
In die boek Rut, in die Ou Testament, lees ons van drie vroue: Naomi, Orpa en Rut. In die vorige twee artikels hier op Bybel En Gebed, het ons gesels oor Naomi en Orpa, en wat ons alles by hulle kan leer. Vandag gaan ons ‘n Bybelstudie oor Rut doen en kyk wat ons by haar kan leer.
HESED.
In Hebreeus kry ons die woord hesed, wat lojale liefde beteken.
Dis die tipe liefde wat verder as die normale gaan. Dis ‘n liefde wat byna onmoontlike eise aan die persoon wat dit bewys, stel.
Ons kry hierdie woord ‘n hele klomp keer in die Bybel. Ons kry ook baie voorbeelde daarvan in die Bybel.
Die beste voorbeeld van hesed sien ons wanneer ons kyk na God die Vader, wat bereid was om Sy enigste Seun te gee om vir ons sondes te sterf.
Nog ‘n goeie voorbeeld van hesed is die liefde wat Rut teenoor haar skoonma, Naomi bewys het.
RUT SE KEUSE.
As jy nog die storie van Rut onthou, sal jy weet dat Naomi, haar man en twee seuns na Moab verhuis het omdat daar hongersnood in Israel was.
In Moab trou die twee seuns met die Moabitiese meisies, Orpa en Rut.
Ongelukkig is dit ook in Moab waar Noami se man, en die twee seuns, sterf. Dit los een vrou sonder haar man en kinders, en nog twee vroue sonder hulle mans.
Na ‘n tyd hoor Naomi dat God voorsien het en dat daar nou weer kos in Israel is. Sy besluit om terug te gaan na Betlehem, waar sy oorspronklik vandaan gekom het.
Die drie vroue maak gereed vir die reis, maar langs die pad begin Naomi om haar skoondogters te probeer ompraat om liewer terug te gaan na hulle ouerhuise toe.
Orpa besluit om terug te gaan, maar Rut weier. Sy sê hierdie bekende woorde, wat jy dalk in die Sondagskool geleer het: “Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God; waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê ‘n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei” (Rut 1:16-17).
LOJALE LIEFDE.
Rut het geen waarborg dat daar vir haar ‘n toekoms in Israel gaan wees nie.
In die Bybelse tyd was dit moeilik vir ‘n weduwee om na haarself om te sien. Sy was dus van familielede afhanklik om na haar te kyk. Rut het, buiten Naomi, nie familie in Israel gehad nie. Sy het dus geen waarborg dat daar iemand in Israel gaan wees wat bereid sou wees om na haar en haar skoonma, om te sien nie.
Maar dit keer haar nie.
Sy kies om saam met Naomi te gaan, ten spyte van die onsekerheid, en bewys so hesed – lojale liefde – teenoor haar.
Hierdie keuse van haar het verreikende gevolge.
Later sien ons dat sy die ma word van Obed, koning Dawid se oupa. En nog later word Jesus ook uit haar nageslag gebore.
Die eerste ding wat ons by Rut kan leer, is dat lojale liefde teenoor andere ‘n groot verskil in hulle – en baie keer ook ons – lewens kan maak.
Is jy bereid om lojale liefde teenoor ander mense te bewys?
U GOD IS MY GOD.
Ek het netnou die bekende woorde, wat Rut vir Naomi gesê het, aangehaal.
Uit hierdie woorde sien ons nog ‘n rede waarom Rut so gewillig was om haar land, mense, en gode te verlaat en saam met Noami te gaan.
Jy sien, Rut moes beslis gesien het hoe lief Naomi haar God het en hoe toegewyd sy aan Hom was. En dit het ‘n indruk op haar gemaak.
Daarom besluit sy om saam met Naomi te gaan, want “…u God is my God.”
Sy kies dus vir God.
En omdat sy Hom kies, maak God haar begeertes waar. Hy gee vir haar ‘n huweliksmaat, wat beteken dat sy weer sekuriteit het. Hy gee ook vir haar die vreugde van ‘n nageslag.
Ek en jy staan ook baie keer voor keuses wat gaan bepaal of ons getrou bly aan God, of teen Hom kies.
As jy voor so ‘n keuse staan, wie of wat kies jy?
RUT EN BOAS.
Terug in Betlehem sit Rut dadelik skouer aan die wiel om na haar en haar skoonma te probeer omsien.
Sy beland op die land van Boas, waar sy die are wat die snyers laat val, optel.
Boas is ‘n vermoënde man. Hy is ook ‘n gelowige en, beste van alles, ‘n familielid van Naomi. Hy het gehoor van Rut en van haar lojale liefde vir haar skoonma. Toe hy haar sien, nooi hy haar om saam met hom te eet. Hy gee haar meer as genoeg koring, sodat sy ook het om huis toe te neem. Dan nooi hy haar om op sy lande te bly are optel en beveel selfs sy werkers om aspris are vir haar te laat val.
In die artikel oor Orpa, het ons gesien sy was ‘n vrou wat nie bereid was om te waag nie. Rut is egter heel anders. Sy was bereid om te waag omdat sy God kies. En God seën haar vir haar keuse. Hy gee vir haar en Naomi genoeg om te eet. Hy gee ook vir Rut guns by Boas.
Sien jy dat God vir hulle ‘n korttermynoplossing gee? Hy gee ook vir hulle dit wat Rut die nodigste het: ‘n man om vir haar en Naomi te sorg en ‘n nageslag te verseker.
God doen dieselfde vir ons. Hy voorsien wat ons nodig het, wanneer ons dit nodig het. Ons moet Hom net vertrou.
HUWELIKSKLOKKIES.
In die derde hoofstuk van Rut, lees ons dat Naomi haar ‘n vreemde opdrag gee. Sy sê: “Kyk, Boas saam met wie se werksters jy gewerk het, is mos familie van ons. Hy dors vannag gars op die dorsvloer…. Wanneer hy gaan slaap, sorg dat jy weet waar hy gaan lê. Dan gaan jy soontoe en kruip by sy voete in. Hy sal jou dan sê wat jy moet doen” (vs.2 en 4).
Dit was dalk nie vir Rut maklik om te doen wat Naomi van haar vra nie, maar sy doen dit sonder om teë te stribbel.
Sy gaan na die dorsvloer en kruip by Boas se voete in.
Toe hy agterkom sy is daar, sê sy vir hom: “Ek is Rut, ek is van u afhanklik, en u is my losser; neem my nou onder u beskerming” (Rut 3:9).
Dis nou nie heeltemal hoe ons dit in ons moderne tyd sou doen nie, maar hierdie is eintlik ‘n huweliksaansoek!
Boas gee haar dan ook die regte antwoord: “Alles wat jy my vra, sal ek doen…” (vs.11). Dan verduidelik hy dat daar ‘n ander losser is, wat nader familie is, met wie hy eers moet praat.
Dit is dan ook presies wat hy doen. Die ander losser stel nie belang nie, dus is die pad nou oop vir Boas om met Rut te trou en die lossersreg uit te oefen.
As jy meer wil weet oor die gelykenisse van Jesus, dan is die Gelykenisse van Jesus Bybelstudie net waarna jy op soek is. Dis ‘n selfstudie waar jy meer gaan leer oor Jesus se gelykenisse en ook oor die lesse wat Jesus deur die gelykenisse vir ons wil leer. Die stappe wat jy volg gaan jou ook help om te leer hoe om self Bybelstudie te doen.

GOD IN DIE DETAILS.
Die verhaal van Rut en Boas klink na ‘n alledaagse liefdesverhaal. Maar God is Self hier aan die werk.
Hy het ‘n plan vir Rut se lewe gehad en is tot in die fynste detail betrokke by haar lewe.
Sy het dit dalk nie altyd besef nie, maar niks wat met haar gebeur het, was toevallig nie. Alles was deel van God se plan vir haar.
Net so is niks in ons lewens toevallig nie, want God het ook vir ons ‘n plan.
Selfs die dinge wat vir ons na ‘n krisis lyk, kan God gebruik om iets wonderliks in ons lewens te bereik.
Ons sien dalk ook nie altyd raak waar en hoe die Here besig is om te werk nie. Maar dit beteken nie dat Hy nié besig is om te werk nie! Ons kan altyd op Hom vertrou dat Hy net die beste vir ons wil hê en dat Hy altyd besig is om die beste vir ons te doen en gee.
‘N SEUN VIR DIE GELUKKIG PAARTJIE.
Boas kom sy belofte gestand na en trou met Rut.
Wanneer hy vir die leiers van Betlehem vertel wat hy gaan doen, seën hulle hom. Hulle sê: “Mag die Here die vrou wat nou in jou huis inkom, soos Ragel en Lea maak wat saam gebou het aan die volk Israel. Verwerf aansien in Efrata en maak naam vir jouself in Betlehem. Mag die nageslag wat die Here jou uit hierdie jong vrou sal gee, wees soos dié van Peres wat deur Tamar vir Juda in die wêreld gebring is” (Rut 4:11-12).
Dit lyk of hierdie seën in vervulling gaan wanneer Obed gebore word. Maar dit strek veel verder as dit, want Obed is een van Jesus se voorvaders. Beide Rut en Obed se name word in die geslagsregister van Jesus opgeteken (Mattheus 1:3-6).
Obed se geboorte is ook vir Naomi ‘n seën, want nou het sy die nageslag wat sy so graag wou hê.
Die vroue van Betlehem is saam met haar bly en sê: “Aan die Here kom die lof toe omdat Hy vandag vir jou ‘n losser gegee het. Mag die losser se naam bekend wees in Israel, en mag hy vir jou vreugde bring en jou op jou oudag versorg” (vs.14-15).
Met hulle woorde gee hulle erkenning aan God vir die seëninge wat hulle in Rut en Naomi se lewens sien.
God is vandag steeds besig om Sy kinders op allerhande maniere te seën. As jy God se seën in jou lewe ervaar, gee jy Hom die eer daarvoor?
Onthou, “elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het…” (Jakobus 1:17). Wanneer dit goed gaan met jou en jy seën ervaar, moet jy altyd onthou om God die eer daarvoor te gee.
RUT, ‘N GEWONE VROU.
Ons lees nêrens dat Rut een of ander uitstaande karaktertrek, soos skoonheid of besondere talente, gehad het nie.
Sy was ‘n gewone vrou.
Maar haar lojaliteit en liefde maak van haar ‘n besondere vrou.
Die feit dat sy God kies, toe dit makliker sou wees om téén Hom te kies, maak van haar ‘n voorbeeld om na te volg.
Ek en jy is dalk ook net gewone manne en vroue, maar ons kan kies om te doen wat Rut gedoen het.
Ons kan kies om altyd liefde uit te leef en lojaal te wees teenoor God en mens.
En ons kan, ongeag wat dit van ons gaan vra, altyd vir God kies en Hom so verheerlik.
Ek wil jou vandag uitdaag om Rut se voorbeeld te volg. Dit gaan ‘n verskil in jou eie lewe, en ook in die mense rondom jou, se lewens maak!
