VADERSDAG – 19 BYBELVERSE

Vadersdag - 20 Bybelverse

Pa’s is belangrike figure in hulle kinders se lewens. Daar is sekere dinge wat net ‘n pa vir sy seun of dogter kan doen en beteken. Om ons te herinner aan wat ons pa’s vir ons beteken, vier ons elke derde Sondag in Junie Vadersdag.

Dis ‘n dag waarop ons dink aan ons pa’s en waar ons dankbaar is vir alles wat hulle in die lewe vir ons beteken.

As jy op soek is na ‘n vers om vir Vadersdag in jou pa se kaartjie te skryf, dan kan een van die verse hieronder jou dalk help.

Sommige van die verse praat pertinent oor pa’s. Ander leer ons die karaktertrekke van ‘n man van God. Nog ander leer pa’s hoe hulle moet optree en wat hulle moet doen.

Spreuke 3:11-12.

Die vermaning van die Here, my seun, moet dit nie verwerp nie, en moenie ‘n afkeer hê van sy teregwysing nie. Want die een vir wie die Here liefhet, wys Hy tereg, soos ‘n vader die seun vir wie hy omgee.

Spreuke 22:6.

Rig die jongmens af ooreenkomstig die pad wat hy moet loop; selfs wanneer hy oud geword het, sal hy nie daarvan afwyk nie.

Efesiërs 6:1-4.

Kinders, wees in die Here aan julle ouers gehoorsaam, want dit is hoe dit hoort. “Eer jou vader en jou moeder,” dit is die eerste gebod met ‘n belofte, “sodat dit met jou goed mag gaan, en jy ‘n lang lewe op aarde sal hê.” En vaders: Moenie julle kinders uittart nie, maar voed hulle op deur die dissipline en teregwysing van die Here.

Spreuke 14:26.

In ontsag vir die Here lê daar sterk vertroue, en vir iemand se kinders bied dit ‘n skuilplek.

Deuteronomium 6:6-9.

En hierdie woorde wat ek vandag vir jou voorskryf, moet jy op die hart dra. Herhaal dit vir jou kinders en praat met hulle daaroor wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op pad is, wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan. Bind dit as ‘n teken om jou hand en laat dit ‘n versiering op jou voorkop wees. Skryf dit op die deurkosyne van jou huis en op jou stadspoorte.

1 Timotheus 6:11.

Maar jy, o man van God, vlug weg van hierdie dinge! Streef eerder na geregtigheid, godvresendheid, betroubaarheid, liefde, volharding, sagmoedigheid.

Psalm 103:13.

Soos ‘n vader hom ontferm oor kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat vir Hom ontsag het….

Genesis 2:24.

Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en hom aan sy vrou verbind, en hulle sal een vlees word.

Psalm 127:3-5.

Kyk, seuns is ‘n erfdeel wat van die Here kom; die vrug van die moederskoot is ‘n beloning. Soos pyle in die hand van ‘n krygsheld, so is die seuns van jou jeug. Gelukkig is die man wat sy pylkoker met hulle gevul het. Hulle sal nie beskaamd staan wanneer hulle met vyande in die stadspoort woorde wissel nie.

Efesiërs 5:25-33.

Mans, julle moet julle vroue liefhê, soos ook Christus die kerk liefgehad het en Homself ter wille van haar oorgegee het, sodat Hy haar kon heilig, deurdat Hy haar gereinig het deur die was met water en die woord. Dit het Hy gedoen, sodat Hy vir Homself die kerk in heerlikheid daar kan stel, sonder vlek of rimpel of enigiets dergeliks, heilig en sonder smet.

Net so is die mans verplig om hulle eie vroue soos hulle eie liggame lief te hê. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief. Niemand het nog ooit sy eie liggaam gehaat nie; inteendeel, hy voed en koester dit, soos Christus sy kerk. Ons is immers lede van sy liggaam. “Om hierdie rede sal ‘n man sy vader en moeder verlaat, en hom aan sy vrou verbind – en hulle twee sal een vlees wees.” Hierdie geheimenis is groot; ek sê dit met verwysing na Christus en die kerk. Maar dit geld ook vir een en almal van julle: Laat elkeen sy eie vrou liefhê soos hy homself liefhet; en laat die vrou haar man eerbiedig.

1 Korinthiërs 16:13.

Wees waaksaam, staan vas in die geloof, wees manhaftig, wees sterk.

Spreuke 23:22.

Luister na jou vader, hy wat jou verwek het; en moet jou moeder nie minag wanneer sy oud geword het nie.

Spreuke 23:24: Die vader van ‘n regverdige jubel uitbundig; wie ‘n wyse seun verwek, sal oor hom verheug wees.

Spreuke 4:11-12.

Op die pad van wysheid sal ek jou begelei, ek sal jou laat loop op reguit paaie. Wanneer jy loop, sal jou voetstappe nie belemmer word nie; en as jy hardloop, sal jy nie struikel nie.

1 Petrus 3:7.

Net so, mans, moet julle in julle lewe saam met julle vroue begrip toon vir hulle, as die swakker geslag,nen hulle, as mede-erfgename van die gawe van die lewe, met respek behandel, sodat julle gebede deur niks belemmer word nie.

1 Korinthiërs 7:14.

Die ongelowige man is immers deur sy gelowige vrou geheilig, en die ongelowige vrou is deur haar gelowige man geheilig; anders sou hulle kinders onrein wees, maar nou is hulle heilig.

Prediker 9:9.

Geniet die lewe saam met die vrou wat jy liefhet, al jou sinlose lewensdae wat Hy vir jou gegee het onder die son, al jou sinlose dae; want dit is jou beloning in die lewe by jou inspanning waarmee jy jou afsloof onder die son.

Spreuke 23:26.

Gee my jou hart, my seun, en laat jou oë vreugde vind in my paaie.

2 Timotheus 2:15.

Lê jou daarop toe om jou voor God te stel as iemand wat die toets deurstaan het, as ‘n arbeider wat hom nie hoef te skaam nie, wat met die woord van die waarheid die reguit pad aandui.

NOG BYBELVERSE.

Hierdie is nie die enigste verse wat jy kan gebruik wanneer jy vir jou pa ‘n kaartjie vir Vadersdag wil gee nie.

Die Bybel is vol verse wat ons God se wysheid leer en ons bemoedig.

Vir nog Bybelverse, kan jy na die volgende artikels kyk:

GOD IS GETROU – 33 BYBELVERSE

VERTROU OP GOD: 23 BYBELVERSE

GOD SE LIEFDE: 39 BYBELVERSE

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *