LUKAS 15: WELKOM TUIS!

Lukas 15: Welkom tuis!

As jy vir my sou vra watter een van Jesus se gelykenisse my gunsteling is, dan sou ek moes antwoord die een oor die verlore seun (Lukas 15:11-32).

Ek kies hierdie een omdat dit die hart van ons Pappa God so duidelik vir ons wys.

Ons sien Sy liefde, Sy barmhartigheid (mercy) en Sy genade (grace).

Verder sien ons Sy vergifnis en aanvaarding van die mens.

GOD SE LIEFDE.

Die gelykenis vertel die verhaal van ‘n pa wat sy seun baie liefgehad het.

Toe die seun kies om sy rug op sy pa te draai en al sy erfgeld te verkwis, het die pa se liefde vir hom nie verander nie.

God het ons ook baie lief. Hy het ons met ‘n onvoorwaardelike liefde lief.

Almal van ons het gekies om ons rug op Hom te draai. Ons het die lewe wat Hy vir ons gegee het, verkwis.

Maar Hy bly lief vir ons met ‘n ewige liefde wat nooit verander nie.

GOD GEE NOOIT OP NIE.

Terug na die gelykenis.

Ons sien hier ook ‘n pa wat nooit opgegee het op sy seun nie. Toe die seun besluit om terug te kom, sien die pa hom al van ver af aankom.

Dit beteken hy was op die uitkyk vir sy seun.

God gee ook nooit op op die mens nie.

Deur die Heilige Gees is Hy heeltyd besig om uit te reik na dié wat nog verlore is.

Hy wil hê hulle moet huistoe kom, net soos Hy wou hê ek en jy moes huistoe kom toe ons nog verlore was.

VREUGDE IN DIE HEMEL.

In die storie lees ons van ‘n pa wat gehardloop het om sy seun te groet en terug te verwelkom.

Ek het een keer ‘n preek gehoor van ‘n predikant wat uit die Midde-Ooste afkomstig was. ‘n Volwasse man hardloop, volgens hom, nooit nie. En dit word veral nie gedoen deur ‘n man wat reeds ‘n pa is nie.

Dit is dus buitengewoon vir hierdie pa om letterlik op te spring en na sy kind toe te hardloop.

Maar kan jy die vreugde in sy handeling sien?

In die ander gelykenisse oor die verlore muntstuk en die verlore skaap, verduidelik Jesus dat daar groot vreugde in die hemel is wanneer ‘n sondaar tot bekering kom.

In Lukas 15:7 lees ons: “Ek sê vir julle: Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie.”

En in vers 10 staan daar: “Ek sê vir julle: Net so is daar blydskap onder die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.”

Net soos die pa groot vreugde ervaar het toe sy seun teruggekom het huistoe, ervaar God, en almal in die hemel, groot vreugde wanneer ‘n verlore sondaar besluit om terug te keer na Hom toe.

DIE VERGIFNIS VAN GOD.

In die laaste plek sien ons ‘n pa wat sy seun vergewe.

Hy neem hom nie terug en maak hom ‘n slaaf nie, al het die seun dit voorgestel.

Nee, hy aanvaar hom weer as ‘n seun.

En hy hou sommer ‘n groot partytjie om hom terug te verwelkom by die huis.

Jesus se dood en opstandig het vir ons die weg gebaan om ook terug te kom huistoe, terug na God toe.

Ons kan kom en verseker weet Hy sal ons vergewe en ons aanvaar as Sy kinders.

En daarom kan ons met vrymoedigheid na God toe gaan.

Ons kan met geloof en vertrou na Hom toe kom.

Ons kan kom en sonder twyfel weet Hy gaan ons terug verwelkom by die huis!

Hoewel daar nog ander lesse is wat ons ook uit die gelykenis kan leer, gaan ons vir eers hierby volstaan.

Wanneer jy volgende keer weer hierdie gelykenis hoor of lees, onthou wat jy oor God se Vaderhart geleer het.

Sien weer hoe Hy jou terug verwelkom het en dank Hom dat jy tuis is by Hom en dat jy Sy kind is!

LEES OOK: LUKAS 4: WAT JESUS KOM DOEN HET

GAAN ‘N BIETJIE DIEPER.

Gebruik jou geestelike joernaal, of sommer enige notaboekie, om die volgende te doen:

SKRYF: Lukas 15:20: “Hy het toe opgestaan en na sy vader gegaan. Hy was nog ver weg, toe het sy vader hom al gesien. Hy het hom innig jammer gekry, na hom gehardloop, hom omhels en hom gesoen”

ONTDEK: Lees Efesiërs 2:4-5. Wat leer jy oor God se barmhartigheid en liefde?

OORDINK: Lees die gelykenis van die verlore seun in Lukas 15:11-24. Skryf neer wat hierdie gelykenis jou leer oor God en wat dit geteken vir jou verhouding met Hom.

GEBED: Skryf jou gebed, waarin jy vir God dankie sê vir Sy liefde, barmhartigheid en genade, in jou joernaal neer.

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *