DIE HERE RED – ‘N GEDAGTE VIR KERSFEES

Die Here red

Reg in die begin van die Bybel, in Genesis 12, lees ons dat God vir Abraham, wat toe nog Abram genoem was, gesê het, “Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys” (vs.1).

Na God hom die opdrag gee, gee Hy ook vir hom ‘n belofte: “Ek sal jou ‘n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ‘n man van groot betekenis maak, en jy moet tot ‘n seën wees. Ek sal seën wie jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees” (vs.2-3).

Abram was gehoorsaam en het gemaak soos God hom beveel het.

DIE BELOFTE VAN ‘N NAGESLAG.

Dan lees ons die volgende in Genesis 15:
Hierna het die woord van die Here in ‘n gesig tot Abram gekom: “Moenie bang wees nie, Abram, Ek beskerm jou! Jou beloning sal baie groot wees.”
Toe sê Abram: “Here my God, wat kan U vir my gee? Ek sal kinderloos sterf, en Eliëser die man uit Damaskus sal my besittings kry.”
Abram het verder gesê: “U het nie vir my ‘n nageslag gegee nie. ‘n Slaaf uit my huis sal my erfgenaam wees.”
Maar die woord van die Here het tot Abram gekom: “Daardie een sal nie jou erfgenaam wees nie. Een wat jou eie nasaat is, hy sal jou erfgenaam wees.”
Toe het die Here vir Abram buitentoe laat gaan en vir hom gesê: “Kyk op na die hemel en tel die sterre as jy kan.” Verder sê die Here vir hom: “So baie sal jou nageslag wees.”

God belowe vir Abram ‘n seun.

Maar Hy belowe hom nie net ‘n seun nie, maar ‘n nageslag wat so baie sal wees dat hy hulle nie sal kan tel nie.

‘N NAAMSVERANDERING.

Hoewel God belowe het dat Sarai geboorte sou skenk aan die seun, het sy en Abram gesukkel om God te glo.

Sy was nog al die jare kinderloos en nou al te oud om kinders te hê, so hoe sou God dit kon doen?

Toe probeer hulle maar om Hom te help om Sy belofte te vervul.

Abram slaap by Sarai se slavin en verwek ‘n kind by haar.

Omdat hierdie twee mense so gesukkel het om God te glo, het Hy hulle daarmee gehelp.

In Genesis 17:2-5 lees ons hoe God Abram se naam verander het:
“Ek sal my verbond met jou sluit
en baie, baie mense uit jou laat voortkom.”
Abram het op sy knieë geval, en toe sê God vir hom:
“Dit is my verbond met jou:
jy sal die vader wees van ‘n menigte nasies;
jy sal nie meer Abram genoem word nie,
jou naam sal Abraham wees,
want Ek maak jou die vader van baie nasies.”
(vs.2-5)

Abram beteken ‘verhewe vader’.

Abraham beteken ‘vader van ‘n menigte’.

Dit beteken elke keer wat iemand Abraham op sy naam genoem het, het hy gehoor, ‘vader van ‘n menigte’.

Dit het sy geloof in God se belofte versterk en laat groei.

God het hom klaar gesien as die vader van ‘n menigte, maar voor dit ‘n realiteit in sy lewe kon word, moes hy homself sien as die vader van ‘n menigte.

DIE NAAM VAN JESUS.

In Mattheus 1:21 lees ons hoe die engel vir Josef opdrag gegee het om die Seun wat Maria in die wêreld sou bring, Jesus te noem.

Jesus beteken “Die Here is verlossing” of “Die Here red”.

Jesus het dus, van geboorte af, elke keer wat iemand Sy naam genoem het, gehoor “Die Here red”.

Abraham moes oor en oor hoor hy is die vader van ‘n menigte om sy geloof in God se belofte te versterk.

Maar ek dink nie Jesus moes dit om dieselfde rede oor en oor hoor nie.

Ek dink om te hoor ‘Die Here red’ is eintlik tot ons voordeel, om ons geloof te versterk wanneer ons die Naam van Jesus hoor.

Jesus het Sy lewe kom gee om die hele wêreld te red.

Daar is nie een mens wat uitgesluit is van Sy reddende genade nie.

Die enigste rede waarom mense nie gered word nie, is omdat hulle nie wil aanvaar wat Hy vir hulle gedoen het nie.

Hulle wil nie aanvaar die Here red nie, maar probeer om hulleself te red.

Wanneer jy hierdie Kersfees die Naam van Jesus hoor, en Sy koms na die aarde vier, onthou bietjie wat Sy Naam beteken – Die Here red.

Dank Hom dan vir wat Hy vir jou kom doen het, wat jy nie vir jouself kon doen nie!

LEES OOK: LUKAS 4 – WAT JESUS KOM DOEN HET

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *