DIE ‘APPLE’ BYBELSTUDIE METODE

Die 'APPLE' Bybelstudie metode

Ons is hierdie maand op Bybel En Gebed besig om te kyk na ‘n paar eenvoudig Bybelstudie metodes wat jy sommer dadelik kan begin gebruik. Sover het ons gekyk na die Swaard Bybelstudie metode. Ons het ook gekyk na die W.O.R.D. Bybelstudie metode. Vandag gaan ons kyk na nog ‘n studiemetode wat ‘n Engelse akroniem het, naamlik die ‘APPLE’ Bybelstudie metode.

Soos die ander metodes, is hierdie Bybelstudie metode baie eenvoudig. Selfs iemand wat nog nooit die Bybel bestudeer het nie, sal dit kan baasraak.

Dit sal jou help om nie net jou Bybel te lees nie, maar in groter detail te ondersoek.

Dit gaan jou ook help om God se karakter beter te verstaan en om die Woord in jou lewe toe te pas en so ‘n doener van die Woord eerder as net ‘n hoorder te wees.

Maar voor ons na die metode kyk, wil ek jou eers daaraan herinner dat ek ‘n Bybelstudie e-boekie saamgestel het. Daarin is tien verskillende studiemetodes, wat nie een baie moeilik is nie.

As jy nog nie die boekie afgelaai het nie, vul dan net jou besonderhede hieronder in. Ek sal dadelik die skakel vir jou stuur sodat jy die boekie kan aflaai en begin Bybelstudie doen.

DIE ‘APPLE’ BYBELSTUDIE METODE.

Die ‘APPLE’ Bybelstudie metode is, soos ek reeds gesê het, ‘n metode wat ‘n Engelse akroniem het.

Hierdie akroniem maak dit maklik om die verskillende stappe van die metode, te onthou. Ongelukkig kan ‘n mens dit nie in Afrikaans vertaal nie, want dan bly die akroniem nie dieselfde nie.

Kom ons kyk gou waarvoor die verskillende letters staan.

A – Attributes of God
P – Promises of God
P – Principles for life
L – Lessons learned
E – Example to follow

Noudat ons weet waarvoor die letters staan, kom ons bekyk die metode van naderby. Om ons daarmee te help, gaan ons ‘n gedeelte uit die Bybel gebruik en saam die metode toepas.

Kom ons begin!

STAP 1: GEBED.

Dit maak nie saak watter Bybelstudie metode jy gebruik nie, die eerste stap moet altyd wees om te bid.

Sonder die hulp van die Heilige Gees, gaan ‘n mens nie verstaan wat die Bybel sê nie. Jy gaan belangrike dinge miskyk en dalk sommer jou eie idee opmaak van wat daar staan.

Ek hou daarvan om ‘n variasie van Efesiërs 1:17 te bid voor ek met my studies begin.

Ek vra die Here om my te vul met kennis oor Homself en oor Sy wil. Dan vra ek dat Hy my insig en openbaring gee sodat ek kan verstaan wat Hy deur die gedeelte vir my wil sê. Laastens bid ek dat Hy vir my wysheid sal gee, sodat ek weet hoe om Sy Woord in my lewe toe te pas.

Jy kan ook hierdie gebed, of ‘n soortgelyke een, bid. Onthou het om te begin met gebed!

STAP 2: LEES.

Die volgende stap is om die gedeelte wat jy wil studeer, ‘n paar keer deur te lees.

Lees dit sommer in verskillende vertalings, as jy kan. Dít help ‘n mens al klaar om die gedeelte beter te verstaan.

Vir ons studie vandag, gaan ons Psalm 23 gebruik.

Ons lees dit uit die 2020 Bybelvertaling:

1 Die Here is my herder; ek ly nie gebrek nie.
2 In groen weivelde laat Hy my rus; na water waar daar rusplek is, lei Hy my.
3 Hy gee my nuwe lewenskrag; Hy lei my op die regte paaie ter wille van sy Naam.
4 Selfs as ek in die donkerste kloof ingaan, is ek nie bang vir gevaar nie, want U is by my. Dit is u staf en u stok wat my gerusstel.
5 U dek vir my ‘n tafel voor die oë van my teenstanders. U verfris my kop met olie; my beker loop oor.
6 Net goedheid en troue liefde sal my volg al die dae van my lewe, en ek sal terugkeer na die huis van die Here, tot in lengte van dae.

STAP 3: GOD SE EIENSKAPPE.

Tot dusver het ons nog nie akroniem van die ‘APPLE’ Bybelstudie metode, gebruik nie. Die volgende vyf stappe is egter waar die akroniem jou gaan help om te onthou wat jy moet doen.

Die eerste letter, A, staan vir ‘Attributes of God‘. Dit het te doen met God se eienskappe of Sy karaktertrekke.

In stap drie gaan jy weer die gedeelte deurlees en kyk wat se eienskappe of karaktertrekke van God jy in die gedeelte raaksien. As daar enige eienskappe van God in die gedeelte is, skryf dit neer.

Lees gou weer deur Psalm 23 hierbo. Wat leer dit jou oor God?

Ek sien dat dit in die Here se aard is om te sorg, want Hy is ons Herder.

Verder sien ek uit vers 1, 3 en 5 dat dit in Sy aard is om te gee.

In vers 1 en 4 sien ek God se aard is om te beskerm. Hy is altyd by Sy kinders.

Ek sien ook in vers 3 dat Hy ‘n leier is. Hy wil vir my, en vir jou, wys wat die regte pad is om te loop.

En in die hele psalm sien ek God se goedheid en Sy liefde.

GOD SE EIENSKAPPE IN PSALM 23.

Psalm 23 leer ons dus die volgende omtrent God se karakter:

God is liefde en Hy het ons lief met ‘n troue liefde.

Hy is soos ‘n herder wat sorg vir Sy kinders en gee of voorsien wat hulle nodig het. En, soos ‘n herder, pas Hy hulle op en beskerm hulle.

God is goed en Sy goedheid sal ons altyd volg.

God is ‘n leier, wat die leiding wil neem en ons op die regte pad wil lei.

STAP 4: BELOFTES.

Die tweede letter van die ‘APPLE’ Bybelstudie metode is die letter ‘P‘. Dit staan vir ‘Promises of God‘.

Die volgende stap is dan om die gedeelte nog ‘n slag deur te lees en te kyk of daar enige beloftes daarin geskryf staan. As jy ‘n belofte kry, skryf dit neer.

Dit mag dalk lyk asof daar nie ‘n belofte van God iewers in Psalm 23 staan nie, maar dis nie waar nie.

Die hele psalm is eintlik ‘n belofte. Omdat dit ons so baie vertel oor wie God is en wat Hy doen, kan ons elkeen van daardie dinge vat as ‘n belofte van God. Hy verander nooit en daarom kan ons elkeen van die ses verse beskou as ‘n belofte. Ons kan verseker weet dat God presies sal doen wat Hy in die psalm gesê het Hy sal doen.

STAP 5: BEGINSELS.

Die derde letter van die ‘APPLE’ Bybelstudie metode is weereens die letter ‘P‘. Hierdie keer staan dit vir ‘Principles for life‘.

Ons gaan dus nog ‘n slag die gedeelte wat ons studeer deurlees. Nou kyk ons of daar enige beginsels in die gedeelte is waarvolgens ons moet leef. As daar is, skryf dit neer.

Lees gou weer Psalm 23 hierbo. Sien jy ‘n beginsel of beginsels waarvolgens jy moet leef?

Ek sien drie beginsels, hoewel daar dalk meer kan wees.

In die eerste plek sien ek dat ek tyd met God moet spandeer. Dit is in ons tyd saam waar Hy my rus en nuwe lewenskrag gee. Dit is ook gedurende hierdie tyd waar Hy baie keer vir my leiding gee aangaande verskillende dinge in my lewe.

Die tweede beginsel wat ek sien, is dat ek God se leiding moet volg. Hy lei my altyd op die regte pad.

En laastens sien ek dat ek nie bang moet wees nie. God is altyd by my. Dit maak nie saak wat om my aangaan nie, Hy stel my gerus en gee my vrede.

STAP 6: LESSE OM TE LEER.

Die vierde letter van die ‘APPLE’ Bybelstudie metode is die letter ‘L‘. Dit staan vir ‘Lessons learned‘.

Lees weer ‘n keer die gedeelte en kyk of daar ‘n les is wat jy moet leer of sonde wat jy moet vermy. Om jou te help kan jy die volgende vrae vra:

  • Probeer die Here my aandag vestig op ‘n spesifieke area van my lewe deur die gedeelte wat ek gelees het?
  • Het die Here die gedeelte gebruik om my te wys op enige probleme of situasies wat ek in Sy hand moet plaas?
  • Wat wil God my deur die gedeelte leer?

Elke mens is uniek en het unieke omstandighede. Daarom kan ons almal na dieselfde gedeelte kyk en verskillende lesse daaruit leer. Vertrou die Here dus om jou te wys wat Hy vir jóú wil sê uit die gedeelte wat jy bestudeer.

Lees nou weer ‘n slag deur Psalm 23 hierbo. Wat se lesse wil die Here vir jou persoonlik uit die gedeelte leer?

STAP 7: VOORBEELD OM TE VOLG.

Die laaste letter van die ‘APPLE’ Bybelstudie metode is die letter ‘E‘. Dit staan vir ‘Example to follow‘.

Lees ‘n laaste keer deur die teks en kyk of daar ‘n voorbeeld is wat jy kan volg. Hoe gaan jy dit doen? Daar is weer ‘n klompie vrae wat jy kan vra om jou hiermee te help:

  • Is hier ‘n voorbeeld van iemand wat vir God gelewe het en Hom gehoorsaam het? Hoe het hy/sy dit gedoen?
  • Sien ek ‘n voorbeeld van iemand wat nie vir God gelewe het nie? Wat het hy/sy gedoen?
  • Moedig die gedeelte my aan om in een of ander area van my lewe prakties iets te doen? Wat is dit wat ek moet doen?
  • Hoe kan ek die tema van die gedeelte prakties in my lewe toepas?

Net soos met die vorige stap, gaan hierdie uniek wees aan elke persoon. Elkeen van ons op ‘n unieke plek in ons verhouding met God. Ons het ook almal verskillende probleme, uitdagings en behoeftes. En daarom gaan wat Hy uit ‘n spesifieke gedeelte vir elkeen sê verskil van persoon tot persoon.

God kan ‘n gedeelte gebruik om een persoon te wys op waar hy meer gehoorsaam moet wees aan Hom. En dan kan Hy dieselfde gedeelte gebruik om vir iemand anders te wys dat sy Hom meer moet vertrou.

Lees vir oulaas Psalm 23 en vra die vier vrae wat ek hierbo genoem het. Wat sê God vir jou?

STAP 8: GEBED.

Ons het ons studietyd met gebed begin en gaan dit ook afsluit met gebed.

Nou kan jy God dank vir die dinge wat Hy vir jou gesê het. Jy kan Hom vra om jou te help om gehoorsaam te wees daaraan. En, as daar iets is wat jy nie verstaan nie, kan jy Hom vra om jou te help verstaan en jou verder te leer.

Dit is belangrik om te onthou dat jy dalk nie al die vrae wat jy vra wanneer jy die ‘APPLE’ Bybelstudie metode gebruik, gaan kan antwoord nie. Soms sien ‘n mens byvoorbeeld nie ‘n belofte in ‘n gedeelte nie. Of daar is nie ‘n beginsel waarvolgens jy moet leef nie.

Maar moenie dat dit jou afskrik om hierdie metode te gebruik nie. Antwoord die vrae wat jy kan antwoord. Vra ook die Here om jou te wys as daar dalk iets is wat jy misgekyk het, en wat tog inpas by een van die vrae wat jy nie kon antwoord nie.

Ek bid dat die ‘APPLE’ Bybelstudie metode jou gaan help om God beter te leer ken en dat Hy dit gaan gebruik om jou sommer baie ander dinge uit Sy Woord te leer.

As jy nog ander Bybelstudie metodes wil beproef, onthou om jou inligting hieronder in te vul. Laai dan Die Bybelstudie Metode E-boek af en begin sommer vandag jou Bybel bestudeer!

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *