
Is geestelike groei een van jou doelstellings vir 2022? Gebruik hierdie stappe om ‘n aksieplan vir groei uit te werk sodat jy weet wat om te doen en waarheen om te werk.
Ons is in daardie tyd van die jaar waar baie mense begin om te dink oor wat hulle alles volgende jaar wil bereik. Mense maak Nuwerjaarsvoorneme of skryf hulle doelstellings neer, sodat hulle ‘n plan het en weet waarheen hulle op pad is en waarnatoe hulle werk.
Een van die lewensareas waar mense gewoonlik ‘n doelstelling of voorneme het, is om geestelik te groei. En dis ‘n baie goeie ding! Ons moet almal elke dag besig wees om op een of ander manier geestelik te groei.
Maar dit is een ding om ‘n voorneme te hê om te groei en iets totaal anders om dit uit te voer en regtig te groei. Jy het ‘n plan nodig om te groei, want sonder ‘n plan gaan jou voorneme net dit bly – ‘n voorneme.
Dalk het jy ook die voorneme om in 2022 nader aan die Here te kom en geestelik te groei. In hierdie artikel gaan ons kyk na vrae wat jy kan vra om jou te help om ‘n plan van aksie uit te werk sodat jou voorneme nie net ‘n voorneme bly nie.
DIE GROTER PRENTJIE.
Voor jy ‘n plan van aksie kan uitwerk, moet jy eers na die groter prentjie kyk.
In die eerste plek moet jy ‘n area kies waarin jy wil groei. Wat is daar in jou lewe wat nie heeltemal is soos jy dit wil hê nie? Is daar iets waarmee jy sukkel?
Dalk kom jy agter dat jy nie baie geduldig is nie, en jy wil graag groei in geduld. Of dalk is jy nie altyd dankbaar nie, en dis die area waarin jy wil groei.
Miskien sukkel jy om in die gewoonte te kom om daagliks stiltetyd te hou. Of miskien sukkel jy om liefde uit te leef en dis waarin jy wil groei.
Wat dit ookal mag wees, die eerste stap is om te identifiseer op watter gebied jy wil groei.
VRAE VIR FOKUS.
Na jy besluit het op watter gebied jy wil groei, is dit tyd om jouself ‘n paar vrae te vra. Hierdie vrae gaan jou help met die fokus van jou aksieplan.
Word vir ‘n rukkie stil by die Here en antwoord biddend die volgende vrae:
VRAAG 1.
Waarom wil ek op hiedie gebied groei?
Dis nie altyd maklik om jou plan van aksie uit te voer nie. Soms gebeur daar dinge wat dit moeilik maak om aan te hou. Ander kere is ‘n mens eenvoudig net nie lus nie.
‘n Goeie ‘waarom’ sal jou help om aan te hou met jou aksiestappe wanneer een van bogenoemde gebeur.
Maak jou ‘waarom’ baie spesifiek. Moenie net iets skryf soos: “Ek wil groei in dankbaarheid want God sê ek moet” nie. Wees spesifiek: “Ek wil groei in dankbaarheid, want God seën my op soveel maniere. Ek wil Sy seëninge raaksien en Hom daarvoor dank en eer.”
VRAAG 2.
Hoe lyk hierdie gebied van my lewe op hierdie oomblik?
Hierdie vraag se doel is nie om jou te laat sleg voel oor jouself nie. Maar as jy nie weet hoe die gebied waarin jy wil groei nou lyk nie, dan gaan jy nie weet wanneer groei plaasvind nie.
Kom ons kyk weer na dankbaarheid. Dalk sien jy net die dinge raak wat jy nié op hierdie stadium in die lewe het nie. En dan kyk jy al die dinge waarmee God jou seën so ‘n bietjie mis. Skryf dit neer.
Dalk kla jy meer wanneer jy bid as wat jy God dank vir dinge in jou lewe. Skryf dit neer.
Antwoord hierdie vraag deur jouself op hierdie gebied te beskryf. Wat doen jy op hierdie stadium?
VRAAG 3.
Hoe gaan groei in my lewe op hierdie gebied lyk?
As almal van ons dieselfde doelstelling het om op dieselfde gebied geestelik te groei, gaan ons almal se groei anders lyk.
Elkeen van ons is op ‘n ander plek in ons verhouding met God en met ons geestelike groei.
En juis daarom moet jy bepaal hoe geestelike groei vir jóú gaan lyk.
Dink ‘n bietjie daaroor en skryf neer hoe jy gaan weet dat jy besig is om vordering te maak.

VRAAG 4.
Hoe gaan ek op hierdie gebied groei? Watter stappe gaan ek neem om te groei?
Met hierdie vrae begin jy werk aan jou aksieplan vir geestelike groei.
Dis hier waar jy besluit wat jy elke dag gaan doen om te verseker jy groei op die gebied wat jy gekies het.
Kom ons neem weer dankbaarheid as voorbeeld.
Jy kan byvoorbeeld:
- elke dag ‘n paar Bybelverse te lees wat gaan oor dankbaarheid.
- ‘n Bybelstudie oor dankbaarheid doen.
- geestelike boeke oor dankbaarheid lees.
- elke dag drie tot vyf dinge waarvoor jy dankbaar is in jou joernaal neerskryf.
- oefen om jou gedagtes gevange te neem wanneer jy agterkom jy kla of jy is ondankbaar.
- ‘n punt daarvan maak om elke dag ten minste een persoon te bemoedig of aan te moedig.
STEL JOU AKSIESTAPPE IN WERKING.
Noudat jy ‘n plan van aksie vir jou geestelike groei het, is dit tyd om dit in werking te stel.
Om hierdie doelstelling in jou lewe te bereik, gaan daar dinge wees wat jy elke maand, week en dag moet doen.
Besluit wat dit gaan wees en skryf dit neer.
WAT JY ELKE MAAND KAN DOEN.
Hier is ‘n paar idees van stappe wat jy elke maand kan neem om jou te help met jou plan vir geestelike groei.
- Evalueer jou vordering. Hoe het jy gegroei sedert die vorige maand?
- Evalueer jou plan vir die volgende maand. Is daar ‘n aksiestap wat jy wil byvoeg? Is daar een wat jy nie meer wil doen nie?
JOU WEEKLIKSE ROETINE.
Voor jy met jou aksieplan begin, moet jy besluit wat jou roetine vir elke week gaan wees. Watter aksiestappe gaan jy elke week neem om jou plan van aksie in werking te stel?
Kom ons gebruik die aksieplan vir dankbaarheid, waaroor ons hierbo gesels het.
Jou weeklikse roetine kan insluit:
- Kies een dag ‘n week en sit ‘n uur opsy om Bybelstudie te doen.
- Maak aantekening in my joernaal oor wat ek oor dankbaarheid leer.
- Lees aantekeninge wat ek voorheen gemaak het deur om my te help onthou wat ek geleer het.
JOU DAAGLIKSE GEWOONTES.
Laastens moet jy neerskryf watter aksiestappe jy elke dag gaan neem om jou te help met jou geestelike groei. Wat is die gewoontes wat jy moet aanleer en elke dag in jou lewe toepas?
As ons weer kyk na die dankbaarheidsaksieplan kan dit die volgende gewoontes insluit:
- Lees elke dag Bybelverse oor dankbaarheid. Gebruik ‘n Bybelleesplan om my hiermee te help.
- Skryf elke dag 3-5 dinge waarvoor ek dankbaar is in my joernaal neer.
- Sit elke dag 15-30 minute opsy om ‘n boek oor dankbaarheid te lees.
- Skryf negatiewe gedagtes neer. Skryf die waarheid, wat daardie gedagte vervang, uit God se Woord neer.
- Bemoedig elke dag een persoon met my woorde.
‘N PLAN VAN AKSIE.
Die enigste manier om enige doelstelling in die lewe te bereik, is om ‘n plan van aksie te hê.
As jy die stappe hierbo volg om ‘n aksieplan vir geestelike groei uit te werk, en jy volg dit, sal jy sien hoe jy groei en nader aan God beweeg.
So moenie uitstel nie. Begin sommer vandag nog om deur die stappe te werk en ‘n aksieplan uit te werk.
Jy sal nie spyt wees nie!