OM OOR JESUS TE GETUIG

Om oor Jesus te getuig is ‘n opdrag wat elke gelowige moet uitvoer. Hier is ‘n paar praktiese idees wat jy kan gebruik om dit te doen.

Om oor Jesus te getuig

In Handelinge 1:8 lees ons hierdie woorde van Jesus, wat Hy kort voor Sy hemelvaart vir die dissipels gesê het: “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle moet my getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria, en tot aan die einde van die aarde.”

In Mattheus 28:19-20 word die opdrag só gestel: “Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees, en hulle te leer om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd.”

Hierdie twee opdragte is eintlik een opdrag. Daarmee sê Jesus vir ons dat ons ander van Hom moet vertel. Ons moet hulle na Hom toe lei. En, wanneer hulle Hom in geloof aanvaar, moet ons hulle ondersteun en alles leer wat Hy vir ons in Sy Woord laat opteken het.

PAULUS EN APOLLOS.

Twee van die karakters in die Nuwe Testament, wat hierdie opdrag ter harte geneem het, was Paulus en Apollos. Paulus het meer as een sendingreis onderneem. En saam met hom het Apollos ‘n belangrike rol gespeel in die vestiging van die vroeë kerk in Korinte en Efese.

Ongelukkig het die gelowiges in Korinte naderhand met mekaar begin vassit oor die twee. In 1 Korinthiërs 3:1-9 lees ons dat hulle vasgesit het omdat een gesê het hy is vir Paulus terwyl ‘n ander een weer vir Apollos was.

Dit het, soos jy kan dink, verdeeldheid in die gemeente gebring. Maar dan skryf Paulus vir hulle dat nie hy of Apollos nou eintlik van belang is nie. Hulle is maar net, om dit so uit te druk, werkers in die saailand van God. Die een saai die saad, die ander een maak dit nat en God sorg dat dit groei.

Die een wat saai is nie belangriker as die een wat die saad water gee nie. En die een wat water gee, is ook nie belangriker as die een wat saai nie. Albei het hulle plek in die plan van God en albei is nodig om Sy plan uit te voer.

WERKERS IN GOD SE SAAILAND.

Hierdie idee van werkers in God se saailand, is iets wat ons in gedagte moet hou wanneer ons oor Jesus getuig.

Baie gelowiges het die idee dat jy net iemand na Jesus toe lei as jy daar is wanneer hy Jesus in geloof as sy Verlosser aanneem.

Maar dis nie waar nie.

Elke keer wanneer ons oor Jesus getuig, is ons besig om ‘n saadjie te saai of om ‘n saadjie water te gee.

Dis wat ons werk is. Ons moet getuig en so saad saai of saad water gee.

Die res is God se werk. Hy sorg dat die saad groei totdat daar ‘n oes is.

Die persoon wat teenwoordig is wanneer iemand Jesus as Verlosser aanneem, het dus nie meer gedoen as die een wat heel eerste vir hom van Jesus vertel het nie.

Almal van ons het ons plekkie op die saailand. Ons moet net sorg dat ons die werk wat God ons gee om te doen, met volharding uitvoer.

As jy meer wil weet oor die gelykenisse van Jesus, dan is die Gelykenisse van Jesus Bybelstudie net waarna jy op soek is. Dis ‘n selfstudie, waar jy nie net meer gaan leer oor Jesus se gelykenisse nie, maar ook oor die lesse wat Jesus deur die gelykenisse vir ons wil leer. Die stappe wat jy volg gaan jou ook help om te leer hoe om self Bybelstudie te doen.

HOE OM OOR JESUS TE GETUIG.

Noudat ons weet dat ons almal werkers in God se saailand is en dat almal van ons ‘n taak het om te verrig, wil ek vir jou ‘n paar praktiese idees gee wat jy kan gebruik om oor Jesus te getuig.

BEGIN MET GEBED.

Dit maak nie saak waarmee ons besig is die Koninkryk van God nie, ons moet altyd met gebed begin.

Ek stel voor dat jy gereeld bid en vir die Here vra om vir jou geleenthede te gee om oor Jesus te getuig. Onthou, jy kan teenoor bekendes en teenoor vreemdelinge getuig. Jy kan selfs as ouer teenoor jou kinders getuig.

Vra ook die Here om jou te help met die regte woorde wanneer jy iemand van Jesus vertel.

WAT HET JESUS ONLANGS VIR JOU GEDOEN?

Dink ‘n bietjie na oor die verskillende dinge wat Jesus die afgelope tyd vir jou gedoen het. Jy kan sommer ‘n lysie maak, sodat jy dit nie vergeet nie.

Wanneer jy iemand raakloop wat ‘n soortgelyke probleem het as wat jy gehad het, vertel vir hom wat Jesus gedoen het en hoe Hy jou gehelp het.

Jou doel is nie om die persoon sover te kry om Jesus as Verlosser aan te neem nie, hoewel dit wonderlik is as dit sou gebeur. Nee, jou doel is eenvoudig om ‘n saadjie te saai of water te gee.

So, vertel net wat Jesus vir jou gedoen het en laat dit dan daar.

As die persoon enige vra het, antwoord so goed jy kan. As jy nie ‘n antwoord het nie, erken dat jy nie weet nie, maar dat jy sal probeer uitvind. Vra dan die Here om jou te help om die antwoord te kry. En, as jy die antwoord kry, gaan getuig dan weer oorr Jesus deur die persoon te vertel wat hy wou weet.

JOU VERLOSSINGSVERHAAL.

Elkeen van ons het ‘n verlossingsverhaal. Dit sluit in watter tipe mens ons was voor ons vir Jesus ontmoet het, hoe ons Hom ontmoet het, en hoe Hy ons tot nou toe verander het.

Dis ‘n goeie idee om jou verlossingsverhaal neer te skryf, sodat jy presies weet wat om vir iemand anders te vertel as God jou die geleentheid sou gee.

Onthou, party mense neem Jesus aan terwyl hulle nog kinders is. Ander leef ‘n lang en wilde lewe voor hulle die dag tot bekering kom. Dit maak nie saak watter vorm jou verhaal aanneem nie, God kan dit gebruik om iemand anders vir Jesus te bereik.

Wees jy maar net bereid om jou verhaal te vertel en vertrou God met die res.

‘N HEILIGE LEWE.

Iemand het gesê dat ons heeltyd oor Jesus moet getuig en, as dit nodig is, moet ons woorde gebruik.

Dit klink na ‘n snaakse ding om te sê. Hoe moet ‘n mens getuig as jy nie woorde gebruik nie?

Eenvoudig – jou manier van lewe moet van Jesus getuig.

In Johannes 13:34-35 sê Jesus vir Sy dissipels: “Ek gee julle ‘n nuwe gebod: Julle moet mekaar liefhê. Net soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Dit is hoe almal sal weet dat julle my dissipels is – as julle liefde teenoor mekaar het.”

Wanneer ons liefde teenoor ander uitleef, getuig ons oor Jesus.

Wanneer ons nie die grille en giere van die wêreld volg nie, maar doeners van die Woord is, getuig ons oor Jesus.

Ons kan dus, sonder om woorde te gebruik, met ons lewenswyse oor Jesus getuig.

GETUIG TEENOOR JOU MEDE-GELOWIGES.

‘n Mens dink nie altyd daaroor dat jou mede-gelowiges ook nodig het dat jy teenoor hulle oor Jesus getuig nie. In meeste van ons dink ‘n mens getuig net oor Jesus wanneer jy ‘n ongelowige van Hom vertel.

Maar ons as gelowiges het ook nodig om teenoor mekaar oor Jesus te getuig.

Jy kan byvoorbeeld ook vir ‘n ander gelowige vertel van iets wat Jesus vir jou gedoen het. Dis dalk net wat hy nodig het om te hoor, om sy geloof te versterk.

Of jy kan vir ‘n mede-gelowige vertel van iets wat jy in die Bybel geleer het. Dalk het God jou iets oor Homself of oor Jesus of die Heilige Gees geleer, wat jy nie voorheen geweet het nie. Vertel dit vir iemand anders. Hy weet dit dalk ook nie.

Jy kan ook vir ‘n ander gelowige vertel hoe die Here jou verander het. Hy het dalk ook verandering op daardie gebied nodig en jou getuienis kan hom bemoedig dat verandering moontlik is.

GOD GEE DIE OES.

Die idees hierbo is maar net ‘n paar wat jy kan gebruik om oor Jesus te getuig.

Onthou, as die persoon teenoor wie jy getuig ‘n ongelowige is en nie dadelik vir Jesus as Verlosser aanneem nie, het jy nie misluk nie. Jy het jou saadjie gesaai, of een water gegee, en dis wat God van jou vra.

Hy is verantwoordelik vir die groei. Op die regte tyd sal daardie saadjies opkom en ‘n oes lewer en die persoon sal vir Jesus aanneem.

Hou jy maar net aan om jou saadjies te saai en vertrou die Here om op die regte tyd die oes te gee.

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *