
Hierdie jaar (2023) vier ons Palmsondag op die 2de April. Op dié dag dink ons aan Jesus se intog in Jerusalem. Ons lees daaroor in al vier Evangelies, wat beteken dat dit ‘n belangrike gebeurtenis was. Vandag gaan ons ‘n bietjie na Mattheus se weergawe van die gebeurtenis in Mattheus 21 kyk. Wat kan ons alles daaruit leer? Wat is daar wat interessant is in die gedeelte? Kom ons kyk.
MATTHEUS 21:1-7.
“Toe hulle Jerusalem nader en by Betfage teen die Olyfberg kom, stuur Jesus twee dissipels met die opdrag: “Gaan na die dorpie daar voor julle, en julle sal dadelik ‘n vasgemaakte donkie vind met ‘n vul by haar. Maak haar los en bring hulle vir My. En as iemand vir julle iets sê, moet julle antwoord, ‘Die Here het hulle nodig’. Dan sal hy hulle dadelik laat gaan.” Dit het gebeur, sodat vervul sou word wat deur die profeet gesê is: “Sê vir die dogter van Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe: Hy is sagmoedig en Hy sit op ‘n donkie, en op ‘n jong donkie, die vul van ‘n pakdier.” Die dissipels het vertrek en gemaak soos Jesus hulle beveel het. Hulle het die donkie en die vul geneem, boklere op hulle neergesit, en Hy het daarop gaan sit.”
BETFAGE.
Volgens oorlewering was Betfage ‘n dorp op die oostelike hang van die Olyfberg.
Betfage beteken ‘huis van die onryp vye’.
DIE OLYFBERG.
Die Olyfberg is deel van ‘n klein bergketting oos van Jesusalem. Dit word deur die Kidron-vallei daarvan geskei.
Dié berg was heel moontlik in Jesus se tyd vol olyfbome.
DIE DONKIE EN HAAR VUL.
Dis net in Mattheus waar ons lees dat daar ‘n donkie en ‘n vul was. In die ander Evangelies word daar van ‘n jong donkie gepraat. Hoewel ons dit nie so in Mattheus se weergawe lees nie, lyk dit asof Jesus op die vul – die jong donkie – gery het.
Die feit dat Jesus op ‘n donkie gery het, is baie belangrik. In antieke tye het konings op perde gery wanneer hulle gaan oorlog maak het. As hulle egter in vrede gekom het, het hulle op ‘n donkie gery.
Jesus ry op ‘n donkie omdat Hy in vrede kom. Hy kom om vrede te bring tussen God en die mens.
Wanneer Hy egter weer kom, gaan Hy op ‘n wit perd ry. In Openbaringe 19:11 lees ons: “Toe het ek gesien dat die hemel geopen is. En kyk, daar was ‘n wit perd! Hy wat daarop sit, word getrou en waar genoem, en met regverdigheid oordeel Hy en voer Hy oorlog.”
GODDELIKE KENNIS EN MAG.
Jesus het presies geweet wat sou gebeur wanneer die dissipels die twee donkies losmaak. Daarom sê Hy vir die dissipels wat hulle moet sê wanneer iemand daaroor navraag doen.
In een kommentaar word geskryf dat die eienaar van die donkies tien teen een ook ‘n dissipel van Jesus was. Dis waarom hy, toe hy hoor die Here het hulle nodig, die donkies laat gaan.
Die gedeelte wys vir ons dat Jesus goddelike kennis gehad het oor dinge wat sou gebeur. Hy het dan ook daardie kennis gebruik wanneer dit nodig was.
Nog iets wat interessant is, is dat daar in twee van die Evangelies staan dat niemand nog ooit op die vul gery het nie. Maar ons sien nie dat die vul Jesus probeer afgooi toe Hy op hom gaan sit nie. Dit wys vir ons dat Jesus goddelike mag oor die diereryk het.
SAGARIA SE PROFESIE.
Ons lees net in Mattheus en in Johannes se weergawes van hierdie gebeurtenis van die profesie wat in Sagaria staan.
Dis moontlik dat Mattheus spesifiek skryf van die vul waarop Jesus ry, om te wys dat Jesus hierdie profesie vervul het.
MATTHEUS 21:8-9.
“Die groot skare het hulle boklere op die pad oopgesprei, en ander weer het takke van die bome afgekap en op die pad oopgesprei. Die skare wat voor Hom uit geloop en dié wat gevolg het, het uitgeroep: “Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Hosanna in die hoogste!”
DIE SKARE.
Ons sien dat ‘n groot skare mense Jesus volg. Sommige Bybelkenners reken dat daar eintlik twee groepe was. Die een groep het Jesus vanuit Jerusalem tegemoet gekom. Die ander groep het Hom gevolg.
Hierdie mense was heel moontlik dissipels wat baie van Jesus se wonderwerke gesien het en in verwondering was daaroor.
PALMTAKKE EN KLERE OP DIE PAD.
Van die mense het hulle boklere op die pad oopgesprei. In antieke tye het mense hulle klere voor ‘n hoogwaardigheidsbekleër oopgegooi as ‘n simbool van onderdanigheid.
Ons lees ook dat daar mense was wat takke op die pad oopgesprei het. Van dié takke, was palmtakke (Johannes 12:13). Palmtakke was weer ‘n simbool van oorwinning.
Baie Jode het geglo die Messias gaan hulle verlos van die Romeinse regering. Dit is dus moontlik dat dít is waarom die Joodse dissipels klere en palmtakke voor Jesus oopgesprei het. Hulle het heel moontlik verwag dat Hy hulle nou van die Romeinse oorheersing gaan bevry.
LUKAS 19:41-44.
“Toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy oor haar gehuil en gesê: “As jy maar op hierdie dag dié dinge besef het wat vir jou vrede kan bring! Maar nou is dit vir jou oë verberg. Want daar sal dae vir jou aanbreek wanneer jou vyande skanse teen jou oprig, jou omsingel en jou van alle kante af beleër. Hulle sal jou en jou kinders met die grond gelyk maak. Hulle sal nie een klip in jou op die ander laat bly staan nie, omdat jy nie hierdie beslissende tyd toe God jou besoek het, herken het nie.”
JESUS HUIL.
Dis net in Lukas waar ons lees dat Jesus, toe Hy naby Jerusalem kom, oor die stad gehuil het.
Dit is een van drie kere in die Nuwe Testament, waar ons lees dat Jesus gehuil het (Johannes 11:35; Hebreërs 5:7).
Jesus se hart was baie seer oor die feit dat meeste van die mense se oë blind was vir Sy ware identiteit en missie.
Hy het gekom om vir hulle verlossing en vrede te bring, iets wat hulle almal graag wou hê. Maar hulle het nie verstaan het dat ‘n geestelike eerder as ‘n fisiese verlossing en vrede was nie. Daarom sou meeste van hulle ‘n paar dae later skreeu: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!”
MATTHEUS 21:10-11.
“Toe Hy Jerusalem binnegaan, was die hele stad in rep en roer, en hulle het gevra: “Wie is hierdie man?” Die skare het gesê: “Dit is die profeet Jesus, die Een van Nasaret, in Galilea.””
DIE PROFEET.
Op die mense se vraag, “Wie is hierdie man?”, antwoord die skare dat Hy die profeet is.
Die woord ‘profeet’ verwys heel moontlik na se woorde in Deuteronomium 18:15. Daar staan: “‘n Profeet uit jou midde, iemand uit jou volksgenote soos ek, sal die Here jou God vir jou laat opstaan; na hom moet julle luister.”
DIE VERHAAL IN DIE ANDER EVANGELIES.
Ons kry, soos ek gesê het, die verhaal van Jesus se intog in Jerusalem in al vier Evangelies.
Elke skrywer gee vir ons spesifieke inligting, wat dalk net in daardie Evangelie staan.
Gaan lees dus al die verskillende weergawes en kyk wat meer jy oor hierdie gebeurtenis kan leer. Jy kan dié gedeelte in Mattheus 21:1-11; Markus 11:1-11; Lukas 19:28-38 en Johannes 12:12-19 kry.
