MARKUS 11: GELOOF EN GEBED

Markus 11: geloof en gebed

Ons is steeds besig om deur die Evangelie van Markus te werk, om te sien wat ons daaruit kan leer.

Verlede week het ons onder andere gekyk na Jesus se lering oor egskeiding, Sy gesprek met die ryk jongman en die genesing van die blinde Bartimeus.

Vandag gaan ons stilstaan by Markus 11.

Alles waaroor Jesus in Markus 11 en 12 praat en alles wat Hy doen hang ten nouste saam met dinge wat vir die Jode baie belangrik was – hulle godsdienstige en administratiewe sake. Dit gaan oor wette, die tempel, belasting en geld.

INTOG IN JERUSALEM.

Die hoofstuk begin met Jesus en Sy dissipels wat by Betfage en Betanië op die Olyfberg kom. Vandaar stuur Jesus twee van die dissipels na die dorpie voor hulle om vir Hom ‘n jong donkie te gaan haal. Hy wil die donkie gebruik om Jerusalem binne te ry.

Hy sê presies vir die dissipels wat in die dorpie gaan gebeur en ook hoe hulle die situasie moet hanteer. En alles gebeur presies soos Hy gesê het.

Wanneer hulle terugkom met die donkie, sit hulle van hulle klere op hom en Jesus klim op hom.

Dan begin hulle in die pad afstap na Jerusalem toe.

Oral langs die pad is daar mense. Hulle stap vooruit of agter Hom aan, gooi van hulle klere of groen takkies op die pad en roep uit, “Prys Hom! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom! Geseënd is ons voorvader Dawid se koninkryk wat aan die kom is. Prys Hom in die hoogste hemele!”

Hierdie gedeelte is dan ook ‘n vervulling van die profesie in Sagaria 9:9: “Jubel, Sion! Juig, Jerusalem! Jou koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en hy is ‘n oorwinnaar, hy is nederig en hy ry op ‘n donkie, op die hingsvul van ‘n donkie.”

Uit die mense se reaksie wanneer Jesus Jerusalem binnery, kan ons duidelik sien dat hulle Hom erken het vir wie Hy was. Hulle behandel Hom soos die Koning wat Hy is deur hulle klere en takke in eerbetoon voor Hom te strooi sodat Hy op ‘n tapyt die stad kan inry. Hulle erken dat die koninkryk aan die kom was.

Na hierdie gebeure gaan Jesus na die tempel. Daar bekyk Hy alles en gaan toe saam met die dissipels terug Betanië toe.

JESUS VERVLOEK DIE VYEBOOM.

Markus 11:12-14 vertel dat Jesus die volgende dag weer teruggegaan het Jerusalem toe.

Langs die pad word Hy honger. Hy sien ‘n vyeboom met blare aan en gaan nader om te sien of daar dalk ‘n vy of twee is wat Hy kan eet.

Maar Hy kry niks.

Markus vertel ook vir ons waarom daar nie vye aan die boom was nie – dit was nie die tyd vir vye nie.

En toe doen Jesus ‘n snaakse ding.

Hy sê vir die boom, “Van jou sal niemand tot in der ewigheid ooit weer vye eet nie.”

Ons gaan ‘n bietjie later kyk na die les wat Jesus die dissipels, en vir ons, wil leer deur wat met die vyeboom gebeur het.

REINIGING VAN DIE TEMPEL.

Dan kom Jesus en die dissipels in Markus 11:15 weer in Jerusalem aan. Hulle gaan dadelik na die tempel.

Oral op die tempelplein was mense besig om te koop en verkoop. Daar was ook mense wat geld gewissel het. Al hierdie bedrywighede het verband gehou met die offerdiens by die tempel.

Jesus kom egter en gooi hulle tafels om en jaag almal uit. Dan haal Hy ‘n gedeelte uit Jesaja 56 aan, waar daar staan, “Ek sal aan hulle vreugde gee in my huis van gebed, hulle brandoffers, hulle offers op my altaar sal vir My aanneemlik wees. want my tempel sal uitgeroep word tot ‘n huis van gebed vir al die volke.”

God se huis is ‘n huis van gebed. Die Jode het dit egter in ‘n handelshuis verander.

Ons as gelowiges kan hieruit die volgende leer: Die tempel in Jerusalem was veronderstel om ‘n heilige plek te wees, waar mense kon gaan om God te aanbid. Ongelukkig het die mense dit behandel soos iets wat sommer net alledaags en ordinêr is. Hulle het met wat hulle daar gedoen het, die tempel ontheilig en God onteer.

Ons as gelowiges is nou die tempel van God waarin Hy woon (1 Korinthiërs 3:16). En dit beteken ons moet heilig wees. Ons moenie God se tempel onteer en dit beskou as iets alledaags en ordinêr nie.

Deur ons geloof in Jesus is ons nou aan God gewy. Ons behoort aan Hom en moet saam met Hom werk om ons lewens te reinig sodat ons al hoe meer ‘n heilige lewe leef.

DIE VYEBOOM HET VERDROOG.

In Markus 11:20-25 lees ons weer van die vyeboom wat Jesus vervloek het.

Nou loop hulle by die boom verby en sien dat dit verdroog het.

Petrus maak ‘n opmerking daaroor en dan begin Jesus hulle, en ons, leer oor geloof en gebed.

Hy sê dat ons in geloof na God toe moet kom. Ons moet glo ons sal ontvang wat ons in gebed vra, want dan sal ons dit kry.

Jy sien, God het Sy wil vir ons in Sy Woord laat opteken. Elke belofte wat ons daar lees is deel van God se wil vir ons. Dit beteken dat, as ons bid volgens die beloftes wat ons in die Woord lees, dan bid ons volgens God se wil. En, wanneer ons Sy wil bid, kan ons verseker weet dat ons sal kry wat ons vra. Ons kan dan met geloof bid omdat ons weet Hy het klaar ‘ja’ gesê vir wat ons ookal vra.

VRAAG OOR JESUS SE GESAG.

Na Jesus die dissipels ‘n les oor geloof gegee het, kom hulle weer in Jerusalem aan.

Nou lees ons in Markus 11:27-33 dat die priesterhoofde, skrifgeleerdes en die familiehoofde Jesus weer konfronteer.

Hulle is glad nie gelukkig oor Sy optrede die vorige dag, toe Hy die mense uit die tempel gejaag het nie. En, omdat hulle ‘n rede soek om van Jesus ontslae te raak, kom vra hulle Hom met watter gesag Hy doen wat Hy doen.

Jesus weet egter wat in hulle harte aangaan en daarom vra Hy hulle ‘n teenvraag. Hy vra, “Ek gaan julle een ding vra, en as julle My daarop antwoord, sal Ek vir julle sê met watter gesag Ek hierdie dinge doen. Die doop van Johannes, was dit van God of van mense afkomstig? Antwoord My.”

Nou het die godsdienstige leiers ‘n dilemma. As hulle sê dit kom van God af, dan kon Jesus vra waarom hulle hom nie geglo het nie. Hulle kon ook nie sê dit kom van mense af nie, want die mense was almal van mening dat Johannes ‘n profeet was. Toe vat hulle die enigste uitweg en sê: “Ons weet nie.”

Jesus antwoord hulle dus nooit direk op hulle vraag nie, maar Hy insinueer dat hulle behoort te weet waar Sy gesag vandaan kom, hulle wil dit net nie erken nie.

ONS VERANTWOORDELIKHEID TEENOOR ONGELOWIGES.

Daar is vandag steeds baie mense wat nie wil erken dat Jesus die Seun van God, die Verlosser van die wêreld is nie. Hulle sien wat Hy doen in die lewens van gelowiges en ook in die wêreld, maar hulle bly hardkoppig weier om Hom te erken.

Hoewel ek en jy nie mense se harte en opinies kan verander nie, bly dit steeds ons verantwoordelikheid om vir hulle te bid. Ons moet aanhou bid dat die Heilige Gees hulle harte sal versag en dat hulle oë sal oopgaan vir die waarheid. Dan moet ons die liefde wat God in ons harte geplaas het teenoor hulle uitleef en vir hulle bly vertel van alles wat Jesus in ons lewens doen.

OPSOMMING VAN DIE LESSE UIT MARKUS 11.

In Markus 11 leer ons die volgende:

  • Jesus is die Koning. Soos die skare Hom geëer het, moet ons Hom ook eer.
  • Gelowiges is God se tempel en moet saam met die Heilige Gees werk om ‘n lewe te lei wat heilig is en God vereer.
  • Wanneer ons bid met geloof in ons harte, sal ons ontvang wat ons voor gevra het.
  • Hou aan bid vir en getuig teenoor ongelowiges en vertrou die Heilige Gees om in hulle harte te werk en hulle oë vir die waarheid oop te maak.
Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *