PROFESIEë OOR JESUS IN GENESIS (DEEL 1).

Profesieë oor Jesus in Genesis

Oral in die Bybel lees ons profesieë oor Jesus. Sommige van dié profesieë het Hy reeds vervul. Ander sal eers vervul word wanneer Hy weer kom. In hierdie artikel gaan ons kyk na ‘n paar van die profesieë wat ons in Genesis kry, asook hoe Jesus dit vervul het.

DIE EERSTE PROFESIE.

Die eerste profesie kry ons sommer reg aan die begin van die Bybel in Genesis.

Na Adam en Eva van die Boom van die kennis van goed en kwaad geëet het, het sonde die wêreld binnegekom. Van toe af sou alle mense in sonde gebore word. Nie een sou regverdig wees voor God nie.

Maar in Sy groot genade maak God ‘n belofte om Iemand te stuur wat alles sou verander.

In Genesis 3:15 lees ons God se woorde aan die slang: “Vyandskap sal Ek tussen jou en die vrou stel, en tussen jou nageslag en haar nageslag. Hy sal jou kop aanval, en jy sal sy hakskeen aanval.”

Hierdie profesie bestaan eintlik uit drie dele:

Die Een wat sou kom, sou uit ‘n vrou gebore word;
Hy sal Satan se kop aanval;
Satan sal Sy hakskeen aanval.

SAAD VAN ‘N VROU (MAAGDELIKE GEBOORTE).

Die eerste deel van die profesie noem dat die Een uit ‘n vrou gebore sou word.

In die Nuwe Testament lees ons hoe Jesus hierdie profesie vervul het.

Mattheus 1:18: “Die geboorte van Jesus Christus het só gebeur. Toe Maria, sy moeder, reeds aan Josef verloof was, maar nog voordat hulle gemeenskap gehad het, het dit geblyk dat sy swanger geraak het uit die Heilige Gees.”

Galasiërs 4:4-5: “…maar toe die tyd vervul is, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet, sodat Hy dié onder die wet kon loskoop, sodat ons as sy kinders aangeneem kon word.”

HY SAL SATAN SE KOP AANVAL.

Die tweede deel van die profesie noem dat die Een Satan se kop sou aanval. Dit beteken eenvoudig Jesus sou die duiwel oorwin sodat hy geen mag meer oor ons het nie.

Ons lees die volgende oor hoe Jesus dit vervul het in Hebreërs 2:14: “Aangesien die kinders dan aan vlees en bloed deel het, het ook Hy net so aan dieselfde dinge deel gekry, sodat Hy deur Sy dood die een wat oor die dood mag het, dit is die Duiwel, kragteloos kon maak…”

Kyk ook na 1 Johannes 3:8: “Wie sonde doen, is uit die Duiwel, omdat die Duiwel van die begin af sondig. Hiervoor het die Seun van God verskyn: om die dade van die Duiwel te vernietig.”

SATAN SAL SY HAKSKEEN AANVAL.

Die derde deel van die profesie noem dat die duiwel ook vir Jesus sou aanval. Letterlik staan daar Sy ‘hakskeen aanval’. Dit is ‘n heenwysing na die kruisiging, waar Jesus se voete aan die kruis vasgespyker is.

Dis nie moeilik om te sien hoe Jesus hierdie deel van die profesie vervul het nie. Elke keer wat jy in een van die Evangelies van die kruisiging lees, sien jy dit.

In Lukas 23:33 staan: “Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar gekruisig – so ook die misdadegers, een aan sy regterhand en een aan sy linkerhand.”

OPVAAR NA DIE HEMEL.

‘n Mens lees die storie van Henog in net 3 versies in Genesis 5. Maar al is sy verhaal kort, bevat dit tog iets belangriks omtrent Jesus.

In Genesis 5:24 lees ons: “Henog het naby God geleef, en hy was nie meer daar nie, want God het hom weggeneem.”

Dit mag dalk nie met die eerste oogopslag so lyk nie, maar ook hierdie gedeelte is ‘n heenwysing na Jesus. Dit is ‘n illustrasie van hoe Jesus jare later ook sou opvaar na die hemel.

Ons lees daarvan in Markus 16:19: “Nadat die Here Jesus met hulle gepraat het, is Hy in die hemel opgeneem en het aan die regterhand van God gaan sit.”

ABRAHAM SE SAAD SAL DIE NASIES SEëN.

Onthou jy nog die storie van Abraham? God roep hom en sê hy moet wegtrek uit sy land en van sy familie af na die land wat God vir hom sou wys.

Dan maak God die volgende belofte aan hom: “Ek sal jou ‘n groot nasie maak; Ek sal jou seën en jou naam groot maak; sodat jy ‘n seën sal wees. Ek sal hulle seën wat jou seën; maar wie jou verwens, sal Ek vervloek. En deur jou sal al die grootfamilies van die aarde geseënd wees.”

Die laaste gedeelte van die belofte is ‘n profesie oor Jesus.

Hy is gebore uit Abraham se nageslag en deur Hom is al die nasies – of grootfamilies – van die aarde seën. Hoekom? Want deur Hom is daar verlossing vir elkeen wat dit in geloof aanneem.

Galasiërs 3:8: “En omdat die Skrif dit vooruit gesien het dat God die heidene op grond van geloof regverdig sou verklaar, het die Skrif die evangelie reeds vooraf aan Abraham verkondig: “In jou sal al die nasies geseën word.”

Handelinge 3:25-26: “Julle is kinders van die profete en van die verbond wat God met julle vaders gesluit het toe Hy vir Abraham gesê het, ‘In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word.’ God het, nadat Hy sy Dienskneg Jesus laat opstaan het, Hom heel eerste na julle gestuur om julle te seën, deurdat Hy elkeen van julle sal laat wegdraai van julle booshede.”

BELOFTE AAN ABRAHAM SE SAAD.

Nadat God vir Abraham belowe het dat Hy hom ‘n groot nasie gaan maak, en dat die nasies van die wêreld deur hom geseën gaan word, maak God nog ‘n belofte. Hierdie keer is die belofte aan Abraham se saad. Hy sê: “Aan jou nageslag gee Ek hierdie land.”

Daar word ongelukkig in al die Afrikaanse vertalings van ‘nageslag’ gepraat, hoewel die bronteks, as dit vertaal word, beteken ‘saad’.

In Galasiërs 3:16 lees ons meer oor hierdie belofte aan Abraham se Saad en hoe dit verwys na Jesus.

Galasiërs 3:16: “En die beloftes is aan Abraham en sy Saad toegesê. Daar staan nie “en aan die sade” soos wat ‘n mens na baie sou verwys nie, maar soos wat ‘n mens na een verwys: “en aan jou Saad” – dit is Christus.”

MELGISEDEK – PROFISIEë OOR JESUS.

In Genesis 14 lees ons hoe ‘n klomp konings teen mekaar geveg het. Die oorwinnaars het, onder andere, ook vir Lot, Abraham se broerskind, weggevoer.

Abraham en sy manne het hulle agtervolg, hulle aangeval en vir Lot gered.

Dan lees ons hoe Melgisedek, die koning van Salem, vir Abraham brood en wyn gebring het en hom geseën het.

In die verhaal van Melgisedek kry ons ook drie profesieë oor Jesus.

PRIESTER VOLGENS DIE ORDE VAN MELGISEDEK.

In Genesis 14:18 lees ons: “Melgisedek, die koning van Salem, het brood en wyn gebring. Hy was ‘n priester van God, die Allerhoogste.”

In Hebreërs 6:20 lees ons die volgende omtrent Jesus: “Dit is waar Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons ingegaan het, en Hoëpriester vir ewig geword het volgens die orde van Melgisedek.”

KONING VAN GEREGTIGHEID EN VREDE.

In Hebreërs 7:1-2 lees ons meer oor Melgisedek.

Daar staan: “Hierdie Melgisedek, koning van Salem, ‘n priester van die Allerhoogste God, het Abraham tegemoetgegaan toe hy op pad terug was, nadat hy die konings verslaan het, en hom geseën. Aan hom het Abraham ‘n tiende deel van alles gegee. In die eerste plek was hy, as sy naam vertaal word, “Koning van Geregtigheid”, maar daarbenewens was hy ook “Koning van Salem,” dit is “Koning van Vrede”.

En ons lees oor Jesus dat Hy genoem word Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors (Jesaja 9:5).

In Johannes 16:33 sê Hy dan ook self: “Dit het Ek vir julle gesê, sodat julle in My vrede mag vind. In die wêreld ervaar julle swaarkry; maar hou moed, Ek het reeds die wêreld oorwin.”

DIE LAASTE AVONDMAAL.

Die derde profesie oor Jesus wat ons in die verhaal van Melgisedek kry, is ‘n verwysing na die laaste keer wat Jesus saam met Sy dissipels geëet het. Ons lees daarvan in al vier die Evangelies.

Kom ons kyk eers weer wat staan in Genesis 14:18: “Melgisedek, die koning van Salem, het brood en wyn gebring. Hy was ‘n priester van God, die Allerhoogste.”

Sien jy die verwysing na brood en wyn?

Kom ons kyk nou wat skryf Mattheus daaroor. In Mattheus 26:26-28 staan: “Terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem, en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, breek Hy dit, gee dit vir die dissipels en sê: “Neem, eet, dit is my liggaam.” Toe het Hy die beker geneem, gedank, dit vir hulle gegee en gesê: “Drink almal daaruit, want dit is my bloed, die bloed van die verbond wat vir baie uitgegiet word tot vergewing van sondes.”

SAAD VAN ISAK.

Die laaste profesie of belofte waarna ons gaan kyk, kom uit Genesis 17:19.

Abraham en sy vrou Sara is al lankal verby die ouderdom waar hulle kon kinders kry. Maar God het ‘n belofte aan hulle gemaak dat Hy vir hulle ‘n seun sou gee. Ongelukkig neem Hy langer om Sy belofte te vervul as wat hulle gedink het, en hulle probeer Hom daarmee help.

Abraham neem Sara se slavin, Hagar, as vrou en kry by haar ‘n kind, Ismael.

Dan kom God by hom en herhaal die belofte. In Genesis 17:19 staan daar: “Maar God het gesê: “Inteendeel, Sara, jou vrou gaan vir jou ‘n seun in die wêreld bring, en jy moet hom Isak noem. Ek sal my verbond met hom handhaaf, as ‘n ewige verbond vir sy nageslag ná hom.”

En in Genesis 21:12 lees ons: “God het egter vir Abraham gesê: ‘Laat die saak van die seun en jou slavin nie verkeerd wees in jou oë nie. Alles wat Sara vir jou sê – luister na haar! Want daar sal na jou nageslag met die naam van Isak verwys word.'”

Dan lees ons die volgende in Romeine 9:7-9: “Ook is nie almal wat nageslag van Abraham is, sy kinders nie. Inteendeel, daar staan: ‘Dit is deur Isak dat jou nageslag benoem sal word.’ Dit wil sê: Dit is nie die kinders na die liggaam wat kinders van God is nie, maar die kinders na die belofte, word as nageslag beskou. Want dít is die woord van die belofte: ‘Teen hierdie tyd sal Ek kom en sal Sara ‘n seun hê.'”

JESUS VERVUL AL GOD SE BELOFTES.

Hierdie is maar ‘n paar van die profesieë of beloftes wat ons kry oor Jesus in Genesis. Elkeen daarvan, asook al die ander in die res van die Bybel, het Hy vervul. En die wat nog nie in vervulling gegaan het nie, gaan Hy vervul wanneer Hy weer kom.

Ek wil jou aanmoedig om elkeen van die beloftes of profesieë waaroor ons vandag gesels het, weer in jou Bybel te gaan lees. Lees ook weer die gedeeltes waar ons sien hoe Jesus dit vervul het. En sê dan vir God dankie vir Jesus en hoe Hy elkeen van Sy beloftes vervul het.

Moet ook nie vergeet om volgende week weer ‘n draai by Bybel En Gebed te maak nie. Ons gaan dan gesels oor nog ‘n klompie profesieë en beloftes oor Jesus in Genesis.

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *