
Numeri is die vierde boek van die eerste vyf boeke van die Bybel. Hierdie vyf boeke word die Pentateug genoem.
Ons het in vorige artikels gekyk na Genesis, Eksodus en Levitikus en wat jy oor hierdie boeke moet weet.
In hierdie artikel kyk ons na ‘n paar dinge wat jy oor Numeri moet weet. Dit sal jou help om die boek beter te verstaan wanneer jy dit lees of bestudeer.
NUMERI – DIE NAAM VAN DIE BOEK.
Numeri se naam in Hebreeus is Bemidbar, wat In Die Wildernis beteken. In Grieks is die naam Arithmoi.
In dié boek sien ons dat daar twee keer ‘n sensusopname van die volk gedoen is. Dis dan ook waarom die naam in ons Bybels Numeri is, wat ‘n afleiding is van die idee dat die mense getel is.
WAAR NUMERI AFSPEEL.
Numeri dek ‘n periode van ongeveer 38 jaar en 9 maande.
Aan die begin van die boek is die volk in die woestyn by Sinai.
Dan volg ons hulle reis tot by die Paranwoestyn, waar hulle vir ‘n tyd lank kamp opslaan.
Later reis hulle verder tot by die Jordaanrivier.
SKRYWER EN TYDPERK.
Net soos die vorige boeke van die Pentateug, is groot dele van Numeri deur Moses geskryf.
Latere navorsing het ook bewys dat dele van die boek geskryf is jare na die Israeliete se omswerwinge in die woestyn.
WAT SE TIPE BOEK IS NUMERI?
Numeri kan eerstens gesien word as ‘n Teologiese Instruksieboek. Terwyl die Israeliete kamp, word die Wet vir hulle gegee. En wanneer hulle dan weer vertrek, word daar van hulle verwag om die wette wat God hulle gegee het, in hulle lewens toe te pas.
Dit is ook ‘n boek vol voorbeelde van dinge wat ons nié moet doen nie. In 1 Korinthiërs 10:11 lees ons: “Dit het met daardie mense as voorbeeld gebeur, en is as waarskuwing neergeskryf vir ons wat in die eindtyd verkeer.”
Ons kan dus uit die Israeliete se foute leer, sodat ons nie dieselfde foute maak en daarom deur wildernis-ervaringe moet gaan nie.
DIE DOEL VAN NUMERI.
In Numeri sien ons die negatiewe gevolge van ongeloof en ongehoorsaamheid aan God. Ons sien hoe sonde ‘n hele generasie veroordeel het.
Die Israeliete het nou net uit slawerny gekom en moes leer om op God alleen te vertrou. Hulle moes leer om Sy Koninkryk te soek. Deur die wette wat God hulle gegee het, moes hulle leer hoe om ‘n volk, wat aan God behoort en anders leef as die ander volke, te wees. Dan moes hulle ook leer hoe om die opdragte wat God hulle gee, uit te voer.
Dieselfde is waar van ons as gelowiges. Ons moet, soos die Israeliete, leer om God te vertrou, Sy beloftes te glo en Hom te gehoorsaam. Verder moet ons ook leer om te leef soos kinders van God en nie meer soos mense van die wêreld nie.
SONDE IN NUMERI.
In Numeri sien ons vier verskillende kere waar die Israeliete teen God gesondig het.
DIE EERSTE SONDE.
Die eerste keer is sommer gedurende die eerste drie dae nadat die Israeliete hulle reis vanaf Mara na Sinai hervat! Hulle kla en verwyt die Here omdat dit nie so goed met hulle gaan nie.
Die Here hoor hulle gekla en stuur vuur onder hulle in, wat ‘n deel van die kamp verteer. Die plek word daarna Tabera genoem. Dis ‘n woordspeling op die Hebreeus vir brand of verbranding.
Ons is baie keer ook skuldig aan hierdie sonde. Het jy al opgelet hoeveel keer blameer mense vir God wanneer dit sleg gaan met hulle? Soms is dit hulle eie skuld dat dinge sleg gaan. Ander kere is dit iemand anders se skuld of sommer net omdat ons in ‘n gevalle wêreld leef. Maar mense blameer graag vir God, net soos die Israeliete gemaak het.
DIE TWEEDE SONDE.
Die tweede keer wat hulle sonde doen, is wanneer die mense, wat nie van Israelitiese afkoms is nie, gulsig raak en begin terug verlang na die kos wat hulle in Egipte geëet het. Ongelukkig beïnvloed dit toe ook die Israeliete. Dit veroorsaak dat hulle ontevrede raak met die manna, wat God elke dag voorsien het. En hulle begin kla oor hulle nie vleis het om te eet nie.
God hoor hulle gekerm en stuur vir hulle kwartels om te eet. Maar die vleis was skaars in hulle monde toe die Here hulle straf en daar ‘n klomp van die mense doodgaan. Dié plek staan toe bekend as Kibrot-Taäwa, wat Grafte Van Gulsigheid beteken.
Net soos die Israeliete, is ons ook baie keer skuldig aan hierdie sonde. Ons laat toe dat ander se gekla ons beïnvloed en dan kla ons ook. Ons laat ook toe dat die wêreld ons beïnvloed. Dis dan wanneer ons met een voet in die Koninkryk en die ander in die wêreld wil staan. Ons wil God se seëninge in ons lewens hê, maar ons is nie bereid om Hom te vertrou en te gehoorsaam nie.
DIE DERDE SONDE.
Die derde keer wat ons sonde, of opstand, in Numeri raakloop, is toe Mirjam en Aäron begin kla oor Moses.
Hulle kla oor hy met ‘n Kussiet getrou het. Hulle kla ook oor die gesag wat God aan hom gegee het. God straf vir Mirjam met ‘n velsiekte. Maar Moses tree vir haar in en sy word genees.
Ons is ook soms skuldig aan hierdie sonde. In Romeine 13:1-2 lees ons: “Laat elke mens onderdanig wees aan die gesaghebbers wat oor hom gestel is, want daar is geen gesag wat nie van God afkomstig is nie; en dié wat daar wel is, is deur God ingestel. Wie die gesag teenstaan, verset hulle dus teen die instelling van God, en diegene wat hulle verset, sal ‘n oordeel oor hulleself bring.”
God het die regering oor ons aangestel, maar ons maak net soos die Israeliete en kla oor die gesag wat hulle het. Wat ons eerder moet doen, is om vir hulle te bid vir wysheid, sodat hulle besluite neem wat God se wil weerspieël.
DIE VIERDE SONDE.
Die vierde keer wat die Israeliete sondig, is toe God Moses beveel om manne uit te stuur om die Beloofde Land te gaan verken.
Twaalf manne word uitgestuur. Toe hulle terugkom, is daar tien wat ‘n baie negatiewe verslag gee. Hulle vertel dat die mense wat in die land woon, baie groot is. Dit veroorsaak dat die res van die volk besluit hulle moet maar liewer teruggaan Egipte toe.
Maar twee van die manne, Joshua en Kaleb, vertrou egter die Here en probeer die volk oortuig om die land binne te val. Maar die Israeliete wil niks weet nie.
God straf hulle deur aan te kondig dat niemand van hulle, behalwe Joshua en Kaleb, ooit die Beloofde Land sal binnegaan nie. Hulle sal in die woestyn rondswerf totdat almal van daardie geslag dood is en ‘n nuwe geslag hulle plek ingeneem het.
Dit laat die Israeliete vinnig van plan verander en hulle besluit om dadelik op te trek en die land binne te val. Maar God is nou nie meer by hulle nie, en die Amalekiete en Kanaäniete, wat in die bergland woon, verslaan hulle.
Ons maak ook soms so. God gee ons ‘n opdrag, maar in plaas daarvan om Hom te vertrou en Sy opdrag uit te voer, sien ons al die redes raak waarom ons dit nié kan of moet doen nie.
DIE SONDE VAN MOSES.
Moses was nie immuun teen sonde nie. In Numeri 20 lees ons dat daar nie water was vir die volk om te drink nie. God gee Moses die opdrag om met ‘n rots te praat; die rots sou dan water voortbring.
Teen dié tyd was Moses egter al keelvol vir die gekla van die Israeliete. En in sy woede is hy ongehoorsaam aan God. In plaas daarvan om met die rots te praat, slaan hy dit twee keer met sy staf. God laat steeds water uit die rots voorkom, maar Hy straf vir Moses en Aäron en sê hulle sal ook nie die Beloofde Land binnegaan nie.
Ek en jy maak ook soms soos Moses. Ons weet wat God sê ons moet doen. Ons weet ook hoé God sê ons dit moet doen. Maar ons volg ons eie kop en doen dinge soos ons goeddink, nie soos God gesê het ons moet maak nie.
En dit lei altyd tot probleme.
DIE VERBREKING VAN DIE VERBOND.
Dis interessant dat daar ook drie gevalle was waar die Israeliete hulle verbond met God verbreek het.
Die eerste keer was toe hulle die goue kalf aanbid het. Ons is geneig om ook soms ander ‘gode’ te aanbid. Ons buig dalk nie voor hulle neer en aanbid hulle nie, maar daar is soms dinge wat God se plek in ons harte inneem en vir ons belangriker raak as wat Hy is.
Die tweede keer wat die Israeliete die verbond verbreek was toe hulle die tien verkenners, wat ‘n negatiewe verslag oor die Beloofde Land gegee het, geglo het en besluit om terug te gaan Egipte toe. Onthou jy dat hulle slawe in Egipte was? Hulle kies dus om liewer weer slawe te wees. Ons doen dit ook van tyd tot tyd. In plaas daarvan om ons vryheid in Christus uit te leef, laat ons toe dat sonde weer in ons lewens die oorhand kry.
Die derde keer wat die Israeliete die verbond verbreek was toe Korag, Datan, Abiram en nog ‘n klomp ander Israeliete teen Moses en Aäron in opstand gekom het. Hulle het beweer dat Moses homself bo die volk verhoog het. Hulle het ook aangedring op die priesterskap. Jy kan in Numeri 16 lees wat met hulle gebeur het as gevolg van hulle opstand.

GELOOFSLESSE IN NUMERI.
Daar is ‘n hele paar geloofslesse wat ons uit Numeri kan leer.
IN DIE WILDERNIS.
In die wildernis of woestyn groei ‘n mens nie. Daar sukkel jy meeste van die tyd met sonde en ongeloof. Numeri is vir ons ‘n voorbeeld en ‘n waarskuwing dat alles in ons lewens afhang van ons houding teenoor God.
Daar is omstandighede en geleenthede in elke mens se lewe. Ons houding teenoor of ons misnoeë met dinge in ons lewens is baie keer ‘n teken dat ons nie tevrede is met God se wil en plan vir ons lewens nie.
GELOOFSTOETSE.
Elke gelowige se geloof gaan op een of ander stadium getoets word.
Die krisis kom wanneer ons geloof ‘n struikelblok moet oorkom wat net deur God se bonatuurlike krag oorwin kan word.
Dis dán wanneer die oorwinning behaal word deur God te gehoorsaam omdat ons Hom vertrou en glo.
KEUSES EN BESLUITE.
Wanneer ons geloof getoets word, moet ons keuses maak en besluite neem.
As ons die verkeerde besluit neem en God nie vertrou en gehoorsaam nie, behaal ons nie oorwinning nie.
Ons behaag ook nie vir God nie.
Al wat dan gebeur, is dat ons onnodig swaarkry. Ongeloof is dus ‘n mors van tyd en moeite en dit bring geen seën in jou lewe nie.
SONDE EN ONGELOOF.
Die wortel van alle sonde is ongeloof.
As jy mooi gaan kyk, sal jy sien elke versoeking wat jou pad kruis is ‘n valse belofte. Dit belowe om ‘n leegheid in jou op een of ander manier vol te maak.
Maar dis ‘n leuen, want God alleen kan daardie leegheid vol maak.
Wanneer jy toegee aan versoeking, glo jy die leuen.
Ons sukkel dus steeds met sonde wanneer ons nie glo dat ons in Christus reeds alles wat ons ooit mag nodig hê, besit nie.
JESUS IN NUMERI.
Net soos met al die ander boeke van die Bybel, sien ons ook vir Jesus in Numeri.
Ons sien Hom in die koperslang, die rots waaruit die Iraeliete water gekry het, die manna en in die Ster uit Jakob.
In die volgende artikel gaan ons kyk na nog ‘n paar interessante dinge wat jy oor Numeri moet weet. Ons gaan ook in meer detail kyk na die plekke waar ons Jesus in hierdie boek sien.
