
God se Woord is darem so wonderlik! Dit leer ons soveel dinge. Een van die dinge wat ons uit die Bybel leer is die profesieë oor Jesus. Sommige het Hy reeds vervul – en ons sien dan ook in die Bybel hoe Hy dit gedoen het. Ander moet nog vervul word wanneer Hy weer terugkom. Verlede week het ons gekyk na ‘n klompie heenwysings na Jesus in Genesis. Vandag gaan ons na nog ‘n paar in Genesis kyk.
DIE LAM VAN GOD.
In Genesis 22 lees ons hoe Abraham vir Isak moes gaan offer. Abraham neem hout, die kole vuur en ‘n mes saam. En dan wonder Isak: “Pa, hier is die kole vuur en die hout, maar waar is die lam vir die brandoffer?”
Daarop antwoord Abraham: “God sal vir Homself die lam vir ‘n brandoffer voorsien, my seun.”
Toe hulle op die plek kom wat God vir hom gewys het, bou Abraham ‘n altaar en sit die hout bo-op. Hy bind vir Isak vas en sit hom op die hout. Maar net toe hy sy hand uitsteek om vir Isak dood te maak, keer God hom.
En toe Abraham opkyk, sien hy ‘n ram wat in die bosse verstrengel geraak het – die offergawe wat God voorsien het!
Hierdie is ‘n heenwysing na Jesus.
Net soos God die ram voorsien het om in Isak se plek te offer, voorsien Hy ook die Lam wat in ons plek geoffer is.
In Johannes 1:29 lees ons: “Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: ‘Kyk, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!'”
TOT SEëN VIR DIE NASIES.
Die volgende heenwysing na Jesus kry ons op twee plekke.
Die eerste is in Genesis 22:18 en die tweede in Genesis 26:4-5. Altwee profesieë sê basies dieselfde ding – dat al die nasies in Abraham en Isak se nageslag geseën sal wees.
In Genesis 22:18 praat God met Abraham en sê: “In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën wees, want jy het My gehoorsaam.”
Dan praat Hy in Genesis 26:4-5 met Isak: “Ek sal jou nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel. Ek sal hierdie hele wêreld aan jou nageslag gee, en al die nasies van die aarde sal in jou nageslag geseën wees, want Abraham het na My geluister en hy was gehoorsaam aan my bevel: my gebooie, my voorskrifte en my wette.”
Ons sien hoe Jesus hierdie profesie vervul in Galasiërs 3:16. Daar staan: “En die beloftes is aan Abraham en sy Saad toegesê. Daar staan nie ‘en aan die sade’ soos wat ‘n mens na baie sou verwys nie, maar soos wat ‘n mens na een verwys: ‘en aan jou Saad’ – dit is Christus.”
DIE BRUG NA DIE HEMEL.
In Genesis 28 lees ons hoe Jakob sy ouerhuis verlaat om vir hom ‘n vrou by sy ma se familie te gaan soek.
Op pad daarheen oornag hy op ‘n plek (die Hebreeuse woord wat met ‘plek’ vertaal is, word ook gebruik om ‘n heilige plek of heiligdom aan te dui). Hy sit sommer ‘n klip onder sy kop om as kussing te dien. En hy droom.
Hy sien trappe “wat op die aarde staan, waarvan die bopunt na die hemel reik. Daar was boodskappers van God wat daarlangs op- en afgaan!” (Genesis 28:12).
Op die oog-af mag dit nie so lyk nie, maar ook hierdie is ‘n heenwysing na Jesus. Hy is soos ‘n brug tussen ons en die hemel.
In Johannes 1:51 lees ons: “En Hy [dit is Jesus] sê vir hom: ‘Amen, amen, Ek sê vir julle: Julle sal die hemel oop sien en die engele van God wat opstyg en neerdaal op die Seun van die Mens.'”
UIT DIE NAGESLAG VAN JAKOB.
Net ‘n paar verse verder in Genesis 28 lees ons nog ‘n heenwysing na Jesus.
In sy droom praat God met Jakob. Hy sê: “Jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde. Jy sal uitbrei na die weste, die ooste, die noorde en die suide. Deur jou en jou nageslag sal al die grootfamilies van die aarde geseënd wees” (vs.14).
Hier sien ons dat Jesus gaan kom uit die nageslag van Jakob.
Ons sien dan ook in Jesus se geslagsregister hoe hierdie profesie vervul is.
In Lukas 3:34 staan Jesus was die: “…seun van Jakob, seun van Isak, seun van Abraham, seun van Tera, seun van Nahor…”
LAASTE PROFESIEë IN GENESIS.
Die laaste heenwysings na Jesus in Genesis staan almal in Genesis 49:10.
In hierdie hoofstuk lees ons hoe Jakob sy seuns seën voor hy sterf.
Verse 8-12 vertel vir ons van die seën wat hy oor Juda uitspreek. In vers 10 staan: “Die septer sal nie van Juda wyk nie, ook nie die heerserstaf tussen sy voete nie, totdat hy aan wie dit behoort, kom, en volke aan hom gehoorsaam is.”
DIE TYD VAN SY GEBOORTE.
In hierdie vers sien ons daar is ‘n spesifieke tyd wat God gekies het, om Jesus aarde toe te stuur.
Vers 10c lees: “…totdat hy aan wie dit behoort, kom…”
En, op presies die regte tyd, is dit toe ook wat gebeur.
In Galasiërs 4:4-5 lees ons: “…maar toe die tyd vervul is, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet, sodat Hy dié onder die wet kon loskoop, sodat ons as sy kinders aangeneem kon word.”
Lees ook in Lukas 2:1-7 die verhaal van Jesus se geboorte.

UIT DIE STAM VAN JUDA.
Ons sien ook dat Jesus gebore sou word uit die stam van Juda.
In die eerste gedeelte van vers 10 staan daar: “Die septer sal nie van Juda wyk nie, ook nie die heerserstaf tussen sy voete nie, totdat hy aan wie dit behoort, kom…”
Dan lees ons hoe hierdie profesie vervul is in Lukas 3:33. Dit is weereens deel van Jesus se geslagsregister. Daar staan: “…seun van Amminadab, seun van Admin, seun van Arni, seun van Gesron, seun van Peres, seun van Juda…”
SILO OF GESTUURDE.
Vir die derde heenwysing in Genesis 49:10 moet ons gaan kyk na die ouer Afrikaanse vertalings.
In die 1983-vertaling staan daar: “Jy sal altyd heers, jy sal aanhou regeer totdat Silo kom, die heerser aan wie die volke hulle sal onderwerp.”
Die naam ‘Silo’ is ‘n heenwysing na Jesus.
Dié woord word op verskeie maniere vertaal. Soms word dit vertaal as ‘gestuurde’, ander kere as ‘die saad’ en soms as ‘die een wat vrede bring’.”
Maar dit maak nie saak hoe hierdie woord vertaal word nie, Jesus het elkeen vervul.
In Johannes 17:3 lees ons: “En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en ook Hom wat U gestuur het – Jesus Christus.”
En in Efesiërs 2:24 staan daar: “Hy [Jesus] is immers ons vrede – Hy wat albei één gemaak het, en die middelmuur van skeiding, die vyandskap, deur sy liggaam afgebreek het.”
DIE VOLKE SAL HOM GEHOORSAAM.
Die laaste heenwysing in Genesis 49:10 kry ons in die laaste gedeelte van die vers. Daar staan: “…en volke aan hom gehoorsaam is.”
In Johannes 10:16 lees ons hierdie woorde van Jesus: “Ek het ook ander skape wat nie van hierdie kraal is nie. Hulle moet Ek ook lei, en hulle sal na my stem luister, en daar sal een kudde wees, en een herder.”
Hoewel Jesus uit Israel, uit die Joodse nasie, gebore is, het Hy nie net gekom om hulle te verlos nie.
Hy het gekom vir al die mense in die wêreld.
Dit maak nie saak wie jy is en wanneer jy leef nie, Jesus het die straf vir jou sonde gedra.
En elkeen wat in geloof na Hom toe kom, ongeag hulle agtergrond en van watter volk hulle is, sal gered word.
JESUS VERVUL AL DIE PROFESIEë.
Die Bybel is vol profesieë en heenwysings na Jesus wat Hy reeds vervul het. En, omdat Hy reeds die meeste daarvan vervul het, kan ons met sekerheid weet dat Hy ook die res gaan vervul.
Hy is die Seun van God wat gestuur is as die Lam wat die sonde van die wêreld wegneem.
Hy is gebore uit die nageslag van Abraham, Isak, Jakob en Juda, net soos God belowe het.
En in Hom word al die nasies van die wêreld geseën wanneer hulle in Hom glo!
