Markus begin sy Evangelie in Markus 1 op ‘n interessante manier.
Hy skryf: “Die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God, begin só…”
Die woord ‘evangelie’ is afgelei van die Griekse woord eauggelion, en dit beteken goeie nuus.
Dan skryf Markus oor die profesie wat Jesaja gemaak het oor die boodskapper, wat voor die Here uit gaan om die pad vir Hom reg te maak.
Hierdie boodskapper is Johannes die Doper. Hy was die eerste een wat die goeie nuus oor die Messias, verkondig het.
Hoewel Johannes die eerste een was wat die goeie nuus verkondig het, het die evangelie van Jesus eintlik al daar in die Tuin van Eden begin.
Daar het God aangekondig dat Hy Iemand sou stuur om die werke van die duiwel tot niet te maak.
Reg deur die Ou Testament is daar die een profesie na die ander oor die Messias wat sou kom.

Dan word Johannes die Doper en Jesus so in dieselfde tyd gebore.
Johannes word groot en gaan woon in die woestyn.
Daar begin hy preek. Hy preek dat mense hulle moet bekeer. Hy preek ook oor die Een wat sou kom.
In Markus 1 lees ons dat hy sê hierdie Een is sy meerdere, en dat hy nie eers waardig is om Sy skoene vir Hom los te maak nie.
Hy gaan verder en preek dat hy die mense met water doop, maar die Een wat na hom kom, sal die mense met die Heilige Gees doop.
OM DIE PAD GEREED TE MAAK.
Soos ek verlede week genoem het, was dit gebruiklik in die Bybelse tyd om ‘n boodskapper voor ‘n koning uit te stuur.
Hy het aangekondig dat die koning op pad was. Die mense kon dus alles gereed kry vir die koms van die koning.
Die paaie was daardie tyd ook nie altyd so begaanbaar nie.
Dit het die mense ook geleentheid gegee om die paaie rondom hulle dorp darem bietjie op te knap.
Jesus is die Messias, die Koning, wat op pad is. Alles moet in gereedheid gebring word vir die koms van die Koning.
Hoe ironies dat meeste mense Sy koms heeltemal gemis het.
JESUS WORD GEDOOP.
Die mense stroom na Johannes toe om deur hom gedoop te word.
Op ‘n dag kom Jesus ook daar aan en word deur Johannes gedoop.
In Markus 1:10-11 lees ons dat die hemel oopgeskeur het en die Gees soos ‘n duif na Jesus toe neergedaal het. ‘n Stem uit die hemel het ook gesê, “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”
Jesus se doop was die teken dat Sy openbare bediening nou begin het.
Beide God die Vader en die Heilige Gees getuig saam oor wie Hy is.
Hierdie gebeurtenis moes al vir die mense wat dit gesien het, iets omtrent Jesus vertel het.
JESUS WORD VERSOEK.
Net na Jesus gedoop is, neem die Gees Hom na die woestyn waar Hy veertig dae lank bly.
Gedurende hierdie tyd word Hy deur die duiwel versoek.
Markus gee nie vir ons veel inligting hieroor nie.
Maar dit is hier in die woestyn waar Jesus Sy vyand van aangesig tot aangesig ontmoet.
Hier wys Hy reeds wie die sterkste is.
Uit van die ander Evangelies weet ons meer van wat hier gebeur het. En ons sien dat dit nie saak maak waarmee die duiwel vorendag kom nie, Jesus staan hom elke keer teë.

JESUS BEGIN MET SY PREDIKING.
Nadat Jesus terugkom uit die woestyn, begin Hy dadelik preek.
Johannes het gepreek dat mense hulle moet bekeer en hulle laat doop, dan sal God hulle sondes vergewe.
Jesus preek ook dat mense hulle moet bekeer. Maar Hy preek meer as dit.
Hy sê dat die koninkryk van God naby gekom het, dat die mense hulle moet bekeer en die evangelie moet glo.
In Romeine 14:17 staan daar: “Die koninkryk van God is nie ‘n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee.”
En in 1 Korinthiërs 4:20 lees ons: “Die koninkryk van God is immers nie ‘n saak van praatjies nie, maar van krag.”
As mens mooi daaroor dink, dan sien jy Jesus was al hierdie dinge. Hy was gehoorsaam aan God. Hy het mense vrede en vreugde, en later ook die Heilige Gees, gegee. En die krag van God het gedurig deur Hom gewerk. Hy was dus die Koninkryk van God in menslike vorm.
Die evangelie is die goeie nuus oor God se redding vir die mensdom. Deur geloof in Sy Seun kan enige een gered word.
Jesus sê dus in effek vir die mense, “Hier is Ek, reg voor julle. Draai terug na God toe en glo in My.”
DIE EERSTE DISSIPELS.
In Markus 1 lees ons ook van die eerste dissipels wat Jesus geroep het.
Die plan was nooit dat Hy die boodskap van verlossing alleen moes verkondig nie.
Daarom kies Hy twaalf mans om die taak saam met Hom aan te pak.
Vir drie jaar lei Hy hulle op en, na Hy opgevaar het hemel toe, neem hulle die taak oor en gaan daarmee aan.
Hulle vertel vir dié wat naby hulle is, maar ook vir diegene wat ver is.
En stadig maar seker versprei die evangelie. Kerke word gestig en die gelowiges dra die boodskap verder uit.
Besef jy dat jy vandag ‘n gelowige is omdat hierdie twaalf mans die goeie nuus oor Jesus bly uitdra het?
Elkeen van ons is, net soos hulle daardie tyd, nou ook vissers van mense.
Jesus het ons die taak opgelê om die goeie nuus oor Hom te bly versprei.
Ons doen dit dalk nie almal op dieselfde manier nie, maar ons moet nooit ophou om oor Jesus te getuig nie.

JESUS GENEES VERSKEIE MENSE.
Markus 1:21-45 vertel vir ons van verskeie mense wat deur Jesus genees is.
Daar is die besetene van Kapernaum.
Die bose gees wat in hom is getuig ook van Jesus, dat Hy die Heilige van God is, maar Jesus verbied hom om verder te praat.
Dan beveel Hy hom om uit die man te gaan.
Dit laat diegene wat dit sien, verstom.
Hulle besef dat Jesus ‘n nuwe leer het – een met gesag.
Volgende genees Jesus Petrus se skoonma.
Die hele dorp stroom nou na Hom toe, en daardie aand genees Hy allerhande kwale en dryf bose geeste uit.
Markus 1 sluit af met die verhaal van die melaatse man, wat ook deur Jesus genees is.
WAT ONS KAN LEER.
Daar is soveel wat ons uit hierdie verhale kan leer.
Ons sien dat Jesus gesag het oor die duiwel en sy trawante. Hy het ook gesag oor alle siektes en kwale.
Hy preek met gesag oor God se krag en die wonderwerke wat Hy doen, laat mense die krag van God se koninkryk met hulle eie oë sien.
In die genesing van die melaatse, sien ons Jesus se empatie, deernis en gewilligheid om te genees.
Die man sê vir hom, “As U wil, kan U my gesond maak.”
Jesus het dadelik geantwoord, “Ek wil. Word gesond!”
In Markus 1:35-37 lees ons dat Jesus die oggend vroeg na ‘n eensame plek gegaan het om daar te gaan bid.
Hieruit leer ons die belangrikheid van gebed. Die Seun van God het dit nodig geag om met Sy Vader in gesprek te wees. Waarom dink ons dat ons daarsonder kan leef?
Markus begin sy evangelie met ‘n reeks gebeurtenisse wat getuig dat Jesus die Seun van God is.
Hy maak hiermee die verhoog gereed vir alles wat verder gaan gebeur.
Volgende week gesels ons oor die volgende hoofstuk van die Evangelie volgens Markus.
Moet dit nie misloop nie!

kan ek ook van die pdfs kry asseblief
Hallo Gerrit. Jy kan die Markus PDF’s gratis hier aflaai – https://www.bybel-en-gebed.co.za/markus-evangelie-gratis-bybelstudie/
Hallo
Kan ek ook pdf kry asb
Tersia, jy kan die verskillende PDF’s vir die Markus Bybelstudie hier aflaai – https://www.bybel-en-gebed.co.za/markus-evangelie-gratis-bybelstudie/
Hi Risa,
Waar kan ek die “Precept Simbole PDF” aflaai?
Wardeer dit baie 🙂
Chantel, ek email dit sommer vir jou.