
Het jy geweet daar is twee boeke in die Bybel, waar daar meer vroue is wat hoofkarakters is, as mans? Dit is die boeke Rut en Ester. In die laaste paar artikels het ons gesels oor hierdie vroue. Ons het gekyk na Naomi, Orpa en Rut en wat ons by hulle kon leer. In die laaste artikel het ons gesels oor koningin Vasti. Vandag doen ons ‘n Bybelstudie oor Ester, ‘n vrou wat baie moed gehad het en as gevolg daarvan, haar volk van ondergang gered het.
VASTI WORD VAN HAAR POSISIE ONTHEF.
In die artikel oor koningin Vasti, het ons gesien dat koning Ahasveros vir weke aaneen gespog het met alles wat hy besit het, sodat sy onderdane kon sien hoe ‘n belangrike man hy was.
Ná al die gespoggery, hou hy ‘n groot feesmaal, wat sewe dae aangehou het, vir sy onderdane.
Op die sewende dag was hy heel aangeklam en kry toe die blink gedagte om met sy vrou, Vasti, ook te spog.
Hy gee sy paleisamptenare opdrag om vir haar te gaan sê sy moet haar kroon op haar kop sit en voor die mense kom rondparadeer. Maar Vasti weier.
Die koning is glad nie gelukkig nie en vra vir sy raadgewers wat hom te doen staan.
Hulle dring daarop aan dat die koning ‘n bevel, wat nie herroep kan word nie, uitvaardig. Die bevel moet sê dat Vasti nooit weer voor hom mag verskyn nie. Hulle beveel ook aan dat hy vir hom ‘n ander vrou soek om Vasti se plek in te neem.
Die koning luister na sy raadgewers en raak van Vasti ontslae. Nou is hy sonder ‘n koningin en moet die soektog na ‘n nuwe een, begin.
Weer is die koning se raadgewers vinnig om vir hom te sê hoe hy te werk moet gaan om ‘n nuwe vrou te kry. Hulle idee is dat die koning se amptenare oral in die ryk moet soek na jong maagde, wat beeldskoon is. Dié meisies moet dan allerhande skoonheidsbehandelinge ondergaan en dan moet die koning een van hulle kies om die nuwe koningin te word.
So gesê, so gedaan.
ESTER BELAND IN DIE PALEIS.
Ester was ‘n Joodse weeskind. Na haar ouers se dood word sy aangeneem deur Mordegai, ‘n ouer neef van haar.
Die Bybel sê dat sy baie mooi was. Dis dan ook glad nie vreemd dat sy een van die uitverkore meisies is wat na Susan geneem word om aan die koning gewys te word nie.
Daar gekom ondergaan Ester die voorgeskrewe skoonheidsbehandelinge. Sy maak ook ‘n goeie indruk op almal wat haar teëkom.
Sy was dus nie net mooi van buite nie, maar ook van binne.
En dis die kombinasie van dié twee dinge wat veroorsaak dat die koning háár kies om Vasti se plek in te neem.
‘N BLADSY UIT ESTER SE BOEK.
Ons lees in Ester 2 dat die meisies almal ‘n jaarlange skoonheidskuur ondergaan het.
Vir ses maande is hulle met mirre-olie gesalf. Die volgende ses maande is hulle met balsemolie en skoonheidsmiddels vir vroue gesalf. Hulle het ook ‘n spesifieke dieet gevolg.
Ons leef in ‘n tyd waar daar baie klem gelê word op hoe ‘n vrou nou eintlik moet lyk om aanvaarbaar te wees.
Baie van dié idees laat meeste vroue voel asof hulle glad nie goed genoeg is nie. Daar is altyd iets aan ‘n mens wat jy sou wou verander, sodat die wêreld met ander oë na jou kan kyk.
Wanneer jy só voel, onthou vir Ester.
Hoewel sy die skoonheidsroetines gevolg het wat met haar uiterlike te doen gehad het, was dit nie net haar uiterlike wat van haar ‘n beeldskone vrou gemaak het nie.
Haar karakter was wat éintlik van haar ‘n mooi mens gemaak het.
Onthou jy toe Samuel vir Dawid as koning gaan salf het? Toe hy Dawid se oudste broer sien, het hy gedink dis hý wat die volgende koning sou word. Maar God het vir hom gesê: “Moenie na sy voorkoms en sy rysige gestalte kyk nie, want Ek het hom afgekeur. Dit gaan immers nie oor wat die mens sien nie, want: ‘Die mens kyk na wat hy sien, maar die Here kyk na die hart'” (1 Samuel 16:7).
Vir God is dit wat in ons binneste aangaan, baie belangriker as hoe ons van buite lyk.
As jy dag vir dag daarna streef om meer soos Jesus te wees, sal jou karakter van jou ‘n pragtige mens maak.
ESTER WAAG HAAR LEWE.
Haman was koning Ahasveros se regterhand. Omdat hy so ‘n hoë posisie beklee het, het die koning opdrag gegee dat almal voor hom moes kniel en neerbuig.
Mordegai het hom egter nie aan die koning se bevel gesteur nie.
En dít het vir Haman kwaad gemaak.
Hy bedink toe ‘n plan.
Hy weet Mordegai is ‘n Jood, dus gaan vertel hy vir die koning allerhande onwaarhede oor wat die Jode dan nou glo doen en nie doen nie. Na hy hulle sleggesê het,
oortuig hy die koning om ‘n dekreet uit te vaardig dat die Jode almal op ‘n sekere dag doodgemaak moet word.
Toe Mordegai van Haman se plan hoor, trek hy rouklere aan en gooi as op sy kop. Hy gee vir een van Ester se paleisbeamptes ‘n afskrif van die dekreet, om vir Ester te gee. Hy vra ook vir hom om Ester te vra om na die koning te gaan en vir haar mense in te tree.
Ester is dae laas na die koning ontbied. Sy weet dat sy haar lewe waag om so ongenooid na hom te gaan, maar sy stem in om dit te doen.
Maar voor sy gaan, vra sy vir Mordegai en die ander Jode om vir drie dae saam met haar te vas en bid.
Op die derde dag trek sy haar mooi aan en gaan na die koning, wat weer deur haar skoonheid betower word.
Ester vertel hom nie dadelik van haar probleem nie, maar nooi hom en Haman twee keer vir ete.
Tydens die tweede ete vertel sy hom van Haman se plan om die Jode om die lewe te bring. Die koning is woedend en gee opdrag dat Haman opgehang word aan die galg wat hy vir Mordegai laat bou het.
BID VOOR JY DOEN.
Ester het nie oorhaastig opgetree toe sy hoor van Haman se plan nie. Hoewel haar eie lewe ook in gevaar was, het sy eers vir drie dae gevas en gebid voor sy na die koning toe is.
Ek en jy moet hierin haar voorbeeld volg.
‘n Mens weet nie altyd wat jou te doen staan wanneer jy ‘n probleem het nie. Daarom is dit ‘n goeie idee om altyd eers by God stil te word en Sy leiding te vra.
Wanneer Hy jou wys wat jy moet doen, moet jy gaan en doen wat Hy vir jou gesê het.
Soms gaan Hy jou iets gee wat jy moet doen. Ander kere gaan Hy sê jy moet stil wees en net op Hom vertrou.
Wat Hy ookal sê, wees gehoorsaam.
Here, Leer My Hoe Om Bybelstudie Te Doen
‘n Tien-dae Bybelstudie wat die vier stappe van die S.O.A.P. Bybelstudie-metode gebruik om jou te leer hoe om self Bybelstudie te doen.

‘N NUWE PROKLAMASIE.
Haman is dood, maar dit beteken nie die Jode se probleem is opgelos nie.
Die dekreet wat die koning, op Haman se aandrang, uitgevaardig het, is een wat nie herroep kan word nie. Dit beteken dat die Jode steeds op die dag, wat in die dekreet aangedui is, doodgemaak sou word.
Dus gaan Ester weer na die koning om om genade vir haar volk te smeek.
Die koning voldoen aan haar versoek en vaardig nog ‘n dekreet uit.
Hierdie een gee aan die Jode toestemming om hulleself op daardie dag met die swaard te verdedig.
Dis dan ook presies wat hulle doen. In plaas daarvan dat die Jode op daardie noodlottige dag uitgeroei word, behaal hulle ‘n oorwinning oor hulle vyande.
Ester was bereid om meer as een keer haar lewe op die spel te plaas. Daardeur word sy ‘n instrument in God se hand om die Jode van uitwissing te red.
GOD IN DIE BOEK ESTER.
Dis interessant dat God se Naam nooit in die boek Ester genoem word nie. Maar dit beteken nie Hy was nie ten volle betrokke by alles wat gebeur het nie!
Die duiwel het beplan om van die Jode ontslae te raak en só ‘n stokkie voor die koms van die Messias te steek. Maar hy het nie rekening gehou met God nie.
Reeds voor die duiwel met sy plan vorendag kom, het God reeds die regte persoon op die regte plek om Sy wil uit te voer.
Hy gebruik ‘n meisie, wat bereid is om haar lewe te waag, om Sy volk te red.
Mordegai het, voor Ester die eerste keer na die koning toe is, vir haar gesê: “Moenie dink dat net jy, van al die Jode, sal ontkom omdat jy in die koninklike paleis woon nie. Want as jy wel in hierdie tyd sou swyg, sal daar uitkoms en redding vir die Jode van ‘n ander plek af kom; maar jy en jou familie sal omkom. En wie weet of jy nie juis vir ‘n tyd soos hierdie koninklike status verkry het nie?” (Ester 4:13-14).
God gebruik vandag nog mense, wat bereid is om deur Hom gebruik te word, om Sy wil in die wêreld uit te voer. Hy is steeds besig om die regte mense in die regte posisies in te skuif, sodat Sy plan op die regte tyd in vervulling kan gaan.
Ek weet nie waar jy jou bevind nie, maar jy is dalk nou presies waar jy veronderstel is om te wees sodat God jou kan gebruik.
Is jy bereid om deur Hom gebruik te word?
Lees weer Ester se verhaal en leer by haar wat dit beteken om jou ten volle tot God se beskikking te plaas, selfs al kan dit jou lewe kos!
Goeie verhaal om ons te leer dat ons tenvolle op God moet vertrou. Hy het reeds planne maar ons is soms haastig, maar so was Ester getrou en het geweet sy moet tot God bid vir wysheid sodat sy kon weet wat die besluit in SY WIL is. So moet ons ook leer uit haar gehoorsaamheid dat God vir elkeen en alles ‘n pad uitgelê het, al wat Hy verwag van ons is gehoorsaamheid.
Ek stem saam dis absoluut ‘n fantastiese verhaal.
Thanx God bless,,,
Vasti was n opregte Gods vrou wat haar huwelik of dalk haar lewe op prys gestel het om gehoorsaam te wees aan God syt ha vrou wees respekteer net soos God wil he ons moet doen sy het haar man die koning verontdagsaam om gehoorsaam aan God te wees Vasti was ook n vrou so reguit God se hand,,n beginstigvaste vrou,,,,