
In die afgelope paar artikels het ons gekyk na Eksodus. Ons het in twee artikels gekyk na dinge wat jy oor die boek moet weet om dit beter te verstaan. Ons het ook gekyk na verse in Eksodus, wat iewers in die Nuwe Testament aangehaal is.
Hierdie week gaan ons kyk na een van die belangrikste dinge wat ons in Eksodus lees, naamlik die instelling van die Pasga (Eksodus 12).
Die Pasga is so belangrik omdat dit ‘n wonderlike heenwysing is na Jesus en wat Hy vir ons aan die kruis kom doen het.
DIE W.O.R.D. BYBELSTUDIE-METODE.
Daar is soveel wat ons oor Jesus en God se verlossingsplan vir die mens uit Eksodus 12 kan leer. Maar voor ons daarby kom, gaan ons eers hierdie week die W.O.R.D. Bybelstudie-metode gebruik om ‘n agtergrondstudie van die gedeelte te maak. Op dié manier gaan ons beter verstaan wat ons lees en wat die Bybel regtig sê.
Die akroniem W.O.R.D. staan vir die Engelse woorde:
Write
Observe
Relevant
Declare
Of in Afrikaans:
Skryf
Waarneem
Toepas
Uitspreek.
As jy jou Bybel by jou het, lees eers Eksodus 12 ‘n slag deur, voor jy die artikel verder lees.
STAP 1: SKRYF ‘N VERS WAT UITSTAAN.
Noudat jy weet wat daar staan, lees dit nog ‘n slag en skryf neer watter vers in die gedeelte vir jou uitstaan.
Vir my staan vers 27 uit. Daar staan: “…dan moet julle sê: ‘Dit is die Pasgaoffer vir die Here, Hy wat by die huise van die Israeliete in Egipte verbygegaan het toe Hy die Egiptenare getref het. Ons huise het Hy egter gespaar.’ Die volk het toe gekniel en in aanbidding gebuig.”
STAP 2: WAARNEEM.
Ons gaan die gedeelte waarneem, of kyk wat daar staan, deur ‘n paar vrae te vra.
Wie het die gedeelte geskryf?
Volgens tradisie was Moses die skrywer van Eksodus. Daar is ook ander bewyse in die Bybel wat dit bevestig. Daar is egter Bybelkenners wat hieroor verskil. Hulle meen die boek is oor ‘n langer tydperk geskryf en dat dit deur priesters in die Babiloniese ballingskap klaargemaak is.
Maar al verskil kenners deesdae hieroor, kan ons tog met ‘n mate van sekerheid aanvaar dat Moses die boek geskryf het, al het hy dan net gedeeltes daarvan geskryf.
Wanneer is die boek geskryf?
As ons aanvaar dat Moses alleen verantwoordelik was vir die skryf van Eksodus, dan beteken dit die boek is geskryf tydens die 40 jaar wat die Israeliete in die wildernis rondgetrek het.
Maar as ons aanvaar dat Moses ‘n gedeelte geskryf het en priesters in die ballingskap dit klaargemaak het, dan strek die skryftyd oor ‘n baie langer periode.
Vir wie is dit geskryf?
In Eksodus 17:14 gee God vir Moses opdrag om seker gebeure in ‘n boekrol op te skryf. In Eksodus 24:4 sien ons dat Moses ook al God se woorde neergeskryf het.
Hoekom doen hy dit? Sodat dit vir die Israeliete ‘n blywende herinnering kan wees.
Ons kan dus sê dat Moses die boek Eksodus vir die Israeliete geskryf het as ‘n blywende herinnering aan wat God vir hulle gesê en gedoen het.
Waaroor het die skrywer geskryf?
Vir hierdie Bybelstudie gaan ons net fokus op Eksodus 12 om hierdie vraag te antwoord.
Die grootste gedeelte van Eksodus 12 gaan oor die instelling van die Pasga.
Die Here gee duidelike voorskrifte oor die lam wat die vir Pasga gebruik gaan word. Hy sê ook vir hulle presies hoe hulle die Pasga moet vier.
Moses het dus al die opdragte wat die Here oor die lam en die Pasga gegee het, neergeskryf.
Dan lees ons ook van die tiende plaag en hoe die Here die Egiptenare se eersgeborenes laat sterf het, maar nie dié van die Israeliete nie, omdat die bloed van die lam aan die deurkosyne was.
Ons lees hoe die Farao uiteindelik die Israeliete toegelaat het om uit Egipte te trek.
En laastens is daar weer voorskrifte vir die Pasga – wie daarvan mag eet en wie nie.
Watter tipe literatuur is die gedeelte? Is dit deel van die wet, geskiedenis, evangelie, ensovoorts?
Eksodus 12 is geskiedenis, want dit vertel vir ons hoe die Israeliete uit Egipte bevry is.
Dit is egter ook deel van die Wet, omdat God die Pasga ingestel het as iets wat hulle altyd moes nakom.
STAP 3: TOEPASSING.
Ons volgende stap is om ‘n paar vrae oor die gedeelte te vra en te kyk hoe ons dit op ons eie lewens kan toepas.
Hoe kan jy die gedeelte persoonlik maak?
Omdat hierdie gedeelte ‘n heenwysing is na Jesus, en wat Hy vir ons aan die kruis gedoen het, kan ons dit persoonlik maak deur te onthou wat Jesus gedoen het.
Die paaslam is geslag en sy bloed is gebruik om aan die deurkosyne te smeer. Omdat die Israeliete gehoorsaam was en hierdie opdrag uitgevoer het, het hulle eersgeborenes bly leef.
Net so is Jesus doodgemaak en Sy bloed het gevloei om ons sondes weg te neem. Diegene wat in Hom glo, is kinders van God en hulle het die ewige lewe.
Hoe kan jy dit toepas in jou daaglikse lewe?
Ons kan dit daagliks toepas deur vir die Vader dankie te sê dat Hy vir Jesus gestuur het. Ons kan ook vir Jesus dankie sê dat Hy gekom het en Sy lewe afgelê het sodat ons met God versoen kon word en die ewige lewe kan hê.
Verder kan ons elke dag onthou dat ons dood is vir sonde, maar lewe vir God. En omdat ons lewe vir God, kan ons aan Hom gehoorsaam wees en alles wat ons doen, doen tot eer van Sy Naam.
Wat sien jy in die gedeelte? Is daar teregwysing, ‘n instruksie of dalk bemoediging?
Hierdie gedeelte is vol instruksies, maar nie een daarvan geld vir ons as Nuwe Testament gelowiges nie.
Hoekom nie?
Twee redes. Die eerste rede is dat hierdie instruksies slegs vir die Ou Testamentiese Israeliete gegee is, nie vir die Liggaam van Christus nie.
Die tweede rede is omdat die Pasga slegs ‘n heenwysing is na Jesus. Hy het gekom as die Lam van God wat die sonde van die wêreld weggeneem het. Ons onthou wat Hy vir ons gedoen het deur die gebruik van die Nagmaal.
Maar ek sien tog bemoediging in die gedeelte. Net soos God die eersgeborenes van die Israeliete gespaar het, spaar Hy ons ook.
Omdat ons in Jesus glo behoort ons vir altyd aan God. Niks kan ons uit Sy hand ruk nie.

STAP 4: SPREEK DIT UIT.
Ons laaste stap is om iets in die gedeelte te kry wat ons oor ons lewens kan uitspreek.
Ons kan weereens ‘n paar vrae vra om te bepaal wát ons gaan uitspreek.
Die eerste vraag wat ons kan vra is of daar ‘n belofte in die gedeelte is?
Daar is nie ‘n direkte belofte in hierdie gedeelte nie. Maar dis ‘n heenwysing na Jesus. Ons kan dus iets sê soos: Jesus is God se Paaslam wat gesterf het om my sondes weg te neem. Hy het my gered en ek is nou ‘n kind van God.
Herinner jouself gereeld aan hierdie waarheid deur die hardop oor jou lewe uit te spreek.
Die tweede vraag wat ons kan vra is: Was daar ‘n waarheid of bemoediging in die gedeelte?
Weereens kan ons fokus op die waarheid dat Jesus die Lam van God was. Hy was die perfekte offer. Die Israeliete moes elke jaar weer ‘n lam slag en die Pasga onderhou. Jesus het een keer gesterf en God se verlossingsplan volbring. Nou hoef ons net in Hom te glo en elke dag onthou wat Hy vir ons gedoen het.
Ons kan dieselfde woorde wat ons hierbo gebruik het, ook hier gebruik om oor ons lewens uit te spreek: Jesus is God se Paaslam en is die perfekte offer. Hy het gesterf om my sondes weg te neem en my te red. Deur geloof in Hom is ek nou ‘n kind van God.
DIE PASGALAM EN JESUS.
Ek het ‘n hele paar keer genoem dat die Pasga ‘n heenwysing was na Jesus en wat Hy kom doen het.
Volgende week gaan ons in meer detail hierna kyk, so moenie vergeet om weer ‘n draai te maak nie!
