
Ons is die afgelope sewe weke besig om te kyk na die Evangelie volgens Markus. Vandag gaan ons stilstaan by Markus 8.
Maar voor ons daarby kom, net gou ‘n opsomming van wat ons reeds in Markus gesien het.
MARKUS 1-7 – OORSIG.
Markus 1:1 vertel presies vir ons waaroor die boek gaan. Dit is die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God.
In Markus 1 lees ons van Johannes die Doper en sy bediening. Ons lees van Jesus se doop en hoe Sy bediening begin het. Ons sien dat Jesus, die Seun van God, mag het oor siekte en bose geeste.
In Markus 2 lees ons dat Jesus gekom het om sondaars te roep.
Hy preek dat die tyd aangebreek het, en dat die koninkryk van God naby gekom het. In die volgende hoofstukke lees ons verskeie gelykenisse wat Hy vertel het oor die Koninkryk. Die mense het dit nie verstaan nie, maar Jesus het alles vir Sy dissipels verduidelik.
Ons sien dat Jesus, die Seun van die mens, Here is oor die Sabbat. Hy het die mag om sondes te vergewe. Hy het ook mag oor die natuur en die dood.
In hoofstuk 3 lees ons dat Jesus 12 aangestel het om by Hom te bly sodat Hy hulle kon stuur om te preek. Hy gee hulle die mag om mense te genees en duiwels uit te dryf.
Hoofstuk 6 vertel onder andere hoe Jesus 5000 mans, buiten die vrouens en kinders, kos gee met net vyf broodjies en twee vissies.
In hoofstuk 7 lees ons die Fariseërs is ontsteld omdat die dissipels die oorgelewerde gebruike van die voorgeslagte ignoreer. Jesus konfronteer hulle egter, en sê dat hulle meer dink van hulle tradisies as van God se Woord. Hy verduidelik dat ‘n mens nie onrein word deur die dinge wat jou liggaam binnegaan nie. Nee, onreinheid kom uit die hart.
In hoofstuk 7 genees Jesus die dogter van ‘n Siro-Fenisiese vrou, wat ‘n heiden was. Dit wys Hy het gekom vir almal wat Hom nodig het – en dit is almal van ons!
JESUS GEE WEER ‘N SKARE KOS.
Noudat ons weer vinnig gekyk het na van die hoofpunte uit die eerste sewe hoofstukke, gaan ons kyk wat ons kan leer uit Markus 8.
Die eerste tien verse van die hoofstuk vertel vir ons hoe Jesus weer ‘n skare mense kos gee.
Hierdie keer is daar 4000 en Hy voed hulle almal met sewe broodjies en ‘n paar vissies.
Net soos in die geval van die 5000, kry almal genoeg en daar bly nog oor.
Dis interessant om daarop te let dat hierdie gebeurtenis plaasvind in die gebied van Dekapolis. Dit was ‘n gebied waar meerendeels heidene gewoon het. Dit beteken die 4000 was dalk almal heidene terwyl die 5000 tien teen een meeste Jode was.
Weereens sien ons dat Jesus gekom het vir almal. Dit maak nie saak wie ons is nie, ons kan na Hom toe kom. Hy wil ons voed met Homself – die Brood van die Lewe.
DIE FARISEëRS EN ‘N WONDERWERK UIT DIE HEMEL.
Nadat Jesus die skare huistoe gestuur het, vertrek Hy en die dissipels na die gebied Dalmanuta.
Dan lees ons, in Markus 8:11-13, dat daar Fariseërs was wat met Jesus begin redeneer het.
Om Hom op die proef te stel, vra hulle van Hom ‘n wonderteken uit die hemel.
Maar Jesus sug en sê dat daar beslis nie aan hierdie geslag ‘n teken gegee sal word nie.
Jy sien, God het klaar vir hulle ‘n wonderteken uit die hemel gegee. Die wonderteken het reg voor hulle gestaan, maar hulle het Hom gemis.
DIE SUURDEEG VAN DIE FARISEëRS EN HERODES.
Nadat Jesus die Fariseërs geantwoord het, vaar Hy en Sy dissipels na die oorkant van die see.
Op pad begin Jesus met hulle praat oor die suurdeeg van die Fariseërs en van Herodes.
Dit maak die dissipels behoud, want hulle het vergeet om brood saam te neem en het net een by hulle gehad, en hulle dink dis waaroor Hy praat.
Hulle is so gefokus op die feit dat hulle nie brood het nie, dat hulle heeltemal vergeet van die 5000 en die 4000 wat Jesus met net ‘n paar broodjies en vissies gevoed het.
Weereens verstaan die dissipels dinge nog nie so mooi nie.
Nou het ek vir jou ‘n vraag. Vergeet jy ook soms wat die Here vir jou gedoen het? Ons moet ‘n punt daarvan maak om gereeld te onthou wat die Here alles vir ons doen en gedoen het, en ons moet Hom daarvoor dank.
DIE SUURDEEG.
Goed, terug na Jesus se waarskuwing oor die suurdeeg.
Uit die gedeelte in Markus 8 is dit nie so maklik om agter te kom waarvan Jesus nou eintlik gepraat het nie.
As ons egter in Mattheus 16:5-12 gaan lees, dan sien ons die suurdeeg beteken die leer van die Fariseërs en Sadduseërs. Hulle het die Wet geken, maar het dinge baie krom en skeef gehad omdat hulle te verknog was aan hulle eie tradisies.
Daar is vandag steeds mense wat dinge verkondig wat nie die waarheid is nie. Daarom is dit baie belangrik dat ons alles wat ons hoor en lees meet aan God se Woord. As dit nie strook met die Woord nie, dan is dit nie die waarheid nie.

GENESING VAN DIE BLINDE MAN IN BETSAIDA.
In Betsaida aangekom, bring die mense dadelik ‘n blinde man na Jesus toe.
Jesus vat die man se hand en lei hom uit die dorp. Daar genees Hy hom en gee hom die opdrag om huis toe te gaan, maar nie by die dorp aan te gaan nie.
As jy deur Markus lees, sal jy sien dit is wat Jesus oral in die Joodse gebied gedoen het. Hy het heeltyd die mense verbied om te praat oor wat hulle gesien en gehoor het.
Die enigste persoon wat ‘n ander opdrag gekry het, was die besetene van Gerasa in die Dekapolis-gebied – die gebied van die heidene. Hy het die opdrag gekry om na sy mense toe te gaan en hulle te vertel wat die Here vir Hom gedoen het.
Ons as God se kinders het steeds die opdrag om uit te gaan en oor Hom te getuig. Ons moet ander van Hom vertel, sodat hulle ook kan glo en gered kan word.
DIE BELANGRIKSTE VRAAG.
In Markus 8:27-30 lees ons ‘n baie belangrike vraag wat Jesus Sy dissipels vra.
Hy vra, “Wie, sê die mense, is Ek?”
Die dissipels antwoord dat sommige dink Hy is Johannes die Doper. Ander dink weer Hy is Elia of dalk een van die profete.
Dan vra Jesus, “Maar julle, wie, sê julle, is Ek?” (Markus 8:29)
Petrus antwoord, “U is die Christus!”
In Mattheus 16 lees ons Jesus het hom geantwoord dat dit nie mense is wat dit aan hom geopenbaar het nie, maar die Vader self.
Elke mens op hierdie aarde moet hierdie belangrike vraag antwoord: wie, sê jy, is Jesus?
Die Vader is, deur die Heilige Gees, besig om in elke hart te werk om aan mense te openbaar wie Jesus is. Sommige gaan luister en glo en gered word. Ander gaan egter hardnekkig bly weier om te glo.
Kom ons bid dus vir diegene wat nog nie glo nie, dat hulle oë sal oopgaan. Kom ons bid dat hulle sal verstaan wie Jesus is, dat hulle sal glo Hy is die Christus, en dat hulle ook gered sal word.
JESUS KONDIG DIE EERSTE KEER SY DOOD AAN.
Na Petrus se belydenis, begin Jesus die dissipels leer oor Sy dood en opstanding.
Hy sê dat Hy baie gaan ly, dat Hy verwerp gaan word deur die Joodse leiers en dat Hy doodgemaak gaan word. Maar Hy gee hulle ook die versekering dat Hy na drie dae weer uit die dood gaan opstaan.
Petrus is egter nie oortuig nie. Hy vat Jesus eenkant toe en berispe Hom oor Sy woorde.
Maar Jesus draai Sy rug op Petrus en sê, “Moenie in My pad staan nie, Satan, want jy dink nie aan wat God wil hê nie maar aan wat die mense wil hê.”
Jy sien, Petrus het die duiwel se leuen geglo oor wat met Jesus sou gebeur. En daarom kon die duiwel hom gebruik om Jesus te probeer pootjie.
Jesus het egter dwarsdeur die duiwel se slinkse plan gesien.
Net soos die duiwel Petrus probeer gebruik het om God se planne met Jesus in die wiele te ry, is hy vandag ook besig om mense en omstandighede te gebruik om God se planne vir ons te probeer kelder.
God het ‘n plan vir elke mens se lewe. Hy wil elkeen op ‘n spesifieke manier gebruik om ander vir Hom te bereik. Die duiwel wil egter nie hê hierdie planne moet uitgevoer word nie, en daarom gebruik hy mense en omstandighede om ons oë van God se plan vir ons af te haal.
Ons moet dus wakker wees en bedag wees op sy bose planne. Ons moenie toelaat dat hy ons fokus steel nie. Mattheus 6:33 sê duidelik vir ons dat God se Koninkryk en Sy geregtigheid ons fokus moet wees. Daarom moet ons versigtig wees vir die duiwel se metodes, dat hy nie in ons pad staan en ons nie God se wil doen nie.
OM JESUS TE VOLG.
In die laaste gedeelte van Markus 8, lees ons dat Jesus die mense en Sy dissipels nader geroep het, en hulle geleer het wat ‘n persoon wat Hom wil volg, moet doen.
- Jy moet jouself verloën. Dit beteken jy skuif jou eie belange en begeertes opsy sodat jy ander se belange kan bevorder.
- Jy moet jou kruis opneem. Dit beteken jy gee jou aardes lewe op ter wille van die ewige lewe.
- Jy moet Jesus volg. Dit beteken jy volg Sy voorbeeld en doen wat jy Hom in die Woord sien doen. Jy gehoorsaam Sy bevele.
- Jy skaam jou nie vir Hom en Sy woorde nie. Dit beteken jy lewe voluit vir Hom, jy praat oor Hom en jy gee nie om dat ander weet jy volg Hom nie, selfs al word jy daaroor gekritiseer of daarvoor vervolg nie.
As gelowiges is ons volgelinge van Jesus. Maar hoe lyk ons lewens regtig? Doen ons die dinge wat Jesus van gepraat het?
Dink ‘n bietjie oor jou eie lewe.
Wie, sê jy, is Jesus?
En, as jy sê jy volg Hom, verloën jy jouself sodat jy goed kan wees vir ‘n ander? Gee jy jou lewe vir die evangelie en verkondig jy Jesus as Verlosser? En laastens, doen jy wat jy Jesus sien doen en wat Hy vir jou sê om te doen?
Mag elkeen van ons ‘n daadwerklike ‘JA’ op hierdie vrae kan antwoord!
