
In die vorige artikel het ons gesels oor die stappe wat ‘n mens gebruik wanneer jy ‘n tema-bybelstudie doen. Vandag gaan ons die stappe toepas en saam ‘n tema-bybelstudie doen sodat jy ‘n voorbeeld het van hoe om dit te doen.
STAP 1: TEMA VIR DIE STUDIE.
Die eerste stap is om ‘n tema te kies waaroor ons ‘n studie wil doen.
Ons tema vir vandag is Jesus se definisie van ‘n dissipel.
STAP 2: LYS VAN SKRIFVERWYSINGS.
Die tweede stap is om verse in die Bybel te kry wat oor die tema handel. Ons gaan net ‘n paar verse gebruik:
Mattheus 10:24–25;
Lukas 14:26–27;
Lukas 14:33;
Johannes 8:31–32;
Johannes 13:34–35;
en Johannes 15:8.
STAP 3: VRAE.
Die derde stap is om vrae neer te skryf wat ons oor die verse kan vra. Onthou, ons vra nie meer as vyf vrae nie en probeer altyd een of meer van die volgende antwoord: wat, hoekom, wanneer, hoe, waar en wie.
Vandag gaan ons net twee vra vra:
a. Wat is die karaktereienskappe van ‘n dissipel?
b. Wat gebeur wanneer iemand ‘n dissipel is?
STAP 4: ANTWOORDE OP DIE VRAE.
Die vierde stap is om die vrae oor die verse te vra en te kyk wat die antwoorde daarop is. Ons gaan na elkeen van die teksgedeeltes wat ons gekies het kyk, ons twee vrae vra en die antwoorde neerskryf.
Skrifverwysing: Mattheus 10:24–25.
‘n Leerling is nie verhewe bo die leermeester, of ‘n slaaf bo sy eienaar nie. Dit is voldoende vir die leerling om soos sy leermeester, en vir die slaaf om soos sy eienaar te word. As hulle die huisheer Beëlsebul genoem het, hoeveel te meer nie die huismense nie.
Vraag: Wat is die karaktereienskappe van ‘n dissipel?
Iemand wat ‘n dissipel van Jesus is, sal soos Hy wees. Hy is ons leermeester en eienaar.
Vraag: Wat gebeur wanneer iemand ‘n dissipel is?
‘n Dissipel moet verwag dat die mense van die wêreld hom sal behandel soos hulle Jesus behandel het (vervolging).
Skrifverwysing: Lukas 14:26–27.
As iemand na My kom en My nie liefhet bo sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie. Wie nie sy eie kruis dra en My volg nie, kan my dissipel nie wees nie.
Vraag: Wat is die karaktereienskappe van ‘n dissipel?
‘n Dissipel het Jesus liewer as enige iets of iemand anders in sy lewe. Hy dra sy kruis en volg vir Jesus.
Vraag: Wat gebeur wanneer iemand ‘n dissipel is?
Geen antwoord word gegee nie.
Skrifverwysing: Lukas 14:33.
Net so kan nie een van julle wat nie van al sy besittings afstand doen, my dissipel wees nie.
Vraag: Wat is die karaktereienskappe van ‘n dissipel?
Iemand wat ‘n dissipel van Jesus is, is bereid om alles vir Hom op te gee.
Vraag: Wat gebeur wanneer iemand ‘n dissipel is?
Geen antwoord word gegee nie.
Skrifverwysing: Johannes 8:31–32.
Toe het Jesus vir die Jode wat Hom geglo het, gesê: “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels, en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.”
Vraag: Wat is die karaktereienskappe van ‘n dissipel?
‘n Ware dissipel van Jesus bly in Sy Woord.
Vraag: Wat gebeur wanneer iemand ‘n dissipel is?
‘n Dissipel ken die waarheid en dit maak hom vry.
Skrifverwysing: Johannes 13:34–35.
Ek gee julle ‘n nuwe gebod: Julle moet mekaar liefhê. Net soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Dit is hoe almal sal weet dat julle my dissipels is – as julle liefde teenoor mekaar het.”
Vraag: Wat is die karaktereienskappe van ‘n dissipel?
Iemand wat ‘n dissipel van Jesus is, het liefde in sy hart vir andere.
Vraag: Wat gebeur wanneer iemand ‘n dissipel is?
Mense weet iemand is ‘n dissipel van Jesus omdat hy ander liefhet.
Skrifverwysing: Johannes 15:8.
Hierdeur word my Vader verheerlik, dat julle baie vrug dra en my dissipels kan wees.
Vraag: Wat is die karaktereienskappe van ‘n dissipel?
‘n Dissipel dra vrug.
Vraag: Wat gebeur wanneer iemand ‘n dissipel is?
God die Vader word verheerlik wanneer ‘n dissipel vrug dra.

STAP 5: WAT EK GELEER HET.
Die vyfde stap is om ‘n opsomming of gevolgtrekking te skryf van die antwoorde wat ons gekry het.
‘n Dissipel het die volgende karaktereienskappe:
- is soos Jesus.
- het Jesus liewer as enige iets of iemand anders.
- is bereid om alles op te gee vir Jesus.
- bly in Sy Woord.
- is lief vir ander mense.
- dra vrug.
Wanneer iemand ‘n dissipel van Jesus is:
- moet hy vervolging verwag.
- sal hy die waarheid ken en dit sal hom vry maak.
- verheerlik hy God.
- sal ander weet hy is ‘n dissipel van Jesus.
STAP 6: TOEPASSING.
Dis belangrik om toe te pas wat ons in die Bybelstudie geleer het. Dis eers wanneer ons toepas wat ons geleer het, wat die Bybel vrug dra in ons lewens en ons verander.
‘n Toepassing moet altyd persoonlik, prakties, moontlik en meetbaar wees.
Ons toepassing kan dus só lyk:
‘n Dissipel van Jesus bly in Sy Woord. Ek sal môre begin om elke dag tyd saam met Jesus in Sy Woord te spandeer.
‘n Dissipel het liefde in sy hart vir ander mense. Ek sal liefde bewys aan my kollega, wat my so irriteer, deur hom te vra om môre saam met my middagete te eet.
HOU JOU ANTWOORDE KORT.
Ek het die antwoorde op die vrae kort gehou. Jy kan langer antwoorde skryf as jy wil, maar moenie jou antwoorde te lank maak nie. Jou doel is nie om antwoorde te skryf wat so lank as moontlik is nie. Jou doel is om te fokus op wat die teks oor die spesifieke tema sê. Onthou, jy wil soveel moontlik oor jou tema leer en wat jy leer in jou lewe toepas. As jou antwoorde te lank raak, vra jy dalk die verkeerde vrae of jy is op ‘n spoor wat niks met die tema te doen het nie.
NOG BYBELSTUDIE-ARTIKELS.
As jy hierdie tema-Bybelstudie voorbeeld geniet het, sal jy dalk die volgende ook geniet:
HOE OM ‘N KARAKTERSTUDIE TE DOEN
‘N BYBELSE KARAKTERSTUDIE OOR JOSEF
