
In Markus 5 lees ons van drie van Jesus se wonderwerke.
In die eerste gedeelte dryf Jesus ‘n klomp duiwels uit ‘n man.
Dan genees Hy ‘n vrou wat al twaalf jaar lank met dieselfde siekte gesukkel het.
En laastens wek Hy ‘n dogtertjie uit die dood op.
Elkeen van hierdie wonderwerke wys ons iets waaroor Jesus gesag het. En in die verhaal van elkeen leer ons ook ‘n paar geloofslesse.
DIE BESETENE VAN GERASA.
Markus 5:1-20 vertel die verhaal van die besetene van Gerasa.
Hierdie arme man was só in die mag van die duiwel vasgevang, dat hy vir Jesus sê sy naam is Legio. Dit beteken daar was nie net een bose gees in hom nie, maar baie.
Hy het tussen die grafte gebly en mense kon dit nie naby hom waag nie.
Dag en nag het hy rondgeloop en geskreeu en homself met klippe stukkend gekap.
En dan verskyn Jesus op die toneel.
In plaas daarvan dat die man Hom probeer aanval, val hy voor Hom op sy knieë neer. Die teks vertel vir ons dat die bose geeste geweet het hulle was in die teenwoordigheid van die Seun van God.
Die man smeek Jesus om die geeste nie uit die landstreek weg te stuur nie.
Teen die berg loop ‘n trop varke – omtrent tweeduisend van hulle – en die geeste vra Jesus se toestemming om in die varke in te vaar. Jesus sê ja, en dit is toe ook wat gebeur.
Die oomblik toe die bose geeste die varke invaar, gaan hulle op loop die hang af, val in die see en versuip.
DIE REAKSIE VAN DIE DORPENAARS.
Toe die wagters sien wat gebeur, hardloop hulle weg. Hulle gaan vertel dadelik vir die mense in die dorp en op die plase wat gebeur het.
Jy kan jou indink dat almal dadelik kom kyk het wat aangaan. Hulle het immers pas gehoor hulle is hulle eiendom kwyt!
By Jesus gekom, sien hulle die man sit, by sy volle verstand.
Dan doen hulle ‘n vreemde ding.
Markus 5:17 sê: “Hulle het toe by Jesus daarop aangedring om uit hulle gebied uit weg te gaan.”
In plaas daarvan om verheug te wees dat die man genees is, en dat die duiwels uit hulle gebied verwyder is, is hulle ontsteld oor die verlies van die varke.
Hulle staar hulle so blind teen hulle aardse besittings wat daarmee heen is, dat hulle die verlossende krag van Jesus heeltemal miskyk.
Waar dit wat hulle gehoor en gesien het, geloof in hulle harte moes wek, maak dit hulle bang en verkies hulle om liewer niks met Jesus te doen te hê nie.
In Markus 5:18 lees ons dat Jesus gehoor gee aan hulle versoek.
Hy dring Hom nie aan hulle op en forseer hulle om Hom te aanvaar en in Hom te glo nie. Nee, Hy doen wat hulle vra en verlaat hulle gebied.
GELOOFSLESSE UIT MARKUS 5:1-20.
Mense kan van Jesus hoor, en selfs ervaar wat Hy in hulle lewens kan doen, en steeds kies om liewer niks met Hom te doen te hê nie.
Jesus dwing niemand om in Hom te glo nie. Deur die Heilige Gees werk Hy in mense se harte. Hy stuur Sy kinders om die Woord aan hulle te verkondig en oor Hom te getuig. Hy is goed vir elke mens en is elke dag besig om hulle na Hom te trek. Maar mense het ‘n keuse. Jy kan vir Jesus kies of jy kan teen Hom kies. Hy gaan jou nooit dwing om Hom te aanvaar nie.

DIE VROU MET BLOEDVLOEIING.
Aan die oorkant het Hy skaars uit die skuit geklim, toe drom die mense al om Hom saam.
Tussen die skare deur kom daar haastig ‘n man aangestap. Hy is een van die raadslede van die sinagoge en sy naam is Jaïrus. Hy is op soek na Jesus om Hom te vra om sy dogtertjie te kom genees.
In Markus 5:23 lees ons sy dringende versoek: “My dogtertjie lê op haar uiterste. Kom lê tog u hande op haar, sodat sy kan gesond word en lewe.”
Dadelik begin Jesus saam met hom aanstap na sy huis toe.
Langs die pad is daar egter ‘n onderbreking.
‘n Vrou, wat al twaalf jaar aan bloedvloeiing gelei het, raak aan Jesus se klere.
Die Bybel sê vir ons sy het gedink, “As ek maar net aan Sy klere kan raak, sal ek gesond word.” (Die Ou Vertaling sê sy het gesê sy moet net aan Sy klere raak, dan sal sy gesond word.)
Jesus weet dadelik daar het krag uit Hom gegaan, en die vrou weet dadelik sy is genees.
Dan gaan staan Jesus eers stil en praat met die vrou. Hy luister na haar verhaal en sê vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Wees vir goed van jou kwaal genees!” (Markus 5:34).
DIE GELOOFSLESSE WAT DIE VROU ONS LEER.
Hierdie vrou leer ons ‘n paar belangrike geloofslesse.
In die eerste plek sien ons in vers 27 dat sy van Jesus gehoor het. Mense het haar beslis vertel van al die wonderlike dinge wat Jesus gedoen het, en dit het geloof in haar gewek.
In Romeine 10:17 lees ons: “Die geloof kom dus deur die prediking wat ‘n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus.”
Geloof word net om een manier in ‘n mens se hart gewek – deur die Woord van God, die prediking en verkondiging van Christus.
Die tweede geloofsles wat ons leer, is dat die vrou gedink of gesê het dat sy net aan Jesus se klere moet raak, dan sal sy gesond word.
Die geloof wat in ons harte gewek word, word op verskeie manier vrygestel. Om te sê wat jy glo is een manier. ‘n Ander manier is deur jou dade – om te wys wat jy glo.
Hierdie vrou het geglo Jesus kan haar genees. Sy stel haar geloof vry deur te sê wat sy glo. Sy neem ook aksie en gaan soek Hom sodat sy aan Sy klere kan raak. Dit was ‘n ongehoorde ding om te doen, want volgens die Wet van Moses was sy onrein. Enige iets of iemand wat aan haar geraak of waaraan sy geraak het, was ook onrein. Hierdie vrou waag dus baie om in die skare in te gaan terwyl sy eintlik onrein is.
Uit haar aksies moet ons leer dat niks ons moet terughou wanneer ons God se Woord gehoor het en dit glo nie. Ons moet praat waaroor ons glo en ons moet dade hê wat wys wat ons glo.
Dan sal daar ook vir ons gesê word, “Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede” (Markus 5:34).

DIE DOGTERTJIE VAN JAïRUS.
Terwyl Jesus nog met die vrou praat, kom daar mense van Jaïrus se huis af.
Hulle bring vir hom die hartseer boodskap dat hy en Jesus te laat is – sy dogtertjie het gesterf.
Jesus hoor egter wat hulle sê en sê vir Jaïrus: “Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo!” (Markus 5:36).
Dan stap hulle verder aan na Jaïrus se huis toe.
By die huis is daar ‘n klomp mense wat verskriklik huil en te kere gaan.
Jesus vra hulle waarom hulle huil, want die kindjie is nie dood nie, sy slaap net.
Die mense lag Hom uit en Hy beveel hulle om uit die huis te gaan.
Net die kindjie se ouers, Petrus, Jakobus en Johannes bly by Hom agter.
Hy neem die dogtertjie se hand en sê vir haar, “Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op!”
Die kind het dadelik opgestaan en begin loop, en Jesus het haar ouers beveel om haar iets te gee om te eet.
JAïRUS SE GELOOFSLES.
By Jaïrus leer ons dat ‘n mens onstellende nuus kan hoor, en dat dit kan dreig om jou geloof te kelder. Maar, as jy weet wat jy gehoor het is teenstrydig met wat die Woord sê, dan moet jy doen wat Jaïrus moes doen. Moet jou nie ontstel nie, bly net glo.
Dit mag dalk nie maklik wees nie, maar vertrou die Heilige Gees om jou daarmee te help.
Herinner jouself so gereeld as wat nodig is aan wat die Woord oor jou situasie sê.
Herinner jouself ook daaraan dat die Woord die waarheid is, en dat alle ander dinge in lyn moet kom daarmee.
MARKUS 5 SE GELOOFSLESSE – ‘N OPSOMMING.
Mense kan van Jesus hoor en Sy goedheid en genade ervaar, en steeds kies om niks met Hom te doen te hê nie.
Jesus dwing niemand om in Hom te glo nie. Jy kan vir Jesus kies of jy kan teen Hom kies. Hy gaan jou nooit dwing om Hom as Verlosser aan te neem nie.
Geloof word deur die Woord van God, die prediking en verkondiging van Christus, in ons harte gewek.
Ons moet ons geloof vrystel deur te praat oor wat ons glo en dinge te doen wat wys wat ons glo.
Hou altyd aan glo, selfs wanneer jy ontstellende nuus hoor. Die Woord is die waarheid en dit doen altyd waarvoor God dit gestuur het. Dus kan jy altyd glo wat Hy sê en verwag dat dit ‘n realiteit in jou lewe sal word!
LEES OOK: Die Evangelie volgens Markus – ‘n Inleiding
Die Evangelie begin – Markus 1
Die oue is verby! – Markus 2
‘n Nuwe lewe met God – Markus 3
Gelykenisse van Jesus – Markus 4

Daniel Here vir U getrouheid die Kragen en warhead van U woord en Dat ons ons Harte Kan oopmaak om U tell vlg en aan U Vashon, U stel nooit teleur nice Here Amen