
Paasfees 2023 is verby. Maar hoewel ons net een keer ‘n jaar amptelik Paasfees vier, is dit belangrik dat ons elke dag onthou wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het. En nog belangriker is dat ons onthou Hy het ook weer uit die dood opgestaan. Vandag gaan ons ‘n bietjie kyk na Jesus se opstanding – interessante dinge daaromtrent en ook wat dit vir ons beteken. Ons gaan Lukas 24 as basis vir ons studie gebruik.
LUKAS 24:1.
Teen dagbreek, op die eerste dag van die week, het hulle na die graf gegaan met die geurige speserye wat hulle voorberei het.
VROUE BY DIE GRAF.
In die vers hierbo, uit die 2020-vertaling, lees ons dat ‘hulle’ na die graf gegaan het. In die ander vertalings, en ook later in dié gedeelte, sien ons dit was die vroue wat na die graf gegaan het.
Dit was die gebruik in daardie tyd om ‘n dooie se liggaam met die begrafnis te balsem. Vir die Jode het dit beteken dat hulle die liggaam met reukolie sou insmeer. Die doel daarvan was om reuk te verwyder en liefde te betoon.
Maar Jesus het kort voor sonsondergang op die Vrydag gesterf.
In die Ou Testament lees ons dat die Sabbat met sonsondergang op ‘n Vrydag begin het. Hou ook in gedagte dat Josef eers moes toestemming kry om Jesus se liggaam te begrawe.
Daar was dus nie tyd om Sy liggaam te balsem voor die Sabbat sou begin nie.
Dis dan waarom ons die vroue vroeg die Sondagoggend na die graf sien gaan.
LUKAS 24:2-9.
Hulle ontdek toe dat die klip van die graf weggerol was; en toe hulle ingaan, het hulle die Here Jesus se liggaam nie gekry nie. Hulle was verward hieroor, maar skielik het daar twee mans met glansende klere by hulle gestaan. Hulle was verskrik en het hulle gesigte na die grond toe gedraai, en die mans het vir hulle gesê: “Waarom soek julle die lewende by die dooies? Hy is nie hier nie, maar is opgewek! Onthou wat Hy vir julle gesê het toe Hy nog in Galilea was, ‘Die Seun van die Mens moet oorgelewer word in die hande van sondige mense, gekruisig word, en op die derde dag opstaan'” Hulle het toe sy woorde onthou en van die graf af teruggedraai, en al hierdie dinge aan die elf en al die ander gaan vertel.
JESUS LEEF!
Dit is ongelukkig so dat sommige mense ontken dat Jesus uit die dood opgestaan het.
Daar is diegene wat dink dat die stellings oor Jesus se opstanding bloot is omdat die eerste Christene geglo het in die verlossingskrag van die kruis.
Dan is daar weer andere wat dink dat die eerste dissipels in Jesus geglo het en bly glo het selfs na Hy dood is. En daarom is die uitsprake oor Sy opstanding ‘n voortsetting van dié geloof.
Maar Lukas teken vir ons ‘n ander prentjie.
Hy baseer sy vertelling oor Jesus se opstanding op ooggetuies, aan wie Jesus verskyn het, se verhale.
Daarom is die vraag wat die engele vir die vroue vra nogal belangrik. “Waarom soek julle die lewende by die dooies?”
Ons as gelowiges moet versigtig wees om nie so gefokus te wees op die kruis, dat ons Jesus se opstanding uit die oog verloor nie.
Ja, die kruisiging is belangrik, maar die opstanding soveel meer.
WAAROM DIE OPSTANDING BELANGRIK IS.
Daar is ‘n hele klomp redes waarom die opstanding belangrik is.
- Met die opstanding bevestig God dat Jesus Sy Seun is, wat met mag beklee is.
- Die opstanding verseker ons dat Jesus lewe en dat Hy oor Sy koninkryk heers.
- Die mag van God, wat Jesus uit die dood opgewek het, is ook vir ons as God se kinders beskikbaar. Dit help ons om in hierdie wêreld vir Hom te leef.
- Jesus het die dood oorwin. Daarom weet ons dat ons ook uit die dood sal opstaan en dat ons vir ewig by God sal woon.
- Die opstanding laat ons sin in die grootste tragedie sien. Daar is allerhande dinge wat kan gebeur terwyl ons die pad saam met God stap. Maar ten spyte daarvan het ons deur die opstanding hoop vir die toekoms.
Leer meer oor die gelykenisse wat Jesus vertel het deur die Gelykenisse Van Jesus Bybelstudie te gebruik. Die stappe wat jy in die studie volg, gaan jou ook leer hoe om self Bybelstudie te doen.

LUKAS 24:10-12.
Dit was Maria Magdalena en Johanna en Maria, die moeder van Jakobus, en ‘n paar ander vroue saam met hulle. Hulle het hierdie dinge aan die apostels vertel; maar vir die apostels het hierdie woorde na leë praatjies geklink, en hulle het die vroue nie geglo nie. Petrus egter het opgestaan en na die graf gehardloop. Toe hy vooroor buk, sien hy net die linnedoeke. En hy het teruggegaan huis toe, vol verwondering oor wat gebeur het.
DIE VROUE IN JESUS SE LEWE.
Dis interessant dat daar nie vroue onder Jesus se dissipels was nie. Maar daar was sommer baie wat Hom gevolg het.
Hy het vroue nie behandel soos die res van die mans van daardie tyd nie.
Jesus het hulle gesien as mense in eie reg, wat ook ‘n plek in God se plan het.
Ons lees in die gedeelte hierbo van ‘n paar van die vroue wat Jesus gevolg het.
Een was Maria Magdalena. In Lukas 8:2 lees ons dat Jesus sewe bose geeste uit haar uitgedryf het. Daarna het sy saam met Jesus gereis en bygedra om in die behoeftes van die groep te voorsien.
Sy was ook, volgens Markus se weergawe van die Evangelie, die eerste persoon aan wie Jesus verskyn het. Iemand skryf in ‘n kommentaar dat sy ‘n kinderlike geloof gehad het. Jesus het eer bewys aan dié geloof deur eerste aan haar te verskyn en die opstandingsboodskap aan haar toe te vertrou.
DIE FASES VAN GELOOF.
Nog iets wat interessant is oor Lukas 24:10-12, is dat ons die fases van geloof waardeur iemand kan gaan, hierin raaksien.
- Iemand wat die eerste keer van Jesus se opstanding hoor, kan dink dis nie waar nie. Dit kan moeilik wees om te glo dat so iets moontlik is.
- Later kan die persoon, soos Petrus, begin ondersoek instel. Hy kan die feite begin nagaan, maar steeds verstom wees oor dit wat gebeur het.
- As so ‘n persoon egter vir Jesus ontmoet, sal hy aanvaar dat Hy uit die dood opgestaan het.
- Wanneer so ‘n persoon homself volkome aan Jesus wy en vir Hom leef, sal hy die werklikheid van Sy teenwoordigheid in Sy lewe begin verstaan.
LUKAS 24:33-35.
Hulle het onmiddellik opgestaan en na Jerusalem teruggekeer, waar hulle die elf, en die ander saam met hulle, bymekaar gevind het. En hulle het gesê: “Die Here is werklik uit die dood opgewek en het aan Simon verskyn!” Hulle verduidelik toe wat op die pad gebeur het, en hoe Hy met die breek van die brood aan hulle bekend geword het.
JESUS EN PETRUS.
Nie een van die Evangelie-skrywers beskryf hoe Jesus aan Petrus verskyn het nie, maar ons lees hierbo dat dit gebeur het.
Paulus skryf ook daaroor in 1 Korinthiërs 15:5.
Voor Jesus se kruisiging was Petrus baie braaf en het gesê hy is bereid om saam met Jesus te sterf (Lukas 22:33).
Maar toe dinge begin warm raak, ontken hy drie keer dat hy vir Jesus ken. Jesus het hom gewaarsku dat dit gaan gebeur. Jy kan dink dat Petrus baie sleg gevoel het oor wat gebeur het.
Daarom was Jesus besorg oor hom en verskyn aan hom terwyl hy alleen is.
Maar dis nie al nie.
In Markus se weergawe van die Evangelie dat die engel vir die vroue gesê het om vir die dissipels, en in besonder vir Petrus, te gaan vertel Jesus hulle in Galilea sal ontmoet (Markus 16:7).
En in Johannes se weergawe lees ons dat Jesus drie keer vir Petrus vra of hy Hom liefhet en drie keer vir hom ‘n opdrag gee (Johannes 21:15-19).
Net soos Jesus vir Petrus vergewe het, na hy berou gekry het oor wat hy gedoen het, vergewe Hy ons ook wanneer ons berou het oor ons sonde.
LUKAS 24:36-43.
Terwyl hulle nog besig was om oor hierdie dinge te praat, staan Hy self tussen hulle en sê vir hulle: “Vrede vir julle!” Verskrik en beangs, het hulle gedink dat hulle ‘n gees sien. Maar Hy sê vir hulle: “Waarom is julle ontsteld, en waarom kom daar twyfel in julle harte op? Kyk na my hande en my voete, dit is Ek self! Vat aan my, en kyk – ‘n gees het nie vleis en bene soos julle sien dat Ek het nie.” Nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en voete. Omdat hulle dit van vreugde steeds nie kon glo nie en verbaas was, sê Hy vir hulle: “Het julle iets te ete hier?” En hulle het Hom ‘n stuk geroosterde vis gegee. Hy het dit geneem en dit voor hulle geëet.
VOORBEREIDING VIR HULLE TAAK.
Lukas het nie net die Lukas-Evangelie geskryf nie, maar ook Handelinge.
Daarin skryf hy dat Jesus vir 40 dae saam met die dissipels was voor Hy na die hemel opgevaar het.
In daardie tyd leer Hy hulle en berei hulle voor vir die taak wat vir hulle voorlê.
Net soos wat die dissipels ‘n taak gehad het wat voorgelê het, het ek en jy ook ‘n taak.
Jesus stuur die dissipels uit om ander van Hom te vertel en om dissipels van dié wat glo, te maak.
Ek en jy is ook gestuur om vir ander te vertel wie Jesus is en wat Hy in ons lewens beteken. En dan is dit ook ons taak om dissipels van diegene wat glo, te maak.
My gebed is dat Jesus elkeen van ons sal gebruik, soos Hy die dissipels gebruik het, om die goeie nuus van Sy dood en opstanding te verkondig. Want dit is alleen deur geloof in Hom, en wat Hy vir ons kom doen het, wat iemand gered kan word.
So, pak die taak met geesdrif aan. Onthou, Jesus is by jou om jou te help om ‘n goeie getuie vir Hom te wees!
