‘N KORT BYBELSTUDIE-METODE – 4 STAPPE

'n Kort Bybelstudie-metode - 4 stappe

Hier by Bybel En Gebed gesels ons elke nou en dan oor ‘n Bybelstudie-metode wat jy kan probeer wanneer jy Bybelstudie doen. Vandag gaan ons weer oor so ‘n metode gesels. Hierdie is ‘n kort Bybelstudie-metode – net vier stappe – en die doel is om jou te help om God beter te leer ken en om waarhede uit die Woord te ontdek.

Hierdie studiemetode is veral ‘n goeie idee wanneer jy ‘n Bybelverhaal wil studeer. Maar jy kan dit ook gebruik wanneer jy ander gedeeltes in die Bybel studeer.

STAP 1: GEBRUIK JOU VERBEELDING.

Die eerste stap in hierdie kort Bybelstudie-metode is om jouself in die storie wat jy lees, te sien.

Kom ons neem die gedeelte oor die vermeerdering van die brood en vissies as ‘n voorbeeld.

Verbeel jou jy is een van die dissipels. Wat sien jy? Wat hoor jy?

Jy hoor hoe Jesus sê julle moet vir die mense kos gee. Wat dink jy oor Sy woorde? Het jy ‘n oplossing vir die probleem?

Verbeel jou nou jy is die dissipel wat die seuntjie met die vyf broodjies en twee vissies raaksien. Wat dink jy wanneer jy die paar broodjies en vissies sien?

Sien hoe jy die broodjies en vissies vir Jesus vat. Wat dink jy wanneer Hy sê julle moet die mense in groepe laat sit? Wat dink jy gaan Hy doen?

Sien nou hoe Jesus die Vader dank vir die kos en dit begin breek en vir julle uitdeel. Wat is jou gevoel oor die wonderwerk wat voor jou oê gebeur?

Doen ‘n bietjie navorsing oor die gedeelte wat jy studeer, as jy sukkel om jouself in die storie te sien.

Wie het die gedeelte waaroor jy Bybelstudie doen, geskryf? Vir wie het hy dit geskryf? Watter ervaringe het daardie mense gehad?

Jy kan sommer net in jou verbeelding jouself in die storie sien. Jy kan ook die verskillende dinge wat jy ‘sien’ neerskryf.

STAP 2: DIE HOOFTEMA VAN DIE GEDEELTE.

Die volgende stap is om uit te vind wat die hooftema van die gedeelte is.

Dit wat oor en oor herhaal word, is gewoonlik die hooftema of waarheid in die gedeelte. Dit kan ‘n woord, woorde of ‘n frase wees.

In Johannes 6:22-59, byvoorbeeld, is die hooftema die waarheid dat Jesus die Brood van die lewe is.

Wat doen brood vir ons?

Dit stil ons honger. Dit hou ons aan die lewe.

Ons leer dus onder andere dat Jesus ons geestelike honger stil. Dis Hy wat vir ons lewe gee en wat ons geestelik en fisies aan die lewe hou.

Lees die gedeelte wat jy studeer ‘n paar keer deur en skryf neer wat jy raaksien wat oor en oor herhaal word. Skryf ook neer wat jy daaruit leer.

STAP 3: WAT LEER JY OOR GOD?

Anders as wat baie van ons dink, is die Bybel nie ‘n boek oor die mens nie. Nee, dis ‘n boek oor God. Daarom moet ons altyd op die uitkyk wees vir dinge wat ons meer oor Hom leer.

Die derde stap van hierdie kort Bybelstudie-metode is om neer te skryf wat die gedeelte jou oor God leer.

Watter karaktereienskap of -eienskappe van Hom staan uit in die gedeelte?

Word een van Sy Name in die gedeelte genoem? Wat beteken daardie Naam? Hoekom is dit belangrik? Wat leer dit jou oor God?

Kyk ook of daar iets genoem word wat God doen.

God is wie die Bybel sê Hy is en Hy doen wat die Bybel sê Hy doen. Sit dus jou eie idees van hoe jy dink God is of wat jy dink Hy doen eenkant en leer uit die Bybel wie Hy regtig is en wat Hy regtig doen. Jy gaan dalk agterkom dat jy heeltemal ‘n verkeerde idee oor God het!

Onthou ook dat Jesus die ewebeeld van God se wese is. Dit beteken as jy na Jesus in die Evangelies kyk en sien hoe Hy optree, dan is dit presies soos die Vader optree. Wanneer jy dus meer oor Jesus leer, leer jy ook wie God is en wat Hy doen.

STAP 4: WORD MEER SOOS JESUS.

Die laaste stap van hierdie kort Bybelstudie-metode is om dit wat jy geleer het, in jou lewe toe te pas.

Dit help nie om Bybelstudie te doen en dan nie toe te pas wat jy leer nie. Ons moet doeners van die Woord wees en nie net hoorders nie (Jakobus 1:22-25).

Skryf dus neer hoe jy dit wat jy uit die gedeelte geleer het, in jou lewe kan toepas. Vra die Here om jou te help om die toepassing raak te sien. Ons is almal verskillende mense met verskillende omstandigehede. Daarom gaan ons nie almal dit wat ons uit ‘n gedeelte leer, op dieselfde manier toepas nie.

Na jy jou toepassing neergeskryf het, vra die Here om jou te help om uit te gaan en te doen wat jy geleer het.

In Romeine 8:29 lees ons dis God se wil vir ons om soos Jesus te lyk. Ons kan dus met vrymoedigheid vra dat Hy ons verander en ons help om alles wat ons in die Bybel leer, uit te leef, want dis Sy wil vir ons.

NOG STUDIEMETODES.

Hierdie is ‘n kort Bybelstudie-metode wat jy kan gebruik wanneer jy volgende keer Bybelstudie doen.

Hier is nog ‘n paar wat jy kan probeer:

DIE SWAARD BYBELSTUDIE-METODE

DIE VERS-VIR-VERS BYBELSTUDIE-METODE

HOE OM ‘N WOORDSTUDIE TE DOEN

HOE OM ‘N TEMA-BYBELSTUDIE TE DOEN

DIE S.O.A.P.-METODE – IDEAAL VIR JOU STILTETYD

Of vul jou inligting hieronder in en laai die gratis Bybelstudie-metode e-boek af. Dan het jy dit sommer byderhand wanneer jy volgende keer na ‘n oulike of nuwe Bybelstudie-metode soek.

Deel hierdie blad

4 comments

    1. Hallo Mitch. Ons doen so elke twee maande ‘n gratis Bybelstudie in ons nuusbrief. Al die vorige studies wat ons gedoen het, is ook op die blad beskikbaar vir diegene wat die nuusbrief ontvang. So, teken in vir die nuusbrief sodat jy ook die gratis studies kan ontvang. O ja, ons volgende studie sal eers weer in Oktober wees, maar die inligting wat ek in elke nuusbrief deel, kan verseker nou al vir jou van waarde wees.

    1. Elizabeth, vul net jou inligting in een van die vorms in en die skakel na die boek sal vir jou gestuur word.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *