
Ons is nou al vir meer as twee maande besig om deur die Evangelie volgens Markus te werk. Vandag gaan ons gesels oor Markus 10, maar voor ons daarby kom, net ‘n vinnig herinnering aan van die vorige dinge wat ons geleer het.
In Markus 1:15 sien ons wat Jesus gepreek het: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”
Ons sien dat Hy gelykenisse gebruik om mense oor die koninkryk te leer. Hulle het nie altyd verstaan wat Hy bedoel het nie, maar wanneer Hy en die dissipels alleen was, het Hy alles aan hulle verduidelik.
In Markus 2:17 lees ons waarom Jesus gekom het: “Dié wat gesond is, het nie ‘n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.”
Ons het ook gesien dat Jesus, die Seun van die Mens, Here is oor die Sabbat en dat Hy die mag het om sonde te vergewe. Verder het Hy mag oor duiwels, siekte, die wind en see, en ook oor die dood.
Jesus het 12 aangestel om by Hom te bly. Hy het hulle twee-twee uitgestuur om te preek, mense te genees en duiwels uit te dryf.
Uit verskeie van die vertellings sien ons dat Jesus se hart maklik deur mense aangeraak word en dat Hy hulle innig jammer kry.
GESPREK OOR EGSKEIDING.
Markus 10 val weg met die vertelling van die Fariseërs, wat gekom het om Jesus op die proef te stel.
Hulle vra Hom uit oor egskeiding en, soos ons al voorheen gesien het, het hulle vrae te doen met wat wettig was.
Jesus draai hulle vraag om en vra hulle wat Moses vir hulle in die wet beveel het (Deuteronomium 24:1-4).
Hulle antwoord dat Moses mense toegelaat het om te skei. Hierop antwoord Jesus dat dit was omdat die mense sulke harde harte gehad het, dat Moses dit toegelaat het.
Dan verduidelik Jesus dat God die huwelik in die begin, daar in die Tuin van Eden, ingestel het. Sy bedoeling was dat man en vrou getroud bly tot die dood hulle skei.
Jy sien, die huwelik is ‘n beeld van Jesus en die Kerk.
Wanneer ons byvoorbeeld in Efesiërs 5 lees oor hoe ‘n man en vrou in die huwelik mekaar moet behandel, dan sien ons dinge soos:
- “Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, net soos julle aan die Here onderdanig is… Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet die vrouens in alles aan hulle mans onderdanig wees” (vs.22;24).
- “Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het. Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het, sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik” (vs.25-27).
Sien jy hoe word die beeld van Christus en die Kerk toegepas op die huwelik?
Net soos God Christus en die Kerk bymekaar gevoeg het, het Hy ook man en vrou bymekaar gevoeg, en wat Hy bymekaar gevoeg het, mag ons nie skei nie.
JESUS SEëN DIE KINDERTJIES.
In Markus 10:13-16 lees ons dat daar mense was klein kindertjies na Jesus toe gebring het sodat Hy hulle moet aanraak.
Hiermee was die dissipels nie gelukkig nie, en hulle het met die mense geraas.
Maar Jesus was verontwaardig oor hulle optrede. Hy gebruik dan ook die geleentheid om hulle weer iets oor die koninkryk van God te leer.
Hy verduidelik dat ‘n mens die koninkryk soos ‘n kind moet ontvang.
‘n Kind is nederig en glo maklik wat hy vertel word. Hy vertrou ook maklik.
Dít is hoe ons ook moet wees.
Ons moet nederig wees en God vertrou soos ‘n kind sy ouers vertrou. En ons moet glo wat ons Hom ookal hoor sê.

DIE RYK JONGMAN.
Nadat Jesus oor hierdie belangrike onderwerp gepraat het, kom daar ‘n ryk jongman aan wat kom vra wat hy moet doen om die ewige lewe te verkry.
Hy was ‘n godsdienstige man wat die wet van sy kinderdae af nagekom het.
Maar daar was iets wat ‘n houvas op hom gehad het – sy geld en besittings.
In Markus 10:21 staan Jesus het hom liefgekry en sê toe vir hom wat tussen hom en God staan. Hy sê dat die jongman al sy besittings moet verkoop en die geld aan die armes gee. Dan moet hy kom en Jesus volg.
Dít wou die jongman egter nie doen nie. Sy geld en besittings was vir hom belangriker as die ewige lewe.
In hierdie gedeelte probeer Jesus nie vir ons sê dat God nie wil hê Sy kinders moet enige iets besit nie. As jy mooi kyk, sal jy sien die fokus is nie regtig op geld en besittings nie, maar op die ewige lewe.
In die gedeelte lees ons van die ewige lewe, om in die koninkryk van God te kom, en om gered te word. Dit is drie maniere om dieselfde ding te sê.
Dis nie vir mense moontlik om hulleself te red nie. Jy kan nie die ewige lewe ontvang deur goeie werke te doen nie. En jy kan nie die koninkryk van God ingaan deur die wet te onderhou nie.
Die enigste manier om gered te word en die ewige lewe te ontvang en God se koninkryk in te gaan, is deur geloof in Jesus.
God alleen kan mense red – sonder Hom gaan dit nie gebeur nie.
JESUS KONDIG DIE DERDE KEER SY DOOD EN OPSTANDING AAN.
Ons het twee keer tevore al gelees dat Jesus Sy dood en opstanding aankondig.
Hierdie keer gee Hy ‘n bietjie meer inligting.
Hy vertel vir hulle waar dit sou gebeur – in Jerusalem.
Dan sê Hy ook wat gaan gebeur:
- Hy sal oorgelewer word aan die priesterhoofde en skrifgeleerdes;
- hulle sal Hom tot die dood veroordeel en aan die heidene uitlewer;
- hulle sal Hom spot, spoeg, slaan en doodmaak;
- drie dae later sal Hy uit die dood opstaan.
JAKOBUS EN JOHANNES SE VERSOEK.
In Markus 10:35-45 lees ons dat Jakobus en Johannes met ‘n versoek na Jesus toe gekom het.
Hulle het gesien toe Hy op die berg verheerlik is en vra nou om in Sy koninkryk aan Sy regter- en linkerkant te sit.
Die twee het nie geweet wat hulle vra nie, maar Jesus het. Hy het geweet waardeur Hy moes gaan voor Hy weer verheerlik sou word.
Wanneer Hy vra of hulle ook hierdie dinge sou kon deurgaan, antwoord hulle dat hulle kan. Maar hulle verstaan nie regtig wat Jesus bedoel nie.
Jy kan jou indink dat die ander dissipels nie beïndruk was toe hulle hiervan hoor nie. Jesus gebruik egter weer die geleentheid om hulle iets te leer.
Hierdie keer leer Hy hulle oor diensbaarheid.
Hy sê die een wat groot wil wees, moet almal se dienaar wees.
Dan voeg Hy by dat Hy ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en Sy lewe te gee as losprys vir baie mense.
Dit is wat Jesus steeds van ons as Sy kinders verwag. Hy wil hê dat ons ander dien en kyk hoe ons hulle kan help om hulle lewens beter te maak.
Deur Sy dood en opstanding het Hy almal wat in Hom glo, se lewens verander en beter gemaak. Vra die Here om jou te wys hoe jy ander kan dien, sodat jou diensbaarheid hulle lewens verander en beter maak.

BLINDE BARTIMEUS.
Markus 10 sluit af met die verhaal van die blinde Bartimeus.
Jesus en Sy dissipels is op pad van Jerigo af. Langs die pad sit Bartimeus en bedel. Wanneer hy egter hoor dat Jesus op pad is, roep hy, “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!”
Jesus roep hom nader en vra wat hy wil hê. Hy antwoord dat hy wil kan sien. Jesus antwoord, “Jy kan maar gaan. Jou geloof het jou gered.”
Hierdie woorde het ons al voorheen ook teëgekom.
Dit is geloof in Jesus wat mense red, genees en heelmaak.
Bartimeus noem Jesus die Seun van Dawid.
Dit is ‘n verwysing na ‘n profesie oor Jesus, wat gesê het Hy sal regeer op Dawid se troon en oor sy koninkryk.
Bartimeus glo duidelik dat Jesus die Koning is wat sou kom, daarom noem hy Hom die Seun van Dawid. Dit is dan ook hierdie geloof van hom wat hom sy sig teruggee.
OPSOMMING VAN WAT ONS GELEER HET.
- God het Christus en die Kerk bymekaar gevoeg. Hy ook man en vrou bymekaar gevoeg. Wat Hy bymekaar gevoeg het, mag ons nie skei nie.
- Ons moet nederig wees. Ons moet glo wat God vir ons sê en Hom vertrou soos ‘n kind sy ouers vertrou.
- God alleen kan mense red.
- Volg Jesus se voorbeeld en dien ander.
- Glo in Jesus Christus, en jy sal gered word.
