MARKUS 13: DIE PROFETIESE REDE

Markus 13: Die profetiese rede

Ons is tans besig om deur die Evangelie van Markus te werk, om te sien wat ons daaruit kan leer.

Hoewel ek nie naastenby oor alles skryf wat ‘n mens uit ‘n hoofstuk kan leer nie, is daar tog baie wat ek elke week met jou deel.

As jy die vorige artikels gemis het, kan jy dit HIER gaan lees. Jy kan daar ook vir jou ‘n gratis Bybelstudie oor die hoofstuk aflaai.

Vandag gaan ons stilstaan by Markus 13.

MARKUS 13 – DIE PROFETIESE REDE.

Markus 13 staan in die Bybel bekend as die profetiese rede.

Die hele hoofstuk is een profesie op die ander.

Van hierdie profesieë het al waar geword, ander wag nog in die toekoms.

Maar of dit nou al gebeur het of nog nie, ons weet ons kan dit glo, want Jesus het gesê dit gaan so gebeur.

DIE VERNIETIGING VAN DIE TEMPEL.

In die eerste twee verse van Markus 13 lees ons dat Jesus en Sy dissipels by die tempel was.

Toe hulle daarvandaan weggaan, vestig een van die dissipels Jesus se aandag op die geweldige klippe en geboue.

Ek wonder waarom dit die dissipel juis tóé opgeval het. Hulle was al hoevele kere in die tempel – waarom sien hy dit nou eers raak?

Dit maak egter nie saak waarom hy dit hom nou eers opval nie; wat saakmaak is Jesus se volgende woorde.

Hy sê dat daar nie een klip op ‘n ander sal bly nie, dat alles afgebreek gaan word.

Dit het inderdaad ook later in 70nC gebeur.

RAMPE EN VERVOLGING.

Na die gesprek oor die tempel, gaan Jesus en die dissipels na die Olyfberg, waar Hy regoor die tempel gaan sit.

Petrus, Johannes en Jakobus is dadelik by om Hom oor al hierdie dinge uit te vra.

“Wanneer gaan dit gebeur en wat sal vir ons die teken wees?” wil hulle weet.

Dan begin Jesus met hulle praat oor mense wat gaan kom en beweer hulle is Hy, maar dat hulle nie daardeur mislei moet word nie.

Ons moet hierdie waarskuwing ook ter harte neem.

Volgende praat Hy oor oorloë en gerugte van oorloë, van aardbewings en hongersnode. Hy sê dat hulle nie verskrik moet wees wanneer hulle van hierdie dinge hoor nie, want dit is nie die einde nie, maar geboortepyne.

Ook hierdie opdrag moet ons ter harte neem.

‘n Mens hoor amper daagliks van een of ander ramp wat iewers getref het en van mense wat teen mekaar in opstand kom.

Maar dit moet ons nie bang maak nie. Ons moet onthou dat God ons liefhet en dat ons onder Sy vleuels kan skuiling vind.

VERVOLGING VAN DIE GELOWIGES.

Nou skuif die fokus na wat met die gelowiges gaan gebeur.

Ter wille van Jesus se Naam sal hulle deur almal gehaat word.

Hulle gevang en mishandel word. Selfs familielede sal teen mekaar draai en mekaar doodmaak.

Wanneer hierdie dinge gebeur, moet die gelowiges vas in hulle geloof bly staan.

Hulle moet die Heilige Gees vertrou om vir hulle die woorde te gee wanneer hulle teenoor die mense wat hulle vervolg, moet getuig.

Weereens moet die gelowige nie bang wees vir hierdie dinge nie.

Die Heilige Gees is by ons om ons te help. Ons moet tot die einde toe volhard in ons geloof, want dan sal ons gered word.

DIE GROOT VERDRUKKING.

In Markus 13:14-23 lees ons van die groot verdrukking.

Jesus waarsku dat daar ‘n dag gaan kom wanneer daar ‘n ding wat ‘n gruwel vir God is en wat verwoesting saai, op ‘n plek sal staan waar dit nie moet nie. (Volgens Mattheus 24:15-16 is dit in die heilige plek).

Wanneer hierdie dinge gebeur, moet dié wat in Judea is die berge in vlug, sonder om eers om te draai om iets te gaan haal.

Dit sal ‘n tyd van verdrukking wees. Nog nooit tevore was daar al so ‘n tyd, of sal daar weer so ‘n tyd wees nie.

Maar die Here sal daardie tyd inkort ter wille van Sy uitverkorenes.

Daar sal ook in daardie tyd vals christusse en vals profete na vore kom, wat, as dit moontlik was, die uitverkorenes te mislei.

Hierdie gedeelte eindig met vers 23, waar Jesus weereens waarsku dat die gelowiges vir hierdie dinge op hulle hoede moet wees.

DIE WEDERKOMS.

Na die tyd van verdrukking sal die son verduister word, die maan sal nie skyn nie en die sterre sal val. Die kragte van die hemelruim sal ook ontwrig word.

En dan….

….sal almal vir Jesus met groot krag en majesteit op die wolke sien kom.

Hy sal Sy engele stuur om al Sy uitverkorenes van oral af bymekaar te bring.

Volgens Markus 13:32-37 weet niemand wanneer dit gaan gebeur nie.

Maar ons moet op ons hoede wees.

Dit kan enige tyd gebeur, en ons wil nie aan die slaap gevang word nie!

Daarom waarsku Jesus vier keer dat ons op ons hoede en waaksaam moet wees.

Om waaksaam te wees beteken om wakker en oplettend te wees.

Wanneer ons dus die dinge wat Jesus van praat sien gebeur, moet ons weet dat die tyd naby is.

(As jy ‘n studie oor die wederkoms wil doen, maak ‘n draai by Precept Ministries. Hulle het verskeie studies oor Openbaring (Revelation).)

LESSE UIT MARKUS 13.

In Markus 13 is daar verskeie waarskuwings en opdragte, wat ons ter harte moet neem.

  • Wees versigtig wees dat niemand wat onder Jesus se Naam kom, jou mislei nie.
  • Moenie bang word wanneer jy van oorloë en rampe hoor nie.
  • Vertrou die Heilige Gees om jou die woorde te gee wanneer jy vir Jesus moet getuig.
  • Volhard in jou geloof tot die einde toe.
  • Wanneer jy die dinge sien gebeur wat Jesus in die hoofstuk oor praat, weet dan dat die tyd naby is.
  • Wees op jou hoede; wees waaksaam, want jy weet nie wanneer die tyd daar is nie.
  • Moenie dat jy aan die slaap gevang word nie – bly waaksaam!
Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *