
In Lukas 1 en 2, en ook in Mattheus 1 en 2, lees ons van die geboorte van Jesus. Die twee weergawes dek nie dieselfde dinge nie, wat ons help om ‘n groter oorsig oor die gebeure te hê.
In Lukas lees ons byvoorbeeld dat die engel Gabriël na Maria toe kom en vir haar sê dat sy, ‘n maagd, die ma gaan word van die Jesus, die beloofde Messias.
In Mattheus lees ons weer hoe ‘n engel in ‘n droom aan Josef verskyn het, om vir hom te sê waarom Maria ‘n baba, van wie hy nie die pa is nie, gaan hê.
Vandag wil ek ‘n bietjie fokus op Lukas 1 en 2 en met jou ‘n paar interessante dinge deel wat ons in dié twee hoofstukke aantref.
SAGARIA EN ELISABET.
Ons lees van Sagaria en Elisabet in Lukas 1:5-25 en verse 57-80.
Sagaria was ‘n priester tydens die regeringstyd van Herodes die Grote. In Hebreeus beteken sy naam “die Here onthou”.
In Lukas 1:8-9 lees ons dat Saragia tydens sy diensgroep se beurt om tempeldiens te doen, gekies is om die reukoffer aan God te bring.
Uit 1 Kronieke 24:1-19 leer ons dat die priesterskap in 24 diensgroepe verdeel was. Elke groep het uit vier tot nege families bestaan.
Die priesters het diens gedoen tydens die drie groot Joodse feeste. Dan het hulle ook twee keer per jaar diens gedoen.
Sagaria was in die diensgroep van Abia.
Uit Lukas leer ons ook dat Sagaria se vrou, Elisabet, die dogter van ‘n priester was. Sy was kinderloos, as gevolg van onvrugbaarheid.
Dis interessant dat Sagaria en Elisabet, net soos Abraham en Sara, al oud was. Die geboorte van hulle seun, Johannes die Doper, was dus ook ‘n wonderwerk, net soos Isak s’n ‘n wonderwerk was.
DIE ENGEL GABRIëL.
Hierdie engel is een van twee engele wie se name in die Bybel genoem word. Sy naam beteken “man van God” of “God het Hom sterk betoon”.
Ons lees nie net van Gabriël in Lukas nie, maar ook in Daniël in die Ou Testament.
Volgens Lukas was Gabriël die engel wat in God se teenwoordigheid staan. Hy is ook die boodskapper-engel en kondig die geboortes van Johannes en van Jesus aan.
Die ander engel wie se naam in die Bybel genoem word, is Migael (Judas 1:9). Hy is die kryger-engel.
LIEDERE IN LUKAS 1 EN 2.
In die eerste twee hoofstukke van Lukas kry ons drie verskillende liedere.
Die eerste is die lied van Maria, ook genoem die ‘Magnificat’ (Lukas 1:46-55).
Dan kry ons die lied van Sagaria in Lukas 1:68-79. Dit word die ‘Benedictus’ genoem.
En laastens is daar die lied van Simeon in Lukas 2:29-32. Dit word die ‘Nunc Dimittis’ genoem.
Maria en Sagaria besing altwee die grootheid en lof van God. En in altwee liedere word daar redes gegee waarom God geloof en geprys moet word.
Simeon fokus weer Jesus en die effek wat God se verlossingsplan deur Hom op homself en die volk Israel gehad het.
DIE VOLKSTELLING.
In die eerste verse van Lukas 2 lees ons dat keiser Augustus ‘n volkstelling gehou het. Hy hou dit met die oog op die betaling van belasting.
Omdat elke burger na sy moederstad moes gaan om te registreer, het Josef en Maria na Betlehem toe gegaan.
Betlehem was nie net die stad van Josef se afstamming nie, maar ook die stad van Dawid.
God het baie jare gelede vir Dawid belowe dat iemand uit sy nageslag altyd op die troon sou sit. Jesus was die vervulling van hierdie belofte.
IN DOEKE TOEGEDRAAI.
In die Bybelse tyd is babas na geboorte altyd in doeke toegedraai.
Die baba is eers gewas en dan met sout ingevryf. Dan is hy met ‘n vierkantige doek toegemaak en dan met ander doeke vasgedraai. So ‘n babatjie het soos ‘n kokon gelyk.
Die baba is gedurende die dag gereeld skoongemaak en met olyfolie ingesmeer.
Dit was verseker vir die kleintjie lekkerder om met olie ingevryf te word as met sout!
NAME IN DIE BYBEL.
In Lukas 1:59-64 lees ons van die dag toe Johannes die Doper sy naam gekry het.
In die Bybelse tyd het die Jode aan hulle kinders name gegee op die dag wat hulle besny is.
Name het gewoonlik iets beteken. Dit kon iets sê van die geboorte. Party name het iets gesê van die kind se karakter, wat sy ouers van hom verwag het. Ander name was ‘n uitdrukking van dank of aanbidding teenoor God.
Ons lees dan ook twee dinge oor Jesus se naam in Mattheus 1.
In vers 21 sê die engel vir Josef dat hy sy Seun Jesus moet noem, want ‘Hy sal sy volk van hulle sondes verlos.’
En in vers 23 lees ons dat Jesus ‘Immanuel’ genoem sal word, wat ‘God is met ons’ beteken.
Hierdie name wys altwee vir ons wat daar van die Kind verwag is.

BESNYDENIS.
Joodse ouers het hulle seuntjies op die agtste dag besny.
Dit was ‘n teken van die verbond wat God met Abraham gesluit het. So ‘n seuntjie is as deel van God se volk gesien.
Besnydenis was nie net ‘n gebruik onder die Jode nie, maar ook onder van die ander Oosterse volke. Die ander volke het egter hulle seuns besny wanneer hulle ouer was. Daarna was die kind as ‘n volwassene in die volk erken.
LOSKOOP VAN DIE EERSGEBORENE.
‘n Maand na sy geboorte is ‘n eersgebore seun aan die Here gewy.
Tydens die seremonie is hy, in gehoorsaamheid aan die wet van God wat Hy aan Moses gegee het, deur ‘n offer van God ‘losgekoop’.
REINIGING VAN DIE MOERDER.
Na ‘n seun se geboorte is die ma vir 40 dae as onrein beskou. Na ‘n dogter se geboorte was sy onrein vir 80 dae. In daardie tyd kon sy nie in die tempel ingaan nie.
Aan die einde van die tydperk, moes die ouers ‘n lam as brandoffer en ‘n duif as sondeoffer na die priester neem. As hulle nie ‘n lam kon bekostig nie, moes hulle twee duiwe neem. Dis dan ook wat Josef en Maria gedoen het.
Die priester moes dan die diere offer en die ma weer rein verklaar.
Dis interessant dat Jesus die Seun van God en ook die Messias is, maar Hy word nie anders behandel as die ander seuntjies van Sy tyd nie. Sy aardse ouers kom die Wet na.
Jesus was dus nie verhewe bo die wet nie, maar onderhou dit in alle opsigte.
JOU BEURT.
Soos ek genoem het, lees ons nie heeltemal oor dieselfde gebeure in Lukas en in Mattheus nie. Hoewel altwee skryf oor die geboorte van Jesus, bekyk die een skrywer dit vanuit een hoek, terwyl die ander een dit vanuit ‘n ander hoek bekyk.
Ons het nou gesels oor van die interessante dinge wat ons in Lukas 1 en 2 oor lees. Nou is dit jou beurt om Mattheus 1 en 2 te lees en te kyk watter interessante dinge jy alles daar raakloop.
