
Vra vir gelowiges wat hulle grootste struikelblok is wat keer dat hulle Bybelstudie doen, dan is die antwoord meeste van die tyd TYD! As dit ook jóú antwoord is, dan gaan hierdie 10 Wenke Om ‘n Bybelstudie Roetine Te Begin jou daarmee help.
Jy sien, wanneer ons iets deel maak van ons roetine – van wat ons elke dag of elke week doen, dan word dit deel van jou. Jy doen dit dan naderhand amper sonder om te dink.
Ek wou eers die artikel 10 Wenke om tyd te maak vir Bybelstudie noem, maar kom ons wees eerlik. Ons het almal dieselfde hoeveelheid tyd in ‘n dag. Hoe ons daardie tyd spandeer is ons keuse. ‘n Mens kan nie meer tyd maak nie, maar jy kan kies om jou tyd wys te gebruik en die belangrikste dinge eerste doen.
So, hoe nou gemaak om ‘n Bybelstudie roetine te begin?
1. BID DAAROOR.
Die eerste en belangrikste ding wat ons in enige situasie moet doen, is om te bid. As jy besluit om ‘n Bybelstudie roetine te begin, is dit ook die eerste ding wat jy moet doen.
Sit ‘n tydjie opsy en word stil by die Here. Vra Hom om jou te help om die beste tyd te kies, ‘n tyd wat vir jou gaan werk.
Vra Hom ook om jou te help om realisties te wees oor die tyd wat jy daaraan spandeer. Dalk besluit jy om drie keer ‘n week Bybelstudie te doen. Maar jy is ‘n mamma met klein kindertjies en drie keer ‘n week is nie in hierdie seisoen van jou lewe moontlik nie. Vra dus die Here om jou te help om die regte hoeveelheid tyd opsy te sit om Bybelstudie te doen.
2. EVALUEER HOE JY JOU TYD SPANDEER.
Soos ek gesê het, het elkeen van ons ‘n keuse oor hoe ons ons tyd gebruik. Ongelukkig spandeer ons dit baie keer op dinge wat eintlik maar van min waarde is.
As jy besluit om ‘n Bybelstudie roetine te begin, maar jy dink jy het nie regtig tyd daarvoor nie, hou dan vir ‘n week lank dop hoe jy jou tyd gebruik.
Sit jy in die aande voor die TV en kyk programme waarin jy nie eintlik belangstel nie? Is jy gereeld op sosiale media wanneer jy verveeld is? Waar mors jy tyd in jou dag?
Vra jouself dan die vraag: Is daar van daardie tye wat ek kan gebruik vir Bybelstudie?
3. SKRYF DIT IN JOU DAGBOEK.
Baie mense het dagboeke waarin hulle neerskryf wat hulle op ‘n gegewe dag moet doen. Vergaderings, afsprake, ensovoorts word daarin aangeteken.
As jy só ‘n dagboek het, skryf die tyd wanneer jy Bybelstudie gaan doen daarin neer. Beskou dit soos enige ander afspraak.
Skeduleer dan ander afsprake rondom daardie een, sodat niemand jou tyd met God en Sy Woord steel nie.
4. STEL ‘N ALARM OM JOU TE HELP ONTHOU.
Miskien is jy nie iemand wat ‘n dagboek het waarin jy al jou afsprake aanteken nie. Maar moenie kommer nie, ek het vir jou ook ‘n wenk!
As jy bang is jy vergeet wanneer jy Bybelstudie moet doen, stel jou foon se alarm om jou te help onthou.
‘n Goeie idee is om ‘n alarm te stel wat jou vroeg die oggend daaraan herinner dis jou Bybelstudie-dag. Stel dan nog een vir minstens ‘n halfuur voor jy wil begin Bybelstudie doen. Dit gee jou genoeg tyd om alles wat jy vir jou Bybelstudie nodig het, bymekaar te kry.
5. MAAK JOU BYBELSTUDIE ROETINE DEEL VAN ‘N ROETINE.
In sy boek, Atomic Habits, skryf James Clear dat ‘n mens makliker ‘n nuwe gewoonte aanleer wanneer jy dit deel maak van iets anders wat jy reeds elke dag doen.
Jy kan dieselfde idee gebruik wanneer jy besluit om ‘n Bybelstudie roetine te begin.
Waar in jou dag is daar iets wat jy klaar doen, waar jou Bybelstudie roetine by kan byvoeg?
Lees jy elke aand ‘n bietjie voor jy gaan slaap? Gebruik dan ‘n deel van die leestyd om Bybelstudie te doen en ‘n deel om jou gewone boeke te lees.
Staan jy vroeër op as die res van jou gesin sodat jy in vrede kan koffie drink voor die dag begin? Maak jou Bybelstudie roetine deel van jou koffie-drink roetine.

6. MAAK JOU BYBELSTUDIE ROETINE ‘N PRIORITEIT.
As iets vir jou ‘n prioriteit is, gaan jy seker maak jy kom daarby uit.
Maak dus jou Bybelstudie roetine ‘n prioriteit. Skryf dit neer op jou lysie van belangrike dinge wat jy nie net elke week mòét doen nie, maar wíl doen.
Rick Renner is ‘n Amerikaanse predikant van ‘n kerk in Rusland. Hy skryf dat hy op ‘n stadium net in die Bybel gelees het wanneer hy ‘n preek moes voorberei. Toe die Here hom daarop wys, het hy besluit dat hy ‘n punt daarvan gaan maak om elke oggend sy Bybel te lees. Hy het selfs sover gegaan om te sê: Geen Bybel, geen ontbyt!
Hy het sy Bybellees ‘n prioriteit gemaak. Dink ‘n bietjie wat jý kan doen om jou Bybelstudie roetine ‘n prioriteit te maak.
7. STUDEER DIE BYBEL SAAM MET IEMAND ANDERS.
‘n Goeie manier om ‘n Bybelstudie roetine te begin is om dit saam met iemand anders te doen.
Wanneer jy weet jy het ‘n staande afspraak met die persoon of persone, gaan jy nie maklik iets anders in die plek daarvan doen nie.
Kry dus vir jou ‘n vriend of vriendin saam met wie jy Bybelstudie kan doen.
Of doen navraag by jou kerk oor Bybelstudie-groepe waarby jy kan aansluit.
Die volgende drie wenke is vir dié dae wanneer dinge gebeur wat inmeng met jou Bybelstudie-tyd. Want dit maak nie hoe hard jy probeer om jou Bybelstudie-tyd te beskerm nie, soms gebeur daar dinge buite jou beheer, wat veroorsaak dat jy nie kán Bybelstudie doen nie, al wil jy ook.

8. MEMORISEER VERSE UIT DIE BYBEL.
Soms wanneer ‘n mens Bybel lees, staan daar ‘n vers of verse uit. Maak ‘n punt daarvan om daardie verse te memoriseer.
Wanneer die lewe gebeur, en jy nie kán Bybelstudie doen nie, kan jy nadink oor een van die verse wat jy gememoriseer het.
Jy kan selfs oor hierdie verse nadink wanneer jy met take besig is wat nie baie konsentrasie verg nie.
Gebruik sommer een van die Bybelstudie metodes wat ons reeds behandel het om jou te help om deur die vers te dink. Een van die studiemetodes wat ‘n akroniem gebruik is ideaal.
En al kan jy nie dadelik neerskryf wat jy leer nie, kan jy dit altyd later doen.
9. ‘N BIETJIE IS BETER AS NIKS.
Onthou altyd, ‘n bietjie is beter as niks.
Kom ons veronderstel jy het ‘n volle uur op ‘n dag opsy gesit vir jou Bybelstudie roetine. Dan word die kat siek en jy moet hom veearts toe vat. Jy kom eers weer by die huis nadat daar al amper ‘n halfuur van jou Bybelstudie-tyd verby is.
Moenie dat dit jou afsit nie. Gaan sit en gebruik die tyd wat oor is vir jou studietyd.
Selfs al kry jy nie soveel tyd in die Bybel soos jy gehoop het nie, is die bietjie wat jy wél kry, beter as niks. Die Here kan jou steeds iets leer in daardie tydjie wat jy het.
10. MOENIE SKULDIG VOEL NIE.
As die lewe gebeur en jy kom daardie dag of week nie by Bybelstudie uit nie, moenie skuldig voel nie.
Bybelstudie moet nooit iets wees wat ons doen omdat ons skuldig voel as ons dit nié doen nie. Dit moet iets wees wat ons doen omdat ons dit graag wíl doen, omdat ons die Here en Sy Woord beter wil leer ken.
As daar dus dinge gebeur wat veroorsaak dat jy op ‘n dag nie Bybelstudie kan doen nie, moenie dat die duiwel dit gebruik om jou te laat skuldig voel nie. Skeduleer jou studietyd eenvoudig weer die volgende week in jou dagboek, stel jou foon se alarm, en gaan aan waar jy die vorige keer opgehou het.
Ek hoop dat een of meer van hierdie wenke jou gaan help om ‘n Bybelstudie roetine te begin. Dit is regtig die moeite werd! Jy gaan nie net jou Bybel beter leer ken nie, maar ook ‘n dieper en meer betekenisvolle verhouding met God hê!

Dankie vir die nuusbrief, ek vind dit baie interessant en leersaam die gedagtes wat jy met ons deel.
Met Jesus se seenwense
Faan