VERTROUE OP GOD: 23 BYBELVERSE

Bybelverse oor vertroue op God

In die vorige artikel het ons gesels daaroor dat God betroubaar is.

Maar wat sê die Bybel oor vertroue op God? Daar is oral verse wat ons aanmoedig om God te vertrou in alle dinge.

Jy sien, God is nie net betroubaar wanneer dinge goed gaan nie. Hy is ook betroubaar wanneer dinge sleg gaan. Hy sal ons nooit verlaat of in die steek laat nie. Daarom kan ons Hom in goeie en slegte tye met ons hele hart vertrou.

BELANGRIKE VERSE OOR VERTROUE OP GOD.

Daar is ‘n paar belangrike dinge wat ons in gedagte moet hou wanneer ons dink oor vertroue op God.

GELOOF BEHAAG GOD.

Hebreërs 11:6: Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan, en dat Hy dié beloon wat Hom soek. – Dit behaag God wanneer ons geloof in Hom het. Dit is maar net ‘n ander manier om te sê dat ons op Hom vertrou. Ons moet dus glo dat Hy bestaan. Ons moet ook glo dat Hy ons beloon wanneer ons Hom soek. Of, in ander woorde gesê, dat Hy Sy beloftes nakom wanneer ons Hom vertrou.

GOD VERANDER NOOIT.

Hebreërs 13:8: Jesus Christus is gister en vandag dieselfde, en tot in ewigheid. – Een van die redes waarom ons die Bybel lees, is sodat ons vir God kan leer ken. Wat ons ookal oor Hom leer – wie Hy is en wat Hy doen – is altyd wie Hy is en wat Hy doen. Hy verander nooit nie. Ons kan Hom dus altyd vertrou om presies op te tree soos die Bybel ons leer Hy gaan optree, want Sy karakter verander nooit.

GOD TREE OP VIR ONS.

Jesaja 64:4: Van die vroegste tye af het niemand dit gehoor nie, daarvan verneem nie, het geen oog ‘n god gesien nie, buiten U, wat optree vir dié wat op Hom wag. – God tree op vir die wat op Hom vertrou. Wat ons ookal in ons lewens nodig het, ons kan Hom vertrou om dit vir ons te doen, om ons daarmee te help, of dit vir ons te gee.

GOD IS GROOT.

Psalm 46:11: Bedaar en erken dat Ek God is, Ek is verhewe bo die nasies, Ek is verhewe bo die aarde. – Die waarheid wat ons in hierdie vers lees, is so bemoedigend. God is verhewe bo alle mense en dinge. Daar is niks wat groter is as Hy nie. Daarom kan ons stil word en rustig wees wanneer die lewensstorms ons tref. Ons hoef ons nie te bekommer nie, want God is by ons en aan ons kant. En, soos ons in die vers hierbo gesien het, Hy tree op vir dié wat op Hom wag of op Hom vertrou.

VOLLE VERTROUE.

Die volgende verse herinner ons daaraan dat ons ten volle op God moet vertrou.

Spreuke 3:5-6: Vertrou op die Here met jou hele hart – op jou eie insig moet jy nie staatmaak nie. Ken Hom in al jou weë, en Hy sal jou paaie reguit maak.

Psalm 37:5-6: Vertrou jou lewenspad aan die Here toe, vertrou op Hom, en Hy sal optree. Hy sal jou geregtigheid soos die oggendlig laat verskyn en jou reg soos die middagson.

Jeremia 17:7-8: Geseënd is die man wat op die Here vertrou, wie se vertroue die Here is. Hy sal wees soos ‘n boom wat geplant is langs water, wat sy wortels uitstoot na die voor. Hy merk nie eers op dat die hitte kom nie; sy blare bly groen. In ‘n jaar van droogte raak hy nie angstig nie, en hy hou nie op om vrugte te dra nie.

Markus 11:24: Daarom sê Ek vir julle, alles waarvoor julle bid en vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so gebeur.

Jesaja 26:3-4: ‘n Standvastige gesindheid sal U in volkome vrede bewaar, omdat daar op U vertrou word. Vertrou te alle tye op die Here, want die Here, die Here is ‘n ewige rots.

VERTROU OP GOD ALLEEN.

Dit is so maklik om op ander dinge te vertrou as op God. Veral in die tye waarin ons leef, is daar baie alternatiewe wat vir ons aangebied word. Maar God vra van Sy kinders dat ons op Hom alleen vertrou.

Psalm 118:8-9: Dit is beter om by die Here te skuil as om op mense te vertrou. Dit is beter om by die Here te skuil as om op vooraanstaandes te vertrou.

Psalm 40:5: Gelukkig is die mens wat sy vertroue in die Here stel, en hom nie wend tot hoogmoediges en dié wat hulle toevlug neem tot leuens nie.

Psalm 37:3: Vertrou op die Here en doen die goeie, bewoon die land en waak oor betroubaarheid.

VERTROUE IN PLAAS VAN VREES EN KOMMER.

Die lewe is vol dinge wat ‘n mens kan bang maak. Maar God se kinders hoef nie bang of bekommerd te wees nie. Dit maak nie saak wat in ons lewens aangaan nie, ons kan God vertrou om ons te help en ons te versterk. Met Hom aan ons sy, kan ons enige iets in die lewe oorwin.

VERSE OOR VREES.

Psalm 9:10-11: Die Here sal ‘n toevlugsoord wees vir die onderdrukte, ‘n toevlugsoord in tye van nood. Wie u Naam ken, kan op U vertrou, want U laat hulle wat U soek nie in die steek nie, Here.

Jesaja 41:10: Moenie bang wees nie, want Ek is by jou; moenie vrees nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou; ook help Ek en ondersteun Ek jou met my seëvierende regterhand.

Psalm 56:4-5: Die dag wanneer ek bang is, vertrou ek op U. Op God – ek loof sy woord – op God vertrou ek. Ek sal nie bang wees nie; wat kan vlees en bloed aan my doen?

VERSE OOR KOMMER.

Mattheus 6:25-26: Daarom sê Ek vir julle, moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle sal eet, of oor wat julle sal drink, of oor julle liggaam, wat julle sal aantrek nie. Is die lewe dan nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? Let op die voëls van die hemel: Hulle saai nie en hulle maai nie, en hulle versamel niks in skure nie. Tog sorg julle hemelse Vader vir hulle. Is julle nie meer werd as hulle nie?

Johannes 14:1: Laat julle harte nie ontsteld wees nie. Glo in God, glo ook in My.

Filippense 4:6-7: Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak.

VERTROUE BRING VREUGDE.

Die laaste verse waarna ons gaan kyk wys ons daarop dat ‘n mens wat op God vertrou, met vreugde gevul word.

Psalm 28:7: Die Here is my krag en my skild; op Hom vertrou my hart. Ja, ek het hulp ontvang en my hart jubel, met my lied wil ek Hom prys…

Romeine 15:13: Mag die God van hoop julle deur julle geloof met alle blydskap en vrede vervul, sodat julle hoop oorvloedig kan word deur die krag van die Heilige Gees.

Psalm 13:6: Maar ek – op u troue liefde vertrou ek; my hart wil juig oor u verlossing. Ek wil vir die Here sing, omdat Hy aan my goed gedoen het.

Spreuke 16:20: Wie hom toespits op ‘n saak, sal sukses behaal, en wie op die Here vertrou, is gelukkig.

NOG VERSE OOR VERTROUE.

Hierdie is maar net ‘n paar van die verse wat ons aanmoedig om al ons vertroue op God te plaas. Maar daar is nog baie ander in die Bybel.

Dis ‘n goeie idee om, wanneer jy sulke verse in die Bybel raaklees, dit te onderstreep. Kyk ook waarom die vers sê jy God kan vertrou of wat die voordele daaraan verbond is wanneer jy Hom vertrou.

God is betroubaar en ons kan Hom altyd, met ons hele hart, vertrou.

Deel hierdie blad

7 comments

  1. GOEIEMORE DIERBARES VANMORE KOM PLAAS EK MY VERTROUE IN U DAT U VANDAG VIR MY SAL DEURKOM U WEET WAT IN MY HUISIE AANGAAN DAROM KOM LOOF PRYS DANK EN EER EK U ALREEDS VADER VANMORE BRING EK MY PAPIERE VAN MY HUIS EN SAVINGS NA U TOE VADER MY VERTROUE IS NET IN U DAT U DIT SAL KOM LOS MAAK EN DAARDIE GELD OOK LAAT U WIL GESKIED IN JESUS WONDERLIKE NAAM AMEN EN AMEN

  2. GOEIE MORE DIRBARES DANKIE VADER DAT EK OP U KAN VERTROU EN DAT U ALTYD DEURKOM VIR MY EN DAT EK ALTYD MET ANDERE KAN DEEL DAAROM GLO EN VERTROU EK DAT GOD WEER VIR MY SAL DEURKOM DAT EK MY SAVINGS GELD BYDI WERK SAL KRY OM WEEREENS MY MA SE HUIS KAN REGMAAK WAT OORLEDE IS EN DAT GOD MY WONDERBAARLIK SAL DEURKOM IN MY FINANSIES LAAT U WIL GESKIES MY GOD IN JESUS NAAM AMEN BID ASB SAAM MET MY

  3. goeie Môre ek wil baie graag nader aan God lewe en my lewe verander kan ek asb nog inligting kry is daar enige iets wat ek moet betaal ek het nie geld nie ek werk nie en wilbaie dankie sê vir die woord wat u ooplê om my hart te raak baie dankie

  4. Goeie môre u almal. Vrede en liefde aan ualmal in Jesus Christus naam. Met groot vertroue vra ek dat u saam met my sal bid tot GOD die almagtige dat ek GOD se genade en seëninge sal ontvang in die vorm van inkomste (sodat ek ook andere in nood kan help), en my eis om my huis te behou in die valse en misleidende eise wat Absa bank groep stel nadat hulle die kontrak van 20 jaar gelede in n brand verloor het. Ook vra ek vir u gebed hulp in goeie gesondheid vir my en my vrou wie nou in remissie is na limphonia kanker. In Jesus Christus naam alleen, AMEN.

    1. Jacobus, ek het jou gebedsversoek vir ons gebedsgroep gestuur, wat saam met jou bid. Sterkte!

  5. GOEIE MORE DIERBARES EK VRA ASB DAT U-HULLE ASB VIR MY SAL BID DAT DIE HERE MY SALARIS SAL SEEN EN DAT ALLES TEN GOEDE VIR MY SAL UITWERK NIE NET MYNE NIE MAAR OOK ANDERE SN IN JESUS NAAM AMEN

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *