
Wat sê die Bybel oor God se genade en barmhartigheid?
Ons lees oral in die Bybel van God se genade, dat dit deur Sy genade is dat Hy vir Jesus gestuur het en ons verlos is.
Vandag gaan ons kyk na 5 verse uit die Ou en Nuwe Testament, waar ons lees van God se genade. Ons gaan die verse so ‘n bietjie uitmekaar trek, en kyk wat ons daaruit kan leer.
GOD SE GENADE EN JESUS.
Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.
Johannes 3:16
God het liefgehad – Hy het nie die mense se gedrag goedgekeur nie, maar was goedgesind en tegemoedkomend teenoor die hele mensdom. Hy wou hê wat goed was vir hulle.
Die wêreld – Hierdie woorde beteken almal is ingesluit. Daar is nie een mens – verlede, hede en toekoms – wat ooit uitgesluit is nie.
Dat Hy gee – Wat God gedoen het, is ‘n geskenk aan ons. Nie een van ons verdien dit nie. Dit is die uitdrukking van Sy liefde, genade en barmhartigheid.
Sy unieke Seun – Dit is die grootste uitdrukking van liefde wat ons hier sien. God het ons só liefgehad, dat Hy bereid was om Sy Seun, wat nooit iets verkeerd gedoen het nie, te gee om in ons plek te sterf. Dit wat ons verdien het – straf, dood, skeiding van God – kom op Jesus neer. En wat ons nié verdien nie – vergifnis, lewe, eenheid met God – word ons s’n deur Christus.
LEES OOK: LUKAS 4 – WAT JESUS KOM DOEN HET
GOD SE GENADE EN SONDEVERGIFNIS.
Wie is ‘n God soos U? U is ‘n God wat skuld vergewe, wat by die oortreding verbygaan tot voordeel van die oorblyfsel van sy eiendom, wat nie vir altyd vasklem aan sy toorn nie, maar wat vreugde vind in troue liefde, wat ons weer genadig sal wees, ons skuld sal vertrap. U sal al ons sondes in die dieptes van die see gooi.
Miga 7:18-19
Wie is ‘n God soos U? – Daar is geen ander god nie. God is die enigste God. Al die ander sogenaamde ‘gode’ is niks teen die ware God nie.
U is ‘n God wat skuld vergewe – In die Ou Testament, toe hierdie verse geskryf is, het God mense se skuld vergewe wanneer hulle ‘n skuldoffer na die tempel gebring het om te offer. Op die Dag van Versoening, wat een keer ‘n jaar plaasgevind het, het die hoë priester offers gebring om versoening te doen vir die skuld van die volk. Hierdie offers het die skuld van die volk betaal en hulle verhouding met God herstel.
In die Nuwe Testament is Jesus die offer wat versoening bring tussen ons en God. Hy het ons skuld betaal. Deur Hom is ons regverdig verklaar voor God. En ons verhouding met Hom is herstel. Deur die Heilige Gees is ons nou Sy tempel.
Wat ons weer genadig sal wees – God vind vreugde daarin om genade en barmhartigheid aan mense te betoon. Dit is juis as gevolg van hierdie eienskappe van Hom, dat Hy Jesus gestuur het om vir ons te sterf.
GOD EN ONS SKULD
Ons skuld vertrap – In Sy groot genade het God nie net ons sondes vergewe nie. Hy het ook die houvas en gesag wat sonde oor ons gehad het, vernietig. Ons het dus nou ‘n keuse. Ons kan kies om aan God gehoorsaam te wees, of ons kan kies om aan die duiwel gehoorsaam te wees. Hy het nie meer enige mag of gesag oor ons nie, maar ons kan steeds kies om te bly doen wat hy vir ons voorsê. Deur Jesus is ons nou vry om net aan God gehoorsaam te wees.
U sal al ons sondes in die dieptes van die see gooi – Deur Jesus is ons sondes so ver verwyder soos die ooste van die weste. Wanneer God na ons kyk, sien Hy net die bloed van Jesus. Hy sien die sondeloosheid van Jesus.
LEES OOK: DIE BEDIENING VAN DIE VERSOENING
GOD SE LIEFDE EN GENADE VIR DIE MENS.
Maar toe die goedheid en menseliefde van God, ons Verlosser, verskyn, het Hy ons verlos – nie op grond van werke wat ons uit geregtigheid gedoen het nie, maar op grond van sy ontferming – by wyse van die afwassing deur die weergeboorte en vernuwing deur die Heilige Gees, wat Hy ryklik oor ons uitgegiet het deur Jesus Christus, ons Verlosser.
Titus 3:4-6
Maar toe die goedheid en menseliefde van God – God se goedheid en menseliefde is twee verskillende dinge. Goedheid verwys na die goddelike, onmeetlike en allesinsluitende liefde van God, wat ons herken as een van Sy karaktertrekke.
Menseliefde verwys na die spesiale liefde van God vir die mens. In gewone taal sou ons sê God het ‘n spesiale plekkie vir die mens in Sy hart. As ons God se goedheid en Sy spesiale liefde vir die mens saam vat, dan sien ons waarom Hy Sy Seun gestuur het om ons te verlos.
Nie op grond van werke wat ons uit geregtigheid gedoen het nie – Dit is nie die mens se goeie werke wat hom red nie.
Maar op grond van sy ontferming – Ons verdien nie om gered te word nie. Geen mens verdien dat die straf wat hy moes dra, op iemand anders neerkom nie. Niemand verdien die ewige lewe nie. Maar, op grond van Sy groot ontferming, het God ons verlos.
By wyse van die afwassing deur die weergeboorte en vernuwing deur die Heilige Gees – Weereens sien ons dat ons niks te doen het met ons verlossing en wedergeboorte nie. Dis die werk van die Heilige Gees. Wanneer ons in Jesus glo, en Hom aanneem as Verlosser, word ons weer gebore. Die Heilige Gees vernuwe ons en gee ons ‘n gees wat net soos Jesus is en wat een is met God (1 Johannes 4:17; 1 Korinthiërs 6:17).

DIE RYKDOM VAN GOD SE GENADE.
Maar God, ryk in barmhartigheid, het ons, alhoewel ons dood was as gevolg van die oortredings, op grond van sy groot liefde waarmee Hy ons liefgehad het, saam met Christus lewend gemaak – uit genade is julle verlos!
Efesiers 2:4-5
Ryk in barmhartigheid – God is nie net barmhartig (merciful) nie, Hy is ryk in barmhartigheid. In hierdie brief van Paulus lees ons keer op keer van die rykdom van God:
Rykdom van God se genade – 1:7.
Heerlike rykdom van Sy erfenis – 1:18.
Allesoortreffende rykdom van Sy genade – 2:7.
Onpeilbare rykdom van Christus – 3:8.
Rykdom van Sy heerlikheid – 3:16.
Op grond van sy groot liefde – Weereens word die liefde wat God vir ons het uitgelig as die hoofrede waarom Hy Sy Seun gestuur het om vir ons sondes te sterf.
Alhoewel ons dood was as gevolg van die oortredings – Ons was dood as gevolg van ons sondes en oortredings. Dit beteken ons was afgesny van God, ons het nie ‘n verhouding met Hom gehad nie.
Saam met Christus lewend gemaak – Ons is nou nie meer dood in ons sonde en oortredings nie. Deur Sy dood en opstanding is ons lewend gemaak saam met Hom. Ons is nou dood vir die sonde en lewe vir God. Nou staan ons in ‘n verhouding met God en kan Hom ken (Johannes 17:3).
Saam met Christus – Oral in die Nuwe Testament lees ons van die gelowige se noue band met Christus. Ons:
Is saam met Hom gekruisig.
Het saam met Hom gesterf.
Het saam met Hom opgestaan.
Leef met Hom.
Regeer saam met Hom.
Is mede-erfgename met Hom.
Deel in Sy lyding.
Sit saam met Hom op Sy troon.
ONS REAKSIE OP GOD SE GENADE.
Broers, op grond van die barmhartigheid van God roep ek julle dus nou op om julle liggame beskikbaar te stel as ‘n offer wat lewend en heilig is, en vir God aanneemlik. Dit is julle sinvolle godsdiens.
Romeine 12:1
Op grond van die barmhartigheid van God – God het genade en barmhartigheid teenoor ons bewys. Wat moet ons nou doen? Paulus gee hier vir ons die antwoord.
Julle liggame – In hierdie vers praat hy oor ons liggame. Dit is die deel van ons wat so maklik die verkeerde doen.
Beskikbaar te stel as ‘n offer – Gee jou liggaam aan God as ‘n offer. Nie net ‘n deel van jou liggaam nie, jou hele liggaam. Hoe? Deur gehoorsaam te wees aan die Woord.
Lewend en heilig – Die offers wat in die Ou Testament aan God gebring is, moes sonder enige defek gewees het. Geen dier wat lam of siek was kon as offer dien nie. Op dieselfde manier moet ons ons beste vir God gee. Nie dit wat óórbly, na ons reeds ons beste vir ander gegee het nie.
Vir God aanneemlik – Hierdie woorde herinner ons daaraan dat ons aan God moet offer wat Hy vir ons voorgeskryf het. In hierdie verse het Hy duidelik vir ons gesê wat se offer vir Hom aanneemlik is. Dis ‘n liggaam as lewende en heilige offer.
Sinvolle godsdiens – Wat ons doen as lewende offers is anders as wat die mense in die Ou Testament gedoen het. Hulle het staatgemaak op hulle goeie werke vir verlossing. Ons doen wat reg is in God se oë om Hom te eer en dank vir wat Hy vir ons gedoen het.

GOD SE GENADE.
God is ryk in barmhartigheid.
Dit is omdat Hy ons innig liefhet en uit genade dat ons gered is.
En juis daarom moet ons, om Hom te eer en dank, onsself aan Hom gee as lewende en heilige offers.
Mag jy vandag, en elke dag, innig bewus wees van God se genade en liefde in jou lewe!
