JUDAS BESLUIT OM JESUS TE VERRAAI.

Volgende lees ons dat Judas besluit het om Jesus te verraai.

Hy besoek die godsdienstige leiers en bied vir hulle sy dienste aan.

Hulle is natuurlik heel in hulle skik daarmee en belowe om hom daarvoor te betaal.

‘n Mens sien ‘n duidelike verskil tussen die vrou se optrede en Judas s’n.

Sy het haar liefde vir Jesus in haar optrede uitgeleef.

Judas, daarenteen, het toegelaat dat sy liefde vir geld harder praat en hy verraai Jesus vir net dertig silwerstukke.

GEBEURE TYDENS DIE PAASMAALTYD.

In Markus 14:12-16 lees ons hoe die dissipels die paasmaaltyd voorberei het.

Na al die voorbereidings getref is, is Jesus en die twaalf saam aan tafel.

Terwyl hulle eet, kondig Jesus skielik aan dat een van hulle Hom gaan verraai.

En dan stel Hy die nagmaal in.

DIE NUWE VERBOND.

In Markus 14:22 lees ons Jesus het brood gevat, die seën gevra en toe die brood vir die dissipels gegee om te eet.

Terwyl hulle eet sê Hy: “Neem dit, dit is My liggaam.”

Daarna het Hy ‘n beker gevat, ‘n dankgebed uitgespreek en dit vir hulle gegee. Almal het daaruit gedrink. Toe sê Hy vir hulle: “Dit is My bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie mense vergiet word.”

Uit ander skrifgedeeltes weet ons Jesus het verwys na die Nuwe Verbond.

In Jeremia 31:31-34 lees ons ‘n profesie oor die Nuwe Verbond. Ons lees dat dit nie soos die oue sou wees nie.

Onder die Nuwe Verbond belowe God: “Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees…. almal sal My dien, klein en groot, sê die Here. Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie” (vs.33-34).

Dít is die verbond waaronder ons as gelowiges leef.

En, wanneer ons nagmaal gebruik, dan onthou ons wat Jesus vir ons gedoen het en ons verkondig Sy dood tot Hy weer kom.

OP DIE OLYFBERG.

Na Jesus en die dissipels die paasmaaltyd genuttig het, vertrek hulle na die Olyfberg.

Daar waarsku Jesus die dissipels dat hulle almal van Hom afvallig gaan word.

Hy waarsku ook spesifiek vir Petrus dat hy Hom gaan verloën.

Hulle glo Hom egter nie en sê almal dat hulle dit nooit sal doen nie.

Petrus sê selfs hy is bereid om saam met Jesus te sterf eerder as Hom te verloën.

JESUS IN GETSEMANE.

Daarna gaan hulle na Getsemane.

Toe hulle daar kom, sê Jesus vir Sy dissipels, “Sit hier terwyl Ek gaan bid” (Markus 14:32).

Hy neem egter vir Petrus, Johannes en Jakobus saam met Hom.

Vir húlle sê Hy, “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak!”

Daarna gaan Hy ‘n entjie verder, kniel op die grond en bid dat, as dit moontlik is, die lyding wat vir Hom voorlê nie sou aanbreek nie.

Drie keer bid Hy dieselfde woorde. Drie keer gaan Hy terug na die ander drie en kry hulle vas aan die slaap.

In vers 38 lees ons ‘n baie belangrike waarskuwing, wat elkeen van ons ter harte moet neem.

Daar staan, “Julle moet waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.”

Kort tevore het al twaalf dissipels gesê hulle sal Jesus beslis nie verloën nie.

Petrus het geweet Jesus het hom spesifiek gewaarsku dat hy dit sou doen.

Maar hier was die ideale geleentheid om te bid dat, wanneer daardie versoeking kom, hulle geestelik sterk sou wees en nie ingee nie.

Ongelukkig bid hulle nie, maar raak aan die slaap.

‘N GEWILLIGE GEES, MAAR ‘N SWAK VLEES.

Elkeen van ons kom daagliks voor versoekinge te staan.

Daarom moet ons Jesus se waarskuwing so ernstig opneem.

Ons moet elke dag bid vir die geestelike krag om sterk te staan teen versoekings.

Ons wedergebore gees is meer as gewillig om God te gehoorsaam. Ongelukkig het almal van ons nog denkpatrone wat veroorsaak dat ons kies om die verkeerde te doen.

As ons egter vir God vra om ons te help wanneer die versoeking kom, sal Hy ons versterk sodat ons kan kies om die regte ding te doen.

Maar ‘n mens moet bid voor die versoeking aan jou deur klop en nie wag tot dit amper te laat is nie.

Waak en bid. Jy weet nie wanneer die versoeking gaan kom nie. Onthou, jou gees is gewiliig, maar jou vlees is swak!

JESUS WORD GEVANGE GENEEM.

Nadat Jesus ‘n derde keer die ander aan die slaap vind, sê Hy vir hulle, “Staan op, kom ons loop. Kyk, die man wat My verraai, is hier naby.”

Terwyl Hy nog praat kom Judas daar aan. By hom is ‘n klomp mense met stokke en swaarde.

Judas groet Hom met ‘n soen en die ander gryp Hom en neem Hom gevange.

En, net soos Jesus gesê het dit gaan gebeur, laat al die dissipels Hom in die steek en hardloop weg.

Uit hierdie gedeelte leer ons dat ‘n mens nie te vol vertroue moet wees dat jy nooit iets sal doen nie.

Dit is maklik om na iemand anders se gedrag te kyk en te sê, “Ek sal dít nooit doen nie!”

Maar wanneer dieselfde versoeking op jou pad kom, gee jy dalk net so maklik in.

Weereens sien ons waarom dit so belangrik is om te bid dat God ons help om versoeking te weerstaan.

In eie krag gaan ons dit nooit regkry nie, maar met God se hulp, kan ons enige iets doen (Filippense 4:13).

JESUS VOOR DIE JOODSE RAAD.

In Markus 14:53-65 lees ons van Jesus se verhoor.

Allerhande vals getuienis word teen Hom afgelê, maar dit stem nie ooreen nie.

Deur dit alles bly Jesus doodstil. Hy verweer Homself nie.

Dan vra die hoëpriester vir Hom, “Is jy die Christus, die Seun van Hom aan wie die lof toekom?”

En vir die eerste keer antwoord Jesus hom. Hy sê, “Ek is, en julle sal die Seun van die mens sien waar Hy sit aan die regterhand van Hom wat magtig is, en wanneer Hy kom op die wolke van die hemel.”

Toe skeur die hoëpriester sy klere en beskuldig Jesus van godslastering. Eenparig besluit hulle dat Hy die dood verdien.

Daarna begin hulle Hom spoeg en slaan, net soos Hy in Markus 10:33-34 gesê het gaan gebeur.

PETRUS VERLOëN VIR JESUS.

Markus 14 sluit af met die verhaal van Petrus wat vir Jesus verloën.

Petrus het nie Jesus se waarskuwing ter harte geneem nie. Om die waarheid te sê, dit lyk of hy heeltemal daarvan vergeet het.

Eers toe die haan ‘n tweede keer kraai, val dit Petrus by wat Jesus gesê het.

En dadelik bars hy in trane uit.

LEER BY PETRUS.

In die Woord kry ons beloftes, opdragte, waarskuwings en meer. Al hierdie dinge is neergeskryf om ons te help.

Maar onthou ons altyd wat ons gelees het?

Onthou ons altyd wat die Heilige Gees ons geleer het?

Vergeet ons nie ook soms God se beloftes wanneer probleme hulle opwagting maak nie?

En wanneer versoekings kom, onthou ons God se waarskuwings en opdragte?

Jesus het Petrus gewaarsku, maar hy het geslaap in plaas van om te bid. Toe vergeet hy boonop Jesus se waarskuwing.

As daar net een les is wat jy uit Markus 14 onthou, laat dit dan hierdie les wees.

Onthou om te bid dat jy nie in versoeking kom nie. Bid ook dat die Here jou versterk sodat jy versoekings kan teenstaan.

En moenie vergeet wat God jou in die Woord geleer het nie.

Dit kan van lewensbelang wees!

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *