HOE ‘N JOERNAAL JOU BYBELSTUDIETYD KAN VERDIEP

Hoe 'n joernaal jou Bybelstudietyd kan verdiep

Wanneer ons Bybel lees, is dit so maklik om gou deur ‘n gedeelte te lees, die Bybel toe te maak en aan te gaan met die dag, net om ‘n paar minute later nie eers te onthou wat ons gelees het nie. ‘n Joernaal kan jou help om stadiger te lees, die Bybel beter te verstaan, en regtig met die Here te gesels oor wat jy gelees het.

Dis nie iets wat ingewikkeld is nie. Dis net ‘n eenvoudige hulpmiddel wat jou gaan help om jou gedagtes, vrae, gebede en wat jy by die Here hoor, op papier te sit. En wanneer jy later terugblaai, sien jy sommer weer Sy getrouheid en hoe Hy jou deur jou lewe heen gelei het.

So, hier is ‘n paar wenke wat jy kan gebruik as jy graag met ‘n joernaal wil begin om jou in jou Bybeltudietyd te help.

KIES ‘N JOERNAAL EN MANIER WAT VIR JOU WERK.

Die joernaal wat jy kies om te gebruik, hoef nie duur te wees nie. Om die waarheid te sê, dit hoef nie eers ‘n vreeslike mooi een te wees nie! Jy kan ‘n gewone notaboek of ‘n eenvoudige joernaal wat jy by die winkel gekry het, gebruik. Jy kan selfs ‘n digitale dokument gebruik, as jy verkies om te tik eerder as te skryf. Wat belangrik is, is dat jy dit maklik kan gebruik en dat dit vir jou lekker is om daarin te skryf.

HOE OM JOU JOERNAAL TE GEBRUIK.

Daar is verskillende maniere om ‘n Bybelstudie-joernaal te gebruik:

Skryf Notas Neer: Skryf die verse wat vir jou uitstaan wanneer jy jou Bybel lees of Bybelstudie doen, neer. Skryf dit verkieslik woord-vir-woord in jou joernaal oor. Op dié manier lees jy nog stadiger deur die teks en gaan jy tien teen een meer raaksien wat vir jou uitstaan.

Dink Na: Dink oor wat die verse wat uitstaan beteken, waarom dit belangrik is en wat die here vir jou daardeur wil sê. Dink ook na oor hoe dit op jou lewe van toepassing is. Al hierdie dinge gaan natuurlik in jou joernaal neergeskryf word.

Wees Kreatief: As die Here jou met ‘n kunstalent geseën het, kan jy die verse waaroor Hy met jou praat of die toepassing daarvan, in jou joernaal teken of verf. Jy kan selfs jou ‘n eenvoudige gediggie skryf of dalk jou eie psalm oor dit wat die gedeelte vir jou sê of oor wat jy vir die Here wil sê in antwoord daarop.

Temas: Jou joernaal is ‘n goeie plek om lysies te maak van dinge soos die Here se beloftes, gebede in die Bybel, of karaktereienskappe van Jesus wat jy raaksien terwyl jy lees. Jy kan hierdie verse later gebruik om Bybelstudie oor te doen en so meer daaroor leer.

LEES STADIG EN MET AANDAG.

Die doel van ‘n joernaal is om jou te help lees met die verwagting dat die Here vir jou gaan praat. Daar is verskeie maniere hoe jy na die Here kan luister wanneer jy tyd met Hom in Sy Woord spandeer. Hier is ‘n eenvoudige manier om dit te doen:

Merk Woorde En Frases: Nadat jy die vers of verse wat vir jou uitstaan in jou joernaal neergeskryf het, onderstreep die woorde of frases wat vir jou uitstaan.

Vra Vrae: Volgende gaan jy vrae vra soos: Wat beteken dit? Hoekom staan dit hier? Hoe pas dit in by die res van die Bybel?

Luister Vir Die Here Se Stem: Vra Hom om jou te wys wat Hy wil hê jy moet hoor. Skryf enige gedagtes wat by jou opkom, neer. Jy kan later weer daardeur lees en kyk wat dan vir jou uitstaan en wat die Here daardeur vir jou sê.

SKRYF NEER WAT IN JOU HART GEBEUR.

Jou joernaal is ‘n veilige plek waar jy eerlik kan neerskryf wat in jou hart aangaan. Dis ook ‘n plek waar jy eerlik kan wees oor dit waarmee die Here in jou lewe besig is. Jy kan dus byvoorbeeld dinge neerskryf wat jou bemoedig. Jy kan neerskryf wat jou uitdaag of laat dink of miskien die vrae wat jy het oor dit wat die Here jou leer of waarmee Hy besig is.

Dan kan jy ook vrae soos hierdie gebruik om jou te help dink oor wat jy gelees het:

Wat leer ek hier oor die Here se karakter?
Hoe bemoedig of waarsku hierdie gedeelte my?
Is daar iets wat ek in my lewe moet verander as gevolg van wat ek nou gelees het?
Wat sê die spesifiek vir my oor myself, my lewe, my geloof, my werk, my verhoudings, ensovoorts?

Moet ook nie vergeet om jou gebede neer te skryf nie. Maak ‘n eenvoudig lysie maak van dinge waarvoor jy bid en skryf neer wanneer en hoe die Here jou gebede antwoord. Dit bou jou geloof en herinner jou dat Hy altyd getrou is.

Jou joernaal is ook die ideale plek om jou gebede woord-vir-woord neer te skryf as jou gedagtes geneig is om te dwaal wanneer jy bid. Dit gaan jou help om gefokus te bly wanneer jy bid.

Dis ook ‘n goeie idee om aan die einde van jou joernaal ‘n paar bladsye te hê waar jy die grootste lesse wat jy geleer het terwyl jy die joernaal gebruik het, neerskryf. Jy kan hier ook die belangrikste gebede wat die Here beantwoord het neerskryf. En natuurlik kan jy die maniere waarop jy geestelik gegroei het, hier neerskryf. Dis wonderlik om later weer daardeur te lees en te sien hoe die Here in jou lewe gewerk het.

MAAK JOU JOERNAAL DEEL VAN JOU ROETINE.

Kies ‘n tyd en plek waar jy gereeld kan sit en jou Bybel saam met jou joernaal gebruik. Dit kan vroegoggend wees, wanneer die res van die huisgesin nog in droomland is en jy jou eerste koffie vir die oggend geniet. Of dit kan in die aand wees wanneer almal al gaan slaap het en jy ‘n paar minute vir jouself het. Dit maak nie regtig saak wanneer jy dit doen nie. Maak net seker dis op ‘n tyd wanneer jy wakker is en nie niemand jou gaan pla nie.

DIE SEëN VAN ‘N BYBELSTUDIE-JOERNAAL.

Ons het nou gesels oor al die verskillende maniere hoe jy jou joernaal kan gebruik. As jy nog wonder of jy een moet begin, dink ‘n bietjie hieroor:

‘n Bybelstudie-joernaal help jou om die Bybel beter te verstaan omdat jy jou tyd vat om dit wat jy leer, te verwerk en dieper in jou hart te laat insink.

Omdat jy so baie dinge neerskryf, raak dit makliker om te sien hoe die Bybel en dit wat jy daaruit leer, op jou eie lewe van toepassing is. Jy gaan ook makliker begin raaksien hoe jy dit prakties moet toepas.

‘n Joernaal is ‘n goeie manier om jou te help om geestelik te groei omdat jy tyd saam met die Here spandeer deur na te dink oor wat jy gelees het. So stel jy jou hart oop vir Hom om deur Sy Woord daarin te werk. Jy kan ook in jou joernaal met Hom gesels oor wat jy geleer het deur gebede wat jy neerskryf.

Laastens is ‘n joernaal ‘n goeie manier om ‘n waardevolle rekord van jou geloofsreis te bou. Dit word ‘n getuienis van die Here se getrouheid oor jou lewe heen.

GAAN JY ‘N JOERNAAL BEGIN GEBRUIK?

Ek hoop dat jy die besluit gaan neem om ‘n joernaal te gebruik wanneer jy Bybelstudie doen.

Deur die jare het ek al baie joernale vol geskryf en hoewel ek hulle nie almal op dieselfde manier gebruik het nie, was elkeen vir my van groot waarde. Ek kan beslis, wanneer ek in hulle lees, sien hoe ek geestelik gegroei het. Ek kan sien hoe die Here in my lewe gewerk het om my meer soos Jesus te maak.

En ek kan sien hoe ek stadig maar seker die Bybel beter begin verstaan het. So ‘n joernaal is dus nooit ‘n mors van tyd nie, so gaan koop sommer nou vir jou een en begin om dit in jou Bybelstudietyd te gebruik. Jy sal beslis nie spyt wees nie!

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *