JOHANNES 3:16-17 – DIE GESKENK VIR DIE WêRELD

Johannes 3:16-17: Jesus, die geseknk vir die wêreld

In Johannes 3:16-17 lees ons hierdie bekende woorde: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.”

Ons het almal al hierdie woorde baie kere tervore in ons lewens gelees en gehoor. Vandag wil ek egter jou aandag vestig op ‘n paar belangrike waarhede in die twee verse.

GOD SE LIEFDE VIR DIE WêRELD.

Sien jy daar in Johannes 3:16-17 staan God het die wêreld liefgehad?

Daar staan nie Hy het die kerk liefgehad nie, maar die wêreld.

Dit beteken God het elke mens lief wat nog ooit geleef het. Hy het elkeen lief wat vandag leef. En Hy het elkeen lief wat in die toekoms sal leef.

Dit beteken ook Hy het die mens lief terwyl hy nog ‘n sondaar is. Om die waarheid te sê, Romeine 5:8 sê presies dít. Hy het ons ook lief wanneer ons in geloof na Jesus toe kom sodat Hy ons kan red.

Sy liefde is nie gegrond in ons optrede nie. Hy het ons nie liewer wanneer ons Hom gehoorsaam en minder lief wanneer ons sonde doen nie. Nee, Sy liefde is onvoorwaardelik.

En Sy liefde vir ons sal nooit verander of ophou nie.

GOD SE LIEFDE GEE.

Die tweede waarheid wat ek wil hê jy moet raaksien is die feit dat God die wêreld só liefgehad het, dat Hy Sy enigste Seun gegee het.

Jesus is God se geskenk aan die hele wêreld.

Elkeen word uitgenooi om in geloof na Hom toe te kom sodat hulle gered kan word.

Weereens is daar nie een mens wat uitgesluit is uit hierdie uitnodiging nie. Dit is God se wil dat alle mense gered word (1 Timotheus 2:4).

Hy sluit almal in in Sy uitnodinging vir redding. Maar die mens het vrye keuse en kan kies om Jesus, en dit wat Hy vir ons aan die kruis gedoen het, nie te aanvaar nie. So sluit hy homself dan uit uit die uitnodiging.

LEES OOK: DIE HERE RED – ‘N GEDAGTE VIR KERSFEES

DIE WêRELD MOET DIT WEET.

God is liefde en Hy het die wêreld liefgehad.

In Sy groot liefde stuur Hy Sy Seun om die wêreld te red. (Johannes 3:16-17)

Maar hoe kan die wêreld weet dat redding beskikbaar is as niemand vir die mense vertel nie?

God het vir ons as gelowiges die opdrag gegee om hierdie goeie nuus met almal te deel.

Kom ons neem elkeen vandag die besluit om hierdie opdrag ernstig op te neem.

Kom ons vra die Here om ons te gebruik as werkers om die oes in te bring.

En kom ons vertrou Hom dat Hy ons sal lei om met die regte mense op die regte tyd te praat en hulle van Jesus te vertel. Kom ons vertrou Hom ook om vir ons die regte woorde te gee om te sê.

Mag die Here elkeen van ons gebruik as instrument om Sy groot liefde vir ander te wys.

Neem die besluit en antwoord vandag nog met die woorde van Jesaja 6:8: “Toe het ek die Here hoor vra: ‘Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?’ Ek het geantwoord: ‘Hier is ek! Stuur my!'”

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *