Elke gelowige het ‘n nuwe identiteit in Christus ontvang. God het oral in die Nuwe Testament vir ons verse laat opteken om ons meer oor hierdie identiteit te leer.
God se Woord leer ons in 2 Korinthiërs 5:17: “Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.”
Die dag toe jy Jesus as jou Verlosser aangeneem het, het daar ‘n hele verandering in jou lewe plaasgevind.
Jy is weergebore en het jou nuwe lewe in Christus begin.
Jy het ook ‘n nuwe identiteit gekry en jou posisie voor God het verander. Waar jy voorheen ‘n sondaar was en heeltemal afgesny van God was, is jy nou ‘n kind van God, jy is met Hom versoen en jy is een met Hom (Johannes 1:12; 1 Korinthiërs 6:17).
Maar dit is nie al nie.
Dalk het jy al vrae gevra soos, “Wie is ek, Here?” of dalk “Wie is ek in God se oë?“
Vandag wil ek met jou deel wat die Bybel sê oor jou indentiteit in Christus – wie jy in Hom is en ook wat jy nou in Hom het. En, omdat dit baie belangrik is dat jy wat God oor jou sê met jou eie oë sien, gaan ek die verse direk uit die Woord aanhaal.
Om jou te help om tyd met hierdie verse te spandeer, en te dink oor wie jy is en wat jy in Christus het, het ek vir jou ‘n gratis Verse-lys opgestel wat jy kan aflaai en in jou stiltetyd gebruik om hierdie waarhede in jou hart in te sement.

IN CHRISTUS IS EK…
…vrygespreek – “… maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus” (Romeine 3:24).
…gered van die straf van God – “Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word” (Romeine 5:9).
…versoen met God – “Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van sy Seun gered sal word” (Romeine 5:10).
…vrygemaak van die wet van sonde en dood – “Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood” (Romeine 8:2).
…’n erfgenaam van God – “En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid” (Romeine 8:17).
…meer as ‘n oorwinnaar – “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet” (Romeine 8:37).
…deur Hom aanvaar – “Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God” (Romeine 15:7).
EK IS OOK…
…ryklig geseën – “want in Hom het God julle in alles ryklik geseën, veral in die gawes van woord en kennis” (1 Korinthiërs 1:5).
…skoongewas, geheilig en vrygespreek – “En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God” (1 Korinthiërs 6:11).
…een met God – “Maar wie hom met die Here verenig, is geestelik een met Hom” (1 Korinthiërs 6:17).
…’n nuwe mens – “Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom” (2 Korinthiërs 5:17).
…God se geregtigheid – ‘Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom” (2 Korinthiërs 5:21, O.V.).
…losgekoop van die vloek van die wet en ontvang ek die seën van Abraham – “Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word — want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang – sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang” (Galasiërs 3:13).
…met Hom beklee – “…want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee” (Galasiërs 3:27).
…verseël met die Heilige Gees – “…in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte…” (Efesiërs 1:13).
LEES OOK: DIE NUWE LEWE IN JESUS CHRISTUS

Laai jou gratis Verse-lys oor jou Identiteit in Christus hier af.
IN CHRISTUS HET EK…
…vrye toegang tot God se genade en die hoop om deel te hê aan Sy heerlikheid – “Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God” (Romeine 5:2).
…oorvloed genade en vryspraak ontvang – “Deur die oortreding van die een mens het die dood begin heerskappy voer deur hierdie een mens, maar deur die Een, Jesus Christus, is veel meer bereik: dié wat die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang het, sal lewe en heerskappy voer” (Romeine 5:17).
…genade ontvang – “Ek dank my God altyd oor julle vir die genade wat Hy in Christus Jesus aan julle geskenk het…” (1 Korinthiërs 1:4).
…oorwinning oor sonde en die dood – “Die angel van die dood is die sonde, en die sonde kry sy krag uit die wet van God. Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus” (1 Korinthiërs 15:56-57).
…al die seëninge van die Gees – “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is” (Efesiërs 1:3).
…verlossing en vergifnis – “Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God” (Efesiërs 1:7).
…deel geword van God se volk – “Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem, Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit” (Efesiërs 1:11).
IN JESUS CHRISTUS KAN EK…
…’n nuwe lewe lei – “Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ‘n nuwe lewe kan lei” (Romeine 6:4).
…lewe vir God – “Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus” (Romeine 6:11).

DEUR JESUS IS EK…
…verlos van ‘n doodsbestaan – “Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here” (Romeine 7:24-25a).
…afgesonder om aan God te behoort – “Aan die gemeente van God in Korinte, wat Hy vir Hom in Christus Jesus afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort, en verder aan almal, waar hulle ook al mag wees, wat die Naam aanroep van Jesus Christus, hulle Here en ons Here” – (1 Korinthiërs 1:2).
HIERDIE IS OOK WAAR VAN MY.
Ek word nie veroordeel nie – “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie” (Romeine 8:1).
Daar is vrede tussen my en God – “God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus” (Romeine 5:1).
God laat my vas staan in die Evangelie van Jesus – “God is magtig om julle te laat vasstaan ooreenkomstig die evangelie van Jesus Christus wat ek verkondig, en ooreenkomstig die openbaring van die geheimenis” (Romeine 16:25).
God het my met Jesus verenig – “Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing” (1 Korinthiërs 1:30).
Ek het God se Gees ontvang – “Die Gees wat ons ontvang het, is nie die gees van die wêreld nie, maar die Gees wat van God kom. So weet ons wat God ons uit genade geskenk het” (1 Korinthiërs 2:12).
Ek verstaan wat Christus dink – “In die Ou Testament is geskryf: Niemand kan verstaannwat die Here dink nie, niemand kan vir Hom sê wat Hy moet doen nie. Maar ons, ons verstaan wat Christus dink” (1 Korinthiërs 2:16, Die Bybel Vir Almal).

HIERDIE IS OOK WAAR
Alles behoort aan my, ek behoort aan Christus, en Hy aan God – “Daarom moet niemand op mense roem nie. Alles behoort aan julle: of dit Paulus of Apollos of Sefas of die wêreld of lewe of dood of hede of toekoms is, alles behoort aan julle, maar julle behoort aan Christus en Christus aan God” (1 Korinthiërs 3:21-23).
Ek is op Christus gevestig, vir God afgesonder en as Sy eiendom beseël – “God self het ons saam met julle op hierdie vaste grond gevestig: op Christus. God het ons vir Hom afgesonder, ons as sy eiendom beseël en die Heilige Gees in ons harte gegee as waarborg van wat ons nog sal ontvang” (2 Korinthiërs 1:21-22).
God voer my saam in Sy triomftog – “Maar aan God die dank! Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus. Deur ons versprei Hy die kennis van Christus oral soos ‘n aangename geur” (2 Korinthiërs 2:14).
Christus leef in my – “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Galasiërs 2:20).
Ek is deur God uitverkies voor die grondlegging van die wêreld – “So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees” (Efesiërs 1:4).
EN HIERDIE OOK!
Ek is lewend gemaak, opgewek en sit in die hemele in – “Deur Sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ‘n plek in die hemel gegee…” (Efesiërs 2:5-6).
God het my gemaak wat ek nou is – “Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het” (Efesiërs 2:10).
Ek is naby God – “Maar nou is julle een met Christus Jesus. Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus” (Efesiërs 2:13).
Christus is Self my vrede – “Christus is ons vrede, Hy wat dié twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het. Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos ‘n muur skeiding gemaak het” (Efesiërs 2:14).
Ek deel in Christus se volheid – “…en in verbondenheid met Hom deel julle in sy volheid. Hy is die hoof oor elke mag en gesag” (Kolossense 2:10).
WAT GOD Sê IS WAAR
Wanneer God in Sy Woord vir jou sê hierdie is waar van jou – dít is wie jy is, wat jy het, en wat jy kan doen omdat jy in Christus is – dan praat Hy die waarheid. En Hy sal nooit van plan verander daaroor nie; dit is ‘n ewige waarheid.
Hy het hierdie dinge aan ons belowe, en Hy is getrou en sal elke belofte nakom.
Sien jouself dus van vandag af soos God jou sien.
Bogenoemde is wie jy is, wat jy het en wat jy kan doen omdat jy in Christus is.
Ontvang dit; dit is joune!

Kan julle asb vir my whatsapp my nr is 066362 1831 geoot asb vir my gedagtes aan stuur asb
Hallo Erentia. Ons stuur ongelukkig nie boodskappe per whatsapp nie. Jy kan wel inteken vir ons nuusbrief, wat elke Woensdag uitgestuur word.