JOU GEBEDSLEWE: DIE ABC-GEBEDSMETODE

Jou gebedslewe: Die ABC-gebedsmetode

Hier by Bybel En Gebed fokus ons baie op die Bybel en die verskillende metodes wat ons kan gebruik om meer daaruit te leer. Van die metodes waarna ons al gekyk het, gebruik Engelse akronieme om ons te help om die verskillende stappe te onthou. Dit sluit metodes soos die A.P.P.L.E.-metode en die W.O.R.D.-metode in. Vandag gaan ons ‘n bietjie kyk na ‘n gebedsmetode om jou in jou gebedslewe te help.

Hoewel dit hierdie metode nie ‘n akroniem gebruik nie, gebruik dit tog letters wat dit maklik maak om te onthou. Ek noem dit sommer die ABC-gebedsmetode.

DIE ABC-GEBEDSMETODE.

Voor ek vir jou verduidelik hoe die metode werk, wil ek eers gou vir jou vertel waar ek die eerste keer daarvan gehoor het.

Januarie is, soos ons almal weet, die begin van ‘n nuwe jaar. Daar is baie gelowiges wat elke Januarie vir 21 dae lank vas. Hulle doen dit om verskillende redes. Van dié redes sluit in: om nader aan God te kom; om te begin met ‘n daaglikse stiltetyd; vir leiding vir die jaar wat voorlê; om bevry te word van een of ander sonde wat ‘n houvas op hulle het, ensovoorts.

Om te vas beteken nie net dat ‘n mens nie eet nie, of, soos in die Daniëlsvas, sekere kosse vermy nie. Vastyd gaan hand aan hand met gebed en die bestudering van God se Woord.

Terwyl ek ‘n paar jaar gelede in Januarie gevas het, het ek ‘n video gesien wat spesiaal vir die vastyd gemaak is.

In die video het die dame vertel van die ABC-gebedsmetode wat sy gebruik het tydens haar vastyd.

HOE DIE METODE WERK.

Die metode is só maklik, jy kan dit sommer dadelik in jou gebedslewe begin gebruik.

Begin met die letter ‘A’. Dink aan ‘n karaktertrek van God wat met ‘A’ begin. Word dan stil by Hom en prys en dank Hom daarvoor.

Een voorbeeld waaraan ek nou gou kan dink, is dat God ‘almagtig’ is. Bid iets soos: “Here, ek wil U vandag loof vir U almag. Dankie dat daar niks is wat vir U onmoontlik is nie.”

Jy kan so lank oor een karaktertrek bid soos jy wil. As jy met ‘A’ klaar is, dink dan aan ‘n karaktertrek van God wat begin met ‘n ‘B’. Prys en dank die Here dan vir daardie karaktertrek.

So gaan jy van een letter na die volgende. Dink aan ‘n karaktertrek van God wat met daardie letter begin en loof, prys en dank Hom daarvoor.

Jy kan selfs net by een letter bly en God loof en dank vir meer as een karaktertrek van Hom, wat met daardie letter begin.

Dit idee is nie om elke dag deur die hele ABC te bid nie, maar om dit te gebruik om jou in jou gebedslewe te help om meer gefokus te bid.

NEEM DIT ‘N STAP VERDER.

Die ABC-gebedsmetode leen hom tot meer as net om God te prys vir Sy karaktertrekke.

Jy kan ook elke letter gebruik en dink aan iets wat met ‘n ‘A’, ‘B’, ‘C’, ensovoorte begin, waarvoor jy God kan dank.

As jy daarmee klaar is, dink aan verskillende behoeftes wat met die verskillende letters begin, en bid daarvoor.

Jy kan selfs die letters van die alfabet gebruik en elke keer bid vir iemand in jou lewe wie se naam met daardie letter begin.

MAAK ‘N LYSIE.

Om gedurende jou stiltetyd vinnig aan iets te dink wat met ‘n sekere letter begin, gaan nie altyd maklik wees nie. Dis waarom dit die maklikste is om voor die tyd ‘n lysie te maak van elkeen van die dinge waarvoor jy wil bid.

Begin met God se karaktertrekke. Ons wil immers ons gebed begin deur op Hom te fokus.

Skryf dan die dinge neer waarvoor jy kan dankie sê. Maak laastens ‘n lysie van mense en behoeftes waarvoor jy kan bid, wat met die verskillende letters van die alfabet begin.

KIKKER JOU GEBEDSLEWE OP.

Om volgens die ABC te bid, is ‘n interessante metode wat jy kan gebruik om jou gebedslewe op te kikker. Dit kan jou ook help om vir meer dinge te bid as wat jy normaalweg sou bid.

En, as jy sukkel om vir ‘n langer as ‘n paar minute te bid, gaan dit jou daarmee ook help.

Wanneer jy byvoorbeeld God loof en prys vir die feit dat Hy jou skuilplek is, kan jy sê: “Here, ek loof U omdat U vir my ‘n skuilplek is. Dankie dat ek veilig en geborge by U is. Dankie dat U altyd by my is en dat U belowe het om my nooit te verlaat nie. Ek weet U het my in die verlede beskerm sonder dat ek eers daarvan bewus was. En ek weet dat U my nou en ook in die toekoms gaan beskerm. Dankie dat U so goed is vir my!”

Sien jy hoe ‘n mens kan uitbrei op net een woord?

Ek wil jou vandag uitdaag om die ABC-gebedsmetode gedurende jou stiltetyd te probeer.

Vra die Here om jou te help om jou lysie op te stel. Vra Hom ook om jou gedurig te herinner aan nóg dinge wat jy op die lysie kan byvoeg.

Begin dan volgens hierdie metode bid en jy sal sien hoe dit jou tyd saam met God verryk en jou in jou gebedslewe laat groei.

Deel hierdie blad

6 comments

  1. Hallo ek weet nie altyd waar in die Bybel ek kan gaan oplees, oor verskullende behoeftes nie soos bv. moed, hoop, geestelike voeding ens nie, kan jy my dalk help met ruglyne asb? Groete Hannie…

  2. Help my asseblief met n een bladsy journaal blad, wat ek kan af tick, en volg vir my daaglikse bybelstudie en geben

  3. Goeie More

    Ek weet nie altyd wat ek eerste moet bid nie dit voel of ek
    altyd vir andee bid en nie vir myself nie.

    Seen groete
    Carina

    1. Hallo Carina. Dit is goed dat ‘n mens vir ander bid, maar jy moet ook vir jouself bid. Onthou, jy alleen weet wat alles in jou hart aangaan, en jy is die enigste een wat daardie dinge voor God kan bring. As jy sukkel om tyd te maak om vir jouself ook te bid, stel ek die volgende voor: stel jou selfoon se ‘timer’ vir byvoorbeeld 15 minute. Gebruik dan daardie 15 minute om vir ander te bid. Wanneer die alarm afgaan, skuif jy jou fokus en bid vir jouself en jou eie behoeftes. Jy kan ook die volgende doen: maak ‘n lysie van mense waarvoor jy wil bid. Maak ook ‘n lysie van jou eie behoeftes. Kies dan drie mense op jou lysie en bid vir hulle. Kies dan drie van jou eie behoeftes en bid daarvoor. Op dié manier gaan jy vir ander mense sowel as vir jouself ook bid. Sterkte!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *