
Ek het na skool drame gestudeer. Elke paar maande het ons ‘n toneelstuk opgevoer, want hoe anders leer ‘n mens om toneel te speel as om in ‘n toneelstuk te speel?
Vir ‘n paar weke het ons die toneelstuk ingeoefen. Al wat op daardie stadium op die verhoog was, was die akteurs en dalk ‘n ding soos ‘n stoel of tafel.
Maar net voor die opening van die toneelstuk het ‘n paar ekstras bygekom. Nou was daar behoorlike dekor. Daar was, as dit nodig was, ‘n geverfde agtergrond. Al die akteurs het kostuums aangehad en die beligting was presies reg.
Wanneer die toneelstuk die eerste aand op die planke was, het die hele gehoor verstaan waaroor die stuk gaan. Deel daarvan was as gevolg van die storie. Maar ‘n groot deel was ook as gevolg van die dekor, die kostuums en die beligting.
Dit het bygedra tot die verstaan en sukses van die stuk.
Dieselfde is waar van die Bybel.
Wanneer ‘n mens die agtergrond van ‘n gedeelte verstaan, is dit soos die dekor en kostuums in die toneelstuk. Dit help jou om beter te verstaan omdat jy die gedeelte sien teen die agtergrond van die tyd waarin dit geskryf is.
WAT IS ‘N AGTERGROND-STUDIE?
In ‘n agtergrond-studie maak ‘n mens inligting bymekaar oor die agtergrond van die gedeelte wat jy studeer.
Jy kyk na die persoon of persone waaroor daar geskryf word. Jy kyk ook na die gebeure of die onderwerp waaroor daar gepraat word.
‘n Agtergrond-studie hou ook verband met die historiese gebeure, die kultuur, die politieke idees en die geografie van die tyd toe daardie deel van die Bybel geskryf is.
DIE DOEL VAN AGTERGROND-STUDIES.
Die tyd waarin ons leef lyk baie anders as die Bybelse tye. Daarom is dit nodig dat ons probeer om die wêreld deur die oë van die skrywers van die Bybel te sien. As ons die wêreld sien soos hulle dit gesien het en voel soos hulle gevoel het, sal ons beter verstaan hoe die Heilige Gees hulle gebruik het om te skryf wat hulle geskryf het.
‘n Mens kan ook nie die Bybel reg interpreteer as jy dinge soos die invloed van die tyd, die geskiedenis, kultuur en politieke toestand ignoreer nie.
En jy kan nie regtig verstaan hoe om dit wat die gedeelte sê in jou lewe toe te pas as jy nie weet hoe die mense vir wie dit oorspronklik geskryf is, dit toegepas het nie.
Gelukkig is daar allerhande hulpmiddele beskikbaar wat jou kan help met dinge soos die kultuur van die dag, die politieke toestand en die geskiedenis.
Ek het byvoorbeeld ‘n argeologiese studiebybel, waaruit ek al baie dinge geleer het. As jy dus so iets raakloop, dink daaroor om dit aan te skaf. Dit sal jou beslis help wanneer jy Bybelstudie doen.
WAT JY NODIG HET VIR ‘N AGTERGROND-STUDIE.
Vir hierdie Bybelstudiemetode gaan jy beslis hulpmiddele nodig hê. Jy kan die hulpmiddele koop of by die Biblioteek uitneem, as dit beskikbaar is. Of jy kan aanlyn daarvoor soek.
Jy gaan die volgende nodig hê:
‘n Bybelwoordeboek of ‘n Bybel-ensiklopedie.
‘n Bybelhandboek en ‘n Bybel-atlas. Sommige Bybels het kaarte aan die agterkant van die Bybel, wat jy ook kan gebruik.
Dan is ‘n argeologiese Bybel of boeke oor Bybelse argeologie ook iets wat van waarde gaan wees.
DIE STAPPE VAN ‘N AGTERGROND-STUDIE.
‘n Agtergrond-studie bestaan uit agt stappe.
STAP 1: KIES ‘N ONDERWERP OF BOEK VAN DIE BYBEL.
Jy kan ‘n agtergrond-studie oor ‘n hele paar dinge doen.
Jy kan byvoorbeeld ‘n onderwerp, ‘n persoon, ‘n woord of ‘n boek van die Bybel kies om te studeer.
Kies wat jy wil studeer en kry die nodige hulpmiddele bymekaar.
STAP 2: MAAK ‘N LYS VAN DIE HULPMIDDELE WAT JY GEBRUIK.
Maak ‘n lys van die hulpmiddele wat jy tydens jou studie gebruik.
Dit sal jou help om te onthou watter hulpmiddele jy gebruik het, wat regtig vir jou van waarde was. Jy sal dan ook weet wat om in die toekoms te gebruik vir soortgelyke studies.
Hierdie stap is nie noodsaaklik nie, maar dit kan jou verseker in die toekoms help.
STAP 3: INLIGTING OOR DIE GEOGRAFIE VAN DIE LAND.
Dis belangrik om ‘n basiese kennis te hê van hoe die wêreld in Antieke Israel en sommer ook die Nabye Ooste, gelyk het. Dit sluit dinge in soos:
- die berge en heuwels in die land;
- die verskillende seë, mere en riviere;
- waar stede en dorpe geleë was;
- waar verskillende lande geleë was;
- bekende bakens en die grense van die omliggende lande en streke.
Wanneer jy iets soos Paulus se sendingreise studeer, is dit belangrik dat jy weet waar die verskillende lande en stede wat hy besoek het, geleë was.
‘n Goeie vraag om jouself te vra wanneer jy Bybelse geografie studeer, is: Wat is die invloed van die omliggende geografie op dit wat ek besig is om te studeer?
In hierdie stap gaan jy dus al die inligting wat jy uitvind omtrent die land, omgewing en gebied van die boek wat jy studeer, neerskryf.
STAP 4: INLIGTING OOR DIE GESKIEDENIS.
Ek het reeds genoem dat die geskiedenis belangrik is wanneer jy die Bybel studeer.
Dis byvoorbeeld belangrik om te weet hoe die geskiedenis van Israel kronologies op mekaar volg.
Vind dinge uit soos die ontstaan en geskiedenis van die belangrike stede in die Bybel.
Dit sal ook help as jy weet watter historiese gebeure in ander dele van die wêreld plaasgevind het tydens die tydperk wat jy besig is om te studeer. Op dié manier gaan jy ‘n beter perspektief hê van wat God besig was om in die wêreld te doen.
‘n Paar vrae wat jy kan vra om jou te help sluit in:
- Wat was die oorsaak van die gebeurtenis wat ek studeer?
- Hoe het dit almal betrokke beïnvloed?
- Wat was die invloed op die gedeelte wat ek studeer?
In hierdie stap gaan jy alles neerskryf wat jy leer oor die geskiedenis rondom die onderwerp of boek wat jy studeer.
STAP 5: DIE KULTUUR VAN DIE DAG.
Die volgende stap is om inligting bymekaar te maak oor die kultuur van die dag. Dit sluit dinge in soos:
- Kleredrag in die Bybelse tyd;
- Die musiek van die dag;
- Kuns in die tyd van die Bybel;
- Wapens en gereedskap wat gebruik is;
- Verskillende beroepe wat mense beoefen het;
- Boustyle van die dag;
- Tradisies en gewoontes;
- Vermaak van die tyd;
- Die lewensstyl van die dag;
- Godsdienstige rituele van die Israeliete en ook van die nasies rondom hulle;
- Die valse godsdienste van die tyd.
Terwyl jy kyk wat jy oor die kultuur en die mense van die dag kan leer, vra jouself: Watter invloed het hierdie dinge op die boodskap en die mense wat ek studeer gehad?

STAP 6: DIE POLITIEK VAN DIE TYD.
Die politieke toestand van die dag het ‘n invloed gehad op baie van die dinge wat in die Bybel gebeur het.
Israel het, byvoorbeeld, lank onder die bewind van ander volke gestaan en was selfs op ‘n stadium in ballingskap. Jy kan dink dat dit ‘n invloed gehad het op hoe hulle geleef het.
Volke soos die Egiptenare, Assiriërs, Babiloniërs, Grieke en Romeine het almal ‘n groot rol in die Bybel vertolk. Was se tipe mense was hierdie volke? Wat het hulle gedoen? Watter invloed het hulle gehad op Israel of die kerk in die Nuwe Testament?
Baie van die profete se boodskappe kan regtig eers verstaan word wanneer ‘n mens die politieke agtergrond van die dag verstaan.
In stap ses gaan jy dus neerskryf wat jy alles kan uitvind oor die politieke toestand van die tydperiode wat jy studeer.
STAP 7: ‘N OPSOMMING VAN JOU NAVORSING.
In hierdie stap gaan jy ‘n opsomming maak van alles wat jy geleer het oor die agtergrond van die gedeelte wat jy studeer.
Om dit vir jouself makliker te maak, kan jy hierdie vrae vra:
- Hoe help hierdie agtergrond-inligting my om die gedeelte wat ek studeer, beter te verstaan?
- Watter invloed het dit gehad op die onderwerp of boek wat ek studeer?
STAP 8: TOEPASSING.
Die laaste stap is om ‘n toepassing te skryf.
Dit gaan dalk nie altyd maklik wees nie, maar as jy mooi soek, sal jy verseker iets kry.
Hoe gaan jy dit wat jy geleer het, in jou lewe toepas?
VOORBEELD VAN ‘N AGTERGROND-STUDIE.
In die volgende artikel gaan ons saam ‘n agtergrond-studie doen sodat jy presies kan sien hoe die studiemetode werk, so moenie vergeet om weer ‘n draai te maak nie!
En as jy nog wil weet oor verskillende Bybelstudiemetodes, kan jy gerus hierdie artikels lees:

