VRAE VIR JOU GEESTELIKE LEWE

Vrae vir jou geestelike lewe

Gebruik hierdie vrae (gratis PDF ingesluit) om te bepaal waar jy tans in jou geestelike lewe staan en watter geestelike doelwitte jy vir die volgende jaar moet stel.

Dis amper die einde van die jaar en baie mense is nou besig om doelwitte vir volgende jaar te stel. Voor ‘n mens egter kan besluit wat jy in die volgende jaar wil bereik, moet jy eers uitvind wat op dié stadium in jou lewe aangaan.

Een manier om dit te doen, is om stellings oor sekere areas van jou lewe te gebruik en jouself ‘n punt uit 5 te gee. Een beteken jy is nie waar jy graag wil wees nie. Vyf beteken jy is gelukkig met daardie deel van jou lewe en sou nie nou daaraan wil verander nie.

Die punte werk so: 1Nooit; 2Amper nooit; 3Soms; 4Gereeld; 5Gewoonlik.

Hieronder is ‘n klompie stellings oor verskillende gebiede van ‘n mens se geestelike lewe. Gebruik dit om te bepaal waar jy met elkeen daarvan staan. Dit sal jou help om te sien waar jy groei nodig het, sodat jy ‘n plan kan maak om volgende jaar daaraan te werk. Jy kan ook die stellings aflaai sodat jy rustig in jou stiltetyd daardeur kan werk.

GEESTELIKE GESONDHEID.

Hierdie vyf stellings gaan jou help om te sien hoe gesond jou geestelike lewe oor die algemeen is. Onthou om jouself ‘n punt uit 5 te gee – 1 = verandering nodig; 5 = baie tevrede.

  1. Ek het ‘n diep begeerte om meer soos Jesus te word.
  2. Die liefde van Christus beheer my. Sy liefde is die motief agter alles wat ek doen.
  3. Ek hoor die stem van die Heilige Gees wanneer Hy met my praat.
  4. Wanneer die Heilige Gees my oortuig dat ek iets verkeerd gedoen het, bely ek dit dadelik en werk saam met Hom om te verander.
  5. Ek is besig om te groei in die vrug van die Gees en sien meer daarvan in my lewe as verlede jaar die tyd.

TYD IN DIE BYBEL.

Tyd in God se Woord is van groot belang in ‘n mens se lewe. Die Bybel is voedsel vir ons gees. Uit die Bybel leer ons vir God ken. Ons leer ook wie ons is voor ons vir Jesus leer ken en dan wie ons is na ons Hom in geloof aangeneem het. En natuurlik leer die Bybel ons hoe ons ons lewens moet leef noudat ons kinders van God is. Gee jouself weereens ‘n punt uit 5 vir elkeen van die stellings.

  1. Ek lees, studeer en luister gereeld na die Woord van God.
  2. Ek weet hoe om oor God se Woord na te dink. Dis deel van my stiltetyd elke dag.
  3. Wanneer ek wysheid en leiding in my lewe nodig het, gaan kyk ek eerste wat die Bybel oor die situasie sê.
  4. Ek streef daarna om self die Woord van God te verstaan sonder om hoofsaaklik op ander staat te maak om my daarmee te help.
  5. Ek gaan gereeld kerk toe en word daar die Woord van God geleer.

MY GEBEDSLEWE.

Tyd in die Bybel is nie al wat belangrik is nie. Om gereeld met God te praat in gebed is net so belangrik. In gebed stort ons ons harte voor God uit. Ons vertel vir Hom wat ons pla en vra vir Hom vir die dinge wat ons nodig het. In gebed erken ons wanneer ons sonde gedoen het en ontvang vergifnis daarvoor. Ons word ook in gebed stil by die Here en luister sodat Hy deur die Heilige Gees met ons kan praat.

  1. Ek weet dat ek gebed nodig het en bid dus elke dag.
  2. Ek glo God hoor en antwoord my wanneer ek bid.
  3. Om vir ander te bid vorm deel van my gebedslewe elke dag.
  4. Om God te aanbid vir wie Hy is en om Hom te loof en prys vir alles wat Hy vir my doen en gee vorm deel van my daaglikse gebede.
  5. Ek het ‘n begeerte om meer oor gebed te leer, sodat ek my gebedslewe kan verbeter.

DIE HOU VAN ‘N GEESTELIKE JOERNAAL.

Nie alle mense hou van skryf nie, maar om ‘n geeselike joernaal te hou kan van groot waarde wees. In so ‘n joernaal skryf jy onder andere neer wat God jou leer wanneer jy tyd met Hom spandeer. Dis ook die plek waar jy ‘n lys kan maak van dinge waarvoor jy dankbaar is of vir mense en dinge waarvoor jy wil bid.

  1. Ek gebruik ‘n joernaal om neer te skryf wat God my leer deur Sy Woord en in gebed.
  2. My joernaal is die manier waarop ek die Heilige Gees toelaat om alles wat in my hart aangaan, vir my uit te wys.
  3. Ek gebruik my joernaal om na te dink oor die lewe en om boek te hou van God se getrouheid in my lewe.
  4. My joernale is ‘n manier om God se werk in my lewe raak te sien en te vier en om my in my geloof te versterk.
  5. Ek hou boek van my geestelike doelwitte en ook hoe ek daarmee vorder.

RUS EN STILTE.

Die lewe is ongelukkig een groot gejaag. En dis asof dit elke jaar net erger word. Daarom is dit belangrik dat ‘n mens tyd maak om stil te wees en te rus. Hoe lyk jou lewe wanneer dit by rus en stilte kom? Gee jouself weereens ‘n punt uit 5 vir elkeen van die stellings hieronder.

  1. Ek glo God leer ons in Sy Woord dat Hy ons geskep het om gereeld te rus.
  2. Jesus het die voorbeeld gestel dat ons tyd opsy moet sit om alleen tot God te nader. Ek maak ‘n punt daarvan om Sy voorbeeld te volg.
  3. Jesaja 30:15 sê in kalmte en vertroue lê my krag. Ek glo dit en daarom spandeer ek gereeld tyd deur te rus.
  4. Ek maak ‘n punt daarvan om gereeld stil te wees voor en by God en net Sy Teenwoordigheid te ervaar.
  5. Ek weet dat ek geneig is om in beheer van alles te wil wees. Deur stil te word en te rus wys ek dat ek op God vertrou eerder as op myself.

RENTMEESTERSKAP.

God is baie goed vir ons en seën ons in oorvloed. Hy doen dit sodat ons genoeg het vir ons eie behoeftes, maar ook sodat ons in ander se behoeftes kan voorsien. God seën ons egter nie net met fisiese dinge nie, maar ook met tyd, met gawes en talente en met invloed. Hy verwag dan ook van ons dat ons goeie rentmeesters daarvan sal wees en dit gebruik om Sy plan vir ons lewens uit te leef.

  1. Ek weet wat my geestelike gawes is en ek gebruik hulle gereeld.
  2. Tyd is kosbaar en daarom lê ek wysheid en dissipline aan die dag oor hoe ek my tyd spandeer.
  3. Ek verstaan wat God se doel en plan met my lewe is en ek werk elke dag saam met Hom om dit te vervul.
  4. God het vir my geld, tyd, gesondheid, familie en vriende, wysheid, besittings, invloed, ensovoorts gegee. Ek glo dat ek ‘n goeie rentmeester daarvan moet wees.
  5. Ek ondersteun my plaaslike kerk, asook ander bedieninge gereeld met die finasies wat God vir my gegee het.

EVANGELISASIE.

In die laaste hoofstuk van Mattheus lees ons Jesus se opdrag aan die dissipels. Hy sê: “Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees, en hulle te leer om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd” (Mattheus 28:19-20). Hierdie opdrag was nie net vir die dissipels nie, maar ook vir ons. Om vir ander van Jesus te vertel is een van die groot voorregte wat ons in die lewe het. Onthou, as niemand ‘n ongelowige van Jesus vertel nie, hoe gaan hy ooit van Hom hoor sodat hy kan glo en gered word?

  1. Ek weet hoe om my geloof met ander te deel en hulle van Jesus te vertel.
  2. Dis vir my belangrik om ander van Jesus te vertel en daarom bid ek gereeld vir geleenthede om dit te doen.
  3. Ek bid vir mense in my lewe wat nie vir Jesus ken nie, en ook vir ongelowiges in die res van die wêreld.
  4. Sendingwerk lê my na aan die hart en ek ondersteun sendelinge en ander organisasies wat die Woord verkondig.
  5. Ek gebruik die gawes en talente wat God my gegee het om ander van Jesus te leer.

GEESTELIKE DOELWITTE VIR DIE NUWE JAAR.

Jy het jouself nou ‘n punt uit 5 gegee vir elkeen van die stellings hierbo. Tel nou die punte in elke afdeling bymekaar en skryf dit neer. Dit sal jou ‘n duidelike prentjie gee van waar jy groei nodig het.

Nou kan jy begin om ‘n plan van aksie saam te stel om jou te help om in die nuwe jaar te groei in die gebiede waar groei nodig is.

Onthou om die Here te vra om jou daarmee te help. Hy weet presies wat jy moet doen om in elke gebied te groei.

Skryf neer wat Hy jou wys. Gaan dan en wees ‘n doener van wat God vir jou gesê het!

Deel hierdie blad

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *