
Kersfees is om die draai. Dis ‘n tyd waartydens mense geskenke en kerskaartjies vir mekaar gee. Op baie kerskaartjies van die kerskaartjies is die toneel van die skaapwagters en die engele. Die skaapwagters was van die eerste mense wat gehoor het dat die Messias gebore is. Ons lees hulle verhaal in Lukas 2:8-20.
Kom ons kyk vers-vir-vers daarna en kyk wat ons alles daaruit kan leer.
SKAAPWAGTERS EN GOD SE BOODSKAP.
Lukas 2:8: “Daar was skaapwagters in dieselfde omgewing wat in die oop veld gebly en snags hulle skaaptroppe opgepas het.”
Uit hierdie vers sien ons dat die skaapwagters in die Betlehem-omgewing was. Net soos Dawid voor hulle, pas hulle hulle skape in die oop veld op.
Skaapwagters was nie juis gesiene mense nie, daarom verwag ‘n mens nie regtig dat God eerste na hulle sou kom om te vertel dat die Messias gebore is nie.
Maar God kies nie die belangrikste en mees gesiene mense en dinge om Hom bekend te maak nie. Dwarsdeur die Bybel sien ons hoe Hy gewone mense en gewone dinge gebruik om Sy boodskap oor te dra en Hom aan mense bekend te maak.
Ek en jy is gewone mense, wat God ook kan en wil gebruik. Al wat ons moet doen is om te luister wat Hy vir ons sê en dan Sy opdragte uit te voer. Op dié manier sal Hy ons altyd kan gebruik om op een of ander manier Sy wil uit te voer en Hom bekend te maak.
MOENIE BANG WEES NIE.
Lukas 2:9-10: “‘n Engel van die Here het aan hulle verskyn, en die hemelse glans van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het geweldig groot geskrik. Toe sê die engel vir hulle: ‘Moenie bang wees nie. Kyk, ek bring vir julle ‘n goeie boodskap wat vir die hele volk ‘n bron van groot vreugde sal wees…”
‘n Mens kan jou net indink dat die skaapwagters baie bang was toe die engel skielik aan hulle verskyn. ‘n Besoeker van God af was verseker nie iets wat hulle daardie nag verwag het nie.
Maar dan sê die engel vir hulle woorde wat ons sommer baie kere in die Bybel lees.
Daar is baie dinge waarvoor mense bang is. Soms is ons bang vir dinge wat ons regtig kan skade doen. Ander kere is ons vrese eintlik bietjie ongegrond. Maar dit maak nie eintlik saak waarvoor ons bang is nie, God sê steeds vir ons daardie woorde.
Moenie bang wees nie.
As God se kinders hoef ons regtig nooit bang te wees nie. Hy is altyd by ons en hou ons veilig toegevou in Sy hand. Selfs al gebeur daar dinge wat ons liggaamlik skade kan aandoen, weet ons dat ons gees – die ware deel van ons – altyd beskerm word deur God. Niks kan ons gees leed aandoen nie, want God hou ons veilig.
DIE BELOOFDE VERLOSSER.
Lukas 2:11: “Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid as Verlosser gebore, Christus die Here.”
Deur die eeue heen het God deur Sy profete belowe dat Hy ‘n Verlosser sou stuur. Van hierdie Verlosser sou die volgende waar wees:
- Hy sou uit die nageslag van Dawid wees.
Jeremia 23:5: “Kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die Here, “wanneer Ek vir Dawid ‘n regverdige loot sal laat opkom. Hy sal as koning regeer en verstandig optree; hy sal in die land reg en geregtigheid handhaaf.”
- Hy sou in Betlehem, die stad van Dawid, gebore word.
Miga 5:1: “Maar jy, Betlehem-Efrata, al is jy gering in die streke van Juda, uit jou sal daar vir My iemand kom om ‘n heerser te wees in Israel. Sy oorsprong is uit die verre verlede, uit die dae van weleer.”
- Hy sou die Gesalfde van God wees. (Christus is die Griekse woord vir Messias. Altwee hierdie woorde beteken, ‘Die gesalfde een’.)
Jesaja 61:1: “Die Gees van my Heer, die Here is op my, omdat die Here my gesalf het. Hy het my gestuur om ‘n goeie boodskap te bring aan magteloses, om dié met gebroke harte se wonde te verbind, om dié wat weggevoer is se vrylating aan te kondig en bevryding vir dié wat geboei is…”
DIE TEKEN.
Lukas 2:12: “Dit sal vir julle die teken wees: Julle sal ‘n pasgebore kind vind wat in doeke toegedraai is en in ‘n krip lê.'”
God het baie keer vir mense tekens gegee.
In die Ou Testament was tekens byvoorbeeld gebruik om mense te waarsku, goddelike oordeel te voltrek, mense te bevry (dink aan die uittog uit Egipte) of om heilige dae en tye aan te toon.
Elke verbond het sekere tekens gehad wat daarmee gepaard gegaan het. Dink maar aan die besnydenis, wat ‘n teken van die Ou Verbond was. Of die reënboog, wat die teken is dat God nooit weer die aarde met water sal verdelg nie.
Tekens se doel is om mense se fokus terug te bring na God toe.
Jesus is dan ook die Teken van alle tekens.
God se oordeel oor sonde val op Hom wanneer Hy aan die kruis sterf.
Deur Hom het elke mens, wat dit in geloof aanvaar, die geleentheid om van sonde, die dood en die ewige oordeel verlos te word.
In Hom word elke belofte van die Ou Verbond nagekom. Hy is dan ook die teken van die Nuwe Verbond.
En Sy dood en opstanding is die teken dat Sy boodskap die waarheid is en vertrou kan word.

‘N LOFLIED AAN GOD.
Lukas 2:13-14: “Skielik was daar saam met die engel ‘n hemelse menigte wat God loof: ‘Eer aan God in die hoogste, en vrede op aarde vir die mense in wie God ‘n welbehae het!'”
Die engel wat die boodskap aan die skaapwagters bring, is nie die enigste hemelse wese wat hulle daardie nag besoek nie.
Na hy die goeie nuus vir hulle vertel het, is daar skielik ‘n menigte ander engele saam met hom wat God loof.
Net soos hierdie engelekoor God loof en prys vir wat Hy op daardie stadium besig was om te doen, moet ons God ook loof en prys vir wat Hy in ons lewens doen.
Om die waarheid te sê, ons moet Hom loof nog voor ons kan sien dat iets in ons lewens gebeur of verander.
Dis wat die engele gedoen het.
Daar was nog nie vrede tussen God en die mens nie. Dít sou eers ‘n werklikheid word toe Jesus sterf en uit die dood opstaan.
Maar die engele het geweet wat gaan kom, en daarom loof hulle God nou al daarvoor.
Ek en jy moet dieselfde doen. Ons moet God loof terwyl ons nog nie sien hoe Sy beloftes waar word in ons lewens nie. Hoekom? Want ons weet Hy is getrou en dat Hy elke belofte wat Hy maak, nakom. Daarom kan ons Hom loof nog voor ons iets sien gebeur.
GAAN HAASTIG.
Lukas 2:15-16: “Nadat die engele van hulle af na die hemel weggegaan het, sê die skaapwagters toe vir mekaar: ‘Kom ons gaan reguit na Betlehem en gaan kyk na wat gebeur het en wat die Here aan ons bekend gemaak het.’ Hulle het toe haastig daarheen vertrek en Maria en Josef en die Kindjie wat in die krip lê, daar aangetref.”
Na die skaapwagters die goeie nuus gehoor het, laat hulle nie op hulle wag nie. Hulle vertrek dadelik om te gaan kyk na die Kindjie van wie hulle gehoor het.
Net so moet ek en jy ook haastig gaan wanneer die Here ons ‘n opdrag gee.
Daar is ‘n spreekwoord wat lui: Van uitstel kom afstel. Dis ongelukkig wat ons soms met God se opdragte doen.
Ons doen nie dadelik wat Hy vir ons sê nie. Met verloop van tyd vergeet ons wat Hy gesê het en op die ou end doen ons dit glad nie.
Kom ons maak dus ‘n punt daarvan om nie uit te stel, en dan naderhand af te stel nie. Kom ons doen wat God vir ons sê die oomblik wat Hy dit vir ons sê.
Onthou, as jy net ‘n hoorder van die woord is en nie ‘n doener ook nie, dan bedrieg jy jouself.
VERTEL DIE GOEIE NUUS.
Lukas 2:17-18: “Nadat hulle Hom gesien het, het hulle aan almal gaan vertel wat oor hierdie Kindjie aan hulle gesê is. Almal wat hiervan gehoor het, was verwonderd oor wat die skaapwagters aan hulle vertel het…”
Die skaapwagters gaan kyk na die Kindjie. Maar hulle hou nie die goeie nuus oor Hom vir hulleself nie. Nee, na hulle Hom gesien het, gaan vertel hulle vir almal wat oor Hom aan hulle gesê is.
In Mattheus 28:19-20 lees ons dié opdrag aan die dissipels, en ook aan ons: “Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees, en hulle te leer om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd.”
Die skaapwagters vertel dadelik vir almal die goeie nuus oor die Kindjie. Ek en jy moet ook Jesus se opdrag uitvoer en die goeie nuus oor Hom met ander deel.
En ons moet onthou dat ons dit nooit alleen of in eie krag doen nie. Die Heilige Gees is by ons en in ons en sal ons altyd help wanneer ons vir ander van Jesus vertel.
DINK DAAROOR.
Lukas 2:19: “…maar Maria het al hierdie woorde gekoester en in haar hart daaroor bly nadink.”
Die skaapwagters het vir almal vertel wat daar oor die Kindjie vir hulle gesê. Maria koester egter die woorde en oordink dit in hart.
‘n Mens koester gewoonlik iets wat vir jou kosbaar is. Die woorde wat Maria oor haar Kindjie gehoor het, was dus vir haar kosbaar en sy bly daaroor nadink.
God se Woord is een van die kosbaarste dinge wat ons het. Net soos Maria die woorde oor Jesus gekoester het, moet ons ook God se Woord koester. Ons moet dit in ons harte bêre deur dit te lees, te hoor en te studeer. Dan moet ons, soos Maria, daaroor nadink.
Wanneer jy oor God se Woord nadink, vra die Heilige Gees om dit vir jou oop te breek en jou te help om dit beter te verstaan. Hoe meer jy oor ‘n gedeelte nadink, hoe meer gaan jy daaruit kry.
VERHEERLIK GOD EN PRYS HOM.
Lukas 2:20: “Die skaapwagters het teruggekeer, terwyl hulle God verheerlik en prys oor alles wat hulle gehoor en gesien het – presies soos dit aan hulle meegedeel is.”
Laastens lees ons dat die skaapwagters God verheerlik en Hom geprys het oor alles wat hulle gehoor en gesien het. Ek is seker hulle harte het oorgeloop van dankbaarheid oor al die dinge.
Weereens is hulle vir ons ‘n voorbeeld.
God is altyd besig om een of ander wonderlike ding in ons lewens te doen. Ons sien dit dalk nie altyd raak nie, maar dit beteken nie dis nie waar nie.
Wanneer ons God se hand in ons lewens sien, moet ons Hom ook verheerlik en prys. Ons moet erken dat alle goeie gawes van Hom af kom. Ons moet Hom verheerlik en prys vir wie Hy is en Hom dank vir alles wat Hy in ons lewens doen.
En natuurlik moet ons vir Hom dankie sê vir Jesus. Sonder Hom sou ons nog dood gewees het in ons sondes en oortredings. Ons sou ver van God gewees het en sou nie ‘n verhouding met Hom kon hê nie. Daar sou nie vrede tussen God en ons gewees het nie en ons sou vir altyd van Hom geskei gewees het.
Maar Jesus het gekom en alles verander. Deur geloof in Hom is ons God se kinders. Ons kan met vrymoedigheid na Hom toe gaan en ‘n lewende verhouding met Hom hê. Ons kan verseker weet dat ons sondes vergewe is en dat daar geen veroordeling vir ons is nie. En ons kan God vertrou om alles vir ons ten goede te laat meewerk, omdat ons Hom liethet en volgens Sy voorneme geroep is!
