MARKUS 14: DIE LAASTE PAASMAALTYD

Een van die gebeurtenisse voor Jesus se kruisiging, is die aand toe Hy vir die laaste keer saam met die dissipels die paasmaaltyd geëet het. Ons praat soms hiervan as die laaste avondmaal. Ons lees hiervan in al vier die Evangelies, hoewel elke skrywer dit vanuit ‘n ander hoek bekyk. Johannes skryf byvoorbeeld nie pertinent daaroor, soos die ander skrywers nie. Maar ons kan aflei dat Johannes 13-17 tydens die laaste paasmaaltyd plaasgevind het.

Vandag gaan ons Markus se weergawe in hoofstuk 14 gebruik en ek gaan ‘n paar interessanthede oor dié gebeurtenis met jou deel.

MARKUS 14:12-16.

“Op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood, wanneer hulle gewoonlik die Pasgalam geslag het, het Jesus se dissipels vir Hom gesê: “Waar wil U hê moet ons gaan voorbereidings tref sodat U die Pasga kan eet?” Hy stuur toe twee van sy dissipels en sê vir hulle: “Gaan in die stad in, en ‘n man wat ‘n kruik water dra, sal julle tegemoetkom. Volg hom. En waar hy ook al mag ingaan, sê vir die eienaar van die huis, ‘Die Leermeester vra: Waar is my gastekamer waar Ek die Pasga saam met my dissipels moet eet?’ Hy sal vir julle ‘n groot bokamer wys wat reeds ingerig en gereed gemaak is. Tref daar vir ons voorbereidings.” Die dissipels het vertrek en die stad ingegaan. Hulle het dit net so aangetref soos Hy vir hulle gesê het; en hulle het die Pasga voorberei.”

DIE FEES VAN ONGESUURDE BROOD.

Paasfees het uit een maaltyd bestaan, wat in een nag geëet is. Maar dit het by die fees van ongesuurde brood aangesluit. Hierdie fees het ‘n week lank geduur.

Tydens dié fees, het mense alle suurdeeg uit hulle huise verwyder.

Dit het twee dinge vir hulle beteken.

In die eerste plek het dit hulle laat dink aan die nag toe hulle voorvaders uit Egipte gevlug het. Daar was nie tyd om brood met suurdeeg te bak nie, omdat hulle so haastig moes vertrek.

Maar dit was ook simbolies van ‘n lewe wat van sonde gereinig is (1 Korinthiërs 5:8).

DIE PAASMAALTYD OF PASGA.

Baie huise het in daardie tyd ‘n bovertrek gehad. Soms was daar trappe na dié vertrek in die huis self en ook aan die buitekant van die huis.

Daar was nogal baie voorbereidings wat getref moes word vir die paasmaaltyd. Die tafel moes gedek word. Die paaslam, wyn en ander kosse moes gekoop word. Dan moes alles voorberei word. Hierdie maaltyd het gewoonlik tot middernag geduur.

Leer meer oor die gelykenisse wat Jesus vertel het deur die Gelykenisse Van Jesus Bybelstudie te gebruik. Die stappe wat jy in die studie volg, gaan jou ook leer hoe om self Bybelstudie te doen.

MARKUS 14:17-21.

“Teen die aand kom Jesus toe met die twaalf. Hulle het vir ete aangeleun, en terwyl hulle eet, het Jesus gesê: “Amen, Ek sê vir julle: Een van julle sal My verraai, een wat saam met My eet.” Hulle het bedroef geword en Hom een vir een gevra: “Tog seker nie ek nie?” Hy het vir hulle gesê: “Dit is een van die twaalf, die een wat saam met My sy hand in die skottel insteek. Die Seun van die Mens gaan wel heen, soos daar oor Hom geskryf staan, maar wee daardie man deur wie die Seun van die Mens verraai word. Dit sou vir hom beter gewees het as hy nie gebore was nie.”

JUDAS, DIE VERRAAIER.

‘n Mens wonder soms waarom Judas besluit het om vir Jesus te verraai.

Sommige Bybelkenners dink hy het verwag dat Jesus ‘n politieke opstand sou begin. Hy het gedink Jesus sou die Jode van die Romeinse oorheersing bevry.

Dis moontlik dat Judas teleurgesteld was omdat dit gelyk het of Jesus nié van plan was om dit te doen nie. Hy het dalk gedink as hy Jesus uitlewer, sou dit Hom forseer om Sy mag te gebruik om ‘n opstand te begin.

Maar Judas was ook nie ‘n baie eerlike man nie. In Johannes 12 lees ons dat hy die beursie gedra het en dat hy van die geld daaruit gesteel het. Dalk het hy gedink dat hy ‘n baie belangrike rol in Jesus se kabinet sou kry, juis omdat hy die beursie gedra het.

Ons weet nie regtig waarom Judas vir Jesus verraai het nie. Maar die moontlikheid is groot dat sy idee ‘n aardse koninkryk was en dat hy Jesus daarom heeltemal verkeerd opgesom het.

Mattheus is die enigste skrywer wat vir ons sê hoeveel geld Judas vir sy verraad gekry het. In Mattheus 26:15 lees ons dit was dertig silwerstukke. Volgens Eksodus 21:32 was dit die skadevergoeding vir ‘n slaaf se lewe. Dit verwys ook terug na Sagaria 11:12.

MARKUS 14:22-26.

“Terwyl hulle eet, het Hy brood geneem, en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, breek Hy dit en gee dit vir hulle en sê: “Neem, dit is my liggaam.” Toe het Hy die beker geneem, gedank, dit vir hulle gegee, en hulle almal het daaruit gedrink. Hy het vir hulle gesê: “Dit is my bloed, die bloed van die verbond wat vir baie uitgegiet word. Amen, Ek sê vir julle: Ek sal beslis nie meer van die vrug van die druiwestok drink, tot daardie dag wanneer Ek dit nuut in die koninkryk van God sal drink nie.” Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle na die Olyfberg vertrek.”

DIE INSTELLING VAN DIE NAGMAAL.

In hierdie gedeelte van Markus 14 lees ons hoe Jesus een van die sakramente van die Nuwe Testament instel.

Daar is verskillende name wat vir hierdie sakrament gebruik word. Elkeen van dié name wys vir ons ‘n ander aspek van die gebeurtenis.

Nagmaal – Jesus en Sy dissipels het dit met die aandmaaltyd verbind.

Gemeenskapsmaal – Deur dié maaltyd het ons gemeenskap met God en ook met ander gelowiges.

Gedenkmaal – Wanneer ons die brood eet en wyn drink, dink ons aan Jesus sy lyding en kruisdood vir ons.

Danksegging – Ons sê daardeur vir God dankie vir Sy liefde en genade en vir die werk wat Jesus vir ons gedoen het.

DIE BLOED VAN DIE VERBOND.

In Eksodus 24:8 lees ons: “Moses het toe die bloed geneem en dit oor die volk gesprinkel en gesê: “Kyk, dit is die bloed van die verbond wat die Here met julle sluit op grond van al hierdie woorde.””

Deur bloed op die volk te sprinkel, het Moses die verbond – die Ou Verbond – met die volk bevestig. Ongelukkig het hulle sommer baie keer hulle verbond met God verbreek.

Maar nou kom Jesus en bevestig met Sy bloed ‘n nuwe verbond. Hierdie verbond kan nooit verbreek word nie omdat dit nie tussen God en die mense is nie. Dis tussen God en Sy Seun.

DIE LOFSANG.

Markus sluit sy vertelling van die laaste paasmaaltyd af deur te sê dat Jesus en die dissipels die lofsang gesing het. Mattheus praat ook van die lofsang wat gesing is.

Dis interessant dat daar staan ‘die’ lofsang en nie ”n’ lofsang nie.

Bybelkenners meen dié lofsang Psalm 117, 117 en 118 was, omdat dit tradisioneel by die paasmaaltyd gesing is.

MATTHEUS, LUKAS EN JOHANNES SE WEERGAWES.

Ons het nou gelees wat Markus oor die laaste paasmaaltyd geskryf het. Ek wil jou aanmoedig om ook die ander skrywers se weergawes te lees. Jy kan dit kry in Mattheus 26, Lukas 22 en Johannes 13-17.

Drie van die skrywers vertel net vir ons wat by die laaste paasmaaltyd gebeur het. Johannes gaan egter ‘n stap verder en vertel vir ons baie dinge wat Jesus daardie aand gesê het.

Ek wil jou aanmoedig om veral te lees wat Johannes in Johannes 14-17 geskryf het. Dis Jesus se laaste woorde en daarom baie belangrik vir ons as gelowiges.

Voor jy lees, vra die Heilige Gees om jou oë oop te maak vir belangrike waarhede wat jy moet raaksien. Gaan dan en leef uit wat die Here jou geleer het!

Deel hierdie blad

5 comments

  1. wat beteken die gedeelte in lukas 22 waar hy n beker neem en se deel dit onder julle was dit die afsluit van die pasga daarna stel hy die nagmaal in waar hy se dit is my liggaam en toe die beker

    1. Ja, dit is soos jy dink. Toe Jesus die brood en wyn vir die dissipels gee en daardie woorde sê, het Hy die nagmaal ingestel.

      1. Waarom verskil die Pasgadatums. Bv 12 April 2025 en ander kalenders wys weer 18 April 2025. Die datums het ook verlede jaar verskil. Maw die persone wat dit 12 Apr hou mis uit op 18 April se vakansiedag sodat hul ook aan feesvieringe kan deelneem.

        1. Elrina, 12 April word die Joodse Pasga gevier. Die 18de April het Christene Goeie Vrydag gevier. Die twee vieringe is dus nie dieselfde viering nie en daarom gewoonlik ook nie op dieselfde datum nie.

      2. Wat altyd vir my uitstaan hierdie tyd van die jaar met Paasfees,is wat God die Vader vir ons kom doen het deur Sy Seun Jesus Christus.Hy het Sy enigste Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgegee om te sterf aan ñ houtkruis,sodat daar verlossing en versoening vir ons kan kom. Want ons was eens ver van God af deur ons sonde en ongeregtigheid,maar met Jesus se dood het daar versoening tussen God en die mens gekom. Daarom is dit een van die mees geliefde gedeeltes vir my in die Bybel. Jesus het nie in die graf gebly nie,Hy het opgestaan Hy lewe,en omdat Hy lewe sal ons lewe wat saam met Hom in gemeenskap is. HALLELUJAH AAN DIE SEUN VAN GOD,DIE KONING VAN ALLE KONINGS🙌

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *