VERSE VIR PAASTYD

Paastyd is pas verby. Verlede Vrydag was dit Goeie Vrydag en gister was dit Opstandigssondag. En al kon ons weens omstandighede nie iewers in ‘n kerk saam met ons broers en susters in Christus bymekaar kom en dit wat ons Here Jesus vir ons gedoen het, herdenk en vier nie, kan ons steeds ons oë op Hom rig.

Ek deel vandag graag met jou ‘n klompie verse om jou te herinner aan Jesus se dood aan die kruis, asook aan Sy opstanding. Ek deel ook drie verse oor wat dit vir jou as gelowige beteken.

Dit is deur Hóm wat ons ‘n nuwe lewe kry, deur Hom wat ons met God versoen is en wat daar vrede is tussen ons en God.

Nadat jy hierdie Paastyd verse gelees het, word stil sommer net daar waar jy is, en dank die Vader dat Hy Sy Seun gestuur het om vir jou te sterf. Dank Hom vir Sy genade en liefde en dank ons Here Jesus vir alles wat Hy vir jou is en vir wat Hy vir jou kom doen het.

Verse vir Paastyd

GOEIE VRYDAG – DIE KRUISIGING.

Mattheus 27:50-51: Jesus het weer hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas. Op daardie oomblik het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur. Die aarde het geskud, en die rotse het uitmekaar gebars.

Markus 15:37-39: Daarna het Jesus hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas. Die voorhangsel in die tempel het van bo tot onder middeldeur geskeur. Toe die offisier, wat reg voor Jesus gestaan het, Hom die laaste asem só sien uitblaas het, het hy gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.”

Lukas 23:42-43: Verder sê hy: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.” Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”

Johannes 19:30: Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!” Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas.

OPSTANDINGSSONDAG.

Mattheus 28:5-6: Toe sê die engel vir die vroue: “Julle moet nie bang wees nie. Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek, soos Hy gesê het. Kom nader en kyk: daar is die plek waar Hy gelê het.”

Markus 16:5-6: Toe hulle in die graf ingaan, sien hulle ‘n jongman aan die regterkant sit met lang wit klere aan, en hulle het groot geskrik. “Moenie skrik nie!” sê hy vir hulle. “Julle soek Jesus van Nasaret, wat gekruisig is. Hy is uit die dood opgewek. Hy is nie hier nie. Kyk, daar is die plek waar hulle Hom neergelê het.”

Lukas 24:5-7: “Die vroue het groot geskrik en met hulle gesig na die grond toe gebuig. Toe sê die manne vir hulle: “Waarom soek julle die Lewende by die dooies? Hy is nie hier nie. Hy is uit die dood opgewek. Onthou hoe Hy met julle gepraat het toe Hy nog in Galilea was en gesê het: Die Seun van die mens moet uitgelewer word in die hande van sondige mense, gekruisig word, en op die derde dag opstaan.”

Johannes 20:6-8: Ná hom het Simon Petrus ook daar aangekom, en hy het in die graf ingegaan. Hy sien toe die doeke daar lê, ook die doek wat om Jesus se kop was. Dié doek het nie by die ander doeke gelê nie, maar was eenkant afsonderlik opgerol. Daarna het die ander dissipel, wat eerste by die graf gekom het, ook ingegaan, en hy het dit ook gesien en geglo.

LEES OOK: Die Nuwe Lewe In Jesus Christus

HY HET OPGESTAAN!

Markus 16:9: “Ná Jesus se opstanding vroeg die Sondagmôre, het Hy heel eerste aan Maria Magdalena verskyn, uit wie Hy vantevore sewe bose geeste uitgedrywe het.”

Lukas 2:30-32: Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle. Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn. Hulle sê toe vir mekaar: “Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?”

Johannes 20:19-20: Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!” Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy vir hulle. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien.

Johannes 11:25-26: Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?”

Handelinge 3:15: So het julle Hom, die Leidsman na die lewe toe, doodgemaak, maar God het Hom uit die dood opgewek, en daarvan is ons getuies.

Handelinge 4:33: Die apostels het kragdadig getuig dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het, en die genade van God was groot oor hulle almal.

WAT DIT VIR JOU BETEKEN.

Romeine 8:32-34: Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie? Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.

Efesiërs 1:19: …en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het…

Kolossense 1:13-14: Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet. Deur die Seun het ons die verlossing verkry, die vergewing van ons sondes.

Ons is inderdaad uit genade gered! Mag die Heilige Gees, soos jy in die volgende weke tyd in die Woord spandeer, die Here Jesus meer en meer vir jou uitlig, en mag jy beter verstaan presies wat jou verlossing alles behels.

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *