GENESIS: WAT JY MOET WEET

Genesis: Wat jy moet weet

Baie mense hou nie juis daarvan om die Ou Testament te lees nie. Psalms, Spreuke en dalk van die geskiedenisboeke kan nog gaan. Maar Levitikus, Numeri en Deuteronomium… nee dankie!

Maar het jy geweet dis baie belangrik om te weet wat in die Ou Testament staan? Dit help jou om die Nuwe Testament beter te verstaan.

God se verlossingsplan word regdeur die Bybel vir ons uitgespel. Stukkie vir stukkie word meer en meer daaroor vir ons geopenbaar. In die ou Testament is daar heenwysings en skadubeelde van dié dinge wat later in die Nuwe Testament in vervulling gaan. En wat in die Ou Testament verborge was, word in die Nuwe Testament onthul.

Jesus word ook regdeur die Bybel gesien. In elke boek van die Bybel sien ons iets wat ons meer oor Hom leer.

In hierdie artikel gaan ons kyk na ‘n paar dinge wat ons oor Genesis, die eerste boek van die Bybel, moet weet.

Dit sal jou help wanneer jy Genesis lees of studeer om dit beter te verstaan. Dit sal jou ook help om Jesus en God se verlossingsplan in die boek raak te sien.

WIE HET GENESIS GESKRYF?

Daar is geen twyfel daaroor dat Moses die skrywer van Genesis, en ook die volgende vier boeke van die Bybel, is nie.

In Eksodus 17:14 lees ons dat God hom die opdrag gee om ‘n boek of boekrol te skryf. En in Eksodus 24:4 lees ons dat hy daardie opdrag gehoorsaam het.

Dan sien ons ook dat Jesus melding maak van die boek, of boekrol, van Moses.

WAAR SPEEL GENESIS AF?

Genesis begin in die Tuin van Eden. Dié Tuin was iewers in die gedeelte wat vandag bekend staan as die ‘Fertile Crescent’. As jy ‘Fertile Crescent’ Google, sal jy sien dit is ‘n halfmaanvormige gebied wat dele van lande soos die huidige Israel, Libanon, Jordanië, Siria, die noorde van Egipte en Irak insluit.

Vanuit hierdie gebied word Abraham later deur God geroep om te trek na die land wat Hy vir hom sou wys. Hiérdie land is dan ook later die Beloofde Land, Israel. Genesis eindig waar Jakob en sy gesin na Egipte trek. Hulle nageslag word later slawe van die Egiptenare na Josef se dood.

Foto van Wikimedia Commons

DIE DOEL VAN GENESIS.

Die woord ‘Genesis’ beteken begin of oorsprong.

Elke hoofleerstelling wat ons verder in die Bybel van lees, word die eerste keer in Genesis gevind. Dit is dan ook hier waar ons die eerste keer lees van bloed wat gestort word om verlossing te bring.

In hierdie boek sien ons hoe alles in die wêreld wat ons nou ken, begin het. Ons sien hoe God alles geskep het. Ons sien hoe Hy ‘n verhouding met die eerste mense, en later met Abraham en sy nageslag, begin het.

Dan sien ons ook hoe sonde in die wêreld gekom het en kry die eerste belofte van ‘n Verlosser wat gaan kom.

GODDELLIKE INSTELLINGS IN GENESIS.

In Genesis kry ons vier goddelike instellings: wilskrag (die vermoë om jou wil te gebruik), die huwelik, familie en die nasies.

Elkeen van hierdie instellings word ook in Genesis 1-11 deur die vyand aangeval.

Hy val die mens se wil aan wanneer hy Adam en Eva versoek.

Deur Kain en Abel val hy die familie aan.

In Genesis 6 sien ons hoe hy die huwelik aanval.

En in Genesis 11:1-6 sien ons hoe hy nasionalisme aanval.

Kyk maar net om jou rond, en jy sal sien hoe die vyand steeds elke dag elkeen van hierdie goddelike instellings aanval.

HOOFPUNTE VAN GENESIS.

In Genesis lees ons van God se verhouding met twee groepe mense – die mensdom (Genesis 1-11) en die verbond tussen Hom en Abraham en sy familie (Genesis 12-50).

Kom ons kyk eers na die hoofpunte oor God se verhouding met die mensdom.

DIE SKEPPING (Hoofstuk 1-2).

Die Vader, die Seun en die Heilige Gees was al drie betrokke by die skepping.

Genesis 1:26: “God het gesê: ‘Laat Ons mense maak na ons beeld, as ons afbeelding…'”

Genesis 1:3: “…en God het gesê… En daar was….”

Kolossense 1:16: “want deur Hom [Jesus] het God alles geskep: alles in die hemel en op die aarde…”

Genesis 1:2: “Die aarde was woes en leeg, en donkerte was oor die oerwater. Maar die Gees van God het oor die water gesweef…”

DIE SONDEVAL (Hoofstuk 3-5).

In hierdie drie hoofstukke is daar ‘n paar interessante punte wat ek met jou wil deel:

  • Adam en Jesus het voor dieselfde versoekinge te staan gekom. Die slang oortuig Eva om van die Boom van Kennis van goed en kwaad te eet – die één boom wat God gesê het hulle nié van moet eet nie. Sy gee ook van die vrugte vir Adam en hy eet. En wanneer die duiwel vir Jesus in die woestyn versoek, het sy eerste versoeking ook met kos te doen. Hy probeer Jesus oortuig om klippe in brood te verander.
  • In hoofstuk 3 sien ons ‘n skadubeeld van Jesus wat in ons plek sterf: “Die Here God het daarna vir die mens en sy vrou rokke van vel gemaak en dit vir hulle aangetrek.” Daar het dus bloed gevloei.
  • Abel was die eerste mens wat ‘n lam geoffer het. Weereens sien ons hoe bloed gevloei het.
  • In hoofstuk 4 lees ons van Kain wat vir Abel vermoor het. Dit was die duiwel se eerste poging om van die nageslag waaruit Jesus gebore moes word, ontslae te raak.

DIE GROOT VLOED (Hoofstuk 6-9).

In Genesis 6-9 lees ons van die groot vloed wat God stuur om ‘n einde te maak aan al die boosheid op die aarde. Maar Hy gee vir Noag opdrag om ‘n ark te bou wat hom en sy gesin, asook ‘n klomp diere en voëls, veilig sou hou tydens die groot vloed.

Die ark is ‘n heenwysing na Jesus, die Ark wat die Vader voorsien het om die mensdom te red. Ons sien ook hoe Noag ‘n offer, waar bloed gevloei het, bring na die vloed verby was (8:20).

DIE NASIES (Hoofstuk 10-11).

In hoofstukke 10-11 lees ons van die begin van die nasies. Dit begin by Sem, Gam en Jafet. Sem was die stamvader van die Jode, die nasie waaruit Jesus, die Messias, gebore is.

DIE VERBOND MET ABRAHAM EN SY FAMILIE.

In die laaste hoofstukke van Genesis lees ons meer oor die verbond wat God met Abraham en sy nageslag gesluit het. Ek deel graag die volgende interessanthede oor hierdie hoofstukke met jou.

  • Jesus was die Saad van Abraham. Galasiërs 3:16: “En die beloftes is aan Abraham en sy Saad toegesê. Daar staan nie “en aan die sade” soos wat ‘n mens na baie sou verwys nie, maar soos wat ‘n mens na een verwys: “en aan jou Saad” – dit is Christus.”
  • Abraham en Isak is ‘n beeld van die Vader en die Seun (Romeine 4). Jesus is as die Lam van God geoffer vir die sonde van die wêreld.
  • In Genesis 28:12 sien Jakob trappe wat op die aarde staan en waarvan die bopunt na die hemel reik. Dit is ‘n beeld van Jesus, wat die skakel is tussen die hemel en die aarde.
  • Josef is op sy beurt ‘n beeld van die Seun wat as slaaf verkoop is om Sy familie te red.

JESUS IN GENESIS.

Soos ek in die inleiding geskryf het, kan Jesus in elke boek van die Bybel gesien word. Ek het nou al ‘n paar plekke met jou gedeel waar ons Hom in Genesis kan sien. Hier is nog ‘n paar:

  • Genesis 3:15: “Vyandskap sal Ek tussen jou en die vrou stel, en tussen jou nageslag en haar nageslag. Hy sal jou kop aanval, en jy sal sy hakskeen aanval.” Hierdie is ‘n belofte en ook ‘n profesie oor Jesus.
  • Adam was ‘n heenwysing na Jesus. Romeine 5:14: “Nietemin het die dood van Adam af tot by Moses geheers, ook oor dié mense wat nie gesondig het op dieselfde wyse as wat Adam oortree het nie. Adam is ‘n voorbeeld wat heenwys na Hom wat sou kom.”
  • Adam was die hoof van die ou skepping; Jesus Christus is die hoof van die nuwe skepping.
  • Melgisedek was ook ‘n heenwysing na Jesus. Hebreërs 7:3: “Hy [Melgisedek] was sonder vader, sonder moeder, sonder stamboom; sy lewe was sonder begin en sonder einde, maar, soortgelyk aan die Seun van God, bly hy priester vir altyd.”

PROFESIEë OOR JESUS.

In Genesis is daar vier groot profesieë oor Jesus. Die eerste een kry ons in Genesis 3:15, wat ek hierbo met jou gedeel het. Die ander drie kry ons in hoofstukke 9, 12, 22 en 49.

Genesis 9:26-27: “Hy het ook gesê: ‘Die Here, die God van Sem, moet geprys word! Kanaän moet Sem se slaaf wees. Mag God ruimte skep vir Jafet; mag hy woon in die tente van Sem, en mag Kanaän sy slaaf wees.'”

Genesis 12:3: “Ek sal hulle seën wat jou seën; maar wie jou verwens, sal Ek vervloek. En deur jou sal al die grootfamilies van die aarde geseënd wees.”

Genesis 22:8,14: “Abraham het geantwoord: “God sal vir Homself die lam vir ‘n brandoffer voorsien, my seun… Abraham het daardie plek genoem, Die Here voorsien, sodat vandag nog gesê word: “Op die berg van die Here sal voorsien word.”

Genesis 49:10: “Die septer sal nie van Juda wyk nie, ook nie die heerserstaf tussen sy voete nie, totdat hy aan wie dit behoort, kom, en volke aan hom gehoorsaam is.”

GENESIS IN ‘N NEUTEDOP.

Jy kan hierdie artikel beskou as Genesis in ‘n neutedop.

Ek vertrou dat jy baie daaruit geleer het en dat dit jou gaan help om die boek van nou af beter te verstaan.

(Hulpbron: Seeing Jesus deur Marilyn Hickey)

Deel hierdie blad

3 comments

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *