
Leer meer oor geloof deur na te dink oor hierdie 32 Bybelverse oor geloof.
As mens in die HAT kyk wat die woord geloof beteken, kry jy die volgende:
- Vaste vertroue op God en Sy Woord.
- Vertroue in die waarheid van iemand se bewerings.
- Vaste vertroue in die vermoë, eerlikheid, betroubaarheid van wie of dit wat in die bepaling genoem word.
- Vertroue in die waarheid of moontlikheid van iets; oortuiging.
Dis hoe die woordeboek geloof definieer.
En in Hebreërs 11:1 kry ons hierdie definisie van geloof: “Geloof, egter, is sekerheid van die dinge wat gehoop word, ‘n bewys van die dinge wat nie gesien word nie.”
As ons al hierdie definisies lees, dan leer ons die volgende:
Geloof is ‘n vaste vertroue dat God werklik bestaan en dat Sy Woord waar is.
Dis ‘n oortuiging dan God betroubaar is en die vermoë het om te doen wat Hy gesê het Hy gaan doen.
Verder is dit ‘n sekerheid dat die dinge wat ons hoop, wel so is.
En dis ‘n bewys van dinge wat ons nie kan sien nie.
GELOOF IN JESUS.
Geloof in Jesus is die belangrikste beginsel in die Bybel.
Dis deur geloof in Hom wat ons vrygespreek word van ons sondeskuld en gered word. Deur geloof in Hom word ons weergebore – God gee ons ‘n nuwe gees wat dood is vir sonde maar lewend vir Hom.
Geloof in Jesus maak vir ons die deur oop om ‘n verhouding met God te hê en Hom elke dag beter te leer ken.
BYBELVERSE OOR GELOOF.
Hier is 32 Bybelverse oor geloof. Lees hulle en dink na oor hulle. Kyk wat jy nog oor geloof uit die verse kan leer.
VERSE UIT MATTHEUS EN MARKUS.
Mattheus 15:28: Toe het Jesus haar geantwoord: “O vrou, groot is jou geloof! Laat dit vir jou wees soos jy wil hê.” En haar dogter was van daardie oomblik af genees.
Markus 9:23: Jesus vra hom toe: “‘As U kan?’ Alle dinge is moontlik vir iemand wat glo.”
Mattheus 17:20: Hy het hulle geantwoord: “Vanweë julle kleingeloof. Amen, Ek sê vir julle: As julle geloof het soos ‘n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê, ‘Verplaas jou hiervandaan daarheen,’ en hy sal soontoe verskuif. Ja, niks sal vir julle onmoontlik wees nie.”
Markus 10:52: Jesus sê toe vir hom: “Gaan! Jou geloof het jou gered.” En dadelik kon hy sien, en hy het Hom op sy pad gevolg.
Mattheus 21:22: Alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo.
Markus 11:24: Daarom sê Ek vir julle, alles waarvoor julle bid en vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so gebeur.
VERSE UIT LUKAS EN JOHANNES.
Lukas 1:37: Niks is vir God onmoontlik nie.
Johannes 1:12: Maar aan almal wat Hom aanvaar het, het Hy die reg gegee om kinders van God te word – hulle wat in sy Naam glo.
Johannes 6:35: Jesus het vir hulle gesê: “Ek is die brood van die lewe. Wie na My toe kom, sal nooit honger word nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors word nie.”
Johannes 3:16: Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.
Johannes 7:38-39: Hy wat in My glo, soos wat die Skrif sê, ‘Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.’ Dit het Hy van die Gees gesê wat dié wat in Hom glo, sou ontvang. Die Gees was immers nog nie daar nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.
Johannes 11:25-26: Jesus het vir haar gesê: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal leef, al het hy ook gesterf; en elkeen wat leef en in My glo, sal tot in ewigheid nooit sterf nie. Glo jy dit?”
Johannes 20:29: Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy omdat jy My gesien het? Gelukkig is hulle wat nie gesien het nie, en tog tot geloof gekom het.”
VERSE UIT ROMEINE.
Romeine 2:17: So is geloof alleen, as dit nie op dade uitloop nie, dood.
Romeine 10:9-11: Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en jy glo met jou hart dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word. Want met die hart glo ons, en word so regverdig verklaar; met die mond bely ons, en word so verlos. Die Skrif sê tog: ‘Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie.’
Romeine 10:17: Die geloof kom dus uit die aanhoor, en die aanhoor kom deur die verkondiging van Christus.
Romeine 1:16-17: Ek skaam my immers nie vir die evangelie nie, want dit is die krag van God tot verlossing vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood, maar ook vir die Griek. Want daarin word geopenbaar dat die geregtigheid van God geheel en al op geloof berus, soos daar geskryf staan: ‘Die regverdige op grond van geloof sal leef.’
Romeine 12:3: Deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle dat jy nie meer van jouself moet dink as wat jy behoort nie, maar dat jy jou gedagtes daarop moet instel om verstandig te wees, volgens die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het.
Romeine 15:13: Mag die God van hoop julle deur julle geloof met alle blydskap en vrede vervul, sodat julle hoop oorvloedig kan word deur die krag van die Heilige Gees.

VERSE UIT PAULUS SE ANDER BRIEWE.
1 Korinthiërs 2:4-5: My lering en my verkondiging het nie berus op oorredende woorde van wysheid nie, maar op bewyse van die Gees en van krag, sodat julle geloof nie op die wysheid van mense berus nie, maar op die krag van God.
1 Korinthiërs 16:13: Wees waaksaam, staan vas in die geloof, wees manhaftig, wees sterk.
2 Korinthiërs 5:7: …want ons leef deur geloof, nie deur aanskoue nie.
Galasiërs 2:19-20: Inderdaad, deur die wet het ek die wet afgesterf, sodat ek vir God leef. Met Christus is ek gekruisig; ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my! Die lewe wat ek nou liggaamlik leef, leef ek in geloof, die geloof in die Seun van God, wat my liefgehad en Homself vir my oorgegee het.
Efesiërs 2:8-9: Want uit genade is julle verlos, deur geloof. En juis dit kom nie uit julle self nie; dit is die gawe van God. Dit kom nie uit eie werke nie, sodat niemand op iets mag roem nie.
Efesiërs 6:16: …en by dit alles die skild van die geloof op te neem, waardeur julle in staat sal wees om al die vurige pyle van die Bose te blus.
Filippense 4:13: Tot dit alles is ek in staat deur Hom wat my krag gee.
1 Timotheus 6:12: Stry die goeie stryd van die geloof; gryp die ewige lewe aan, waartoe jy geroep is en waarvan jy die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het.
2 Timotheus 4:7: Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi, ek het die geloof behou.
VERSE UIT JAKOBUS EN 1 JOHANNES.
Jakobus 1:2-3: Beskou dit as ‘n groot vreugde, my broers, wanneer allerhande versoekings julle oorval, omdat julle weet dat, as julle geloof getoets word, dit volharding meebring.
Jakobus 1:6-7: Maar hy moet in die geloof vra, sonder om enigsins te twyfel, want wie twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind rondgeruk en voortgesleep word. Want so ‘n mens moenie dink dat hy enigiets van die Here sal ontvang nie.
Jakobus 2:23-24: En die Skrif is vervul wat sê: ‘Abraham het God geglo, en God het sy geloof vir hom as regverdiging gereken, en hy is ‘n vriend van God genoem.’ Julle sien dus dat ‘n mens op grond van dade regverdig verklaar word, en nie deur geloof alleen nie.
1 Johannes 5:3-4: Want dit is die liefde vir God, dat ons sy gebooie onderhou, en sy opdragte is nie ‘n swaar las nie; want elkeen wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dít is die oorwinning wat die wêreld oorwin – ons geloof.
God het ons geseën met die gawe van geloof. Kom ons gebruik dit elke dag om Hom te glo en Hom so te verheerlik!
