GOD SE LIEFDE: 39 BYBELVERSE

Hart en kruis - bybelverse oor God se liefde

Dis vandag Valentynsdag – dis nou as jy hierdie artikel op die 14de Februarie lees!

Oral in die wêreld is mense vandag besig om ekstra moeite te doen om vir ‘n geliefde te laat weet dat hy of sy geliefd is. Party doen klein dingetjies, soos om blomme of sjokolade te gee. Ander doen groot dinge, soos om die geliefde met ‘n wegbreeknaweek te bederf.

Ander doen nie regtig iets buitengewoon nie, maar spandeer net so ‘n ekstra bietjie tyd saam met hulle geliefde.

Dit maak egter nie saak presies wat ‘n mens doen nie, die groot idee is net dat jy iets doen om vir jou geliefde te sê: Ek is baie lief vir jou!

GOD SE BEWYS VAN LIEFDE.

Het jy geweet dat daar ‘n dag was waar God ook vir ons kom wys het hoe lief Hy ons het?

Dit was die dag toe Jesus aan die kruis gesterf het om vir die sonde van die mensdom te betaal. Op daardie dag het God vir ons gesê: “Ek het jou lief met ‘n ewige liefde. Ek gee My eniggebore Seun in jou plek. Hy betaal die prys wat jý nie kan betaal nie, sodat Ek weer met jou in ‘n verhouding kan staan.”

Vandag wil ek graag ‘n klompie verse uit God se Woord met jou deel, wat vir ons vertel van Sy groot liefde en hoe Hy dit bewys het, toe Hy Jesus gestuur het.

VERSE IN DIE OU TESTAMENT.

Ons kyk eers na ‘n paar verse in die Ou Testament. Let op hoeveel keer staan daar God se liefde is ‘n troue liefde.

Psalm 33:4-5

Want die woord van die Here is reg, en al sy werk is betroubaar. Hy is lief vir reg en geregtigheid; die troue liefde van die Here vul die aarde.

Psalm 40:12

U, Here, moet tog nie u ontferming van my weerhou nie. Laat u troue liefde en waarheid my altyd veilig hou…

Psalm 42:9

Bedags sal die Here sy troue liefde laat geld, en snags sal ‘n lied vir Hom by my opkom, ‘n gebed tot die God van my lewe.

Psalm 63:3-5

So het ek uitgesien na U in die heiligdom, om u krag en glorieryke teenwoordigheid te ervaar, want u troue liefde is beter as die lewe. My lippe sal U roem; so sal ek U prys in my lewe; in u Naam sal ek my hande ophef.

Psalm 103:8

Barmhartig en genadig is die Here, geduldig en oorvloedig in troue liefde…

Spreuke 3:11-12

Die vermaning van die Here, my seun, moet dit nie verwerp nie, en moenie ‘n afkeer hê van sy teregwysing nie. Want die een vir wie die Here liefhet, wys Hy tereg, soos ‘n vader die seun vir wie hy omgee.

Jesaja 43:4

Omdat jy kosbaar is in my oë, geëer is, omdat Ek die Een is wat jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe.

Jesaja 54:10

“Ja, die berge mag wyk en die heuwels wankel, maar my troue liefde sal nie van jou wyk nie, en my vredesverbond sal nie wankel nie,” het jou ontfermer, die Here, gesê.

Klaagliedere 3:22-23

Dit is deur die troue liefde van die Here dat ons nie omgekom het nie, ja, sy ontferming ken geen einde nie. Dit is elke oggend weer nuut – groot is u getrouheid.

VERSE IN DIE NUWE TESTAMENT.

Ons lees ook baie oor God se liefde in die Nuwe Testament. Hier is net ‘n paar verse.

Romeine 5:5

En die hoop beskaam nie, want God se liefde is in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.

Romeine 8:35;38-39

Wat sal ons van die liefde van Christus skei? Swaarkry of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard?… Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here.

1 Petrus 5:6-7

Daarom, verneder julle onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle op die regte tyd kan verhoog, deur al julle bekommernis op Hom te werp; want Hy gee om vir julle.

1 Johannes 4:16

Ons ken en vertrou die liefde wat God vir ons het. God is liefde. En wie in die liefde bly, bly in God, en God bly in hom.

JESUS EN GOD SE LIEFDE.

En dan is daar natuurlik ook verse wat vir ons meer vertel oor hoe God Sy liefde aan ons bewys het deur Jesus Christus.

Johannes 3:16-17

Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. God het immers nie sy Seun na die wêreld gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom verlos kan word.

Romeine 5:8

God bewys egter sy liefde vir ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.

2 Korinthiërs 5:14-15

Die liefde van Christus dryf ons, omdat ons tot dié insig gekom het dat, indien Een vir almal gesterf het, almal dan gesterf het; en Hy het ter wille van almal gesterf, sodat dié wat leef, nie meer vir hulleself sal leef nie, maar vir Hom wat ter wille van hulle gesterf het en opgewek is.

Galasiërs 2:19-20

Inderdaad, deur die wet het ek die wet afgesterf, sodat ek vir God leef. Met Christus is ek gekruisig; ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my! Die lewe wat ek nou liggaamlik leef, leef ek in geloof, die geloof in die Seun van God, wat my liefgehad en Homself vir my oorgegee het.

1 Johannes 3:1

Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! En dit is ons ook. Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat hulle Hom nie leer ken het nie.

1 Johannes 3:16

Hieraan ken ons die liefde: dat Hy vir ons sy lewe afgelê het. Ook ons behoort ons lewe vir ons broers af te lê.

1 Johannes 4:9-10

Hierin is die liefde van God aan ons geopenbaar: dat God sy unieke Seun na die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan leef. Hierin bestaan die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het, en sy Seun gestuur het as versoening vir ons sondes.

Efesiërs 2:4-5

Maar God, ryk in barmhartigheid, het ons, alhoewel ons dood was as gevolg van die oortredings, op grond van sy groot liefde waarmee Hy ons liefgehad het, saam met Christus lewend gemaak – uit genade is julle verlos!

ONS REAKSIE OP GOD SE LIEFDE.

As ‘n mens die verse hierbo lees, dan weet jy dat daar ‘n spesifieke reaksie is wat ons daarop moet hê. Hier is ‘n paar verse wat vir ons meer vertel oor die regte reaksie op God se liefde vir ons.

Joël 2:13

Skeur julle harte, en nie julle klere nie, draai om na die Here julle God; want Hy is genadig en barmhartig, geduldig en oorvloedig in troue liefde, Hy het berou oor die onheil wat Hy bring.

Mattheus 5:44-45

Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê en bid vir hulle wat julle vervolg, sodat julle kinders van julle Vader in die hemele kan wees. Hy laat immers sy son opkom oor slegte én goeie mense en Hy laat dit reën oor wetsgehoorsames én wetsverbrekers.

Lukas 10:27

Hy het geantwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.”

Johannes 13:34-35

Ek gee julle ‘n nuwe gebod: Julle moet mekaar liefhê. Net soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Dit is hoe almal sal weet dat julle my dissipels is – as julle liefde teenoor mekaar het.

Johannes 14:15

As julle My liefhet, sal julle my gebooie onderhou.

Johannes 14:21

Wie my gebooie het en dit onderhou, hy is die een wat My liefhet. En wie My liefhet, my Vader sal hom liefhê, en Ek sal hom liefhê en Myself aan hom bekend maak.

Johannes 15:12-13

Dit is my gebod: Julle moet mekaar liefhê, net soos Ek julle liefgehad het. Groter liefde as dit het niemand nie, dat iemand sy lewe aflê vir sy vriende.

1 Johannes 3:16-18

Hieraan ken ons die liefde: dat Hy vir ons sy lewe afgelê het. Ook ons behoort ons lewe vir ons broers af te lê. Hoe bly die liefde van God in iemand wat genoeg aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar sy hart nogtans vir hom toesluit? Kinders, ons moenie net met woorde, met die tong, liefhê nie, maar met die daad, in waarheid.

GOD SE LIEFDE VIR JOU.

Hierdie is maar net ‘n paar verse oor die liefde van God. Ek wil jou uitdaag om, elke keer wat jy in die Bybel nog ‘n vers raaklees oor God se liefde, dit op ‘n spesifieke manier te merk. Op dié manier sal jy altyd weet daardie vers gaan oor God se liefde vir jou. Jy sal dan, as jy nodig het om net weer te hoor God het jou lief, daardie verse kan gaan lees.

Dink vandag, so op Valentynsdag, ‘n bietjie na oor God se liefde vir jou. Onthou hoe Hy Sy liefde deur Jesus aan jou bewys het. En Hy bewys vandag nog steeds Sy liefde aan ons op verskeie maniere. Dink ook oor hoe Hy die afgelope tyd Sy liefde aan jou bewys het en sê vir Hom dankie daarvoor.

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *