MARKUS 3: ‘N NUWE LEWE MET GOD

Markus 3 leer ons dat Jesus wonderwerke doen deur die krag van God se Gees. Ons sien dat ons oor Hom moet getuig, want ons is nou Sy familie.

Markus 3: 'n Nuwe lewe met God

Verlede week het ons gekyk na Markus 2.

Ons het gesien hoe die Farisieërs en skrifgeleerdes elke keer foutgevind het met wat Jesus gedoen het.

Maar telkens het Jesus hulle ‘n antwoord gegee wat, as hulle bietjie daaroor gedink het, hulle oë sou oopmaak vir wie Hy regtig was.

Ongelukkig het hulle nié daaroor gedink nie – inteendeel, Sy antwoorde het hulle net meer ontstel.

En dit het veroorsaak dat hulle nie besef het die Messias, op wie hulle al so lank gewag het, staan reg voor hulle nie.

Hulle het nooit agtergekom dat Jesus gekom het met ‘n nuwe boodskap van God nie. Dit het by hulle verbygegaan dat die oue verby was, dat die nuwe gekom het. Hulle het nooit besef hulle word ook genooi om deel te word van die nuwe, as hulle maar net in Jesus wou glo nie.

DIE MAN MET DIE GEBREKLIKE HAND.

Markus 3 begin met die verhaal van Jesus wat ‘n man met ‘n gebreklike hand genees.

Die man is op die sabbatdag in die sinagoge toe Jesus ook daar aankom.

Natuurlik sit die Fariseërs met groot afwagting en kyk om te sien wat Jesus gaan doen.

As Hy die man gesond maak, het hulle nog skietgoed om in hulle arsenaal te sit.

Jesus laat die man opstaan, en vra toe vir die Fariseërs wat die regte ding is om te doen. Moet ‘n mens op die sabbatdag goed doen of kwaad? Moet ‘n mens iemand red of hom doodmaak?

Die Fariseërs het goed geweet die antwoord was dat ‘n mens goed moet doen. Om die waarheid te sê, die Wet, wat hulle so getrou probeer nakom het, het vereis dat jy altyd goed doen en nie doodmaak nie. Maar, as hulle sou antwoord dat ‘n mens moet goed doen en iemand red, kon hulle mos nie vir Jesus aankla as Hy die man genees nie!

Toe kies hulle om liewer stil te bly.

Hulle harde harte het Jesus bedroef. Die Vader se wil is dat elke mens ‘n sagte hart het, wat ontvanklik is vir geloof en vir die Verlosser. Hy wil hê dat alle mense gered word en in deur Jesus ‘n verhouding met Hom staan.

Maar die keuse is ons s’n. Elke mens kies of hy hardnekkig gaan bly vasklou aan ‘n lewe sonder God, en of hy in geloof vir Jesus gaan aanneem en die lewe aanpak saam met Hom.

DIE MENSE STROOM NA JESUS TOE.

In die volgende gedeelte van Markus 3 lees ons van Jesus se gewildheid.

Van oral kom mense om Hom te sien.

Dit raak só erg, dat die dissipels vir Hom ‘n skuitjie moet reghou, sodat die mense Hom nie vertrap nie.

Mense stroom na Hom toe, want hulle weet dat hulle genees gaan word as hulle selfs net aan Hom raak.

Die laaste gedeelte van vers 8 staan hier vir my uit.

Daar staan: “…daar [het] baie mense na Hom toe gekom toe hulle hoor wat Hy alles doen.”

Die mense hoor wat Jesus doen en wil Hom sien en meer van Hom weet.

Jesus het vir ons opdrag gegee om oor Hom te getuig.

Wanneer ons vir ander vertel wat Hy alles in ons lewens doen, sal hulle ook meer van Hom wil weet en Hom graag wil leer ken.

Vertel jy nog vir mense wat Jesus alles vir jou doen? Praat jy oor Sy sorg en voorsiening, Sy beskerming en vertroosting? Weet ander dat jy Hom ken en ‘n pad saam met Hom stap?

Kom ons maak ‘n punt daarvan om elke dag vir ten minste een persoon iets te vertel van wat Jesus vir ons gedoen het.

AANSTELLING VAN DIE TWAALF APOSTELS.

Ons lees in Markus 3 ook van die aanstelling van die twaalf apostels.

Hierdie manne moes by Jesus bly sodat Hy hulle kon uitstuur om te preek.

Kan jy jou indink wat se wonderlike voorreg dit was om die hele tyd saam met Jesus te wees?

Hulle kon dinge sien wat ander dalk gemis het.

Hulle het dinge gehoor wat ander nie gehoor het nie.

En hulle kon vrae vra, en antwoorde kry, wat die skare nie kon doen nie.

Jy besef dit dalk nie, maar jy is in dieselfde bevoorregte posisie as die apostels.

Om die waarheid te sê, elke kind van God is in daardie bevoorregte posisie.

Deur die Heilige Gees woon Jesus in elkeen van ons.

Hy is altyd by ons en ons by Hom.

Ons kan ervarings en avonture saam met Hom hê.

Ons kan met vrymoedigheid vra wanneer ons wysheid nodig het of iets nie verstaan nie.

En ons kan Sy stem hoor wanneer Hy met ons praat.

LATERING TEEN DIE HEILIGE GEES.

In Markus 3:20-30 lees ons weer hoe die skrifgeleerdes ‘n probleem het met Jesus.

Hulle moes erken dat wat Hy gedoen het, nie van ‘n gewone mens af kom nie. Maar nou dink hulle dat hulle die antwoord het. Jesus is beslis van die duiwel besete!

Jesus het hulle egter ernstig aangespreek hieroor.

Hy verduidelik vir hulle dat die duiwel nie teen homself in opstand kan kom en steeds bly staan nie.

Dan verduidelik Hy ook dat, as ‘n mens dink die werk van God kom van die duiwel, word jy nie vergewe nie. En jy sal saam met daardie einste duiwel die ewigheid in die hel deurbring.

Nee, wat Jesus gedoen het, is deur die krag van God se Gees self gedoen!

MOEDER EN BROERS VAN JESUS.

Die skrifgeleerdes het gedink Jesus is van die duiwel besete.

Maar sy familie het weer gedink Hy het van Sy kop af geraak en gegaan om Hom te gaan haal (Markus 3:21).

In Markus 3:31-35 lees ons hoe hulle Hom kom soek het.

Die boodskap word aan Hom oorgedra dat hulle Hom soek, en dan sê Hy ‘n snaakse ding.

Hy vra: “Wie is My moeder en My broers?” (Markus 3:33).

Dan kyk Hy vir die mense wat in ‘n kring om Hom sit en sê, “Hier is My moeder en My broers! Elkeen wat die wil van God doen, is My broer en My suster en My moeder” (Vs.34).

Met hierdie woorde ontken Jesus nie Sy aardse familie nie. Nee, Hy dui net aan dat Sy geestelike familie van God die familie is waar Hy, en ons, nou tuishoort.

Hy het gekom om hierdie familie bymekaar te roep.

Elkeen wat in Hom glo, word deel van hierdie familie.

Dit sluit jou en my in, want ons is ook mos kinders van God!

WAT ONS GELEER HET.

In Markus 3 het ons geleer dat ons ‘n keuse het. Gaan ons harde harte hê en vasklou aan ‘n lewe sonder God, of gaan ons sagte harte hê wat glo in Jesus.

Ons het geleer dat ons moet praat oor wat Jesus alles in ons lewens doen, sodat ander dit kan hoor en Hom ook wil leer ken.

Verder het ons geleer dat ons net so bevoorreg is soos die apostels. Jesus is altyd by ons en ons by Hom. Ons kan enige tyd met enige iets tot Hom nader.

Dan het ons ook geleer dat ‘n mens nooit moet dink God se werk kom van die duiwel nie, want dit kan jou die ewigheid saam met God kos.

En laastens het ons geleer dat Jesus nou ‘n nuwe familie het. Hulle is ‘n geestelike familie en sluit almal in wat in Hom as Verlosser glo.

Volgende week kyk ons na Markus 4, waar Jesus sommer ‘n hele klomp gelykenisse vertel. Moenie dit misloop nie, want daar is baie om te leer!

Deel hierdie blad

1 comment

  1. Hi Risa ek ht Montana vir look met herding group on Dat ek niwe foon ht, en Allen Moe’s vendor.ek mis dit wat jy alkyd deal en ook Anderson hoop jy key my boodskp

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *