DEUTERONOMIUM – WAT JY MOET WEET

Deuteronomium - wat jy moet weet

Deuteronomium is die vyfde boek van die eerste vyf boeke van die Bybel.

Ons het in vorige artikels gekyk na Genesis, Eksodus, Levitikus en Numeri en gesels oor dinge wat jy oor hierdie boeke moet weet.

In hierdie artikel kyk ons na ‘n paar dinge wat jy oor Deuteronomium moet weet. Dit sal jou help om die boek beter te verstaan wanneer jy dit lees of bestudeer.

DEUTERONOMIUM – DIE NAAM VAN DIE BOEK.

Onder die Jode staan Deuteronomium bekend as ‘Dit is die woorde…’. Hierdie frase kom uit die eerste vers van die boek.

In Grieks is die naam afgelei van twee woorde. Die eerste is Deutoro wat ‘twee of tweede’ beteken. Die tweede woord is Nomos, wat ‘wet’ beteken. Dus is die naam Deuteronomium is ‘n samestelling wat ‘tweede wet’ beteken.

Dis interessant dat die naam eintlik berus op ‘n misverstand. In Deuteronomium 17:18 lees ons: “Wanneer hy op sy koninklike troon sit, moet hy van hierdie wet, wat in besit van die Levitiese priesters is, vir hom ‘n afskrif skryf in ‘n boekrol.”

Die Griekse vertaling (Septuagint) het die woord wat hierbo met ‘afskrif’ vertaal is, vertaal met ‘tweede wet’. ‘Afskrif’ is eintlik die regte vertaling, so ‘tweede wet’ is ‘n fout. Maar dis ‘n goeie fout, want daar is oral in Deuteronomium voorbeelde waar voorskrifte wat in Eksodus, Levitikus en Numeri opgeteken is, herhaal word.

WAAR DEUTERONOMIUM AFSPEEL.

Die boek speel af oos van die Jordaanrivier in die Arabavlakte in Moab, waar die Israeliete hulle tente opgeslaan het.

WIE HET DEUTERONOMIUM GESKRYF?

Daar word algemeen aanvaar dat Moses die skrywer van die boek was. Maar navorsing het ook bewys dat dele van die boek jare na die Israeliete se omswerwinge in die woestyn, eers geskryf is.

WAT SE TIPE BOEK IS DEUTERONOMIUM?

Deuteronomium is, in die eerste plek, ‘n verbondsboek.

‘n Verbond het altyd drie elemente. Daar is die twee partye wat die verbond sluit. In hierdie geval is dit God en Israel. Die derde element is die dokument, wat die terme van die verbond uiteensit. In hierdie geval is dit die boek, Deuteronomium.

Ons sien ook dat Moses drie ‘preke’ in hierdie boek preek. In die eerste preek kyk hy terug na die verlede en wat hulle alles beleef het. In die tweede preek kyk hy na die innerlike. En in die laaste preek kyk Moses na die toekoms.

DIE DOEL VAN DEUTERONOMIUM.

Deuteronomium is nie maar net ‘n herhaling van die wet nie.

Die Israeliete wat die Beloofde Land sou binnegaan, was ‘n nuwe generasie. Almal uit die vorige generasie, wat uit Egipte getrek het – dis nou almal behalwe Moses, Joshua en Kaleb – is dood. Die vorige generasie het gehoor toe Moses die wet by Sinai gelees het en het geweet wat God van hulle verwag. Nou is dit die nuwe generasie se beurt om God se wet te hoor, sodat hulle ook weet wat Hy van hulle verwag.

Deuteronomium help ons ook om God se liefde vir Sy mense te verstaan.

God is ‘n jaloerse God en Sy liefde vir Sy mense motiveer Hom om hulle te lei, te seën, te vergewe, te leer, ensovoorts. Dit is dan ook ons liefde vir God wat ons motiveer om Hom te gehoorsaam.

DEUTERONOMIUM IN VIER DELE.

Ons kan Deuteronomium in vier dele opdeel:

Hoofstukke 1-4, hoofstukke 5-26, hoofstukke 27-30 en hoofstukke 31-34.

DEEL 1: DIE VERLEDE.

In die eerste vier hoofstukke van die boek, lees ons hoe Moses met die volk praat oor dinge wat in die verlede gebeur het.

Hy herinner hulle aan God se getrouheid, sodat hulle Sy liefde vir hulle beter kan verstaan. Dit wakker ook hulle liefde vir God ‘n bietjie aan. Want sien, ‘n mens kan net regtig vir God lief wees wanneer jy seker is daarvan dat Hy altyd daar gaan wees vir jou.

DEEL 2: DIE WET.

In hoofstukke 5-26 verduidelik Moses die wet.

Hierdie nuwe generasie moes presies weet wat God van hulle verwag. Hulle moes ook weet hoe om God se wet in die nuwe omstandighede, wat hulle in die Beloofde Land sou teëkom, toe te pas.

DEEL 3: DIE HEDE.

In hoofstukke 27-30 na die hede gekyk.

Moses moedig die volk aan om die verbond wat tussen hulle en God is, te eer.

Hoekom?

Want as hulle die wette van God ken, ken hulle vir God. As hulle vir God ken, dan sal hulle Hom liefhê. En as hulle Hom liefhet, dan sal hulle Hom wil gehoorsaam.

DEEL 4: DIE TOEKOMS.

In die laaste vier hoofstukke word daar na die toekoms gekyk.

Moses verduidelik vir die volk dat geloof en gehoorsaamheid vir hulle seën sal inhou. Maar ongehoorsaamheid en sonde sal vervloeking bring.

Dan seën hy hulle.

GOD SE NAME IN DEUTERONOMIUM.

Ons lees ‘n hele paar name van God in Deuteronomium.

God se name verduidelik vir ons Sy karakter sodat ons Hom beter kan leer ken.

Die name wat ons in Deuteronomium lees is YHVH, wat in Afrikaans vertaal word met HERE (alles hoofletters).

Dan lees ons ook Elohim en Adonai, wat vertaal word met ‘God’ of ‘my God’ of ‘ons God’. En laastens lees ons die naam Emunah, wat vertaal is met Betroubare God.

GELOOFSLESSE UIT DEUTERONOMIUM.

Daar is ‘n paar geloofslesse wat ons uit die boek kan leer. Ek deel twee daarvan met jou:

Les 1: God het Sy wette vir die Israeliete, en ook vir ons as Sy kinders, gegee. Hy doen dit nie om ons aan bande te lê of ons te frustreer nie. Hy doen dit om ons te bevoordeel.

Wanneer ons God se wette gehoorsaam, werk die lewe soos Hy bedoel het dit moet. En dit is vir ons ‘n seën.

Les 2: Die besnydenis was die teken van God se verbond met die Israeliete. In die Ou Testament was dit ‘n fisiese teken wat deur mensehande (die priesters) verrig is.

Maar in Deuteronomium 30:6 lees ons: “Die Here jou God sal jou hart besny en die hart van jou nageslag, sodat jy die Here jou God met hart en siel sal liefhê, sodat jy kan leef.”

Die besnydenis is steeds die teken van God se verbond met ons. Maar nou is dit nie maar ‘n fisiese teken deur mensehande nie. Nou besny God self elke gelowige se hart.

JESUS IN DEUTERONOMIUM.

Ons sien vir Jesus op ‘n paar plekke in Deuteronomium.

In die eerste plek is Moses ‘n skadubeeld van Christus. God het hom gebruik om die Israeliete uit Egipte te lei en hulle te verlos. Hy het hulle dus bevry.

Jesus is ons Bevryder of Verlosser. Hy verlos of bevry ons van sonde en die dood.

Ons sien dan ook dat Moses oor Jesus se eerste koms praat in Deuteronomium 18:15: “‘n Profeet uit jou midde, iemand uit jou volksgenote soos ek, sal die Here jou God vir jou laat opstaan; na hom moet julle luister.”

In die tweede plek het Jesus, toe Hy versoek is, elke keer uit Deuteronomium aangehaal.

Toe die duiwel vir Hom sê om klippe in brood te verander, antwoord Hy: “Daar staan geskryf, ‘Van brood alleen sal die mens nie leef nie, maar van elke uitspraak wat uit die mond van God kom.'” Hierdie gedeelte kom uit Deuteronomium 8:3.

Daarna sê die duiwel vir Hom Hy moet van die hoogste punt van die tempel afspring, want God belowe in Psalm 91 om ons te beskerm. Maar Jesus sê: “Daar staan ook geskryf, ‘Jy mag die Here jou God nie versoek nie.'” Hierdie woorde kom uit Deuteronomium 6:16.

Laastens sê die duiwel dat hy al die koninkryke van die wêreld vir Jesus sal gee as Hy neerkniel en hom aanbid. Maar Jesus antwoord: “Gaan weg, Satan! Want daar staan geskryf, ‘Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.'” Hierdie deel kom uit Deuteronomium 6:13.

INTERESSANTE FEITE.

Dit is interessant om daarop te let dat die woorde ‘die land van melk en heuning’ baie in Deuteronomium gebruik word. Dit word gedoen om klem te lê op die vrugbaarheid van die land.

DEUTERONOMIUM IN ONS LEWENS.

Baie mense dink dat die Bybel, veral die Ou Testament, nie regtig op vandag se lewe van toepassing is nie.

Maar dis nie waar nie. Ek deel graag ‘n paar dinge uit Deuteronomium, wat vandag nog van toepassing is.

  1. Die Israeliete se gehoorsaamheid aan God is in gedrang omdat hulle te doen kry met volke wat Hom nie ken nie. Stadig maar seker sypel afgodediens hulle godsdiens binne. Dis vandag steeds ‘n probleem, veral hier in Afrika, waar godsdienste met mekaar vermeng word.
  2. Die familie is die basiese bousteen van die samelewing. Deuteronomium spreek die verswakking van familiebande aan. Ons sukkel vandag steeds met families wat, om verskeie redes, uitmekaar val.
  3. In die tyd toe die boek geskryf is, was daar reeds ‘n groot gaping tussen rykes en armes. Baie van die gedeeltes wat hieroor gaan, is ook van toepassing op ons ekonomiese toestand.
  4. Ons sien in die boek ook dat die volk te doen gehad het met korrupsie en mense wat omgekoop kon word. Klink dit vir jou bekend?

DIE VORIGE BOEKE VAN DIE PENTATEUG.

Ek vertrou dat hierdie artikel vir jou van waarde was.

As jy die vorige artikels oor die eerste vier boeke van die Bybel wil lees, kan jy dit hier doen:

GENESIS

EKSODUS

LEVITIKUS

NUMERI

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *