ORPA – WIE NIE WAAG NIE

Ons het in die vorige artikel ‘n bietjie oor Naomi, een van die hoofkarakters in die boek Rut, gesels. Vandag gaan ons gesels oor Orpa, een van Naomi se skoondogters.

Maar eers wil ek vir jou ‘n storie vertel.

GOOI JOU HART EERSTE.

Daar was ‘n prins wat op ‘n dag saam met die elwe gaan jag het. Die prins sou op een van die elwe se perde ry.

Voor die jagtog het hy toe voor ‘n keuse gestaan. Hy kon so klein soos die elwe word of sy perdjie kon so groot word, dat dit ‘n man kon dra.

Die prins het gekies om so klein soos die elwe te word.

So gesê, so gedaan.

Dit was vir hom vreeslik lekker om so saam met die elwe-koning te ry. Maar toe kom hulle skielik by ‘n baie hoë muur waaroor die prins met sy klein perdjie glad nie kon spring nie.

Die prins was baie ontsteld en vra vir die koning: “Wat maak ek nou?”

“Gooi eers jou hart oor die muur,” antwoord die koning. “Spring dan agter jou hart aan.”

Die prins volg toe die koning se raad. Hy gooi sy hart oor die muur en spring vreesloos agterna.

Ek het nog nooit perdgery nie, maar dit is blykbaar so dat ‘n perd kan voel waar sy ruiter se ‘hart’ is. As jy oor ‘n hoë hindernis moet spring, kan jy jou perd amper oorlig as jy sonder vrees na die hindernis toe aankom.

WIE NIE WAAG NIE.

Orpa het nie hierdie verhaal geken nie. Sy was bang vir wat die toekoms vir haar ingehou het en wou nie vreesloos haar hart eerste oor die muur gooi en saam met Naomi en Rut na ‘n vreemde land trek nie.

Onthou jy die spreekwoord, Wie nie waag nie, wen nie?

Orpa wou nie waag nie en daarom het sy nie gewen nie. Om die waarheid te sê, sy het sommer baie dinge verloor.

ORPA VERLOOR ALLES.

Orpa se verhaal begin in Rut 1, waar ons lees dat sy ‘n Moabitiese vrou was wat met een van Noami se seuns, getroud was.

Ons weet nie hoe lank die twee getroud was nie, maar dit lyk nie of dit vir baie lank was nie.

Voor daar enige kinders vir hulle gebore is, sterf Orpa se man.

In Bybelse tye was die lewe van ‘n weduwee maar moeilik. Sy kon nie vir haarself sorg nie en moes op familielede wat sy gehad het, vertrou om vir haar te sorg.

Maar Orpa was darem nie heeltemal alleen nie. Sy het haar skoonma, Naomi, en haar skoonsuster, Rut. Ook hulle het hulle geliefdes aan die dood afgestaan en weet dus presies hoe sy voel.

WANNEER ONS SEERKRY IN DIE LEWE.

Almal van ons verloor soms iets of iemand. En ons gaan ook deur dinge waar ons op een of ander manier seerkry.

Wanneer dit gebeur, kan ons met Orpa simpatie hê, want ons weet hoe sy moes gevoel het.

Ons het dalk ook, soos sy, familie en vriende wat ons bystaan en ons ondersteun. Maar belangriker as dit, ons het vir God.

In Psalm 34:19 kry ons hierdie belofte: “Die Here is na aan hulle wat gebroke harte het; wie se gees verpletter is, verlos Hy.”

En is 2 Korinthiërs 1:4 staan: “Hy [die Vader] bemoedig ons in al ons verdrukkings, sodat ons hulle wat in allerhande verdrukkings verkeer, kan bemoedig met die bemoediging waarmee ons self deur God bemoedig word…”

Die Vader sien wanneer ons harte gebreek is oor ons iemand aan die dood afgestaan het. Hy weet wanneer ons een of ander situasie beleef wat veroorsaak dat ons harte seer is.

En Hy gee om.

Meer as dit, Hy is naby ons om ons te bemoedig en ons te help om staande te bly.

En wanneer die tyd reg is, sal Hy ook verlossing bring.

ORPA KIES VERKEERD.

Na al die hartseer wat die drie vroue getref het, hoor Naomi dat God sy volk uit hulle nood gehelp het en dat daar nou weer kos is in Juda. Sy besluit dus om terug te gaan.

Orpa en Rut laat nie op hulle wag nie en pak saam met haar die reis aan.

Maar langs die pad begin Naomi om die ander twee te probeer oortuig om maar liewer terug te gaan huistoe.

Sy het seker besef dat dit moeilik gaan wees om na almal van hulle om te sien wanneer hulle terug is in Juda. Al sou haar familielede wat daar was, na háár omgesien het, sou hulle dalk nie vir die ander twee vroue – wat boonop Moabiete was – wou sorg nie.

Orpa en Rut luister geduldig na al die redes waarom Naomi dink dis beter vir hulle om liewer terug te gaan na hulle eie land. Maar hulle weier om na haar te luister en dring daarop aan om saam met haar te gaan.

Naomi probeer dus weer. Dié keer herinner sy hulle daaraan dat sy nie meer kinders kan hê nie. Sy sal dus nie kan sorg dat hulle weer elkeen ‘n man kry nie.

Dít oortuig vir Orpa en sy neem die besluit om terug te gaan na haar volk en haar gode.

MOENIE TERUG KYK NIE.

Orpa het die fout gemaak om terug te kyk na die verlede.

Sy besluit dat dit vir haar beter sal wees om in Moab te bly as om dit te waag om saam met Naomi en Rut die vreemde aan te durf.

Ek en jy doen partykeer presies dieselfde.

Ons wil graag vorentoe gaan met God, maar ons is bang om te waag. As dit lyk of dinge bietjie ongemaklik gaan raak, dan draai ons om en hardloop terug na waar ons begin het.

In Lukas 9:62 waarsku Jesus ons: “Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en dan omkyk, is geskik vir die koninkryk van God nie.”

As ons die pad saam met God wil stap, dan moet ons ophou om om te kyk. Onthou jy wat het met Lot se vrou gebeur? Toe hulle uit Sodom gevlug het, het God gesê hulle moenie omkyk nie. Lot se vrou het nie geluister nie, omgekyk, en in ‘n soutpilaar verander.

Hiermee sê ek nou nie dat ons in soutpilare gaan verander as ons omkyk na die verlede nie – wel, nie letterlike soutpilare nie!

Want om te bly omkyk verhinder dat ons vorentoe gaan. Dit kan veroorsaak dat ons heeltemal omdraai of net daar bly waar ons is. En dan kan ons maar net sowel ‘n soutpilaar wees wat op een plek stilstaan.

Besoek ons winkel vir ‘n Bybelstudie en Bybelstudie-hulpmiddele

ORPA SE VERLORE KANS.

Orpa het die geleentheid gehad om God baie beter te leer ken.

As sy gekies het om saam met Naomi en Rut te gaan, sou sy gesien het wat God alles vir hulle gedoen het. Ek is seker Hy sou vir haar ook ‘n man gegee het, net soos Hy een vir Rut gegee het. En Hy sou vir haar gesorg het, net soos Hy vir Naomi en Rut gesorg het.

Maar Orpa verspeel haar kans en ons hoor nooit weer van haar nie.

GEBRUIK JOU KANS.

Ons lees oral in die Bybel dat dit God se wil is dat mense gered word.

In 1 Timotheus 2:3-4 staan: “Dit is goed en reg in die oë van God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense verlos word en tot kennis van die waarheid kom.”

En in Johannes 3:16 lees ons: “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.”

Dan sien ons ook in Johannes 6:39-40 Jesus sê: “En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: Dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie ‘n enkele een verlore sal laat gaan nie, maar hulle op die laaste dag sal opwek. Want dit is die wil van my Vader: Dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo die ewige lewe sal hê, en Ek sal elkeen van hulle op die laaste dag laat opstaan.”

Dit is dus God se wil dat mense gered word, maar daar is net een manier hoe dit gedoen word.

Deur geloof in Jesus Christus.

Orpa het die kans gehad om vir God ‘ja’ te sê, maar sy doen dit nie.

Net so het ek en jy ook die kans om vir Hom ‘ja’ te sê. Om die waarheid te sê, solank ons leef het ons elke dag die kans om dit te doen!

Moet dus nie maak soos Orpa en die kans by jou laat verby gaan nie.

As jy nog nie vir God gekies het nie, doen dit vandag nog. Môre mag dalk te laat wees.

WIE NIE WAAG NIE.

Vandag wil ek jou uitdaag om te kies om dit saam met God te waag.

Onthou, wie nie waag nie, wen nie.

Orpa wou nie waag nie en daarom het sy nie gewen nie.

Maar as jy bereid is om dinge saam met God te doen en saam met Hom te waag, sal jy beslis as wenner uit die stryd tree!

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *