MATTHEUS 27: JESUS SE KRUISIGING

Mattheus 27: Jesus se kruisiging

Ons is vinnig besig om nader te kom aan nog ‘n Paasfees-geleentheid. Vandag wil ek met jou ‘n paar interessante dinge omtrent Jesus se kruisiging deel. Ons gaan Mattheus se weergawe van die gebeure in Mattheus 27 gebruik as basis vir ons Bybelstudie.

MATTHEUS 27:32-34.

Op pad na buite het hulle ‘n man van Sirene met die naam Simon teëgekom. Hulle het hierdie man gedwing om Jesus se kruis te dra. Toe hulle by ‘n plek kom met die naam Golgota, wat ‘Kopbeenplek’ beteken, het hulle vir Hom wyn, gemeng met ‘n giftige kruid, gegee om te drink. En toe Hy dit proe, wou Hy dit nie drink nie.

SIMON VAN SIRENE.

In drie van die Evangelies lees ons dat Simon van Sirene, Jesus se kruis moes dra. Die persoon wat gekruisig sou word, moes self sy kruis dra. En dit was ook nie die hele kruis nie, maar slegs die dwarsbalk. Die idee was dat dit mense, wat moontlik misdaad wou pleeg, sou afskrik.

As gevolg van die geseling was Jesus te swak om die dwarsbalk tot by Golgota te dra. Daarom word Simon opdrag gegee om dit namens Hom te doen.

In Markus se Evangelie lees ons ‘n bietjie meer oor Simon. Hy was die pa van Aleksander en Rufus. Dis moontlik dat hulle name genoem word, omdat die vroeë Christene geweet het wie hulle was.

GOLGOTA OF KOPBEENPLEK.

Die plek waar Jesus gekruisig is, was waarskynlik ‘n heuwel net buite Jerusalem. Sommige kenners meen dit het soos ‘n kopbeen gelyk, vandaar die naam.

Die heuwel kon van die hoofpad af gesien word en was daarom die ideale plek om mense tereg te stel. Sulke publieke teregstellings moes dien as waarskuwing en afskrikmiddel vir andere.

WYN VIR DIE PYN.

Dit was algemene praktyk om vir mense wat gekruisig sou word, ‘n mengsel te gee wat hulle pyn so ‘n bietjie sou verdoof.

Dis interessant dat twee Evangelie-skrywers vir ons sê waaruit die mengsel wat vir terdoodveroordeeldes aangebied is, bestaan het.

In Mattheus lees ons dit was wyn gemeng met giftige kruid. Dié giftige kruid was heel waarskynlik giftige krewel.

Volgens Markus was dit wyn met mirre daarin. Mirre is, onder andere, in medisyne, parfuums, rome en olies gebruik.

Dit maak egter nie saak presies watter verdowingsmiddel die soldate in die wyn gegooi het nie. Die belangrike is dat Jesus geweier het om dit te drink. Dit beteken Hy was ten volle bewus van die lyding waardeur Hy gegaan het.

Leer meer oor die gelykenisse wat Jesus vertel het deur die Gelykenisse Van Jesus Bybelstudie te gebruik. Die stappe wat jy in die studie volg, gaan jou ook leer hoe om self Bybelstudie te doen.

MATTHEUS 27:35-36.

Nadat hulle Hom gekruisig het, het hulle sy boklere verdeel deur daaroor te loot. Daarna het hulle daar gaan sit en Hom bewaak.

LOOTJIES OOR SY KLERE.

Dit was algemene gebruik dat die soldate die gekruisigdes se klere vir hulleself gevat het. Die feit dat hulle lootjies oor Jesus se klere getrek het, is ‘n vervulling van Psalm 22:19.

MATTHEUS 27:37.

Bo sy kop het hulle die aanklag teen Hom aangebring, wat gelui het: “Hy is Jesus, die koning van die Jode.”

DIE AANKLAG TEEN JESUS.

Iemand wat ter dood veroordeel is, se oortreding is op ‘n bordjie geskryf en dan om sy nek gehang. Dit is ook soms bokant sy kruis aangebring, weereens as waarskuwing vir die mense.

Jesus was egter nie aan enige misdaad skuldig bevind nie. Die enigste ‘misdaad’ wat hulle bokant Sy kruis kon aanbring, was dat Hy die Koning van die Jode was.

Dit was veronderstel om ironies te wees. Hier was, volgens hulle, ‘n koning wat sy mag verloor het en in die openbaar tereggestel is. Hoe kon hy dan nog ‘n koninkryk hê?

Maar Jesus het aan die begin van Sy heerskappy in Sy koninkryk gestaan. Met Sy dood en opstanding sou Hy die Satan se heerskappy beëindig. Sy dood en opstanding het Sy ware koningskap bevestig. Jesus is Koning nie net oor die Jode nie, maar oor die hele wêreld.

MATTHEUS 27:38-44.

Toe is twee rowers saam met Hom gekruisig, een aan sy regterhand en een aan sy linkerhand. Die verbygangers het Hom gelaster, terwyl hulle hulle koppe skud 40en sê: “Jy wat die tempel afbreek en in drie dae opbou – as jy die Seun van God is, red jouself, en kom af van die kruis!” Net so het ook die leierpriesters saam met die skrifkenners en familiehoofde die spot gedryf en gesê: “Ander het hy gered, homself kan hy nie red nie. Hy is die koning van Israel, laat hy nou afkom van die kruis, en ons sal in hom glo. Hy het op God vertrou, laat Hy hom nou red as Hy wil. Hy het immers gesê: Ek is die Seun van God.” Op dieselfde manier het ook die rowers wat saam met Hom gekruisig is, Hom beledig.

DIE ROWERS.

Twee mans word saam met Jesus gekruisig. In van die Evangelies word hulle rowers of misdadigers genoem.

Om iemand te beroof was nie strafbaar met die dood nie. Slegs mense wat teen die Romeinse regering in opstand gekom het, is ter dood veroordeel en gekruisig. Dit beteken dat dié twee manne eerder ‘terroriste’ as gewone rowers was.

Mattheus vertel vir ons dat dié twee manne ook vir Jesus beledig het. In Lukas lees ons egter dat een van hulle berou gekry het daaroor. In die oomblikke voor sy dood draai hy na Jesus vir vergifnis. En Jesus aanvaar hom. Dit wys duidelik vir ons dat dit nie ons dade is wat ons red nie. Dis net geloof in Jesus wat ‘n sondaar kan red.

Dit wys ook vir ons dat dit nooit te laat is om na die Here te kom vir redding nie. ‘n Mens kan selfs op sy sterfbed vir Jesus as Verlosser aanneem. Maar dit beteken nie ons moet wag nie! ‘n Mens weet nooit wanneer jou laaste dag op aarde gaan wees nie. Sommige gaan die geleentheid hê om nog na Jesus te draai, maar ander nie. Ons moet dus, terwyl ons nog tyd het, Jesus in geloof aanneem.

MATTHEUS 27:45-50.

Vanaf die sesde tot die negende uur het daar duisternis oor die hele aarde toegesak. Teen ongeveer die negende uur het Jesus met ‘n harde stem uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtáni?” Dit beteken ‘My God, my God, waarom het U My verlaat?’ Toe sommige van dié wat daar staan, dit hoor, het hulle gesê: “Hy roep na Elia.” Dadelik het een van hulle nader gehardloop, ‘n spons geneem, dit in suur wyn geweek, op ‘n riet gesit, en vir Hom gegee om te drink. Maar die ander het gesê: “Wag, laat ons sien of Elia hom kom red.” Toe het Jesus weer met ‘n harde stem uitgeroep en sy asem uitgeblaas.

ELIA?

In 2 Konings 2:11 lees ons dat die profeet Elia in die hemel opgeneem is sonder om te sterf. Dit het ‘n volksgeloof onder die Jode laat ontstaan dat iemand wat nood het, na Elia kon roep en dat hy sou kom help.

As gevolg van dié geloof verstaan baie van die omstanders Jesus se uitroep verkeerd. Hulle dink Hy roep na Elia, om Hom te kom help.

MATTHEUS 27:51-53.

En kyk, die voorhangsel in die heiligdom is van bo tot onder in twee geskeur, die aarde is geskud en die rotse is oopgebreek. Die grafte is geopen en baie liggame van ontslape heiliges is opgewek. Hulle het ná sy opstanding uit die grafte gekom, die Heilige Stad binnegegaan en aan baie verskyn.

DIE VOORHANGSEL.

Die tempel het uit drie dele bestaan. Daar was die binne-howe waar die volk en selfs nie-Jode bymekaar kon kom. Dan was daar die Heilige, waar net priesters toegelaat is. En laastens was daar die Allerheiligste. Net die hoëpriester kon hier ingaan. Hy het dit ook net een keer ‘n jaar gedoen, om versoening te doen vir die sondes van die hele volk.

Die voorhangsel, waarvan ons in die gedeelte lees, het die Heilige van die Allerheiligste geskei. Die voorhangsel was ongeveer 18 meter hoog, ‘n bietjie meer as 9 meter breed en ‘n handbreedte dik. In een ou Joodse geskrif staan dit was so swaar, dat 300 priesters dit moes dra!

Dit was dus menslik onmoontlik om die voorhangsel te skeur. Maar dis presies wat gebeur het. Dit skeur van bo na onder, wat ons duidelik wys dis God wat die skeurwerk gedoen het.

Jesus se dood aan die kruis betaal vir die sondes van alle mense van alle tye. En nou is daar nie meer skeiding tussen ons en God nie. As gelowiges het ons nou self toegang tot God en het nie meer ‘n tussenganger, soos ‘n priester, nodig nie. Daarom sê Hebreërs 4:16 vir ons: “Laat ons dan met vrymoedigheid die troon van genade nader, sodat ons ontferming en genade kan ontvang om op die regte tyd gehelp te word.”

MATTHEUS 27:54.

Toe die centurio en dié wat Jesus saam met hom bewaak het, die skudding en die dinge wat gebeur, sien, was hulle vreesbevange en het gesê: “Hy was werklik Seun van God.”

