
Ek lees nou die dag dat die Here vir ons ‘n Boek gegee het wat klein genoeg is om in jou hand vas te hou, groot genoeg om jou hele lewe lank te bestudeer, en ryk genoeg om jou hart en gedagtes vir altyd te bevredig.
Elke keer wat ons tyd in die Woord spandeer, is die Here besig om ‘n werk in ons harte te doen. Hy gee vir ons wysheid en leiding deur die Woord en vernuwe ons gedagtes om soos Hy te dink, op te tree en te praat.
Elke boek van die Bybel is ryk in waarhede, en juis daarom is dit belangrik dat ons elke boek in die Bybel lees en bestudeer.
Ons sedert Augustus besig om deur die Evangelie van Markus te lees, sodat die Here ons daaruit kan leer. Vandag gaan ons stilstaan by Markus 12.
DIE GELYKENIS VAN DIE BOERE EN DIE WINGERD.
In Markus 12:1-12 lees ons weer een van Jesus se gelykenisse. Uit die laaste vers van hoofstuk 11, weet ons dat Jesus hierdie gelykenis vir die godsdienstige leiers vertel het.
Hy vertel van ‘n boer wat sy wingerd verhuur het. Op die vasgestelde tyd het hy ‘n slaaf na die boere, wat die wingerd gehuur het, gestuur om sy deel van die opbrengs te kry. Die boere het die slaaf egter geslaan en met leë hande weggestuur.
Weer en weer stuur die eienaar slawe na die boere. Soms word die slaaf geslaan, ander kere selfs doodgemaak. En nooit kry die eienaar sy deel van die opbrengs nie.
Dan besluit hy om sy seun te stuur. Toe die boere hom sien, het hulle dadelik onder mekaar geredeneer en besluit om hom dood te maak, sodat hulle sy erfenis kan kry.
Die godsdienstige leiers het dadelik verstaan dat Jesus op hulle gesinspeel het.
Met die gelykenis konfronteer Jesus hulle oor hulle God se profete, en ook Sy Seun, verwerp.
Dan haal Hy ‘n gedeelte uit die Skrif aan oor die belangrikste klip wat die bouers afgekeer het. (Hierdie klip verwys na Jesus.) Die klip het hulle laat struikel en daarom gaan God die Koninkryk van hulle af wegvat en gee aan diegene wat glo in Jesus as die Seun van God.
DIE LES UIT MARKUS 12:1-12.
Dit is nie net die Joodse leiers wat oor die belangrikste klip gestruikel het en dit verwerp het nie.
Menigte mense is vandag steeds besig om vir Jesus te verwerp.
Hoewel ons niemand kan dwing om in Hom te glo nie, is dit steeds ons plig om ander van Jesus te bly vertel.
Niemand kan glo as hy nie in die eerste plek van Jesus hoor nie. En niemand kan hoor as daar nie vir hom vertel word nie.
Ons moet bid vir diegene wat nog nie glo nie en God se leiding volg om met diegene te praat wanneer Hy ons lei om dit te doen.
DIE VRAAG OOR DIE BETAAL VAN BELASTING.
Nadat Jesus die Joodse leiers gekonfronteer het omdat hulle Hom verwerp, het hulle na ‘n plan gesoek om Hom te laat vang.
Hulle stuur toe ‘n paar Fariseërs en Herodiane na Hom toe om Hom met ‘n vraag in ‘n strik te vang.
Eers smeer hulle Jesus heuning om die mond: “Meneer, ons weet dat u iemand is wat u mening eerlik uitspreek sonder om mense in aanmerking te neem, want u let nie op die aansien van persone nie. U is getrou aan die waarheid en so maak u die wil van God bekend.”
Dan kom hulle met die vraag: “Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal, of is dit nie? Moet ons betaal, of moet ons nie betaal nie?” (Markus 12:14)
Vir die omstanders kon dit geklink het asof hulle regtig wou weet wat die regte ding is om te doen. Jesus het egter geweet wat hulle beplan en Hy gee hulle ‘n antwoord wat hulle nie verwag het nie.
Hy sê dat hulle aan die keiser moet gee wat aan hom behoort, en aan God wat aan Hom behoort.
WAT ONS KAN LEER UIT MARKUS 12:13-17.
Daar is drie dinge wat ons uit die gedeelte kan leer, wat ek onder jou aandag wil bring.
Eerstens leer ons dat dit reg is om belasting te betaal.
Volgens Romeine 13:1 moet ons ons onderwerp aan die regering. God het hulle die posisie van gesag gegee, en daarom moet ons die wette wat hulle maak, gehoorsaam. Om belasting te betaal is een van die wette van die land, en daarom moet ons dit gehoorsaam.
Die tweede les wat ons leer is dat daar sekere dinge is wat aan God behoort. Een van hierdie dinge is die mens. God het elkeen van ons geskape. Verder is die prys vir ons ook betaal, en daarom behoort ons nie aan onsself nie. ‘n Gelowige is ‘n tempel van die Heilige Gees en moet God in sy liggaam verheerlik. (1 Korinthiërs 6:19-20)
Die derde les wat ek onder jou aandag wil bring, is die feit dat Jesus hier in ‘n politieke geskil betrokke kon raak as Hy anders geantwoord het. Mense stem amper nooit saam oor die politiek en die politieke situasie in die land nie. Gelowiges moet versigtig wees om nie in sulke geskille betrokke te raak nie. Dit los nooit probleme op nie, maar veroorsaak eerder probleme en bring onmin en dalk selfs skeuring in ‘n vriendekring of familie.

DIE VRAAG OOR DIE OPSTANDING UIT DIE DOOD.
Hoewel Jesus die Joodse leiers op so ‘n wyse geantwoord het, dat hulle stom van verbasing oor Hom was, kry die vrae nie einde nie.
In Markus 12:18-27 kom van die Sadduseërs na Jesus toe met ‘n vraag.
Hulle het nie geglo in die opstanding uit die dood, in engele of geeste nie (Handelinge 23:8).
Nou kom vra hulle vir Jesus oor die opstanding uit die dood en haal sommer Skrif ook aan in die situasie wat hulle skilder.
Jesus antwoord egter dat hulle nie die skrif of die krag van God verstaan nie. Dan gebruik Hy Skrif om hulle te antwoord.
Hy sê dat God die God van die lewendes is, nie die dooies nie.
LES UIT DIE VRAAG OOR DIE OPSTANDING.
Uit hierdie gedeelte leer ons dat daar wel eendag ‘n opstanding uit die dood gaan plaasvind.
Niemand wat doodgaan hou maar net op bestaan nie.
Ons moet nou, terwyl ons die geleentheid het, seker maak dat ons die ewigheid op die regte plek gaan deurbring.
DIE VRAAG OOR DIE GROOTSTE GEBOD.
Terwyl Jesus met die Sadduseërs praat, is daar ‘n skrifgeleerde wat staan en luister.
Hy hoor dat Jesus hulle ‘n goeie antwoord gee en hy staan nader met ‘n vraag van sy eie.
Hy vra vir Jesus wat die heel grootste gebod is.
In Sy antwoord, praat Jesus nie net van die heel grootste gebod nie, maar ook van die tweede een.
Die eerste een is: “Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here. Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag” (Markus 12:29-30).
Die tweede een is: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (vs.31).
Die skrifgeleerde stem saam met Jesus. Hy erken dat liefde belangriker is as die bring van offers en Jesus sê dat hy nie ver van die Koninkryk van God af is nie.
DIE EERSTE EN TWEEDE GEBOD.
Oral in die Bybel lees ons hoe belangrik dit is om God en mense lief te hê.
Om die waarheid te sê, elke wet wat God gegee het, is bedoel om ons te wys hoe hierdie twee dinge gedoen word.
In Johannes 14:15 sê Jesus, “As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer.”
En in 1 Johannes 5:3 staan: “Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons Sy gebooie gehoorsaam.”
Gehoorsaamheid aan God moet kom uit ‘n hart vol liefde vir Hom. Dit help nie om maar net gehoorsaam te probeer wees aan die wet nie. Nee, liefde vir God kom eerste en gehoorsaamheid sal dan daaruit voortvloei.

DIE VRAAG OOR DIE SEUN VAN DAWID.
Die manier waarop Jesus elke keer die Joodse leiers antwoord, het veroorsaak dat hulle opgehou het met hulle vrae.
Jesus begin toe die mense in die tempel leer en Hy vra hulle ‘n vraag. Hy vra: “Hoe is dit dat die skrifgeleerdes sê dat die Christus die seun van Dawid is?”
Dan gee Hy self die antwoord deur Skrif aan te haal en ons leer dat, hoewel die Christus ‘n afstammeling van Dawid was, is Hy ook sy Here.
JESUS WAARSKU TEEN DIE SKRIFGELEERDES.
Volgende waarsku Jesus die mense teen die skrifgeleerdes.
Hulle het graag hulle godsienstige pligte in die openbaar nagekom, sodat ander dit kon sien en hulle daarvoor bewonder. En tog doen hulle verkeerde dinge, soos om weduwees se huise in te palm en vir die skyn lang gebede op te sê.
Hulle motiewe en die dinge wat hulle gedoen het, was lynreg in kontras met die twee grootste gebooie.
MOTIEWE EN DADE.
Uit Markus 12:38-40 leer ons dat ons nie soos die skrifgeleerdes moet wees nie.
Ons moenie ons godsdientige pligte nakom om ander te beïndruk nie.
Ons motiewe en dade moet spruit uit ons liefde vir God en vir ons naaste. Sonder liefde beteken al die godsienstige dinge wat ons doen eintlik maar niks. Lees 1 Korinthiêrs 13, en jy sal sien wat ek bedoel.
DIE ARM WEDUWEE SE GAWE.
Markus 12 sluit af met die verhaal van die arm weduwee.
Jesus sit regoor die offergawekis en kyk hoe die mense geld ingooi.
Die ryk mense wat verbykom gooi baie in. Dan kom daar ‘n vrou wat net twee muntstukkies ingooi. En dit is sý wat Jesus se aandag trek.
Hy roep dadelik Sy dissipels ander en sê vir hulle: “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het. Hulle het almal uit hulle oorvloed iets ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe.”

DIE LES VAN DIE ARM WEDUWEE.
Uit die verhaal van die arm weduwee leer ons dat God alles raaksien wat ons vir Hom doen. Hy sien wanneer ons geld vir die uitbreiding van Sy Koninkryk gee.
Baie van ons gee uit die oorvloed wat ons het, en dit is goed en reg so.
Daar is egter ook diegene wat gee wanneer hulle nie veel het om te gee nie.
As jy in die tweede kategorie val, moenie dink jou offergawe is minderwaardig omdat dit minder is as dít wat die ryke gee nie.
Jesus het gesê wanneer jy in jou gebrek gee wat jy het, is dit meer as dit wat die rykes in hulle oorvloeg gee.
DIE LESSE IN MARKUS 12.
Bid vir die ongelowiges en bly getuig oor Jesus. Mense moet van Jesus hoor voor hulle kan glo, en iemand moet hulle vertel sodat hulle kan hoor.
Gehoorsaam die wette van die land en betaal jou belasting.
Gee jouself aan God. Hy het jou geskep en jou duur gekoop met die bloed van Sy Seun.
Moenie in politieke geskille betrokke raak nie. Dit los nie probleme op nie, maar kan families en vriende uitmekaar skeur as mense nie saamstem nie.
Geen mens wat doodgaan hou net op bestaan nie. Ons gaan almal eendag uit die dood opstaan. Terwyl ons die geleentheid het, moet ons seker maak ons gaan die ewigheid saam met God deurbring.
Gehoorsaamheid aan God moet kom uit ‘n hart vol liefde vir Hom.
Ons motiewe en dade moet spruit uit ons liefde vir God en vir ons naaste.
God sien elke gawe wat ons gee vir Sy Koninkryk. As jou gawe klein is, omdat jy nie baie het nie, is dit nie minderwaardig nie. Jesus het gesê die een wat uit sy gebrek gee, gee meer as die een wat uit sy oorvloed gee.
