
Donderdag is dit Hemelvaart. Dis nou as jy hierdie artikel in die week lees wat die geplaas word.
Hier in Suid Afrika is Hemelvaart nie meer ‘n vakansiedag nie, maar dit beteken nie dat ons dit nou heeltemal kan ignoreer nie. So, om ons harte voor te berei om te onthou dat Jesus opgevaar het na die Vader, deel ek graag die volgende gedagtes oor Hemelvaart met jou.
PROFESIEë OOR JESUS SE HEMELVAART.
Oral in die Ou Testament is daar profesieë oor Jesus en heenwysings na Hom. Dit is ook waar van Sy hemelvaart.
In Psalm 68:19 lees ons: “U het opgevaar na die hoogte om daar te woon, Here God, nadat U gevangenes weggevoer het en skatplig gevorder het by mense, selfs by hardkoppiges.”
Hierdie vers word dan ook in die Nuwe Testament in Efesiërs 4:7-8 aangehaal: “Maar aan elkeen van ons is ‘n genadegawe geskenk, soos Christus dit uitgedeel het. Daarom staan daar: “Toe Hy opgevaar het na bo, het Hy krygsgevangenes weggevoer; Hy het gawes aan die mense gegee.””
Sommige mense beweer dat Psalm 24:7 ook ‘n heenwysing is na Jesus se hemelvaart. Daar staan: “Lig op julle koppe, poorte, ja, lig julleself op, ewige ingange, sodat die roemryke Koning kan ingaan.”
JESUS PRAAT OOR SY HEMELVAART.
Tydens Sy tyd hier op aarde, het Jesus meer as een keer met verskillende mense gepraat oor die feit dat Hy sou opvaar na die hemel.
In Johannes 6:62 praat Jesus met van Sy dissipels toe Hy sê: “Wat dan as julle die Seun van die Mens sou sien opvaar na waar Hy voorheen was?”
Dan lees ons in Johannes 7 dat die Fariseërs en leierpriesters die tempelwag na Jesus toe stuur om Hom te arresteer. Vir hulle sê Hy in hoofstuk 7:33: “Nog net ‘n kort tydjie is Ek by julle, en dan gaan Ek na Hom wat My gestuur het.””
In Johannes 14:28 praat Jesus met die 12 dissipels wanneer Hy sê: “Julle het gehoor dat Ek vir julle gesê het: Ek gaan weg, maar Ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly gewees het dat Ek na die Vader gaan, omdat die Vader groter as Ek is.”
Dit is ook met die 12 dissipels wat Hy in Johannes 16:28 praat: “Ek het van die Vader af gekom en in die wêreld ingegaan. Ek verlaat weer die wêreld en gaan terug na die Vader.”
En in Johannes 20:17 praat Jesus oor Sy hemelvaart met Maria Magdalena: “Jesus sê vir haar: “Moenie My langer vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader opgevaar nie. Maar gaan na my broers en sê vir hulle, ‘Ek vaar op na my Vader, en julle Vader, en na my God en julle God.'”
INTERESSANTE FEITE OOR JESUS SE HEMELVAART.
In die volgende verse lees ons ‘n paar interessante feite oor Jesus se hemelvaart.
40 DAE NA SY OPSTANDING.
Die hemelvaart van Jesus het 40 dae na Sy opstanding plaasgevind. Handelinge 1:3 sê: “Aan hulle het Hy, ná sy lyding, deur talle tekens getoon dat Hy leef, toe Hy oor ‘n tydperk van veertig dae aan hulle verskyn en met hulle oor die sake van die koninkryk van God gepraat het.”
OLYFBERG OF BETANIë?
Ons lees ook presies waar die hemelvaart van Jesus plaasgevind het. In Lukas 24:50-51 lees ons: “Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem.”
En in Handelinge 3:12 staan daar: “Daarna [na Jesus opgevaar het na die hemel] het hulle [die dissipels] van die berg wat as die Olyfberg bekend staan en wat digby Jerusalem was, ‘n Sabbatsreis ver, teruggekeer na Jerusalem.”
Sien jy dat dit lyk asof Lukas, wat die Lukas Evangelie en Handelinge geskryf het, homself weerspreek? Maar hy weerspreek homself nie, want Betanië is geleë op die oostelike helling van die Olyfberg.
OOGGETUIES
Verder lees ons dat daar ooggetuies was wat gesien het hoe Jesus na die hemel toe opgevaar het.
Ons lees dit in Lukas 24:51, waar daar staan: “Terwyl Hy hulle [die dissipels] seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem.”
Ons lees dit ook in Handelinge 1:9: “Toe Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle toekyk, en ‘n wolk het Hom uit hulle gesigsveld weggeneem.”
Dit was belangrik dat die dissipels sien hoe Jesus na die hemel toe opvaar, sodat hulle bo alle twyfel kon verstaan dat Hy God is en dat Sy tuiste op in die hemel is.
Leer meer oor die gelykenisse wat Jesus vertel het deur die Gelykenisse Van Jesus Bybelstudie te gebruik. Die stappe wat jy in die studie volg, gaan jou ook leer hoe om self Bybelstudie te doen.

JESUS KOM WEER.
Laastens sien ons dat Jesus gaan terugkom soos Hy opgevaar het.
In Handelinge 1:10-12 staan: “Terwyl hulle, soos Hy weggaan, stip na die hemel bly kyk, staan daar meteens twee mans in wit klere by hulle en vra: “Galileërs, waarom staan en staar julle na die hemel? Hierdie Jesus, wat van julle na die hemel weggeneem is, sal net so terugkom soos wat julle Hom na die hemel sien weggaan het.”
Ons weet nie wanneer dit gaan gebeur nie, maar dat dit gaan gebeur, is ‘n feit.
En daarom moet ons gereed wees daarvoor. Ons doen dit deur self te glo en deur oor Jesus te getuig, sodat ander ook kan glo en in hierdie wonderlike seën uit God se hand kan deel.