REAKSIE OP JESUS SE DOOD.

In drie van die Evangelies – Mattheus, Markus en Lukas – lees ons van die centurio se reaksie op Jesus se dood.

Toe hy sien wat gebeur, het hy geen twyfel dat Jesus ‘n onskuldige Man was en dat Hy die Seun van God was nie.

Dis interessant dat daar niks gesê word oor die godsdienstige leiers se reaksie nie. ‘n Mens wonder hoe hulle hierdie dinge kon sien, en nie tot dieselfde gevolgtrekking as die Romeinse offisiere kom nie. Of het hulle dit dalk ook besef, maar was te hardkoppig om dit te erken?

MATTHEUS 27:55-56.

Daar was baie vroue teenwoordig wat van ver af toegekyk het. Dit was vroue wat Jesus van Galilea af gevolg en Hom gedien het. Onder hulle was Maria Magdalena, Maria, die moeder van Jakobus en Josef, en die moeder van die seuns van Sebedeus.

DIE VROUE WAT JESUS GEVOLG HET.

Mattheus sluit sy vertelling van Jesus se kruisiging af deur te vertel van die vroue wat by was Hy dood is.

Vroue was in daardie tyd gesien as besittings en eintlik maar baie onbelangrik. Jesus het egter ‘n ander standaard kom stel. Hy sien vroue nie as onbelangrik nie, maar as mense wat ook deur God geskep is en wat ook belangrik is in Sy oë.

Daarom word die vroue wat Jesus gevolg het, so pertinent genoem in die vertellinge oor Sy kruisiging en opstanding.

JESUS, DIE PERFEKTE LAM VAN GOD.

Jesus was die perfekte Lam van God, wat met Sy bloed betaal het vir die sondes van die hele wêreld. Al wat ons moet doen, is om dit wat Hy vir ons gedoen het, in geloof te aanvaar.

Het jy dit al gedoen?

Deel hierdie blad

5 comments

  1. MATTHEUS 27:32-34.
    Op pad na buite het hulle ‘n man van Sirene met die naam Simon teëgekom. Hulle het hierdie man gedwing om Jesus se kruis te dra. Toe hulle by ‘n plek kom met die naam Golgota, wat ‘Kopbeenplek’ beteken, het hulle vir Hom wyn, gemeng met ‘n giftige kruid, gegee om te drink. En toe Hy dit proe, wou Hy dit nie drink nie.
    Goeie dag Risa ek verwys na ‘giftige kruid’ hierbo. uit watter vertaling kom hierdie gedeelte? want ek het ooral gesoek en kom nerens uit by ‘giftige’ nie. maar wel by ‘gal of Bitter’ wat ek dink is ‘n belangrike verwysing na Jesus se kruisigings-lyding.

  2. Hi Risa ek moet net weer v jou sè hoe ongelooflik baie jou bediening v my beteken en hoeveel respek ek het vd feit dat jy Bybelse waarheid verkondig.Ek kan regtig sien dat jy ‘n hartskind v God is en Sy Evangelie op ‘n spesiale manier probeer uitdra
    Ek het in my eerste epos aan jou vertel v my Seun wat ek verloor het…..dit was Junie verlede jaar maar my seer word net groter …..hy was my rowwe kind ….groot en sterk en sy Ma se rots op hierdie aarde.
    Nou sukkel ek vreeslik m vergifnis:
    1. Sy vroutjie het lelike dinge begin na sy ongeluk en dit het bitter seer gemaak…..hoewel sy saam m my gehuil het , het sy haar eie lewe begin lei waar drank en mans betrokke was Gou het sy haarself in ‘n nuwe verhouding begeef en leef my kind dood.Hy het ‘n dogtertjie , 3 jr oud by haar en ek kan nooit my kins se ou dogtertjie versaak nie maar huidiglik is ek sooooooo kwaad en teleurgesteld oor hierdie vrou se morele waardes????
    2. En dan my jongste broer…… wat al die jare soos ‘n pa v my kind was en hom byna doodgehuil het toe my Deonkind weg is , het kort daarna begin om my kind se naam sleg te maak en ek weet my kind het my broer ook baie finansieel gehelp want hy was lief v hom. Hy het tot probeer om v my te oortuig v lelike dinge wat Deon gedoen het…..ek kannie glo dat hy dit gedoen het en waarom nie.Ek het sedert daai dag nooit weet m hom gepraat nie
    MAAR ek WEET ek moet kan vergewe Risa …..ek weet net nie hoe nie.Dis my kind se nagedagtenis wat hier betrokke is en ek voel beide my broer en hierdie vrou wat sè hulle het hom so baie liefgehad, skend dit v my kind wat v my kosbaar is.Ek is ongelooflik lief v my kinders en kleinkinders…..en hierdie sny baie diep.
    Ek hoop en bid dat jy v my ander insig sal kan gee.
    Pas jou mooi op

    Mooie dag v jou
    Vriendelikste groete
    Vicky Judeel
    C: 076 181 0580

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *