DIE GELYKENIS VAN DIE SAAIER

Gedagtes oor die gelykenis van die saaier

In die eerste gedeelte van Markus 4 lees ons die gelykenis van die saaier. Jesus vertel van die saaier wat saad saai. Van die saad val langs die pad. Die voëls kom en pik dit op en dit dra nie vrug nie.

Ander saadjies val op ‘n rotsagtige plek. Die saadjies kom vinnig op omdat die grond nie baie diep is nie. Maar toe die son opkom, verdroog die plantjies omdat dit nie wortel geskiet het nie.

Daar is ook saadjies wat tussen dorings val. Die dorings verstik egter die plantjies wat opkom en hulle dra ook nie vrug nie.

Laastens is daar die saadjies wat op goeie grond val. Hierdie saadjies kom op, groei en bring ‘n oes voort.

WAT DIE GELYKENIS VAN DIE SAAIER BETEKEN.

‘n Bietjie verder aan in die hoofstuk verduidelik Jesus wat die gelykenis beteken.

Hy verduidelik dat mense vier verskillende reaksies het wanneer hulle God se Woord hoor.

Die reaksies verskil omdat nie almal op daardie oomblik gereed is vir die Woord wat hulle hoor nie.

Dis dan ook die rede waarom ek en jy soms vrug dra wanneer ons die Woord hoor en soms nie.

Kom ons kyk ‘n bietjie dieper daarna.

DIE SAAIER SAAI DIE WOORD.

In Markus 4:14 staan daar: “Die saaier saai die Woord.”

Die Woord word in ons lewens gesaai wanneer ons die Bybel hardop lees of hoor hoe iemand anders dit lees.

As jy Jesus se verduideliking van die gelykenis lees, sal jy sien dis waar, want Hy sê oor en oor mense hoor die Woord.

In Romeine 10:17 lees ons ook dat geloof in ons harte gewek word wanneer ons die boodskap van Jesus hoor.

Iemand het eenkeer gesê die Here het vir hom gesê Sy bedoeling was nooit dat ons die Bybel saggies lees nie. Ons moet dit hardop lees, want dis belangrik dat ons dit hoor. Daarom is dit ‘n goeie idee om jou stiltetyd iewers te hou waar jy niemand pla nie, sodat jy jou Bybel hardop kan lees.

PAS DIE WOORD OP.

Wanneer ons die Woord hoor, het ons natuurlik ‘n keuse van wat ons daarmee gaan doen. Die ou duiwel is heeltyd op die uitkyk vir maniere waarop hy die Woord by ons kan steel. Hy wil nie hê die Woord moet vrug dra in ons nie, so ons moet versigtig wees met wat ons doen met die Woord wat ons gehoor het.

Die regte ding om te doen, is om dit wat ons gehoor het te glo en daaroor na te dink. Op dié manier bêre ons die Woord al hoe dieper in ons harte.

Ons moet ook die Woord wat ons reeds daar gebêre het, oppas, sodat die duiwel dit nie kan steel nie.

Ongelukkig is dit nie altyd wat ons doen nie.

Soms hoor ons die Woord en dis waar dit eindig.

Jy kan dink dat dit presies is wat die duiwel wil hê ons moet doen. Want as ons net hoor en niks verder daarmee doen nie, is dit vir hom soveel makliker om die Woord wat ons gehoor het, te kom steel.

Dis dan ook waarvan Jesus in vers 15 praat. Daar staan: “Die saad langs die pad is die mense by wie die woord gesaai word – sodra hulle dit hoor, kom Satan dadelik en neem die woord weg wat in hulle gesaai is.”

SKIET WORTEL IN DIE WOORD.

Daar is ook kere wat ons die Woord hoor en dit met blyskap aanvaar. Ons lees daarvan in vers 16: “En die saad wat op die rotsagtige plekke gesaai is, is die mense wat die woord dadelik met blydskap aanneem wanneer hulle dit hoor…”

Dit beteken ons hoor die Woord en ons glo dis waar.

Maar vers 17 waarsku dat ons nie noodwendig gaan vrug dra net omdat ons die Woord met blydskap aangeneem het nie! Daar staan: “…maar hulle het nie wortel geskiet nie en hou net ‘n rukkie. As verdrukking of vervolging vanweë die woord plaasvind, struikel hulle dadelik.”

Omdat ons glo is dit nie so maklik vir die duiwel om die Woord te steel nie. Dus kom hy met ‘n nuwe plan.

Soms gebruik hy omstandighede wat die teenoorgestelde is van wat ons glo die Bybel sê. Daarmee probeer hy ons oortuig dat die Bybel nie waar is nie.

Ander kere gebruik hy ‘n persoon, soms selfs ‘n vriend of familielid, wat ons teenstaan en ons vertel die Woord wat ons glo is nie waar nie. So iemand kan jou selfs spot of verkleineer oor dit wat jy glo.

Wanneer mense of omstandighede dit moeilik maak om die Woord van God te bly glo, raak dit al hoe makliker om nie meer daaraan vas te hou nie. En, as ons dit laat los, wen die duiwel weer.

In vers 17 sien ons dit gebeur omdat ons nie wortel geskiet het nie. ‘n Mens skiet wortel in die Woord wanneer jy daaroor nadink sodat dit deel kan word van jou.

As dit deel is van jou, maak dit nie saak wat ander daaroor sê nie. Jy sal dit bly glo omdat jy wortel geskiet het daarin en niemand sal jou anders kan oortuig nie. 

JY KAN DIE WOORD IN JOU HART VERSTIK.

Dan is daar ook die kere wat ons die woord hoor, dit glo en oordink sodat dit deel word van ons. Maar dit kan gebeur dat ons toelaat dat die dinge van die wêreld kom en die Woord verstik.

Ek het netnou gesê ons moet altyd die Woord in ons harte beskerm, want die duiwel wil dit steel. Ongelukkig is dit so dat ons hom soms daarmee help!

In vers 19 sien ons dis nie die saad is wat die dorings verstik nie. Nee, die dorings verstik die saad.

“En ander weer is die saad wat tussen die dorings gesaai is. Hulle is diegene wat die woord hoor, maar die bekommernisse van hierdie wêreld, die verleiding van rykdom en die begeertes na allerlei dinge dring in en verstik die woord, en dit bly sonder vrug” (vs.18-19).

Ons moet dus mooi oplet wat in ons gedagtes aangaan. Waaroor dink ons?

As ons, byvoorbeeld, heeltyd dink oor die ekonomiese toestand in die land, gaan ons bang word en bekommerd raak. Dit gaan die waarheid dat God altyd in al ons behoeftes sal voorsien, ongeag wat in die wêreld aangaan, in ons harte verstik. En daardie Woord sal nie vrug dra in ons nie.

DIE WOORD WAT VRUG DRA.

Gelukkig is daar ook kere wat ons die Woord hoor en dit glo. Ons studeer en oordink dit en laat dit wortel skiet in ons lewens. Ons beskerm dit ook met alles wat in ons is teen die duiwel en die wêreld.

Dis dáárdie Woord wat vrug dra in ons lewens.

Jy sien, ‘n saadjie groei vanself. Die Woord is dieselfde. Dit groei ook vanself.

Maar ‘n mens moet die Woord hoor, dit glo en diep in jou hart laat wortelskiet en dit beskerm teen die aanslae van buite. Dis ons werk.

As ons dít doen, sal die Woord wat ons hoor elke keer ‘n oes voortbring. En as ons regtig ons kant bring en ons werk goed doen, sal die Woord elke keer ‘n honderdvoudige oes lewer.

Dalk is jy, soos ek, nou nie juis lief vir tuinmaak nie. Maar wanneer dit by God se Woord kom, is dit noodsaaklik dat ons almal ons bes doen om goeie tuiniers te wees.

Kom ons maak seker ons doen wat dit kos om die Woord te glo en diep in ons te laat wortelskiet. Kom ons beskerm dit met alles wat in ons is.

Want dan sal ons elke keer sien hoe die Woord vrug dra in ons lewens – soms dertigvoudig, soms sestigvoudig, en soms honderdvoudig.

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *