
Daar is allerhande interessante maniere wat jy kan gebruik wanneer jy Bybelstudie doen. Sommige van dié maniere is eenvoudig en enige beginner kan dit gebruik. Ander is ‘n bietjie moeiliker, maar daar is soveel wat jy kan leer wanneer jy een van dié metodes gebruik.
‘n Woordstudie is een van die meer gekompliseerde Bybelstudie-metodes.
So, as jy lus is om dieper in die Woord te delf en iets moeilikers aan te pak, dan is hierdie dalk net die ding vir jou!
WAT IS ‘N WOORDSTUDIE?
Wanneer jy ‘n woordstudie doen, kyk jy na die oorsprong en definisie van ‘n woord. Jy kyk waar dit in die Bybel gebruik word en ook hoe dit gebruik word.
Die doel van ‘n woordstudie is om uit te vind presies wat die skrywer nou eintlik bedoel het toe hy daardie spesifieke woord, in daardie konteks, gebruik het.
HOEKOM DOEN ONS WOORDSTUDIES?
Dit is nou maar eenmaal so dat vertalers soms sukkel om die rykdom wat in ‘n Griekse of Hebreeuse woord vervat is, met net een Afrikaanse of Engelse (of watter ander taal ookal) woord te vertaal.
Daarom is dit ‘n goeie idee om van tyd tot tyd ‘n woordstudie te doen wanneer jy ‘n gedeelte in die Bybel studeer.
Die woordstudie help jou om uit te vind wat die volle betekenis van die woord is.
Dis interessant dat, toe die Bybel oorspronklik in Engels vertaal is, daar omtrent 6 000 verskillende woorde gebruik is. Maar in die oorspronklike tale is daar 11 280 verskillende woorde gebruik.
Hoe pas ‘n mens 11 000 verskillende woorde in net 6 000 in?
Deur meer as een oorspronklike woord met net een Engelse woord te vertaal.
BELANGRIK OM TE ONTHOU.
Wanneer ons ‘n woordstudie doen, is daar twee belangrike dinge wat ons moet onthou.
Die eerste ding wat jy moet onthou is dat jou woordstudie op die oorspronklike taal gebaseer moet wees, nie op Afrikaans of Engels nie.
Die tweede ding is dat konteks belangrik is. Konteks verduidelik altyd vir jou presies wat die eintlike betekenis is van die woord wat jy studeer.
WAT JY GAAN NODIG Hê.
Om ‘n woordstudie te doen, het ‘n mens ‘n hele paar verskillende hulpmiddele nodig.
Sommige van dié hulpmiddele kan jy aanlyn in Engels kry. So, as jy nie omgee om in Engels te werk nie, kan jy dit gebruik.
Jy gaan die volgende nodig hê:
‘n Studie-Bybel.
‘n Paar verskillende vertalings. Hier gaan dit help om ‘n paar Engelse vertalings ook te gebruik. Verskillende vertalings help jou sien watter woorde die verskillende vertalers gebruik het om ‘n oorspronklike woord te vertaal. (Moenie parafrases gebruik nie.) As jy nie Engelse vertalings het nie, kan jy na BibleGateway webblad gaan. Aan die bokant van die blad kan jy kies watter Engelse vertaling jy wil lees.
Jy gaan ook ‘n volledige konkordansie nodig hê. Die Strong’s Exhaustive Concordance is een wat jy aanlyn kan gebruik.
‘n Bybelwoordeboek en/of ensiklopedie sal ook van hulp wees.
Dan gaan jy ook ‘n gewone woordeboek nodig hê. En as jy ‘n boek met woordstudies, waar iemand anders reeds die grootste werk gedoen het, het, sal dit ook van waarde wees.
HOE OM DIE WOORDSTUDIE TE DOEN.
Nou kom ons by die lekker deel!
Daar is agt stappe wat jy gaan gebruik om jou woordstudie te doen.
STAP 1: KIES JOU WOORD.
Daar is dalk woorde wat jy voorheen raakgeloop het toe jy Bybelstudie gedoen of Bybel gelees het, wat jou laat wonder het.
Gebruik een van daardie woorde om ‘n woordstudie oor te doen.
Of kies vir jou ‘n woord wat interessant lyk en doen jou woordstudie daaroor.
STAP 2: SKRYF DIE BETEKENIS NEER.
‘n Mens dink altyd jy weet wat ‘n woord in Engels of Afrikaans beteken. Maar as jy die woord naslaan, kom jy agter jy het die kat aan die stert beet! Of jy kom agter jy het net ‘n halwe waarheid beet.
Daarom is die tweede stap om jou verklarende woordeboek van die rak af te haal en te kyk wat jou woord in Afrikaans en/of in Engels beteken.
Skryf ook die definisie van enige sinomiene en antonieme neer.
STAP 3: VERGELYK DIE VERSKILLENDE VERTALINGS.
Lees die gedeeltes waarin jou woord voorkom in ‘n paar verskillende vertalings.
Skryf die verskillende maniere waarop die woord vertaal word, neer. Let ook op of dieselfde manier van vertaal aanhoudend gebruik word.
STAP 4: DIE OORSPRONKLIKE BETEKENIS.
Die volgende stap is om uit te vind wat die woord in die oorspronklike taal beteken.
Hiervoor gebruik jy die konkordansie of ‘n woordstudie.
Daar mag ‘n paar verskillende definisies wees. Skryf almal neer.
STAP 5: HOEVEEL KEER GEBRUIK?
Gebruik jou konkordansie om te bepaal hoe en waar jou woord in die Bybel gebruik word.
Hierdie vrae kan jou help:
- Hoeveel keer kom die woord in die Bybel voor?
- In watter boeke kom dit voor?
- Watter skrywers het die woord gebruik?
- In watter boek kom dit die meeste voor?
- Waar in die Bybel word die woord die eerste keer gebruik?
- Waar word die woord die eerste keer gebruik in die boek wat ek studeer?

STAP 6: DIE BETEKENIS EN OORSPRONG VAN DIE STAMWOORD.
Die volgende stap is om te kyk na die betekenis van die stamwoord (‘root word’ in Engels) en na die oorsprong van die woord.
Hier gaan jy ‘n bietjie navorsing moet doen deur ‘n Bybelwoordeboek of ensiklopedie, ‘n boek met woordstudies of ‘n teologiese woordeboek te gebruik.
Onthou om neer te skryf wat jy leer.
STAP 7: DIE GEBRUIK VAN DIE WOORD IN DIE BYBEL.
Woorde se betekenis verander soms met die tyd. Woorde kan ook verskillende betekenisse hê afhangende van die situasie of konteks waarin dit gebruik word.
Die voorlaaste stap is dus om te kyk hoe die woord gebruik word sodat jy kan bepaal wat die woord beteken.
Gebruik hierdie drie stappe:
NOMMER 1.
Vind uit hoe die woord gebruik was toe die Bybel geskryf is. Hoe het skrywers, wat ander boeke geskryf het, dit gebruik?
Om jou hiermee te help kan jy boeke soos ‘n teologiese woordeboek of Grieks en Hebreeuse woordeboeke gebruik. ‘n Boek met woordstudies kan jou ook hiermee help.
NOMMER 2.
Vind uit hoe die woord in die Bybel gebruik is. Gebruik ‘n konkordansie om jou hiermee te help.
Skryf neer hoe die woord vertaal is elke keer wat dit in die Bybel gebruik is.
Soms kom ‘n mens eers by die werklike betekenis van die woord uit as jy sien in watter konteks dit gebruik word. Vra die volgende vrae om jou te help:
- Hoe het die skrywer die woord in ander dele van die boek gebruik?
- Hoe het die skrywer die woord in ander boeke, wat hy geskryf het, gebruik?
- Hoe word die woord deur die hele Ou of Nuwe Testament gebruik?
- Het die woord meer as een manier waarop dit gebruik word? Indien wel, hoe word dit nog gebruik?
- Hoe word die woord die meeste gebruik?
- Waar word die woord die eerste keer in die Bybel gebruik? Hoe word dit daar gebruik?
NOMMER 3.
Vind uit hoe die woord in die konteks van die gedeelte wat jy studeer, gebruik word. Konteks is ‘n mens se betroubaarste bron van inligting wanneer dit kom by wat die skrywer nou eintlik met die woord bedoel het.
Hier is weer ‘n paar vrae wat jy kan vra:
- Gee die konteks enige leidrade tot die betekenis van die woord?
- Word die woord vergelyk of in kontras gestel met ‘n ander woord in die konteks?
- Is daar enige illustrasie in die konteks wat die betekenis van die woord verduidelik?
STAP 8: SKRYF ‘N TOEPASSING.
Om ‘n woordstudie te doen bloot net sodat jy weet wat die woord beteken, het nie veel waarde nie.
Daarom moet jy die hele tyd vra: Hoe kan dit wat ek oor hierdie woord leer, my help om geestelik te groei? Hoe kan dit my geestelike lewe verbeter?
Skryf neer hoe jy dit wat jy leer in jou lewe kan toepas. As jy nie weet hoe om ‘n toepassing te skryf nie, lees die artikel oor hoe om ‘n temastudie te doen. In stap 6 van die artikel verduidelik ek vir jou hoe om ‘n goeie toepassing te skryf.
PROBLEME WAT JY KAN RAAKLOOP.
Omdat die tale waarin die Bybel oorspronklik geskryf is soveel verskil van die taal wat ons praat, is daar sekere probleme wat jy kan ondervind wanneer jy ‘n woordstudie doen.
NET EEN WOORD.
Sommige Griekse woorde is vertaal deur net een Afrikaanse of Engelse woord te gebruik.
Die woord Engelse woord ‘servant’ het byvoorbeeld 7 verskillende Griekse ekwivalente, elkeen met ‘n effense ander betekenis.
Maak dus seker dat jy jou konkordansie mooi bekyk om seker te maak of dit die geval is met die woord wat jy studeer. As dit die geval is, vind dan uit wat elkeen van die verskillende oorspronklike woorde beteken.
VERSKEIE WOORDE WORD GEBRUIK.
Dit gebeur soms dat die vertalers een Griekse of Hebreeuse woord op meer as een manier in Afrikaans of Engels vertaal.
Om hierdie probleem te oorkom moet jy seker maak dat jy al die verskillende vorme van die oorspronklike woord van nader bekyk. Jy kan dit doen deur die konkordansie te gebruik.
- Skryf die verskillende maniere waarop die woord vertaal word neer.
- Hoeveel keer word die woord op elke manier vertaal? Skryf dit neer.
- Gee voorbeelde van elke manier waarop dit vertaal is.
- Hou die verskillende vertalings dalk met mekaar verband? As jy ‘n verbintenis tussen die verskillende vertalings raaksien, skryf dit neer.
- Kyk of die skrywer van die boek, waarin die woord wat jy studeer voorkom, die woord op verskillende maniere gebruik of net op een manier.
‘N HELE FRASE WORD GEBRUIK.
Soms word een oorspronklike woord met ‘n hele frase in Afrikaans of Engels vertaal. Om hierdie probleem te oorkom gaan bietjie meer werk kos. Die beste is om verskillende vertalings met mekaar te vergelyk sodat jy kan sien watter frases die verskillende vertalers gebruik het.
‘N NUWE WêRELD.
Ek is besig om 1 Korinthiërs 13 te bestudeer vir ‘n Bybelstudie wat ek wil skryf.
Een van die dinge wat ek sover gedoen het om die gedeelte te studeer, is om woordstudies oor die verskillende woorde te doen.
Dit maak letterlik amper vir ‘n mens ‘n ander wêreld oop as jy sien wat die woorde in die oorspronklike Grieks en Hebreeus beteken.
Ek moet erken dat ek nie al die stappe hierbo gebruik het nie. Ek het net gekyk wat die woorde in Engels beteken. Toe het ek bietjie navorsing in die Strong’s Concordance en in ‘n woorstudie of twee gedoen.
En net hierdie stappe het my al klaar baie geleer.
Ek hoop dat jy geïnspireer is om ook te begin woordstudies doen en dat dit vir jou ook so baie gaan beteken!

Ek is op soek na n bybelwoordeboek.
Hallo Johnny. As jy nie omgee om met ‘n Engelse Bybelwoordeboek te werk nie, kan jy op verskeie webblaaie sulke woordeboeke gratis kry. Hier is twee wat jy kan probeer:
https://www.studylight.org/dictionaries.html
https://biblehub.com/dictionary/
As jy ‘n fisiese woordeboek soek, stel ek voor jy hoor by CUM-boeke of hulle nie so iets het nie.