
Ons het in ‘n vorige artikel gesels oor belangrike dinge wat jy oor Genesis moet weet. Ek het intussen nog ‘n paar interessante feite oor Genesis raakgeloop. Dit, tesame met die vorige artikel, gaan jou beslis help om die boek beter te verstaan.
DIE NAAM GENESIS.
Genesis is die Latynse naam vir die boek wat in die Torah (die Hebreeuse Bybel) Bereshith genoem word. Die Hebreeuse woord beteken begin of oorsprong.
In Grieks is die naam Geneseos. Dit beteken generasies.
Die Hebreeuse naam vir die boek is baie gepas, want in Genesis kry ons die begin of oorsprong van ‘n hele klomp dinge.
‘N LIEFDESVERHAAL.
In Genesis kry ons die begin van ‘n liefdesverhaal. Dit vertel vir ons van God se groot liefde vir die mense wat Hy geskep het.
Toe hulle ongehoorsaam is, laat Hy hulle nie maar aan hulle eie genade oor nie. Nee, Hy maak vir hulle klere van vel en belowe om ‘n Verlosser te stuur om die skade wat hulle aangerig het, weer te herstel.
En, soos jy kan dink, is die verhaal van Jesus aan die kruis die grootste liefdesverhaal ooit.
DIE VERBOND.
Ons sien ook die begin van die basis, of grondslag, waarop God regdeur die Bybel met mense werk.
Hierdie basis is die verbond.
Dink maar aan die verskillende verbonde wat God met Abraham, Dawid, Israel, ensovoorts gesluit het.
‘N NASIE.
Genesis leer ons ook van die oorsprong of begin van ‘n nasie, naamlik die Israeliete of die Jode. Hulle is die kanaal waardeur God werk om al die families op aarde te seën.
Ons lees daarvan in Galasiërs 3:8-9. Daar staan: “En omdat die Skrif dit vooruit gesien het dat God die heidene op grond van geloof regverdig sou verklaar, het die Skrif die evangelie reeds vooraf aan Abraham verkondig: “In jou sal al die nasies geseën word.” Daarom word die mense wat glo, saam met die gelowige Abraham geseën.”
BOOSHEID.
Ongelukkig is alles wat in Genesis begin nie mooi en goed nie. Ons sien daar ook die begin van sonde.
Die duiwel, wat vir Eva verlei sodat sy sonde doen, was oorspronklik ‘n engel. Maar hy kom teen God in opstand en is reeds ‘n gevalle engel in die Tuin van Eden toe God vir Adam en Eva skep.
GOD.
Laastens sien ons in Genesis die bekendstelling van God. Hy het nie ‘n oorsprong of ‘n begin nie, want Hy was van altyd af daar en sal altyd daar wees.
Kyk bietjie wat staan in Psalm 90:2: “Voordat die berge gebore is en U die aarde en die bewoonbare wêreld voortgebring het, ja, van altyd af en vir ewig is U God.”
God is die Skepper van die hemel en die aarde, die ontwerper en die eienaar van die heelal. Hy is die begin en die einde, soewerein en buite tyd en ruimte. En Hy is die Koning van die Koninkryk.
AGTERGROND OOR GENESIS.
Dit word algemeen aanvaar dat Moses die skrywer van die boek was. Dis geskryf ongeveer 1500 voor Christus en dek die voorgeskiedenis en die verhale van Abraham, Isak, Jakob en eindig met die verhaal van Josef.
En as jy nou wonder wat voorgeskiedenis beteken, dis maar net ‘n mooi woord om te praat van die ontstaan van alles.
Dan is dit ook belangrik om te onthou wat se boektipe Genesis is: dis ‘n verhaal of vertelkuns en geskiedenis.
DIE DOEL VAN GENESIS.
Hierdie boek illustreer vir ons God se kreatiewe krag en ook hoe Hy vir dit wat Hy geskep het, sorg.
Dan gee dit ook vir ons die historiese agtergrond om die verbond beter te verstaan.
En laastens word elke hoofleerstelling wat ons verder in die Bybel van lees, vir die eerste keer in Genesis aan ons bekend gestel. (Sien jy, weereens die ‘begin’ van iets!)
GOD SE NAME.
Dis interessant om te sien dat daar ‘n hele klompie van God se Name die eerste keer vir ons in Genesis gegee word.
Elohim – Skepper, almagtig en sterk (Genesis 1:1).
YHVH of Jahweh – Hierdie Naam word in die Bybel vertaal met Here, of HERE in sommige Bybels. God het die die eerste keer aan Moses geopenbaar as “Ek is wat Ek is” (Eksodus 3:14). Dit spesifiseer ‘n onmiddellikheid, ‘n teenwoordigheid.
El Elyon – Allerhoogste (Genesis 14:20).
Adonai – Hierdie Naam van God word ook in die Bybel met Here vertaal (Genesis 15:12.
El Roi – U is ‘n God wat my sien (Genesis 16:13).
El Shaddai – God Almagtig (Genesis 17:1).
Jehovah Jireh – Die Here voorsien (Genesis 22:14).
El Olam – Ewige God (21:33).
El Elohe Israel – Die God van Israel (Genesis 33:20).
GELOOFSLESSE UIT GENESIS.
Hoewel daar heelwat geloofslesse is wat ons uit Genesis kan leer, gaan ek net drie noem.
- God alleen is ewig. Alle dinge het hulle ontstaan aan Hom te danke. Hy is die skepper en onderhouer van alle dinge.
- Geloof in God is wat Hom behaag. Ons sien dit wanneer Abel en Kain hulle offers bring. God neem Abel s’n aan, want hy bring dit in geloof (Hebreërs 11:4). Ons sien dit ook in die lewe van Abraham, wat regverdig verklaar word omdat hy God glo (Romeine 4:3).
- Ek en jy, en elke ander mens wat op hierdie aarde leef of geleef het, het ‘n Verlosser nodig.
UNIEKE FEITE.
Dan is daar nog twee interessante feite oor Genesis wat ek nog nie genoem het nie.
Die eerste een is dat daar meer tyd in die boek gedek word as in al die ander boeke van die Bybel saamgevat!
Die tweede een is dat ons sien hoe God die ‘eerste’ verwerp, maar die ‘tweede’ aanvaar.
God verwerp vir Ismael, wat eerste gebore is, maar verwerp word omdat hy nie die seun van die belofte is nie. Isak, wat tweede gebore word, word aanvaar omdat hy die seun van God se belofte is.
Hierdie gebeurtenis moenie gesien word as God wat mense verwerp omdat Hy nie vir hulle lief is nie. Dis bloot ‘n heenwysing na die twee verbonde. Die eerste verbond is een wat slawe voortbring (Israel onder die Wet). Die tweede een is ‘n verbond van vryheid en sluit almal van ons in wat in Jesus glo (Galasiërs 4:21-31). God het die eerste verbond verwerp ten gunste van die tweede een (Hebreërs 8:6-13).
GENESIS IN ‘N NEUTEDOP.
Hierdie interessante feite oor Genesis, tesame met die vorige artikel wat ek daaroor geskryf het, is nou regtig Genesis in ‘n neutedop!
Ek vertrou dat jy iets hieruit geleer het en dat dit jou gaan help om Genesis beter te verstaan wanneer jy volgende keer daardeur lees.

Uitstekende insette en leersaam
Bly dit het iets vir jou beteken!
Ek sukkel om te verstaan. Genesis beteken begin, maar die begin van wat? Voor Adam en Eva was daar al duisende jare mens op aarde. Waar pas hulle in die prentjie en die plan van God. Hoekom het ons alwyse God die mens gemaak en geweet hulle gaan sondig? Die verhaal lees so asof God sommer reg in die begin die stryd teen die duiwel verloor het. Ons bely God het alles gemaak, en ons word vertel die duiwel was ‘n gevalle engel? Het God ‘n fout gemaak om die Engel/Duiwel so te maak? So ‘n groot fout dat meense in sonde gebore word, al die duisende wereld wyd van daagliks gebore word? As dit so is dan het God mos sonde geskep!!! Dan is Hy baie ver van perfek en dit maak vir my as Christen ook nie sin nie. Hierdie storie laat mens maklik begin glo dat iets soos die duiwel en sonde nie bestaan nie en dit slegs ‘n menslike storie is om menslike goed te verduidelik wat hulle ook nie verstaan nie nou geen hulle vir God en die duiwel die skuld. Ek wens iemand kan my help
Vera
Baie dankie vir hierdie prgtige artikel vandat ek hiedie artikel begin te lees het het ek die Bybel beter bestaan en het baie geleer hierdeur.
Baie dankie
Vriendelike groete
Vera
Dankie Risa
Ek sal die Bybelstudie geniet
Groete
Linda